Die bynaam het hy gekry omdat hy geswyg het toe hy van planne van Koning Filips, die Spaanse heerser van die Lae Lande, om ook die Nederlanders onder meer onder die Inkwisisie te laat deurloop.
Willem het egter as held van die Nederlanders se vryheidstryd na vore getree, en is uiteindelik ook hieroor vermoor.
Sou die bynaam: “Zuma die Swyger,” ook onvanpas wees?
Dié vraag duik op nadat Zuma die naweek die soveelste keer geswyg het toe hy, as staats- en regeringshoof, die sweep moes laat klap het. Die keer was dit (weer) die stout kind van Suid-Afrikaanse politiek wat in Zuma se teenwoordigheid sy mond met onsuiwerhede uitgespoel het. In breë trekke het hy gesê die blankes het swart mense se grond gesteel, is daarom misdadigers en moet as sodanig behandel word.
Eers later die naweek het die adjunk-president die jongeling se bekkigheid in wese gerepudieer.
Onlangs, by die land se formele Vryheidsdagvoeringe, het Zuma ook soos die graf geswyg toe die skare opposisiesprekers uitgejou het.
‘n Google-soektog na gevalle waar pres. Zuma plaasaanvalle veroordeel het lewer ook bedroewend min op – sy veroordeling van die moord op mnr. Eugene Terre’Blanche, die AWB-leier. Daar is egter ‘n horde trefslae waar mense en instansies sonder sukses ‘n beroep op die president doen om plaasaanvalle te veroordeel.
Trouens, dit lyk nie of Zuma gaan reageer op ‘n mediaverklaring van Agri SA waarin gemeld word dat Zuma op die oomblik amnestie aan ‘n groep misdadigers oorweeg, waaronder plaasmoordenaars nie.
Nog ‘n bron van kommerwekkende swye, skynbaar by sy voorganger oorgeneem, is die “moord” waarmee pres. Robert Mugabe wegkom. Selfs wanneer Mugabe in geen onduidelike terme sy mond oor Zuma uitspoel nie, is die reaksie maar so-so. Ander buurlande, soos Zambië, is geneig om Mugabe se tjank heelwat duideliker af te trap.
Dis egter Zuma se swygsaamheid oor Malema wat die meeste ontsteltenis veroorsaak, en kom kort-kort na vore, soos toe Malema sy “Ons sal doodmaak vir Zuma” in die toekomstige president se teenwoordigheid geopper het.
Malema en sy kornuite se skadelike bekpraatjies oor nasionalisering en onteiening word ook glad nie regstreeks en genoegsaam aangespreek nie. Ellelange verduidelikings oor debat en die reg om iets op die tafel te plaas, klink meer na eenparty-retoriek as ‘n werklike oop demokrasie – en knou beleggersvertroue.
Nederlandse geskiedskrywers wys daarop dat Willem de Zwijger heel ten onregte dié bynaam gekry het. Behalwe dat sy swye wat hom die bynaam besorg het in wese ‘n taktiese swye was, was hy glo heel vaardig met die mond. Pres Zuma kan ook nie van op sy mond geval beskuldig word nie (behalwe wanneer dit saak mak) of nukkerige onttrekking soos sy voorganger wanneer sy vingers verbrand is nie.
Trouens, onoordeelkundige uitsprake het hom dalk meer keer in die sop of onder skoot as die periodieke swye. Dit is hom behoorlik teen die kop geslinger dat hy by Malema se tuisdorp na dié kameraad as toekomstige president verwys het. Hieroor sou hy stellig later verskeie kere sy hare uit sy kop wou trek.
O ja, hy het nie daar hare nie.
Ander moes ook al baie wal gooi toe een van sy kornuite, Jimmy Manyi, dinge kwytgeraak het wat die ANC bitter baie skade sou berokken.
Sy godsdiensuitsprake, en die soortgelyke uitsprake van sy kornuite, het nou al ‘n rits veroordelings op die lyf geloop. Die Kerke het byna soos een man gewaarsku dit moet end kry. Die NG Kerk het dit opgevolg dat dié kerk dalk sy lidmate kan versoek om hieroor nie vir die ANC te stem nie. Die VGK het reeds sy lidmate versoek om nie ANC te stem nie.
En nee, ‘n mens kry nie diskresionêre foute afgestort nie.
