Toe Blair in 1997 ‘n “etiese buitelandse beleid”, in teenstelling met wat vermoedelik die onetiese een van John Major of Thatcher was, belowe het, het niemand seker Brittanje se grotesk onetiese gedrag in Irak en nou Libië kon voorspel nie.
Soos met baie dinge wat Blair kwytgeraak het, klink die woorde pragtig, maar is die werklikheid van Britse skynheiligheid en die gevolge daarvan, een wat die wêreld toenemend na die rand van ‘n afgrond lei.
Die vroeë pogings van die Blair-regering om sy “etiese” buitelandse beleid met baie min omstredenheid te implementeer ten spyte van min etiese besluite, was om die Ierse Republikeinse Leër te snoeker.
Hierdie ooreenkoms is wyd beskou as een van die min ware prestasies van die heer Blair en niemand kan ontken dat Ierse terrorisme, indien nie verdwyn nie, iets van ‘n rariteit geword het. Dié ooreenkoms het meegebring dat Sinn Féin en die IRL nooit verplig gaan wees om baie van hul donker geheime te openbaar nie. Maar dis die prys van vrede, sê algar.
Blair se ander pogings om aan die uitvoering van ‘n “etiese” buitelandse beleid gestalte te gee, het egter met die Irakese inval vasgeval. Maar diegene wat Irak onthou, vergeet Suid-Afrika, Kosowo, Sierra Leone en Oos-Timor. Die DA, by monde van ‘n histeriese Helen Zille en Beeld se opiniestukke, herinner ons daagliks aan die Britse fout om die ANC aan die stuur van sake te plaas. Asof sy en haar party mbv die Britte nie instrumenteel was in die magsoorname nie.
Nee, die Britse strategie om “etiese” redes voor te hou om ‘n ander land binne te val ten einde dit te “bevry van tirannie” is nie met die inval in Irak uitgedink nie. Die Britte was al doenig van voor 1994 om wit Afrikaanse en Zoeloe-mededingers in Suid-Afrika uit te skakel. Trouens, die bloudruk vir die hele oefening in Libië is feitlik volkome op die “val van apartheid” geskoei en het in Washington voorkeur- buitelandse beleid onder die vaandel van “regime change” geword.
So lank as wat die betrokke lande klein en goedgelowig is, is die intervensies beperk en die plaaslike bevolking grotendeels vriendelik teenoor die Angelsaksiese “bevryders”, maar hierdie beginsel is ernstig uitgedaag deur Saddam Hussein se Irak wat bewys het die “maklikes” is dikwels te veel om te hanteer.
Blair moes oplaas duisende Irakse lewens opoffer om van Saddam Hoessein ontslae te raak en die doelwit van “demokrasieskepping” is die vlammetjie wat die Midde-Ooste waarskynlik heelhuids gaan laat ontbrand.
In Sirië is Assad besig om geen lewe te spaar om sy leierskap te bestendig nie, maar dis ‘n vriend van die VSA. Geen vliegspersone of “humanitêre” aanvalle teen Sirië dus nie…
Al die leuens oor Irak se wapens van massavernietiging, wat lankal reeds as onsin ontbloot is, is vergete, terwyl die Britte voortstoom om hulle vriend die kolonel die loef af te steek.
Die opsie om tirannie in Libië te ondersteun het natuurlik daartoe gelei dat wapens deur Brittanje aan Libië verskaf is, asof die Britte nooit sou kon raai dat Ghadafi dit teen sy eie mense sou gebruik nie. Dit is al te waarskynlik dat die Britse wapens handig te pas gekom het vir die Libiese veiligheidsmagte om ‘n paar van die 400-plus betogers te vermoor.
‘n Etiese buitelandse beleid, miskien soos ‘n wêreld sonder armoede, is ‘n utopiese idee. En die wêreld het reeds duur betaal vir utopiese drome.
Die vraag in Libië is nie of die VSA genoeg wapens het om elke Ghadafi-ondersteuner dood te maak nie. Hulle het meer as genoeg. Die vraag is nou of die Britte en hul Amerikaanse vriende nog kan aanhou wegkruip agter mooiklinkende frases soos “etiese buitelandse beleid” en “regime-verandering” sonder om baie onopreg te klink.
As die antwoord “nee” is, is die vet in die vuur…
