’n Wêreldrekord vir politieke onderhandelinge om ’n nuwe regering te vorm, is gister geslaan. Dié nuwe rekordhouer is België. ’n Opskrif in die Vlaamse dagblad De Standaard lui vanmôre: “België breekt het wereldrekord politiek onderhandelen”. Die rekord van 249 dae van onderhandelinge is dus geslaan.
Die vorige rekordhouer was Irak, en ’n Irakese afvaardiging het gister ’n wisselbeker Regeringsvorming op ’n speelse volksfees in die Vlaamse universiteitstad Gent aan die Belge oorhandig. Sowat ’n 10 000 mense het dit bygewoon.
Voor Irak het Nederland die rekord gehou, en Nepal, wat al 233 dae onderhandel, kan maklik die volgende rekordhouer word as die Belgiese politici daarin kan slaag om ’n ooreenkoms te bereik.
Daarvan is egter nog geen sprake nie. Die teenstellinge in die land is te groot. In die Vlaamse televisienuus van gisteraand is ’n paar redes genoem. Naas die links-regse teenstellings is daar natuurlik veral die teenstelling tussen die Nederlandssprekende Vlaminge en die Franssprekende Wale. Groot wantroue bestaan tussen die Vlaamse en Waalse politici en daar is ook verskille in die onderhandelingskultuur.
Oral in België het gister speelse byeenkomste plaasgevind om die rekord te “vier”. In nog ’n Vlaamse universiteitstad, Leuven, is opgeroep tot ‘n “friet-revolusie”. Friet is wat ons in Afrikaans skyfies noem, of anders slap tjips. ’n Student het op televisie gesê: “Friet is die nasionale simbool van die Belge, of hulle Vlaams is of Franstalig”. Soos Tunisië ’n “jasmyn-revolusie” gehad het en Egipte ‘n “priramide-revolusie” moet België ’n “friet-revolusie” kry!
Die Belgiese verkiesing is op 13 Junie verlede jaar gehou, en sedertdien is tevergeefs onderhandel.
Die vorige bemiddelaar, Johan Vande Lamotte (korrek gespel so), het voorgestel dat België uiteindelik ’n unie van vier deelstate moet word, naamlik Vlaandere, Wallonië, Brussel en die Duitstalige gebied.
Die deelstate moet dan ’n groot deel van die owerheidsbeleid oorneem, insluitende justisie en die uitvoering van die sosiale sekerheid. Die federale regering moet hom alleen besig hou met sake soos verdediging, buitelandse betrekkinge, asiel en migrasie.
Vande Lanotte het dit gesê in ’n lesing aan die Gentse universiteit. Hy is leier van die Vlaamse sosialiste en het drie maande vergeefs geprobeer om ’n akkoord te bereik.
