Zuma veroordeel bombardement

President Jacob Zuma op Maandag gewaarsku teen buitelandse militêre ingryping in Libië en gesê lande kan nie die terme van Resolusie 1973 van 17 Maart oorskry om ‘n vliegspergebied af te dwing nie.

Zuma het by die Menseregtedag-vieringe in Athlone buite Kaapstad gesê die militêre optrede strek wyer as die resolusie wat deur die Veiligheidsraad aanvaar is.

“Suid-Afrika verbind homself tot die posisie van die Afrika-Unie se Vrede en Veiligheidsraadsbesluit van 10 Maart, wat Afrika se sterk verbintenis tot die nakoming van die eenheid en territoriale integriteit van Libië onderskryf, en beklemtoon Afrika se verwerping van enige vreemde militêre ingryping, ongeag die vorm.”

“Die VN-Veiligheidsraad se resolusie moet in werking gestel word in die letter en gees soos wat dit deur alle lede van die VN-Veiligheidsraad begryp word.”

“Suid-Afrika sê nee vir die doodmaak van burgerlikes, nee vir die doktrine om ‘n regime-verandering teweeg te bring en nee vir die buitelandse besetting van Libië of enige ander soewereine staat.”

Amr Moessa, sekretaris-generaal van die Arabiese Bond, het reeds die VSA en bondgenote verwyt dat hul lugaanvalle vir burgerlike ongevalle verantwoordelik is.

Britse minister van buitelandse sake William Hague het Maandag geweier om die moontlikheid van die implementering van spesiale magte uit te skakel en net gesê daar sal geen besetting van Libië wees nie.

Vladimir Putin, Russiese premier, S.M. Krishna, Indië se minister van buitelandse sake, en Boiko Borisof, Bulgaarse premier, het ook die VSA, Frankryk en Brittanje se ingryping veroordeel.

Zuma het ‘n beroep op die VSA, Brittanje, Frankryk en  hulle Arabiese bondgenote gedoen om militêre ingryping te beperk tot die bepalings van die VN-resolusie.

Hy het ‘n onmiddellike skietstilstand gevra.

Aanvalle deur die VSA en bondgenote op militêre teikens in Libië het Maandag voortgeduur.

купить игрушкулобановский политик

Maak 'n opvolg-bydrae