“Misdadigers is veronderstel om die polisie, die tronke en hulle vonnisse te vrees in plaas daarvan dat die publiek in konstante vrees moet leef. Alhoewel die polisiemag tydens die afgelope paar jaar van 120 000 tot 190 000 lede gegroei het, het misdaad in Suid-Afrika steeds die oorhand omdat daar nie die politieke wil is om dit aan te spreek nie,” het dr. Corné Mulder, provinsiale leier van die VF Plus in die Wes-Kaap gesê.
Ten spyte daarvan dat die ANC die moord op mnr. Costa veroordeel het, verdedig hulle steeds die sing van liedjies, soos “skiet die boere”. “Die sing van hierdie tipe liedjies is onverantwoordelik en skep die klimaat waarbinne hierdie wrede plaasmoorde plaasvind. Woorde het betekenis en gevolge,” het dr. Mulder bygevoeg.
Gedurende die vergadering het die teenwoordiges, meesal boere uit die wynlande Klapmuts, Somerset-Wes en so ver as van Malmesbury, dit duidelik gemaak dat hulle ontnugter en teleurgesteld is in die regering van die Wes-Kaap en die nasionale regering asook die polisie vir hulle onvermoë en bykans onwilligheid om iets te doen aan landelike beveiliging en misdaad in en om Stellenbosch, Cloetesville, Klapmuts, Kayamandi en Pniel.
“Die provinsiale en nasionale regering se oplossing is dat veiligheid elkeen se eie verantwoordelikheid is en daarom moet boere en die publiek hulle self beveilig. Dit is onaanvaarbaar dat die twee verdagtes in mnr. Costa se moord steeds op vrye voet is,” het Mulder gesê.
