Ocalan, PKK-leier
Turkye beplan, met die goedkeuring van die VSA, ‘n reeks oorgrensoperasies in Noord-Irak. Sestigduisend Turkse troepe is reeds op die grens saamgetrek en volgens berigte is daar Turkse hakkejagte in Irakse gebiede. Konflik in dié olieryke gebied dreig egter om oor te spoel na ander lande indien Turkye te hardhandig optree.
Iran en Sirië het albei Koerdiese minderhede wat outonomie vra. In Turkye is die Koerdiese vraagstuk nietemin die dringendste omdat daar die grootste Koerdiese bevolking woon, naamlik 55% van alle Koerde . Daarom sal grootskaalse konflik tussen Turkye en die PKK, die Koerdiese bevrydingsbeweging, nie sonder ernstige gevolge wees nie en mag selfs Saoedie-Arabië toetree. Irak sal ongetwyfeld verder gedestabiliseer word deur ‘n Turkse inval.
Die PKK word allerweë as ‘n terreurorganisasie beskou deur die VSA, die EU, NAVO en Sirië. Die leier, Abdoela Ocalan, het by monde van sy regshulp verlede jaar in September aangekondig dat sy kommunistiese organisasie (PKK is die Turkse afkorting vir die Koerdiese Werkersparty) graag vreedsaam met Turkye wil onderhandel, maar aanvalle op Turkse instellings word steeds waargeneem.
Die oorsaak van Koerdiese terreur teen Turkye het geen oorsprong in die huidige staatsbestel van Irak nie, ten spyte daarvan dat tussen 15% en 20% Koerde tans in Irak woonagtig is. Die geweld is gemik teen die Turkse behandeling van Koerde in Turkye soos die onlangse voorbeeld waar ‘n gewilde Koerdiese sanger van die verhoog afgejaag is in Turkye toe hy Koerdies gepraat het.
In Sirië en Iran woon daar onderskeidelik 10% en 7% Koerde, terwyl daar in Armenië net meer as 2% woon. Indien die Koerde die oliereserwes in die noorde van Irak toeëien, sal die geveg verhewig omdat die oliebronne in Irak veronderstel is om aan alle groepe te behoort. Alhoewel die Turke ingestem het tot versigtigheid, wil hulle nie direk met die PKK onderhandel nie.
Toegewings oor taal- en kultuurregte, waarvan die Koerde maar min gesien het, sal baie doen om gemoedere te kalmeer. Die stygende lewensgehalte van die Koerde kan ook help om die PKK se invloed te breek. In Koerdiese provinsies in Irak heers groot armoede.
магазин детские игрушкиОлександр Васильович Фільчаков