Maar daar is ook Platbakkies, Agtertang, Spoegrivier, Hotazel, Breekkerrie, Pampoenpoort, Tietiesbaai en die veelbesproke Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein! Dit getuig weer van ‘n fyn sin vir humor.
Dan is daar die meer rustige en positiewe Blyderivier, Volksrust, Hoopstad, Vredendal, Vryheid, Rust te Winter en Nuweland.
Beskrywende name wat getuig van fyn waarneming is gans te veel om op te noem, maar hier is ‘n paar: Bloubergstrand, Tweeling, Teebuskoppie, Klipriviervallei, Leliehoek, Vallei van ‘n Duisend Heuwels en soos die bekende liedjie lui: omtrent sestien Rietfonteine.
Diere van enige grootte en soort is vernoem, soos Aasvoëlberg, Eendekuil, Buffelspoort, Elandsberge, Kraairivier, Leeudoringstad, Springbok, Olifantshoek, Pofadder en Mier.
Stigters van dorpe en ander rolspelers in die geskiedenis se name is ook vasgevang in plekke soos Tulbagh, Viljoenskroon, Verwoerdburg, Louis Trichardt, Pretoria, Potgietersrus, Van Stadensrus, Theunissen en nog letterlik honderde ander.
‘n Hunkering na lande van herkoms leef in Bethlehem, Parys, Heidelberg, Amersfoort en Weenen.
Daar is name met stories en vraagtekens, soos Heksriviervallei, wat glo sy naam gekry het nadat ‘n jonge dame haar aanstaande tot die dood uitgedaag het, om vir haar ‘n blom bo ‘n krans te gaan pluk en toe self beswyk het. Nou spook sy daar in die omgewing!
Koekenaap was moontlik ‘n verdraaiing van ‘n Duitster se uitroep wat beteken het “Kyk hieraf” – “Guck hinab”.
Die stories van Blesmanspos, Blousyfer en Verneukpan laat ons vir ‘n ander dag.
Die punt is, (met apologie aan dr Dirk Hermann), ons voetspore lê in Afrika. Ons het die land bewoon en bewerk en die getuienis van dit wat gebeur het, ons aard en karakter, ons leefwyse en drome, die kern van ons bestaan het ons vasgevang in die name van plekke.
Om ‘n naamsverandering op ‘n volk soos die Boerevolk af te dwing, is soos ‘n messteek in die hart.
‘n Klakkelose naprating van die naamsveranderings kom in wese neer op ‘n soort selfmoord. Dit is net ons, hierdie generasie, die mense wat nou leef en praat en boeke skryf, wat kan keer dat so baie van ons geskiedenis en ons siel in die sand wegsyfer.
Kom ons vier ons kosbare erfenis deur ons eie name vir ons plekke te gebruik wanneer ons praat, skryf en ons kinders leer.
Van Toorkop tot Pniel (gaan kyk maar op wat dit beteken) is alles deel van wie ons is.
