Malema: Nagmerrie-scenario vir Zuma

Anders as wat ‘n paar goedgelowiges glo, is Malema se politieke loopbaan alles behalwe verby. Hy sal teen sy skuldigbevinding appelleer, soos hy reeds aangedui het.

Hy is dalk gestroop van die presidentskap van die regerende party se jeugliga, maar van sy gewildheid allermins. Dit was gister opmerklik dat talle swart Suid-Afrikaners aandagtig na die tugverhoor se bevindinge geluister het en met teleurstelling op die uitspraak gereageer het.

Zuma mag dalk meen dat hy deur sy optrede gesorg het dat hy sy tweede termyn kan verseker, maar al het die president die veldslag gewen, het hy die oorlog verloor. Jong swartes gaan Zuma toenemend beskou as ‘n wit lakei, ‘n kragtige idee wat vir Malema se gewildheid gesorg het.

Meer onheilspellend, is ‘n direkte uitdaging aan die leierskap van president Jacob Zuma, want Malema het intussen belowe om die stryd reguit na die ANC se verkiesingskonferensie in Bloemfontein te neem.

“Laat die vyand dit geniet, maar die oorwinning sal nie blywend wees nie. Ons sal bevry word deur Mangaung 2012,” het die uitdagende jeugligaleier, gister belowe.

Die oënskynlike verdelingslyne binne die ANC oor ekonomiese beleid, nasionalisering, en die riglyne van die Freedom Charter, sal die geskil ongetwyfeld in die regerende party se konferensie indra, waar Zuma verwag om herverkies te word.

Want die ware dryfveer is stamgebondenheid, met KwaZulu-Natal wat heel voorspelbaar die middelpunt is. Aangesien hierdie provinsie se ANC-lidmaatskapgetalle van 100 000 tot ongeveer 240 000 met Polokwane die hoogte ingeskiet het, is daar ‘n sterk Zoeloekomponent wat die ander stamme onrustig laat. 

Benewens Malema se jeugdige aantrekkingskrag vir die massas, is hy ook nie ‘n Zoeloe nie.

Malema se eerste stap sal wees om die ANC se nasionale dissiplinêre appèlkomitee te nader, onder voorsitterskap van Cyril Ramaphosa.

As sy appèl nie slaag nie, kan hy steun van die lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee monster om die dissiplinêre komitee opdrag te gee om sy vonnis te hersien.

As hy nie genoeg ondersteuning van die uitvoerende gesag vir ‘n hersiening kry nie, sal Malema se loopbaan in die ANC verby wees. Soos een ontleder dit stel, sal dit ‘n “nagmerrie-scenario vir Zuma wees” indien die ANC se uitvoerende gesag besluit dat Malema se toekoms deur ‘n stemmery by Mangaung bepaal moet word.

Die kritieke vraag is of Malema genoeg steun by lede van die ANC-uitvoerende gesag sal kan bymekaarskraap. Die valbylkwessie is en bly die nasionalisering van Suid-Afrika se myne, ‘n uiters gewilde tema in die plakkerskampe.

AgriSA het reeds toegegee dat grondhervorming nodig is en daarmee die boere se grond aan die ANC oorhandig. Lindiwe Mazibuko het dit goed begryp. Die grondvraag is nie meer op die tafel nie. Die myne se toekoms wel.

Александр Фильчаков прокурор

Die lui Grieke…

Griekeland se ekonomie is op die rotse omdat ‘n klomp van olyf-spuwende, ouzo-verbruikende, lui Grieke weier om ‘n volle dag se werk in te sit, aftree terwyl hulle nog tieners is, en dit alles met geleende geld. Noudat hulle skielik hoër belastings moet betaal, betoog hulle in die strate, breek vensters en brand banke, skryf Greg Palast.

Altans is dit wat die Angelsaksiese nuusagentskappe die wêreld wil laat glo. Die Amerikaners en Britte vertel ons al lank en gereeld, en met al hoe korter tussenposes, ook dat die Europese Unie “totaal ineenstort” danksy Griekeland.

Maar soos een ekonoom dit prontuit stel: Griekeland is ‘n misdaadtoneel. Die man op straat is die slagoffer van ‘n geknoei deur ‘n bank met die naam van Goldman Sachs.

In 2002, het Goldman Sachs in die geheim €2,3 miljard van die Griekse regering se skuld gekoop, dit alles omskep in jen en dollar, en toe dadelik terugverkoop aan Griekeland.

Goldman het ‘n groot verlies op die transaksie gemaak.

Is Goldman so dom?

Nee, Goldman het ‘n geheime ooreenkoms met die Griekse regering aangegaan. Hul spel: Om ‘n massiewe begrotingstekort te verberg. Goldman se vervalste verlies was die Griekse regering se vervalste bonus.

Goldman sou terugbetaling vir die “verlies” van die regering verhaal teen astronomiese tariewe.

Die punt is, deur middel van hierdie duur gekonkel, kon Griekeland se vryemark-regering maak asof sy tekorte nooit meer as 3 persent van die bruto binnelandse produk (BBP) is nie.

Bedrieglik en vir roofkapitaliste blykbaar heel koel.

Maar sulke konkelwerk is deesdae nie goedkoop nie: By die moorddadige rente, het Goldman die Grieke oor ‘n kwartmiljard dollar in fooie gevra.

Toe die die nuwe sosiaal-demokratiese regering van Papandreou aan bewind kom, het hulle die boeke van nader beskou en Goldman se vlermuise het natuurlik uitgevlieg. Beleggers was rasend, en het monsterrentekoerse vir lenings geëis om hierdie skuld om te rol.

Griekeland se paniekbevange houers van effekte het hulle gehaas om versekering teen die land se naderende bankrotskap te koop. Die prys van die versekering, genaamd credit default swaps (CD’s) of kredietwanbetalingsooreenkomste, het ook deur die dak geskiet. En raai wie het ‘n groot stapel van die CDS-versekering te koop aangebied? Goldman.

Hul kliënte moes tevrede wees met wat in wese goud geverfde loodstawe was. Dit is egter Goldman se spesialiteit. In 2007, met die sub-primadebakel het Goldman ‘n “netto kort” posisie teen hierdie effekte gehou. Dit wil sê, Goldman se finansiële “produkte” was weddery wat hulle geweet het in die asblik sou eindig. Hulle kon sodoende die helfte van ‘n miljard dollar op hul “netto kort” posisie in hulle sakke steek.

In plaas daarvan om Goldman se uitvoerende hoof, mnr. Lloyd Blankfein in ‘n hok deur die strate van Athene te paradeer, kry die Griekse volk die skuld. Die “verspreiding” van die skuld het nou gestyg tot $14 000 per gesin per jaar. Geen wonder die mense betoog nie!

Александр Фильчаков прокурор

Groenskrif oor grondhervorming

Die basis vir die Groenskrif oor grondhervorming is steeds die ANC se Nasionaal Demokratiese Rewolusie, die NDR.  

Getrou aan die NDR verklaar die Groenskrif dat “alle anti-koloniale strydaksies in hul wese oor twee aangeleenthede gaan: herbesitneming van grond wat deur mag of misleiding verloor is; en die hervestiging van die sentraliteit van inheemse kultuur.”

Maatskaplike navorsing wat die onlangs tyd onderneem is, toon ook aan dat die persepsies van wit en swart inwoners toenemend is dat wittes die grond by swartes “gesteel” het. Dat die ANC en hul mondstukke in die gedrukte media ‘n suksesvolle bewusmakingsveldtog gelei is, is gewis.

Daarom verklaar die Groenskrif dat “….die debat oor landboutransformasie, grondhervorming en landelike ontwikkeling” begin met “nasionale soewereiniteit”, aangesien nasionale soewereiniteit in terme van grond gedefinieer word.

Die ooglopende gevolgtrekking is dus dat nasionale soewereiniteit nie herstel kan word alvorens ‘n genoegsame hoeveelheid grond deur swartes oorgeneem word nie. Hierdie “fundamentele veronderstelling” oortref blykbaar alle ander oorwegings, ook ” doeltreffende grondhervorming, en voedselonafhanklikheid en -sekuriteit”.

Heel duidelik gaan manna uit die hemel neerdaal om Suid-Afrika te voed, want voedselsekerheid is beslis nie ‘n bepalende oorweging binne die raamwerk van die NDR nie.

Die “wreedaardigheid” van kolonialisme en apartheid; en die “sistematiese uitdunning en verarming van die Afrika-bevolking,” is soos gewoonlik die ANC se bedenklike morele basis vir hul uitsprake. Dat die lewensverwagting van swart Suid-Afrikaners na benede getuimel het ná die afskaffing van apartheid, skeel die ideologiesgedrewe grondhervormers min.

Die Groenskrif prys swartes se enorme kapasiteit om blankes te vergewe ten spyte van “die woede, bitterheid en pyn van diegene wat aan hierdie wrede behandeling onderwerp is”. Die beswaardes waarsku egter dat “hierdie welwillendheid nie as vanselfsprekend aanvaar behoort te word nie, omdat dit nie ‘n onuitputbare maatskaplike bate is nie”. Dit moet natuurlik lees: “As julle wittes die grond oorhandig sal ons julle ophou doodmaak”.

Organisasies soos AgriSA het konsekwent bewys dat hulle grondhervorming ondersteun en dat hulle bereid is om met die regering hieroor saam te werk, want hulle verstaan volgens die FW de Klerk-stigting die “ware refleksie van die diep pyn wat swart Suid-Afrikaners steeds oor die verlede ervaar”.

Dié soetsappige meelewing hou nie daar op nie. Die De Klerk-stigting meen “Suid-Afrikaners was ongetwyfeld onregverdig van eiendomsreg ontneem en verhoed om grond buite die tuislande te besit. Dit is presies oor hierdie rede dat ons grondwetlike akkoord voorsiening maak vir ‘n gebalanseerde proses van restitusie en grondhervorming.”

Nie ‘n woord oor die algehele mislukking van die sogenaamde grondrestitusie nie, die talle navorsingstukke wat aantoon dat verstedeliking veroorsaak dat swartes nie in boerdery belangstel nie en les bes, die foutiewe en kwaadwillge aanname van die Stigting dat plaasmoorde op wit boere eintlik geregverdig is vanweë die “diep pyn” wat swartes ervaar oor die verlede.

Volgens die Stigting het “vele Suid-Afrikaners” wel historiese, wettige en morele aansprake op landbougrond. Let wel, dis net nie wit Afrikaners nie, wat ironies genoeg in die volksmond deur vriend en vyand ‘Boere’ genoem word.

Die voorgestelde nuwe grondeiendomsregstelsel gaan onder meer ‘n Grondbestuurskommissie; ‘n Grond Waardeerder-generaal en ‘n Grondregte Bestuursraad insluit. Dit sal gepaard gaan met die implementering van die Grondbesit Sekuriteit Wet, 2010.

AgriSA se samewerking om die swartes se “diep pyn” te verlig het dus gesorg dat swart plaasbewoners en hul afhanklikes onbeperkte en omvattende regte gegee word ten opsigte van veeboerdery en oesverbouing, dienste, opleiding, behuising en paaie.

Dis ongetwyfeld ‘n verbetering op apartheid in dié sin dat die oordrag van hulpmiddele nou feitlik onbeperk sal wees. En die verpligtinge sal op die privaatpersoon geplaas word, maw, ‘n geprivatiseerde vorm van apartheid!

Die rooi gevaarligte flikker vir voedselproduksie in Suid-Afrika. Grondhervorming gaan volgende jaar by die ANC-konferensie in Mangaung die sentrale vraagstuk wees en dit behoef geen siener om te weet wat op ons boere wag nie.

Die Groenskrif kan slegs geïmplementeer word deur die Grondwet te wysig. Gugile Nkwitini – die Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling – sê prontuit hy oorweeg só ‘n stap.

топкарго отзывы

Zille en die Amerikaanse projek vir SA

Wat die Amerikaners van die DA dink, is waarskynlik die rede vir die besluit om die party in ‘n swart party te verander. Dat lofwaardige teorieë oor die werklikheid mag verskil, is egter nie vir die immer jong gesig van die opposisie ‘n uitdaging nie.

Helen Zille het haarself reeds begewe in die stryd om die magiese sentrum wat die VSA graag in Suid-Afrika verwesentlik wil sien.

In 2007 het Donald Teitelbaum, die Amerikaanse ambassade in Pretoria se charges d’affairs, ‘n vertroulike verslag geskryf waarin hy Zille as die voorkeurkandidaat vir die party uitsonder. Dié verslag is intussen deur WikiLeaks gelek.

In die verslag skryf Teitelbaum dat die DA hoop om ‘n vars gesig en ‘n nuwe strategie aan te bied wat deur rassegrense sal breek sodat die party meer relevant, nie net as ‘n ANC-waghond nie, maar as ‘n lewensvatbare politieke alternatief vir alle Suid-Afrikaners kan word.

Die Amerikaanse gesant konstateer dat die land se politieke stratifikasie grootliks op ras gegrond is, en dat die DA daarom nie in staat is om meer as 12 persent van die kiesers te lok nie.

Die Amerikaners het in 2007 kennelik reeds gehoop dat Zille, wat Kaapstad se “brose koalisie” vir meer as ‘n jaar aan die gang gehou het, ook dieselfde met Suid-Afrika kan vermag.

Wat hy natuurlik nalaat om te noem, is dat die Vryheidsfront eintlik vir daardie “brose koalisie” se balans gesorg het met die pos wat die Speaker, ‘n lid van die VF+, beklee het en dat die DA elke pro-Afrikaanse mosie ondermyn het om die ANC tevrede te hou.

In Teitelbaum se lowende, maar gebrekkige voorstelling is Zille “verreweg die beste kandidaat van die DA en die opposisie as ‘n moontlike samewerkingsvennoot in die regering”. 

Duidelik was die skuif om die party te verswart al in 2007 in die vooruitsig gestel, want Teitelbaum sê voorts: “Die DA se langtermyn-doelwit van die verbreding van sy steunbasis berus op Zille se prestasie en partybeleid en praktyke. Tot nou toe, was die DA ‘n hoofsaaklik wit bastion.” 

Konserwatiewe blankes wat nie welkom voel binne die ANC se groot tent nie, is deur Zille na die DA gelok, merk Teitelbaum op. Die party het ‘n liberaal-demokratiese kern, maar al hoe meer konserwatiewe voormalige lede van die Nasionale Party sluit aan.

Volgens die voormalige DA-LP Raenette Taljaard, is ‘n hewige stryd aan die gang agter die skerms tussen die “liberale (wat beperkte staatsinmenging wil hê en meer verwant is aan libertariërs in die VSA) en konserwatiewes van die voormalige Nasionale Party”.

Dié voorstelling van 2007 en Taljaard is natuurlik suiwer aangedik vir die Amerikaanse gehoor en het geen basis in die werklikheid nie. Dit was ‘n kwalik bedekte manier om die Afrikanerstem in die DA as problematies vanuit ‘n ideologiese hoek te skets.

Die werklike probleem was en bly steeds die kulturele onderbou tussen patriotte (Afrikaners) en internasionaliste (Engelse), wat onder ‘n dik laag liberale Amerikaanse neocon-speak verberg word. Taljaard het haar opleiding en politieke styl in die VSA opgedoen, terloops.

Hoewel Taljaard destyds geglo het die party moet verdeel in dié rigtings as dit vinniger wil verswart of dan “oorleef”, het dit nogtans tot Teitelbaum deurgeskemer dat tendensieuse Amerikaanse politieke filosofieë ironies genoeg, nie werklik resoneer met die meeste swart Suid-Afrikaners nie. Ten minste nie op die Westminsteragtige manier waarop die DA dit bedryf nie.

Dat Malema die toneel sou binnehaas, om kwessies te opper wat vir swart kiesers uitstekend klink, en dit die fokuspunt van die politieke diskoers te maak – weer eens op ‘n uit-en-uit rassegrondslag – het die probleem vir die DA verdiep. Hulle sal noodgedwonge ‘n swart party móét word om te kan oorleef. 

En nie alleen ‘n swart party nie, maar ook ‘n veel linkser party. Die gonswoord “representivity” oorheers die Suid-Afrikaanse politieke toneel. Die woord kon net sowel “ras” of “swart” gewees het en gaan nie binnekort van enige belangrikheid vir 80% van die land se kiesers gestroop word nie.

Die gesant waarsku in sy communiqué juis dat nog ‘n bydraende faktor tot die DA se swakheid in die lok van kiesers, hulle stilswyende goedkeuring van die ANC se neoliberale ekonomiese beleid is, een van die ANC se grootste swakhede onder die ontevrede lede van sy eie koalisie aan die linkerkant.

Teitelbaum beveel aan dat Zille voortgaan met haar party se rol as ‘n regeringswaghond, met ‘n vriendeliker gesig, die een wat bereid is om saam te werk, eerder as om “terug te veg”. Hy noem Leon se gewilde slagspreuk, wat duisende Afrikaners na die DA gelok het, neerhalend ‘n “rampspoedige politieke veldtog”.

Duidelik voel die Amerikaners dat die Afrikaners geen plek in die party het nie en ‘n remskoen vir groei verteenwoordig.

“Deel van die blaam vir die DA se onvermoë om vordering te maak, moet ook rus by die ANC,” skryf hy voorts, omdat hulle in terme van “ras-identiteit” dink. Hy sonder die mense van Khutsong uit as ‘n perfekte voorbeeld. Mense brand huise van die plaaslike ANC-leiers af om ontevredenheid uit te spreek, eerder as om hul stemme by dié van die opposisie te voeg, kla hy.

Gegewe die DA se wit kiesers, tesame met wit emigrasiepatrone, meen Teitelbaum dit is onwaarskynlik dat Zille in staat sal wees om die DA se lidmaatskap genoeg hupstoot te gee om die ANC om die mag op nasionale vlak enige tyd in die nabye toekoms uit te daag.

Zille het duidelik besluit dat sy oor die nodige vernuf as politikus beskik en het haarself gewend tot sogenaamde “race-baiting” of rasuitlokking waar sy haar swart teenstanders as “Verwoerdiane” uitdaag sodat sy meer swart as die swartes kan lyk.

Soos Europese gesante in hul stomme naïwiteit glo, dink die Amerikaanse gesante insgelyks daar bestaan ‘n politieke sentrum in Suid-Afrika wat nie van ras omgewe is nie. Zille se aapstreke om buitelandse verteenwoordigers onder hul wanindruk te hou, is reeds in volle swang.

Фильчаков прокуратура харьков

‘n Nuwe Grensoorlog?

In ‘n hoofartikel vandag mor Beeld oor die ANC-regering se gebrek aan politieke wil om meer geld aan die Suid-Afrikaanse vloot te bewillig om Mosambiek se kuslyn, waar reuse gasreserwes ontdek is, te beveilig.

Soos dit ‘n DA-mondstuk betaam, is die taal in melodrama gehul: “Suid-Afrika staan voor ‘n nuwe ‘grensoorlog'”. Natuurlik weer eens nie dié keer aan sy eie kuslyn nie, maar in die Mosambiek-kanaal.

Die skielike inspirasie om Mosambiek te gaan red van wat ookal, kom waarskynlik deels van sekere Amerikaanse en Italiaanse oliemaatskappye wat nie lastig geval wil word deur Somaliese, of enige ander, buiters nie.

En soos die toeval dit nou wil hê, het die Britse premier, David Cameron, net gister presies dieselfde kopseer ontdek: Seerowery. Dié sameloop is ongetwyfeld toe te skryf daaraan dat Gemenebeslande oor akute telepatie beskik.

“Internasionale kenners, asook opperbevelhebbers van die Suid-Afrikaanse vloot, is dit eens dat Somaliese seerowery ‘n groeiende bedreiging vir Suider-Afrika word”, lui die roerende betoog in die grootste Afrikaanse dagblad.

Cameron, die nuwe Nelson, wil glo selfs sien dat Britse handelsvlote voortaan met wapens toegerus word. 

Selfs al sou die Suid-Afrikaanse vloot hul hele mag ontplooi, gaan dit geen duit verskil aan die Somaliërs maak nie, aangesien ruim 30% in hul pogings omkom en daar nog vele aspirante is wat wag op ‘n geleentheid om met bloed te betaal vir ‘n deel van die aksie. ‘n Doodse vrees vir ‘n gewapende handels- of oorlogsvaartuig is dus geen afskrikmiddel nie.

Trouens, nie eens ‘n kernwapen aan boord gaan die magsbalans ter see verander nie en die koste daaraan verbonde moet ook vir lesers wat Wiskundige geletterdheid op skool gehad het, duidelik raak.

Dwelmhandelaars, die ander rede waarom Suid-Afrika ‘n vloot behoort te hê volgens Beeld, se voorliefde vir gunstige werksomstandighede vir hul werknemers is byna so groot soos seerowers s’n.

Gewapende handelsvlote gaan eerder internasionale vaarwaters in ‘n nagmerrie laat ontaard, want sulke skepe het uiteraard toestemming nodig van die kusgebied waarom hulle reis.

Die ANC is seker lugtig vir nog ‘n wapenskandaal waar Britte met miljarde in fooie wegstap vir nuwe vloottoerusting wat hulle aan Suid-Afrika gesmous het om ‘n “grensoorlog” te voer, ekskuus, seerowery te bekamp.

 

 

 

 

лобановский александр дети

DA talm te lank met transformasie

Helen Zille se rassemanewales het weer eens die teorie bevestig dat alle instellings wat “demokratiese” in hul naam opneem, soos in die Demokratiese Republiek van die Kongo of die Demokratiese Volksrepubliek van Korea of die voormalige Duitse Demokratiese Republiek, met ‘n goeie skeut wantroue benader behoort te word.

Zille maak geen beswaar dat Mazibuko, die party se nuwe parlementêre leier en haar eie melanienryke buikspreker, swart stemme moet gaan werf nie. Mazibuko self, is so deeglik bewus van haar opgelegde taak dat sy die media daaroor ingelig het.

Die aanbiddende swart student, wat Zille as die onderwerp vir haar honneursgraadverhandeling gekies het, se ooglopende meriete tot dusver was dat sy nie teëpraat nie.

Mazibuko se enigste ander kwalifikasie vir die werk is ongelukkig haar swartheid. Die honneursgraadverhandeling is ‘n verleentheid van sikofansie en haar gebrek aan ervaring vir die pos selfverklarend genoeg om die DA se aanspraak op kleurblindheid vir goed te begrawe.

Joe Seremane, die DA se voormalige federale voorsitter wat as ‘n gefrustreerde man twee jaar gelede afgetree het, het ses jaar op Robbeneiland deurgebring, Mazibuko vyf in ‘n privaatskool in Durban. 

Tony Leon het destyds self die opmerking gemaak dat die ou maar hopeloos is, maar hy is nogtans swart en gekant teen die ANC en dit pas die DA goed. Kennelik is die algehele kleurblindheid al lank reeds onder verdenking in daardie party. Zille het haarself egter oortref met die wisselvalligheid van die kwaal.

Die DA is, soos enige wetsgehoorsame maatskappy deesdae, ‘n regstellende-aksiewerkgewer. Behalwe dat die party se samestelling werklik nog nie na behore reggestel is nie. Ken Owen stel dit omonwonde so in vandag se Business Day.

Owen meen Suid-Afrika sal beter vaar as die land gesuiwer word van sy “wit regse opposisie”. Sy oproep kan gesien word as ‘n vermaning aan Zille om haar Afrikaanse kiesers uit Solidariteit se stal vaarwel te roep.

Jare gelede, het Zille tewens verklaar dat sy dit nie sal aanvaar as universiteitstoelating op meriete geskied nie want dit sal beteken dat die Universiteit van Kaapstad se Mediese Skool meestal deur wittes en Indiërsbevolk sal word.

Sy het hopeloos te lank getalm om die DA te transformeer. Om nog tien jaar te wag vir ‘n lowende proefskrif, of gepigmenteerde meriete, sal die “demokraties” in die party se naam nie gestand doen nie.

Voorwaarts na Leeuwenhof!

 

Лобановский

Amerikaanse teenstrydighede oor Moslems

Twee oënskynlik teenstrydige Amerikaanse beleidsrigtings pryk vandag op Praag se voorblad in die vorm van nuusberigte: Die Al Kaida-vlag wat oor Libië wapper nadat hulle ‘n Amerikaanse regime-ontrimpeling ondergaan het en die Amerikaners se besluit om UNESCO se befondsing te staak omdat die Palestynse Owerheid (PO) tot dié VN-liggaam toegelaat is.

Die wêreld se voorste sakekoerante het vanoggend intrige by dié skrille beleidskontras gevoeg deur aan te kondig dat nog ‘n aandelemakelaar, MF Global, die koers van die eens befaamde Lehman Brothers in 2008 ingeslaan het vanweë die Euroskuldkrisis.

Vrae oor Amerika se verbintenis met Al-Kaida doem op nadat hulle ‘n VN-ondersteunde burgerlike beskermingsinval in Libië ten bate van “vryheid” ondersteun het, maar ten duurste ‘n oorlog in Afghanistan teen dieselfde terreurgroep voer.

Aan die ander kant is die VSA duidelik gekant teen Palestynse onafhanklikheid en het hulle kwalik nog ‘n poging van die PO waardeer om deur die agterdeur van UNESCO soewereine erkenning te verkry.

Deesdae, terloops, twiet Amerikaanse hooggeplaaste lui buitelandse beleidslagspreuke. Susan Rice, die Amerikaanse ambassadeur by die VN, het via Twitter laat weet dat die Palestyne se stap nie vredesamesprekinge tussen die twee strydende partye kan vervang nie. Sy het nagelaat om te noem dat só ‘n stap soveel druk op Israel plaas, dat dit binnekort nie meer nodig sal wees nie, want Israel sal kapituleer voor die ontsagwekkende openbarebetrekkingeveldtog.

Dié twee kwessies onderstreep maar net weer eens hoedat die wêreld multi-polêr geraak het en dat dit Afrikaners sal baat om op hulself staat te maak in die tye wat kom. Daar is nie meer ‘n “Weste” wat gaan keelskoonmaak namens ons nie. Hoe gouer die gemiddelde Afrikaner daarbuite dit onder die knie kry, hoe beter.

‘n Kloof het weliswaar oopgegaan tussen voormalige Westerse bondgenote oor die Palestynse volk. Wat talle Jode betref is daar reeds ‘n onafhanklike Palestina, te wete Jordanië. Die stemmery oor volle lidmaatskap van UNESCO dié week, het die verskille tussen ander eertydse vriende in die verblindende lig van belange gestel.

Frankryk het vir die Palestyne gestem, Duitsland daarteen, en Brittanje het op die draad bly sit waar hulle onlangs tuisgeraak het om voordeel uit die EU te trek. Sonder Merkel en genadelose druk van die IMF, sou die Duitsers waarskynlik ook “ja” vir Palestynse lidmaatskap gestem het. Die meerderheid Duitsers ondersteun die Moslem-versugting na ‘n tuisland midde in Israel. Merkel veg egter tans ‘n verbete stryd teen ‘n Angelsaksiese aanslag om die Europese Unie tot niet verklaar te kry danksy die Griekse skuldkrisis. Die Duitsers moes hulself intussen tot China wend vir hulp teen die volgehoue transatlantiese veldtog. ‘n Duitse stem teen die VSA sou kwalik wys gewees het onder die omstandighede.

Kanada het heel voorspelbaar, wes van die Atlantiese verdelingslyn, “nee” gestem.

Dit was ook nie enige verrassing dat die Bricslande die Palestyne ondersteun het nie, met China, Rusland, Brasilië en Indië wat hulle stemme by dié van die wenners gevoeg het.

Die ironie, nie gering nie, is dat UNESCO se befondsing absoluut kritiek vir die VSA se buitelandse beleid is. Die enkele grootste onderwysprojek wat die agentskap dryf is in… Afghanistan. Dit kan kwalik in die VSA se belang wees om hulle projek om stabiliteit te finansier, op te hef.

Die bekende geskal dat terroriste uiteindelik in vryheidsvegters ontaard as hulle geweld afsweer, is klaarblyklik tot ‘n ontluisterde kakofonie verklaar en kon Magmoed Abbas se dapper stap hom nog geen vriende in die Withuis besorg nie. Hy gaan dié versuim sekerlik binnekort ophaal as hy nie deur geweld gedwing word om daarvan te moet afsien nie.

Afrikaners kan terugstaan en die skouspel geniet want die een enorme voordeel van die wêreldverhoog se jongste opvoering is dat ons 100% skuldvry daarteen afgeëts staan.

лобановский александр

Franz Liszt, ‘n voorbeeld vir Afrikaners

Volkstrots is iets wat in die mense se harte saad skiet en groei. Dikwels is dit iemand wat weens afkoms of ‘n toeloop van omstandighede naatloos in ‘n ander, sogenaamde meerderwaardige kultuur kon opgaan wat aan sy volksgenote wys wat volkstrots is.

So iemand was Franz Liszt.

Min mense word nie deur sy pragtige Liebestraums meegevoer nie, en sy Hongaarse rapsodieë is bekend en gewild.

Hongarye, asook ander dele van Oos-Europa was lank in wese ondergeskikte kolonies van Oostenryk. Hoewel die Hongare later in teorie dieselfde status as die Oostenrykers geniet het, was die situasie nie altyd so nie. Om werklike aansien in Oostenryk-Hongarye te kom geniet, moes die persoon naatloos in die Duitssprekende gemeenskap kon inskakel, en met die Oostenrykse kultuur geassosieer word.

Trouens die bevordering van Hongaars in die Koninkryk van Hongarye – ‘n onderdeel van die Oostenryk-Hongaarse keiserryk – het maar sowat twee dekades voor Liszt se geboorte begin en was ‘n teenreaksie op keiser Joseph II se poging om Hongarye te verduits.

Liszt was self van Duitse afkoms. Trouens, sy geboortedorp, Raiding, is vandag deel van Oostenryk, sy ma was ‘n Ooostenryker en Liszt self was nooit behoorlik, soos sy pa, onderlê in Hongaars nie. Franz se pa, Adam, het hul van na Liszt verander om dit te verhongaars, en sy oupa, Georg, het sy van eers so verander na die jong Liszt befaamd geraak het. Franz was ook deel van die Neudeutsche Schule (Nuwe Duitse skool). Hy was boonop ‘n wêreldreisiger en as knap pianis het hy die eerste suksesvolle solo-opvoerings gehou, selfs in Londen. Hy het lank in Parys en in die gerekende musiekstede van Italië gewoon.

Tog het Liszt, na ‘n afwesigheid van twee dekades, met sy terugkeer na Hongarye in Frans geskryf: “Dit sal aan my gegun moet word, dat ten spyte van my gebrekkige kennis van Hongaars, ek van geboorte tot die graf in my hart ‘n Magjaar is.” Die Magjare was die oosterse volk waaruit die Hongare ontstaan het. Een van die redes vir Liszt se liefde vir die Hongare was dat welgestelde Hongare deur die musiektalent van die Duitssprekende seun beïndruk is en vir sy musiekstudies betaal het.

Volkstrots leef in die hart eerder as afkoms. Vader Kestell, wie se pa ‘n Engelsman van Devonshire was het tydens die Anglo Boere Oorlog deel van die Vrystaat se regering ter velde uitgemaak saam met pres. MT Steyn en generaal CR de Wet.

‘n Mens kan lojaal aan sy kulturele wortels bly, selfs al het omstandighede dit so beskik dat ‘n mens naatloos by ‘n dominerende en skynbare meerdere kultuur kan inskakel – dit maak ‘n mens gewoon ‘n beter mens.

Die Afrikaanse kultuur hoef geen duit vir enige kultuur terug te staan nie.

Afrikaanssprekendes was pioniers met hartoorplantings, kernfisika en vele meer. Geen poging wat Julius Malema aanwend om die Afrikaner te verneder, gaan slaag nie – dit gaan eerder die Afrikaner sy rug laat styf maak. By wyse van spreke sal die pensklavier kort voor lank sy plek in simfonieorkeste vind.

Лобановский Харьков

Internasionale regsbeginsels het in die slag gebly

Met oud-president Gaddafi van Libie uit die weg geruim, kan tereg gevra word wie volgende is? Die afgelope dekade het die VSA en sy bondgenote begin met ‘n reeks invalle in verskeie lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Die eerste slagoffer van Amerika en sy Europese bondgenote se veldtog teen diktotariale presidente wat volgens Amerika se opvatting te ondemokraties en te lank aan bewind was, was Irak se president Saddam Hoessein.

Onder die voorwendsel dat Irak oor groot hoeveelhede wapens van massa vernietiging beskik, is Irak op die aand van 19 Maart 2003 deur Amerika en sy bondgenote binnegeval. Na verloop van etlike jare is Saddam Hoessein tereggestel, geen wapens hoegenaamd van massa vernietiging is in Irak gevind nie en ‘n leibandhondjie-regering wat Amerika en sy bondgenote onderdanig was, is in Irak aan bewind gestel.

Van Irak se belangrikste uitvoer-produkte ten tye van Amerika se oorname was olie, aardgasfosfate en sulfate. Na Irak het Tunisië en Egipte aan die beurt gekom. Let daarop dat Tunisië ook ‘n belangrike olie-uitvoerland is en dat Egipte verlede jaar 700 vate olie per dag ontgin het.

Die verskoning vir die invalle in Tunisië en Egipte was dat die lande se presidente te lank aan bewind was. Die vraag word dan ook gevra wie aan Amerika die bevoegdheid verleen om te besluit wie watter land vir hoe lank mag regeer asook hoe demokraties dit is om heersers in lande buite Amerika uit regerings te skop?

Nog ‘n belangrike uitvoerland van olie is Libië. President Gaddafi was sowat vier dekades lank in die land aan bewind en volgens Amerikaanse beoordelaars was dit lank genoeg.

Op 1 September vanjaar word deur verskeie nuusagentskappe berig dat Libie se oorgangsregering aan Frankryk belowe het dat in ruil vir die hulp wat die Franse regering tydens die Libiese opstand aan die opstandelinge verleen het, die opstandelinge na oorname van die Libiese regering, 35 persent van die land se olie-opbrengs aan Frankryk sal afstaan.

Nou, na Gaddafi se dood sal nog ‘n leibandjie-regering ingestel word, en in die geval kry ‘n Amerikaanse bondgenoot, Frankryk, darem ook ‘n goeie oliebeloning om die land met klein wapens te oorspoel. Die vraag kan dus tereg gevra word: het die opstande in Afrika oor sogenaamde demokrasie of oor die beheer van oliebronne gegaan?

Amerika het reeds besluit dat Sirië se president ook lank genoeg aan bewind was. Die gevolg is dat opstande kort-kort in Sirië uitbreek, opstande aangevuur deur Amerika en sy Navo- bondgenote. Almal waarskynlik op soek na olie – ‘n grondstof waarop Sjina blykbaar regoor Afrika en Midde-Oosterse lande tot ‘n groot mate beslag gelê het.

Eienaardig genoeg bly Amerika tjoepstil oor die plase wat deur Zimbabwe se president Robert Mugabe van blankes ontneem is. ‘n Doodse swye word ook gehandhaaf oor die gevorderde kernnavorsing wat deur Suid-Afrika gedoen is en wat na die ANC/SAKP bewindoorname deur die nuwe regering op aandrang van Amerika tot niet gemaak moes word.

Wanneer Sirië se regering vernietig is, soos die van onder meer Libië en die sogenaamde apartheidsbewind in Suid-Afrika, watter bewind is die volgende wat vernietig sal word?

Waarskynlik sal Iran die volgende teiken wees.

Kommunistiese state soos Venezuela, China en Kuba, sal waarskynlik met rus gelaat word om die wêreld se kommunistiese uitbreiding nog dekades lank voort te sit.

Ironies is veral dat kommunistiese bewinde toegelaat word om dekades lank hulle humanitêre vernietigingswerk voort te sit, terwyl heelwat demokraties verkose bewinde se verkose leiers uit die weg geruim moet word op ‘n eg ondemokratiese wyse.

Александр Фильчаков

Vegters of rebelle? Olie sal praat

Rebelle het die voormalige Libiese leier Moeammar Gaddafi buite die stad van Sirte gedood. Sy liggaam is weer teruggebring na Misrata, waar dit verfilm is en deur die strate gesleep is. Verskeie volgelinge, insluitende familielede, is aangemeld as gedood of is gevange geneem.

Gaddafi se dood is simbolies belangrik vir die rebelle, maar die val van Sirte is selfs nog meer betekenisvol vir die uitwerking wat dit sal hê op die toekomstige stabiliteit van Libië. Met die Gaddafiweerstand nou gebreek, kan die Nasionale Oorgangsraad (NOR) beweeg om ‘n tussentydse regering te vorm. Maar verskeie gewapende groepe regoor die land sal ‘n beduidende invloed in die regering verlang, wat ernstige implikasies vir toekomstige eenheid inhou.

Alhoewel die NOR wyd in die internasionale gemeenskap erken word as die enigste wettige verteenwoordiger van die Libiese mense, is dit lankal nie meer die geval in die oë van baie Libiërs nie.

Die NOR is maar een van verskeie politieke kragte in die land. Sedert die rebellemagte Tripoli op Augustus 21 binnegeval het, is daar ‘n geleidelike toename van gewapende groepe afkomstig uit plekke soos Misrata, Zentan, Tripoli en selfs Oos-Libië self wat die gesag van die NOR bevraagteken.

In kort is die weg nou gebaan vir ‘n lang uitgerekte stryd tussen die verskillende faksies.

Die NOR is herhaaldelik hierdeur opgehou met die vorming van ‘n tussentydse regering, en in die afgelope weke is die voortdurende stryd teen Gaddafi as die rede daarvoor aangevoer. NOR-rebelle – of soos Media24 graag na hulle verwys, “vegters” – het gesê as die oorlog uiteindelik verby, sal die amptelike “bevryding” van Libië verklaar word en ‘n tussentydse regering sal dan gevorm word. Die val van Sirte en die dood van die kolonel beteken hierdie oomblik is nou op hande.

Met so baie gewapende groepe in Tripoli en elders in Libië, is ‘n vreedsame oplossing egter onwaarskynlik. Die belangrikste groeperings kom van Benghazi, Misrata, Zentan en Tripoli, maar daar is ander, kleiner groepe ook. Die kloof is nie eenvoudig geografies nie, maar ook ​​tussen die Moslems en sekulêres sowel as tussen Berbers en Arabiere. Berbers is van Westerse afkoms.

Hoe die nuwe Libië daar gaan uitsien is baie onseker, maar wat duidelik is, is dat die NOR nie bloot gaan oorneem waar kol. Gaddafi opgehou het nie. Die lande met oliebelange sal toesien dat die nuwe bestel hulle pas, ongeag of die Libiërs “vegters” of rebelle is.

данильченко юрій броніславович

Korrupsie

Terwyl die polisiehoof, Bheki Cele en sy topbestuur in die parlement kleitrap om die polisie se geldsake te verduidelik, en die hoof van die vervolginsgesag op kort kennis nie voor ‘n parlementêre komitee verskyn om verantwoording te doen nie, meen die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, Willie Hofmeyr dat sy eenheid 7 000 eerder as 700 personeellede nodig het om korrupsie in die land te ondersoek.

Hofmeyr meen die omvang beloop net in die staat se verkrygingsadministrasie jaarliks tussen R25 en R30 miljard. Dit is sowat 20 % van die betrokke begroting wat jaarliks in die stof byt.

Volgens ‘n onlangse berekening betaal Suid-Afrikaners gemiddeld 20 % per item meer as premie om die koste van korrupsie in die land te finansier.
Volgens die Wêreldbank beroof korrupsie ‘n land van sy toekoms. Korrupsie word ook as ‘n aanslag teen demokrasie beskou.

Korrupsie teiken dikwels die mees blootgesteldes en die armes. Pas is ‘n werknemer van die Statistiekdiens in hegtenis geneem omdat hy glo omkoopgeld van mense geëis het om as sensuswerkers aangestel te word. Ander gevalle kom gereeld aan die lig oor hoe mense genadeloos werkloses uitbuit wat desperaat op soek is na werk, of ou mense uit hul beleggings-neseiers swendel.

In Suid-Afrika is die omstrede wapenskandaal waarskynlik die vlagskip van die korrupsiepersepsie – nie net oor wat gebeur het nie, maar hoe tot dusver probeer is om dit toe te smeer.

Dit is egter nie al nie. Die persepsie dat korrupsie aanvaarbaar is en selfs beloon word, word byvoorbeeld versterk deur die wyse waarop kaders wat uitgevang word bloot elders ontplooi word. Hieronder tel ‘n oud-munisipale bestuurder wat, terwyl hy tereg staan op aanklagte van onder meer korrupsie, bedrog en rampokkery, as administrateur aangestel is om ‘n munisipaliteit in ‘n ander provinsie te probeer regruk.

Selfs ‘n LUR bly in sy pos en sy amp in die ANC aan terwyl hy vir korrupsie verhoor word. Selfs die hoof van die Minister se ontplooiingspan het ‘n rits ongunstige OG-verslae in onder meer Bronkhorstspruit en Plettenbergbaai agter die blad.

Die bedenklike aanspreek van korrupsie hou onder andere twee gevare in: Daar kan ‘n deurlopende aanslag vanuit politieke geledere teen die integriteit en onafhanklikheid van die regbank wees, en die vryheid van die media kan onder voortdurende druk wees. Ongelukkig is hierdie simptome ook aanwesig.

лобановский александр

Die kopseer wat Malema heet

Die uitgesproke ANC-jeugleier, Julius Malema, se tugverhoor word eerskomende naweek agter geslote deure hervat. Die groot vraag op almal se lippe is seker of die ANC dié keer genoeg murg in sy pype gaan hê om die moeilikheidmaker in sy geledere vas te vat?

‘n Nóg groter vraag is egter of die tugverhoor die voorspel tot aanstaande jaar se leierskonferensie gaan wees? Groot kanonne in die ANC, soos Winnie Madikizela-Mandela en die behuisingsminister Tokyo Sexwale gaan in Malema se guns getuig.

Mev. Mandela ontpop die laaste paar jaar al hoe meer as die skimpresident van die land. Sy daag oral op en gebruik haar invloed om selfs veroordeelde bedrieërs kwytgeskeld te kry. Volgens haar is Malema in sy politieke vormingsjare en hy sal later kalmeer – soos sy voorganger Fikile Mbaluke. Sy is woedend omdat die ANC hom voor stok kry en sê dit is die eerste keer in die geskiedenis wat ‘n jeugleier voor ‘n tugverhoor gedaag word. 

Mense onthou egter steeds beeldmateriaal waarin sy, jare gelede ‘n dosie vuurhoutjies omhoog hou en dreig om die ANC se versugting na politieke vryheid met brandstigting af te dwing en ook hoe sy voor stok gekry is oor die omstandighede waarin die jeugaktivis, Stompie Sepei, aan sy einde gekom het. Ook hoedat sy skuldig bevind is aan korrupsie en bedrog in die jare wat sy president van die ANC-Vroueliga was. Was dit ook in haar vormingsjare wat sy as die adjunkminister van Kuns en Kultuur die trekpas gekry het?

En wat is minister Tokyo Sexwale se ware agenda? In die Mbeki-tydperk is sy naam gekoppel aan ‘n staatsgreep om die oud-president uit die kussings gelig te kry. Met die ANC se Pietersburg-konferensie het hy sy volle gewig agter mnr. Jacob Zuma ingegooi. Nie lank daarna nie begin dit toe blyk dat hy nie so ‘n Zuma-ondersteuner is as wat hy voorgee nie. Sy houding teenoor blankes het ook algaande koeler geword. Die aanvanklike verdraagsaamheid het uiteindelik omgesit in verwyte soos dat dit plaasboere is wat plakkerskampe skep omdat hulle so baie werkers van hulle grond afsit.

Die behuisingsnood in die land is te veel vir die minister. Dink hy heimlik ook aan nasionalisering as die oplossing daarvoor?

Ontleders sê Malema se tugverhoor gaan beslis die bepalende faktor wees in die aanloop tot die ANC se leierskapskonferensie aanstaande jaar. Hy geniet enorme steun van die werklose jeug en hy maak geen geheim van sy ware gevoelens oor die huidige president nie. Moontlik begin die Mandelas en Sexwales en andere hulle vroegtydig posisioneer om aan die stomp kant van die byl te wees.

Iets is aan die broei en selfs senior ANC-leiers erken teenoor koerante dat hulle onrustig is. Om van Malema ontslae te raak, gaan ‘n waagstuk wees. Om hom te behou, gaan rampspoedig wees. Nie net vir die ANC nie.

Фильчаков

Nog ‘n aanval

Samantha Vice se voorstel dat wittes bietjie moet gaan nadink oor hulle rassisme het inslag gevind by swart denkers. 

En wat is nou makliker as die afgestorwe AWB wat nou weer in die nuus is met ET se moordverhoor, vir ‘n kapstok om alle wittes mee by te kom.

Vice doen ‘n beroep op blankes om dislojaal teenoor hul eie ras te wees. Dit is nie ‘n swart rewolusie dat baie blankes vrees nie, maar ander blankes wat wil saamwerk met swartes in hierdie land. Vir hulle is die moontlikheid van ‘n “whitelash” teen wit voorreg ontstellend, sê Mvuselelo Ngcoya.

Die geweld op ‘n paar blankes wat dit gewaag het om te praat oor wit skuld, byvoorbeeld Stellenbosch se prof Anton van Niekerk, is glo kenmerkend hiervan.

 

 

прокурор харьковской области

Franse en Chinese lek hul lippe af

Suid-Afrika is gereed om die grootste tender in sy geskiedenis uit te reik – ‘n beraamde een-triljoen rand kontrak om ses nuwe kern reaktors te bou teen 2030.

Die departement van energiesake het sy kerntendervoorstel aan die Kabinet voorgelê en minister van energie, Dipuo Peters het gesê die voorstel sal voor die einde van hierdie jaar gefinaliseer word.

Die omstrede wapentransaksie, wat maar ‘n skamele R70 miljard werd is, kan deur hierdie stap verdwerg word aangesien die nuwe kernkragsentrales soveel as 20% van die wêreld se totale kernuitgawes oor die volgende twee dekades kan beteken.

Vyf maatskappye – van Frankryk, China, Suid-Korea, Rusland en ‘n gesamentlike Verenigde State-Japannese konsortium – is in die wedloop.

Al die bieërs is desperaat vir ‘n stukkie van die koek en konstruksiemaatskappye, tenderpreneurs, agente en die middelmanne lek behoorlik hulle lippe af.

Diegene wat naby aan die Franse vervaardiger Areva is, het aangedui dat die Franse en Chinese ‘n gesamentlike bod voorberei. Bronne dui daarop dat die kombinasie van Franse kernkundigheid en Chinese finansiële krag ‘n gesamentlike bod polities onaantasbaar sal maak, gegewe Suid-Afrika se nuutgevonde simpatie met die Ooste.

Areva, wat die Koeberg-kernkragstasie buite Kaapstad gebou het, lei die hongeres in terme van die intensiteit en die doeltreffendheid van sy lobby-masjien.

Die Franse het baie moeite gedoen om die moeilike politieke oorgang na ‘n Jacob Zuma-administrasie glad te laat verloop en sodoende een van die voorlopers gebly.

Zuma vergader reeds met die Franse sedert 2007.

In Februarie vanjaar het die maatskappy ‘n omvattende kernsamewerkingsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie hernu. Areva beskik dus oor grondslag vir samewerking in alle aspekte van die kernbrandstofproduksiesiklus tot 2013, wat hulle ‘n groot voordeel gee.

Die Industrial and Commercial Bank van China het in 2007 ‘n 20%-belang in Standard Bank wat die Chinese ‘n kanaal bied waardeur die massiewe kernprojek gefinansier kan word.

Adjunk-President Kgalema Motlanthe het verlede week ‘n staatsbesoek aan China afgesluit. Hoewel die kernprogram nie formeel bespreek is nie, kan ‘n $2,5 miljard finansiële samewerkingsooreenkoms tussen die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika en China Development Bank ‘n tweede bron van kernfinansiering word.

Die vorige keer dat Suid-Afrika ‘n kernkragbesluit wou neem, was in September 2008. In dieselfde week het die Zuma-faksie egter vir Thabo Mbeki as Suid-Afrika se president uitgeskop en Eskom het die tender teruggetrek. ‘n Gebrek aan kapitaal is as rede aangevoer.

Kritici het kommer uitgespreek oor die bekostigbaarheid van die projek en of dit die mees koste-effektiewe manier is om Suid-Afrika se energie-toekoms te verseker. In 2009, het die lobby-groep Earthlife Africa, gesê dat die bou van ses kernaanlegte die land bankrot sal maak.

Die VSA se Toshiba-Westinghouse konsortium wat ook meeding, is glo deur die Franse in die stof gelaat.

‘n Ierse diplomaat beweer dat Frankryk “ongeveer €20-miljoen in Suid-Afrika belê het onlangs” wat hy beskryf as ‘n “druppel in die emmer in vergelyking wat hulle sal maai”.

Westinghouse se somber assessering aan die einde van 2009 was dat hulle $10 miljoen belê het in die tenderproses “sonder enige versekering dat daar ‘n kontrak aan die einde sal wees”.

Met ‘n gesonde skeppie van leedvermaak egter, het die VSA aangedui dat “probleme en onderbrekings” by Koeberg – waar Areva tegniese bystand verleen – ‘n “bykomende hupstoot” vir Westinghouse kan wees.

Met die onkangse kernramp in Japan, lyk die ANC egter nie skugter vir nuwe kernaanlegte nie. Die vraag is wie ons gaan beskerm in geval van ‘n noodsituasie. Die Franse?

Фильчаков прокурор харьков