Waar staan die Afrikaners ten opsigte van selfbeskikking ?

Die gesprek kom al oor ʼn lang tyd en steeds is daar min vordering gemaak met selfbeskikking. Die algemene Afrikanersteun vir selfbeskikking het drasties afgeneem sedert 1994 gemeet aan verkiesingsuitslae, enkele meningsopnames en die emigrasiepatrone. Inderwaarheid kan selfbeskikking gereduseer word tot twee opsies, nl. interne of eksterne selfbeskikking.

Interne selfbeskikking kom tot stand waar ʼn staat voorsien in die taal en kulturele behoeftes van ʼn minderheidsgroep en ook toelaat dat die minderheidsgroep effektief deelneem aan die gemeenskaplike politiek van die land. Eksterne selfbeskikking of sesessie word in die algemeen ongunstig ontvang in die internasionale gemeenskap. Eensydige sesessieverklarings is ekstreem en vind slegs plaas in sorgvuldig gedefinieerde omstandighede mits ʼn homogene groep (polities, kultureel, religieus, ens) gekonsentreerd ʼn spesifieke geografiese gebied beset.

Selfbeskikking word oor die algemeen beskryf as ʼn beginsel en nie ʼn reg nie, met die voorwaarde dat die groep wat selfbeskikking opeis, oorwegend ʼn spesifieke territoriale gebied moet bewoon. Die uti possidetis-doktrine (beginsel van territoriale integriteit) word onderhou deur die internasionale gemeenskap in terme dat die territoriale integriteit van soewereine state nie bedreig of ontwrig moet word nie. Alhoewel die Afrikaner kwalifiseer in terme van kulture aspekte om as ʼn homogene groep te eis vir selfbeskikking, beset die Afrikaners nie ʼn territoriale gebied nie en sal moeilik op grond van uti possidetis kan aanspraak maak op selfbeskikking.

Waar staan die Afrikaners tans met betrekking tot selfbeskikking? Die algemene aanduiding soos dit manifesteer in die ondersteuning van politieke partye is dat die meerderheid Afrikaners of blankes in die breër sin reeds interne selfbeskikking gekies het. Die effek van misdaad, plaasmoorde, regstellende aksie, SEB en die talle voorbeelde van wanbestuur op alle regeringsvlakke moet nog bepaal word en sal in die huidige omstandighede ʼn bruikbare, indien nie noodsaaklike, tema vir navorsing wees.

Afrikaners het egter nog nie die punt van ʼn gemeenskaplike vryheidswil bereik nie. Die grootste struikelblok om die gemeenskaplike vryheidswil te mobiliseer is geleë in die Afrikanerdiaspora. Afrikaners is verspreid oor die hele Suid-Afrika en ongeveer een miljoen Afrikaners het reeds geëmigreer. Een van die kernvoorwaardes vir selfbeskikking is dat die groep wat daarop aanspraak maak die meerderheid moet wees in ʼn spesifieke geografiese gebied.

Die kernaandrang van Afrikanerselfbeskikking is juis geleë in die groep wat nie aan nasionale volksverkiesings deelneem nie. In die opsig verwys Gregan na “om ex post facto kennis te neem van ʼn de facto-situasie en dit boonop de jure te erken”. Die groepering Afrikaners wat wel die volkstaatgedagte ernstig opneem se enigste opsie is geleë in ʼn ex post facto-situasie. Suid-Afrika is ʼn soewereine staat en met inagneming van die uti possidetis-beginsel is dit onwaarskynlik dat sesessie sonder ʼn Afrikaneropstand (rewolusie) sal kan plaasvind. ʼn Opstand sonder populêre steun sal nie veel bereik nie en maklik onderdruk word deur die regerende party.

Afrikaners het drie opsies. Skakel in by die huidige wanorde, emigreer of mobiliseer. Verkry populêre steun, beset ʼn geografiese gebied in Suid-Afrika en laat die wêreld ex post facto goedkeuring verleen. Dit gaan uitstaande kundigheid vereis om Afrikaners te lei tot onafhanklikheid binne konteks van globalisasie en die internasionale gemeenskap se siening ten opsigte afskeiding. Dit kan egter gedoen word.

купить тамбов монтировкилобановский александр биография

Maak 'n opvolg-bydrae