Haatspraak

Terwyl daar binne die hof druk geredeneer word of die liedjie “Skiet die boere” haatspraak uitmaak of nie, en dit daar heel duidelik word dat daar ‘n geweldige sensitiwiteit bestaan, staan daar buite daardie selfde hof etlike honderde uitdagende ANC-jeugligalede en sing daardie selfde opswepende liedjie met oorgawe en uit volle bors.

Maar terwyl Malema en sy vriende boere wil skiet, beskerm hy homself met ‘n ongekende veiligheidsnetwerk. By die hof het die vertoon van mag deur sekuriteit en wapens so hinderlik geword dat selfs die regter dit opgemerk het en beslis het dat geen wapens in sy hof teenwoordig mag wees nie. Drie deursoekingspunte is al in werking voordat die hof waarin die Malema-saak dien, binnegegaan kan word. Die belaglike sekuriteitsbewustheid het daartoe gelei dat die hof skoon oor etenstyd gesluit is en advokate kon nie eens in die hof kom om hulle voor te berei en reg te kry vir die verrigtinge wat aanstons weer moet begin nie.

Dit is tipies van ‘n man wat sê “Skiet die Boere” en dan wegkruip agter hordes lyfwagte en SAPD-lede wat met outomatiese gewere buite die hof waghou. Tydens ‘n video-insetsel wat TLU SA laat speel het, was dit heel duidelik dat Malema op ‘n stadium sy gewone self verbygesteek het, en die skare voor wie hy opgetree het, opgesweep het met die stelling: “Skiet om dood te skiet”. Self sorg hy egter dat hy nie maklik iets kan oorkom nie, en die ergste van alles is dat die polisielede wat hom oppas, uit ons belastinggeld betaal word. Ons moet dus betaal sodat iemand beskerm kan word om mense aan te moedig om ons te skiet. Wat ‘n absurde situasie.

Tydens die hofsaak probeer die ANC se regspan baie klem lê op die feit dat verskillende gemeenskappe verskillende terme verskillend interpreteer. Baie debat is gevoer met die Afriforum-getuie oor wat die term Boer beteken, en die ANC probeer ‘n saak uitmaak dat in hulle gemeenskappe dit nie noodwendig verwys na landbouers of lede van die Boerevolk nie, maar dat dit volgens hulle kultuurraamwerk verwys na polisielede en bewaarders.

Ons is nuuskierig om te verneem watter betekenis hulle heg aan die betekenis van die woord “skiet”. Malema het op die TLU-video ook gesing van “Kiss the Boer, kiss the farmer”, as ‘n tong in die kies aanpassing van sy voorganger Mokaba se “Kill the Boer, kill the farmer”-liedjie. Almal weet dat om te skiet beteken nie om te soen nie. Of die teiken nou landbouers, Boere, polisielede of bewaarders is, maak uiteindelik geen verskil nie, want skiet is skiet, en as hy die massas beveel om te skiet om dood te skiet, is dit duidelik dat hy nie praat van ‘n papiertjieskieter wat kinders op skool gebruik nie. Om dus die teiken te probeer verander, behoort geen invloed te hê nie: die ANC staan die skiet, die doodmaak van mense, voor.

Intussen gaan sy haatspraak voort deur sy intimiderende massas sommer daar by die hof. Maar dis nie waar die haat teen die blankes ophou nie: die Jeugliga het sopas weer eens herhaal dat hy hom beywer vir nasionalisering sonder vergoeding van myne en plase veral. Dit is hierdie instellings wat hoofsaaklik deur blankes besit word.

Tog is daar dalk ‘n bietjie lig in die hele gebeure. Aan die een kant is dit duidelik dat die haat, en gevolglik gepaardgaande haatspraak nie gaan ophou nie. Aan die ander kant erken die ANC deur middel van sy regsverteenwoordiger dat verskillende gemeenskappe en kulture verskillende betekenisse heg aan woorde, dus ook aan beginsels.

Die oplossing wat wêreldwyd al beproef en werkbaar bewys is, is juis om daardie botsende standpunte en interpretasies uitmekaar te hou, deur elkeen bloot sy eie te gun in sy eie omgewing. Dan word die konflik outomaties uitmekaar gehou. Daar is eenvoudig geen ander oplossing nie.

типы парусных судовФільчаков Олександр Васильович

Maak 'n opvolg-bydrae