“Ons onderskryf die Vryheidsmanifes [Freedom Charter] net soos die ANC,” het Zille tydens ‘n onderhoud hierdie week gesê.
Zille verwerp die idee dat die DA in wese ‘n party is wat “wit politiek” bedryf.
Die Vryheidsmanifes stel dit duidelik dat die swart mens se grond van hom “gesteel” is want hulle “besit die geboortereg van grond”.
Voorts is die “wil van die mense” die belangrikste grondslag vir demokrasie volgens die manifes. In daardie opsig, verskil Zille dus nie van iemand soos die gewilde Julius Malema, ANC-jeugleier nie.
Demokratiese Alliansie-leier Hellen Zille en haar voorganger, Tony Leon, is skynbaar ligjare van mekaar verwyder wanneer dit kom by hoe Suid-Afrika die liberale demokrasie wat hulle nastreef, wil laat realiseer.
In 1999 het Leon met sy “Fight Back”-verkiesingsveldtog die DA gered van gewisse ondergang. Leon het aangevoer dat daar ‘n behoefte bestaan om die ANC se wurggreep te beveg. Duisende Afrikaanse kiesers het daarna ingekoop in die DA-veldtog.
Zille het haar veldtog vir die komende munisipale verkiesings van stapel gestuur op die historiese Walter Sisulu-plein in Kliptown, Soweto.
Die DA se swart Johannesburgse burgemeesterskandidaat, Mmusi Maimane, is ‘n gegradueerde van dié party se leierskapsontwikkelingprogram, het Zille uitgewys.
