Die twee kollegas, regters Majiedt en Leacock, het Kgomo daarvan beskuldig dat hy ‘n veel meer junior regter, Phule Tlaletsi, as waarnemende regterpresident aangestel het uit rassisme en kwaadwillige gevoelens jeens blanke en kleurlingregters.
Suid-Afrikaanse nuus, d.w.s. sowel nuus uit Suid-Afrika én Suider-Afrika.
Die regterpresident van die Noord-Kaap en waarnemende appèlregter, Frans Kgomo, het ‘n klag teen twee kollegas by die regterlike dienskommissie aanhangig gemaak.
Die twee kollegas, regters Majiedt en Leacock, het Kgomo daarvan beskuldig dat hy ‘n veel meer junior regter, Phule Tlaletsi, as waarnemende regterpresident aangestel het uit rassisme en kwaadwillige gevoelens jeens blanke en kleurlingregters.
Eskom het gister aangekondig dat die land aanstaande week bederf gaan word met elektrisiteit sonder beurtkrag. Vanweë die groot aantal vakansiedae word verwag dat verbruik laer as die normale gaan wees sodat geen kragverminderings nodig gaan wees nie.
Volgens Eskom gaan kragvoorsiening saans egter knap wees, maar kragonderbrekings word nie voorsien nie tensy bykomende probleme opduik.
Intussen gaan groot dele van Kemptonpark, waaronder die sakekern van die stad, nog vir ‘n week sonder krag wees nadat ‘n substasie weens gebrekkige instandhouding afgebrand het.
Sjina het besluit om die skip met wapens wat vir Zimbabwe bestem is, terug te roep. Dié besluit volg op intense diplomatieke druk van Brittanje en Amerika, asook weiering deur vakbonde om die wapens in die Durbanse hawe en elders af te laai.
Volgens Jiang Joe, ‘n woordvoerder van die Sjinese Buitelandse Sakeministerie, word die skip teruggeroep omdat hy nie in staat was om sy vrag af te lewer nie.
Intussen het aartsbiskop Desmond Tutu gister gesê dat wapens vir Zimbabwe gekeer moet word. Hy het ook gemeen dat Mugabe steeds met eer van die presidentskap kan afstand doen en sodoende sy reputasie as Afrikaleier kan red.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge het aangekondig dat die Weskaap die provinsie met die hoogste misdaadkoers in die land is. Daar vind meer gewapende rooftogte in Gauteng plaas, maar sowel moord as diefstal is meer algemeen in die Weskaap.
Die gedagte dat misdaad aan armoede verbind is, is teenstrydig met die statistiek. Die armste provinsie in die land, Limpopo, het die laagste moordsyfer met 14 moorder per 100 000 lede van die bevolking per jaar. Nie net is die Weskaap die rykste provinsie met ‘n gemiddelde inkomste van R135 000 per jaar nie, maar dit beskik ook oor die hoogste moordsyfer met 61 moorde per 100 000 per jaar, meer as vier keer die Limpopokoers.
Die VPIX-inflasiekoers wat deur die Reserwebank as teiken gebruik word, het skerp gestyg. Volgens die jongste syfers het dit verlede maand tot 10,1 persent gestyg, wat die verwagting skep dat nog rentekoersverhogings sal kom.
Statistiek SA sê dat die verbruikersprysindeks van alle items in Februarie tot 9,4% gestyg het, wat die hoogste vlak sedert Desember 2002 verteenwoordig.
Die Reserwebank se geteikende inflasieband lê tussen 3 en 6 persent.
Voedselinflasie het egter verlede maand 15,3% bereik, met petrolpryse wat 8% in die maand gestyg het.
‘n Hoofartikel in die regeringsbeheerde koerant van Zimbabwe, die Herald, het voorgestel dat ‘n regering van nasionale eenheid in Zimbabwe saamgestel word om die verslegtende politieke en ekonomiese krisis te beëindig. Dit verteenwoordig ‘n afwyking van die koerant se gewone standpunt waarin hy gewoonlik die opposisie daarvan beskuldig dat hy die stemme manipuleer.
Intussen is amptelike syfers van die hertelling van stemme in die parlementêre verkiesing bekendgemaak en Zanu PF het een setel oos van Harare van die opposisie verower met 6194 stemme teen 5931.
‘n Vorige Amerikaanse ambassadrise in Suid-Afrika en tans onderminister vir buitelandse sake, Jendayi Fraser, was gister op pad na Suid-Afrika en gaan ook Angola en Zambië besoek vir samesprekings oor Zimbabwe.
Die adjunk-president Phumzile Mlambo-Ngcuka het gister gesê dat Suid-Afrika buitelanders moet invoer om sy vaardigheidsprobleem aan te spreek.
Volgens haar het die skaal van die probleem intussen groter geword. Ook vakatures in die openbare sektor het onaanvaarbaar hoog gebly.
Verder lewer die openbare skole en universiteite nie genoeg opgeleide mense nie. Die gehalte en beskikbaarheid van opleidingspersoneel was ‘n vername struikelblok en landelike gemeenskappe het onafdoende toegang tot opvoeding en vaardigheidsgeleenthede.
Volgens Mlambo-Ngcuka moet kinders daarvan weerhou word om die skool voor matriek te verlaat.
Volgens die president van die African National Congress, Jacob Zuma, is die verkiesingskrisis in Zimbabwe onaanvaarbaar. Hy het dié verklaring gemaak ná ‘n ontmoeting met die Britse eerste minister Gordon Brown.
Aan die ander kant is Zuma gekant teen ‘n wapenboikot van Zimbabwe wat wel deur Brown ondersteun word.
Zuma het buite Downingstraat 10 met verslaggewers gesels na afloop van sy vergadering met Brown en hulle gesprek oor Zimbabwe. Hulle het saamgestem dat die situasie in daardie land onvaarbaar is en dat iets gedoen moet word om die effek op Zimbabwiërs aan te spreek.
Die Spesiale ondersoekeenheid ondersoek tans 30 000 staatsamptenare wat wederregtelik huissubsidies van die staat bekom het. Hulle sluit skoolhowe en polisiekapteins in wat op korrupte of bedrieglike wyse ten volle gesubsidieerde wonings verkry het.
Volgens Xolani Xundu van die behuisingsdepartement, is huissubsidies bedoel vir die armste van die armstes, dit wil sê mense wat minder as R3500 per maand verdien.
Maar ‘n totaal van 28 715 staatsamptenare wat sulke subsidies ontvang het, verdien meer as die R3 500 per maand. Voorheen was daar egter nie die nodige stelsels om die leuens wat staatsamptenare op aansoekvorms vertel te kontroleer nie.
In die hertellery van verlede maand se stemme, het president Robert Mugabe se party 23 kiesafdelings gewen volgens Zimbabwe se staatsmedia.
Mugabe se party, die Zimbabwiese African National Union – Patriotiese Front of Zanu-PF, het as wenner uit die stryd getree.
Terwyl die hertellery in 21 kiesafdelings wat deur die opposisie party, die MDC, gewen is, plaasgevind het, was Goromozi West een van slegs twee distrikte wat deur Mugabe gewen is waar stemme oorgetel is.
Die MDC het voorheen verklaar dat hulle 109 setels teenoor Zanu-PF se 97 setels gewen het uit die 210 setels. Mugabe se party kon dus slegs die meerderheid behaal as die uitslae in sewe of meer setels anders was.
Die hertellery het ook stemme ingesluit wat tegelyk in die presidensiële verkiesing uitgebring is. Geen van die uitslae van die presidensiële verkiesing is tot dusver openbaar gemaak nie.