Dit volg na uitsprake deur vooraanstaande Suid-Afrikaners waarin ernstige kritiek uitgespreek is teenoor korrupsie en die regering se aanwending van maatskaplike toelaes en swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Die kritiek is uitgespreek deur onder andere dr. Franklin Sonn, sakeman en oudambassadeur, mnr. Tony Ehrenreich van Cosatu en mnr. Moeletsi Mbeki, politieke ontleder en broer van oudpresident Thabo Mbeki, tydens ‘n armoedekonferensie wat gesamentlik deur NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk gehou is.
Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-woordvoerder oor Finansies, is veral twee van mnr. Mbeki se uitsprake kommerwekkend indien dit waar is. Die twee uitsprake is:
1. Dat die ANC stemme koop deur hulle aanwending van maatskaplike toelaes en
2. Dat die ANC moontlik ‘n gevestigde belang het om die armes arm en onopgevoed te hou.
“Indien die ANC maatskaplike toelaes aan bykans 15 miljoen mense as ‘politieke omkoopgeld’ aanwend, sal die geskiedenis dit uitwys as van die ernstigste en mees ondemokratiese vergrype in Suid-Afrika se geskiedenis. Dit sal in effek beteken dat ‘n krimpende aantal belastingbetalers daarvoor betaal om ‘n oorwegend onbekwame, duur en korrupte regering permanent aan die bewind te hou. Die VF Plus is bekommerd dat die aanvanklike edele bedoelings van maatskaplike toelaes besig is om te ontaard in ‘n ekonomiese en politieke gedrog wat die land oor die langtermyn kan vernietig,” het Beyers gesê.
Verder het die VF Plus gesê dat die tweede uitspraak van Mbeki skokkend is en ongelukkig bevestig word deur uitsprake van ANC-leiers, soos Julius Malema, wat arm gesinne aanmoedig om meer kinders te kry ten spyte van die vernietigende finansiële effek daarvan op daardie arm gesinne.
Die VF Plus is van mening dat armoede in Suid-Afrika ‘n tydbom is wat ontlont moet word deur volhoubare werkskepping, ekonomiese groei en verantwoordelike en goed beplande sosiale programme.
