Bieliemielie

Met oorproduksie wonder Herrie soms of dit nie beter gaan wees as die telers weer sulke piepklein mielies kweek nie, soos die oer-oue moeiliekop was, en sekere ornamentele variëteite nou nog is. En in die mooiste kleure.

Kyk, met ‘n hele mieliekop wat omtrent soveel mieliemeel sal oplewer as een pit van ‘n bieliemielie kan die manne mos mielies na hartelus plant, sonder enige vrees vir ‘n oorskot.

Herrie dink net springmielies gaan lol as dit so groot soos die soutkorrels daarop is. Herrie was nou die dag by ‘n landbouberaad waar die deelnemers flink vir die silwer randjie ‘n donker wolk geskets het. Seg die een spreker: As daar nou twee dinge is wat ‘n boer nie kan weerstaan nie, is dit nat grond en nuwe skuld. En reën dit so mooi.

Maar terug na die bieliemielie. Vanslewe was daar in Suid-Afrika ook sulke reuse piesangs. Dié is uitgefaseer omdat dit moeilik verpak en vervoer is, en is met ‘n kleiner, smaaklike weergawe vervang.

By geleentheid gaan ‘n Suid-Afrikaanse piesangboer op ‘n studiereis na die VSA, en daar is alles mos groter en beter. Toe die hoeveelste boer so oor sy groot piesangs spog, is die Suid-Afrikaner al goed moeg vir die storie.

“Kry julle ook sulke groot piesangs ‘n Suid-Afrika?” vra die Yank oplaas.

“Nee,” sê die Suid-Afrikaner. “Sulke kleintjies gooi ons in die see om te keer vir oorproduksie.”

Herrie is so bly die boere kan nog ‘n fees deurwerk, met so baie plaasaanvalle ook in die Oos-Vrystaat. Wanneer Herrie aan plaasaanvalle dink, dink Herrie ook in terme van bielies. ‘n Bielie van ‘n boel wat die plaasaanvallers byt, ‘n bielie van ‘n geweer waarmee op hulle geskiet word, ‘n bielie van ‘n kramp wat hy moet kry wanneer hy net die gedagte kry om ‘n plaasaanval uit te voer, ‘n bielie van ‘n galg…

Of ‘n spesiale item by die Bieliemielfees – teikengooi na plaasaanvallers. Enige gooiding deug – veerpyltjies, knopkieries, byle…

O, Herrie is ‘n bietjie bieliebloeddorstig?

Ja, Herrie weet sy gedagtes is onfatsoenlik, en dit hoort nie. Maar Herrie het familie en vriende op plase. Kindertyd se buurseun Henkie en sy swaer is met masjiengewere afgemaai. Ander is aangeval.

En Groot Herrie se kop staan boerdery toe.

Teen daai tyd, eintlik sommer nou dadelik, bid ‘n ouerhart dat plaasaanvalle iets van die verlede moet wees.

Dat daar weer ‘n tyd sal kan wees waar boere en hul gesinne aanddienste in die dorp kan bywoon, Oujaarsaand die buurman se hek met ‘n stewige stuk draad kan gaan vasdraai, buurmanne weer vir hul bure se kinders kan gaan Kersvader speel…sonder die gevaar om oorval te word of deur boosdoeners by die huis ingewag te word.

‘n Tyd wanneer die boer en sy vrou weer in die aand op opvoubedjies op die grasperk kan gaan lê en die sterreprag bewonder, kyk hoe satelliete dwars oor die hemelruim toer.

En hom so die nabyheid van sy Skepper kan ervaar.

аксессуары дляФильчаков прокурор отзывы

‘n Volk staan verdeeld

Die enkele grootste struikelblok in die selfbeskikkingsproses van ons volk op die oomblik is onsself. Die onreg wat teen ons gepleeg word op omtrent elke vlak van die samelewing is ‘n reaksie met geen teenreaksie, iets wat vreemd is uit ‘n wetenskaplike oogpunt. Met ander woorde, ons laat dit toe.

Die ironie is dat die groter deel van ons mense besef dat ons as kultuurgroep uitwissing in die gesig staar, maar dat ons nog geen noemenswaardige aksie geloods het in die laaste 15 jaar om dit te stop nie. Erkenning moet gegee word aan al die splintergroepe, faksies en organisasies wat dit wel hulle taak maak om hierdie aanslag te probeer stop, maar dit is ongelukkig net nie genoeg nie. Dit is nodig, nee noodsaaklik, vir die Afrikanerkultuur se voortbestaan dat daar ‘n gemeenskaplike en kollektiewe poging aangewend word deur die groter deel van die volk.

Nou kom ons by die brandpunt- Hoekom kan ons dit nie regkry om saam te staan nie?

Myns insiens word hierdie kwessie te maklik afgemaak as ‘n hardkoppigheid onder ons mense, iets wat ons net kan “oorkom”. Enige iemand wat betrokke is by aksies wat staatmaak op die betrokkenheid van die Afrikaner sal vinnig vir jou kan vertel dat die mense eenvoudig net moedswillig is. Kan dit wees dat ‘n volk duisende moorde, verkragtings en rooftogte op sy eie mense sal duld bloot oor iets so kinderagtig as moedswilligheid? Is dit moontlik dat ons sal bystaan en toekyk hoe ons taal, ons Godsdiens, ons finansies, ons jeug en alles wat ons besit tot niet gaan bloot omdat ons “hardkoppig” is?

As ons gaan kyk na mense se individuele frustrasies met wat op die oomblik aangaan is dit moeilik om te glo dat die probleem so eenvoudig is. Die individu om die braaivleis vuur eggo dieselfde geluide as die organisasie of beweging, dog sluit hy nie aan nie. Die vroue in die Bybelstudie groepie deel dieselfde kommer as wat talle Afrikaner leiers probeer aanspreek, dog stel hulle nie belang om betrokke te raak nie. Die vraag bly- Hoekom nie?

Een van die eksterne faktore is ongetwyfeld die rol wat die media speel. Om een of ander rede val ons oor ons voete om te beaam: “Die Afrikaner kan nie saamstaan nie”. Selfs stoere Afrikaners erken dit gedwee dat ons nie kan saamstaan nie. Dit is egter loutere bog. Verduidelik vir my hoe bou jy ‘n Republiek soos pre-1994 Suid Afrika, tot die krag wat dit was, onder talle aanslae, sonder om op een of ander manier te kan saamstaan?

Die media se tweede groot suksesverhaal is hoe hulle dit regkry om die Afrikaner uit te maak as ‘n agteraf, onnosel, eng, verregse, rassisties ekstremis. Dit, terwyl die groter deel van Naspers se bestuur, tegnies, aan dieselfde Volk behoort en Naspers self deur die einste Volk opgebou is. As dit nie die toppunt van Volksverraad is nie, weet ek nie! Die probleem is egter dat die gemiddelde Afrikaner op straat nog steeds glo Naspers is aan ons kant. Die name Volksblad en Die Burger is terme wat mos met die hart praat en daarom glo hulle nog steeds wat hierdie koerante kwytraak.

Gee die duiwel sy eer- Naspers kry dit reg om die gewone man op straat te oortuig dat alles maar reg is terwyl daar duisende van sy volksgenote op die wreedste maniere denkbaar vermoor word. Dit, liewe leser, is die mag van propaganda. Dit is hoe mens propaganda bestuur. Dit is ongelukkig ook ten koste van ons. Solank as wat die media ‘n klok van “Regs”, “Rassisties” en “Ekstremisties” om die nekke van die Afrikaner gaan hang wat veg vir die oorlewing van ons volk, gaan daar mense wees wat skepties gaan staan teenoor ons doelwitte.

Naspers en die ANC is egter nie die sondebok wanneer dit kom by die versplintering van ons mens nie. Inteendeel, hulle aanslag op ons as kultuurgroep behoort ons eerder nader aanmekaar te bring. Die fout lê by ons en dit is nie wat ons mense wil hoor nie. Ons het verval in ‘n gemaksone om alles wat verkeerd is voor die deur van die vyand te lê. Dit vererger egter net die probleem. Om die stryery onder ons eie mense op te los moet ons eers erken dat die fout by ons te vinde is, anders sal daar geen vordering gemaak word nie.

Vraag bly staan- waar kom die probleem vandaan?

Om waarlik ‘n sop te kan waardeer moet jy weet wat alles daarin is. Ons volk is bloedjonk in vergelyking met ander kulture, ‘n mengelmoes van kultuur, taal en geloof wat in ‘n baie kort tydjie onder groot druk gevorm is. Om dus net aan te neem dat hierdie volk oor ‘n homogene karakter beskik, grens aan wensdenkery. Nou is daar baie mense wat kan reken ek weerspreek myself omdat ek gesê het die Afrikaner kan saamstaan. Ons moet egter gaan kyk na die omstandighede. In die era van Apartheid, het ons ‘n baie beskermde lewe gelei. Die regering van ouds het ons beskerm op talle terreine. Tel by dit die feit dat ons in ‘n tyd was van “bou” en jy kry ideale omstandighede vir ‘n mate van verdraagsaamheid.

Vandag is al ons beskerming van ons ontneem, ons kan nie eers op die polisie reken nie, alles wat ons gebou het word van ons weggeneem en ons veg letterlik daagliks om oorlewing. Hierdie omstandighede dryf die individu na ‘n tipe individuele oorlewings-instink. Gaan kyk maar na die gemiddelde Afrikaner familie- Hulle bou diefwering om hulle eie huis, probeer hulle eie goed beskerm, probeer hulle eie finansiële toekoms beskerm ens. Dit is amper ‘n paniekerige poging om primêr te fokus op sy eie dringende belange. Hierdie tipe van omstandighede wys ongelukkig die krake in ‘n baie jong onvolwasse volk.

As ons in ag neem dat die Afrikaner bestaan uit talle verskillende kulture, tale en geloofs-sieninge is dit net logies dat daar verskille gaan kop uitsteek. Dit is egter nie die verskille in kulture wat pla nie, maar eerder die verskille in ons voorouers se motivering om na hierdie land te kom wat die probleem is. Sommiges het uit Geloofs-oortuiging hiernatoe gekom soos die Protestante, maar ook die Sendelinge. Dan is daar die mense wat as gevolg van finansiële oorwegings hiernatoe gekom het, miskien met die idee van ‘n nuwe begin of dalk agter die goud aan. Baie mense het uit protes teen hulle regering besluit om hiernatoe te verhuis, ander bloot agter die avontuur aan. Dan is daar nog die klomp wat na een of ander oorlog hier agter gebly het. Elkeen met sy eie motivering.

Dit is hierdie verskillende motiverings wat vandag weereens kop uitsteek in die debatte onder ons eie mense. Hulle stry oor geloof-interpretasies wat wissel van die meer liberale ‘sendeling’ standpunte, deur die gereformeerde ortodokse sienings tot by nuwe vorms van protestants. Dan is daar die verskillende politieke sieninge wat baie keer terug getrek kan word tot regeringvorms of politieke modelle van ouds. Die idee van selfbeskikking op ‘n politieke wyse staan ook teenoor die meer finansiële klem wat deur ander op die selfbeskikking geplaas word. Dan is daar die wat nog steeds op soek is na ‘n oorlog en ander wat eenvoudig avontuurlustig is.

‘n Mens wonder of hierdie terugkeer na spesifieke idees nie dalk iets te doen het met die individu se onderbewustelike herkenning van gevaar nie? Ek is geen sielkundige nie, maar dit wil voorkom of baie van ons, selfs onnodig baie, klem lê op, eenvoudige verskille tussen ons. Dit is amper of ons ‘n weersin ontwikkel het om saam te staan.

Wat ook in ag geneem moet word is dat ons volk se gemiddelde intelligensie redelik hoog is. Ons beskik nie oor die “massas”, miljoene oningeligte, mense wat opgesweep kan word nie. Die individu het sy eie opinie, en indien die leier of die organisasie nie hierdie opinie weerspieël nie, moet hy dit eers oordink (en heel moontlik daarmee stry). Die Afrikaner se intellek is op die oomblik ‘n meulsteen om ons nek. Ek is oortuig met ‘n laer gemiddelde IK sou die Afrikaner al lankal in gewapende opset gekom het teen die huidige aanslae, maar ons dink nog eers daaroor.

Wat my die meeste pla is dat mense nie besef dat elke verskil tussen ons, eksponensieel bydrae tot ons versplintering nie. Die eerste verskil deel die volk in twee, bv. “Afrikaner vs Boer”. Die tweede verskil deel die volk in vier, bv.

“Afrikaner-Volkstater, Boer-Volkstater, Afrikaner nie-Volkstater, Boer nie-Volkstater”

Die derde verskil deel die volk in agt, daarna in sestien ens. Met elke verskil kom daar nog ‘n ton splintergroepe by en dit, liewe leser, maak ons dood.

Indien mens al hierdie gronde in ag neem is dit naïef om eenvoudig ons onderverdeling af te maak as sinnelose hardkoppigheid. Waar ons die klem lê, wat ons as prioriteit sien en dit waaroor ons verdag staan is alles deel van ons menswees. Dit bly egter ‘n wesenlike probleem omdat dit ons tans verhinder om saam betrokke te raak in betekenisvolle inisiatiewe.

Wat is dan die oplossing?

Daar is verskillende roetes wat ons kan volg. Ons kan in die eerste plek besluit om niks te doen nie en te hoop dinge word vanself beter. Ek sal dit egter nie voorstel nie. Ons kan ‘n baie groot tafel kry en almal rondom die tafel sit met die hoop dat ons dinge kan uitpraat, nog iets wat ek nie aanbeveel nie. Ons kan wag totdat ons letterlik saam in ‘n blik gedruk word, rug teen die muur en dan uit nood ‘saamstaan’ of ons moet ‘n model op die tafel kry wat die verskille tussen ons erken, toelaat en nog steeds ‘n gemeenskaplike doelwit van selfbeskikking kan najaag. ‘n Model waar ons net een ding verwag van die persoon langs ons en dit is die besef dat die volk moet voortbestaan, nie ‘n wasgoedlys van vooropgestelde ingewikkelde argumente en ideologieë nie. Kom ons los daardie gesprekke vir die dag as ons weer oor ons self regeer.

насосы отзывыtopcargo развод

Stede, plekke van rewolusie

Stede is plekke van rewolusie, want ‘n stedelike omgewing verbind organiseerders van die opposisie en sulke noue samewerking kan plaaslike wetstoepassers oorweldig.

Groot stedelike bevolkings skep die skaal wat nodig is daarvoor. Die fisiese hindernisse wat in stede voorkom maak dit boonop moeilik vir militêre troepe om maklik te beweeg. Die megapolis Kaïro is maar die jongste voorbeeld.

Die Nederlandse opstand wat gelei het tot Europa se eerste moderne republiek het in stedelike-Vlaandere in 1566 begin. Die Amerikaanse Rewolusie het sy wortels in die rumoerige skare van Boston gehad, met sy teeparty en sy “Boston bloedbad,” ‘n straatopstand waarin vyf koloniste dood is.

Stedelike opstokers het regimes in Parys in 1789 (en 1830 en 1848), Wuchang in 1911, St Petersburg in 1917, Leipzig in 1989 en nou Tunis in 2011, laat kantel.

Hierdie opstande is nie net per ongeluk stedelik nie; hulle sou teen lae digthede ondenkbaar gewees het. Stede maak opstokers, soos Sam Adams en John Hancock. Onluste vereis ‘n sekere soort stedelike opeenhoping; polisiegeweld moet oorweldig word deur ‘n see van mense.

‘n Betoger wat betrokke is by onregmatighede op sy eie, staan ‘n goeie kans om in hegtenis geneem te word. Met dieselfde aksie staan duisende egter amper geen kans om opgesluit te word nie.

Omdat die koste van oproer (die waarskynlikheid van arrestasie) val met die aantal oproeriges, is onluste ‘n klassieke kantelpuntverskynsel wat hulself alleen kan volhou as hulle ‘n sekere skaal bereik. Kennelik het die oproeriges in Egipte dit goed begryp.

Onluste kan hierdie skaal bereik deur middel van ‘n voorafbestaande skare, soos die honderde wat versamel is om te kyk hoe ‘n wit polisiebeampte die motor van ‘n Afro-Amerikaner aftrek, skut en die bestuurder in hegtenis neem vir dronkbestuur in die Watts gedeelte van Los Angeles in 1965.

Met die krag van getalle, “het die skare motors gestenig, wit motoriste uit hul motors gesleep en en geslaan, en ‘n polisie-eenheid wat was in die gebied was, bedreig,” volgens die amptelike verslag van ‘n staatskommissie.

Organiseerders kan ook die skaal skep wat nodig is vir ‘n suksesvolle oproer. Die dodelikste oproer in die Amerikaanse geskiedenis was tydens die naweek voor Maandag 14 Julie 1863, toe die georganiseerde skares opgeruk na New York om te protesteer teen verpligte weermagdiens.

In die opstand van Berlyn 1919, het ‘n aanvanklike klein fracas dramaties uitgebrei toe politieke leiers, insluitend Karl Liebknecht en Rosa Luxemburg, hul bondgenote opgesweep het om op te tree om politieke munt daaruit te slaan.

Die mees verwarrend onluste is dié wat ‘n geheimsinnige sein uitstuur wat mense interpreteer as teken dat hulle stad sal opstaan. Só ‘n sein verander dan in ‘n selfvervullende daad. Die vier polisiemanne wat aangekla was in die Rodney King-saak en daarna vrygespreek is, het in 1992 in Los Angeles oproer ontketen. ‘n Soortgelyke uitspraak het die 1980 Miami-oproer tot gevolg gehad.

In Tunisië, was die brandpunt letterlik die self-opoffering van Mohamed Bouazizi in Sidi Bouzid wat himself aan die brand gesteek het. Die opstand was onbepland: mense in die strate het nie geweet dat ander mense daar sou wees nie. Soos die nuus van die opstand versprei, het meer en meer mense die strate ingevaar.

En die ekonomiese belangrikheid van stede beteken dat demonstrasies die ekonomiese hart van ‘n land kan ontwrig. Stede kan noodlottig wees vir militêre dissipline vanweë die sosiale wisselwerking tussen soldate en burgers, soos die voedsel-deel tussen betogers en troepe.

Geïsoleerde plase is stabiel, stede nie. Die konstante interaksie van menslike energie in digte trosse skep innovasies op elke gebied van die lewe, insluitend die politiek. Onstabiliteit is nie lekker nie, veral vir mense wat reeds vryheid, vrede en voorspoed geniet en dus baie het om te verloor.

тамбов разъемы,Фильчаков прокурор отзывы

Kat se gedagtes

Pumba is ‘n meester van ‘n hond se gedagtes. In die Herries se huishouding kan Pumba uitgestrek lê en tsjief-tjief en met die pote roei soos sy hase in droomland jaag, maar laat iemand in die geselskap die woorde “stap”, “loop” of enige naastenbye verwante woord in welke amptelike taal ook al gebruik, of Pumba vlieg regop en begin bokspring.

Dis Herrie se werk om soggens saam met Pumba na die keraats op die hoek te stap om te gaan koerant koop. In die Herries se woonbuurt is dié stap legendaries – Herrie wat so geanker as moontlik stap, met ‘n bruin bondel spiere met tande aan die voorkant wat hap – hap groet – die keffende honde aan die anderkant van duiwelvurkheinings, drawwers wat te naby kom, onverskillige taxipassasiers wat vlak voor Pumba uit ‘n taxi begin stroom – en nog vinniger weer inklim.

Maar daar is baie ander dinge waaroor Pumba hond se gedagte kry, maak nie saak hoe ‘n mens dit verdoesel nie. Sien sy ‘n tas, is die lippe lank, want iemand, of die gesin, gaan ‘n paar dae weg. En Pumba ry nie.

Maar hond se gedagtes kan gaan slaap as dit by kat se gedagtes kom.

Die afgelope paar dae is die kat dikbek – letterlik. Dit lyk of die kat (al weer) in ‘n geveg was, en nou die geswelde bek oorhet.

Na so drie dae wat die swelsel nie sak nie, is besluit om die kat eerste dinge die volgende oggend veearts toe te neem.

Vroeg-vroeg het die kat die huismense nog soos dikwels mal gehad met sy geskree vir kos. Die kat se kos word agter ‘n deurtjie gegee, want hy vreet net ‘n happie, dan loop hy, en as dit nie agter die deurtjie was nie, het Pumba of wyle Snoetie dié oorsig kom regstel. En net daarna skree die kat vir kos…

Ewewel, Herrie werk vroeg soggens, en die kat het seker so drie keer kos gekry voor dit tyd is om hom te vat. Die veearts, net om die draai, wag solank.

En daar is die kat skoonveld. Duidelik weer kat se gedagtes gekry.

Eers laat die middag kry Herrie die kat, en toe is dit veearts se dinge. Maar die kat stem nie saam nie. Die kat moet agterbly vir ‘n narkose-ondersoek die volgende oggend en waarskynlike tandabses, en tand wat getrek moet word.

Terug by die huis ontsmet Herrie sy wonde wat die protesterende kat toegedien het.

En die volgende oggend bel die veearts – die kat het dit nie gemaak nie.

Agter die tuinhuisie grawe Herrie die graf, en Groot Herrie doen die laaste.

Twaalf jaar lank was die kat deel van die Herries se huishouding. Twaalf jaar lank het die kat nooit regtig ‘n naam gekry nie, want dit was ‘n afsydige kat wat eerder op die klank van kosblokkies as ‘n naamroepery gereageer het.

Twaalf jaar lank het die kat gereeld muise en selfs besonder groot rotte aangedra, van nugter weet waar af.

Klein Herrie het swaar afskeid geneem van Snoetie – ter wille van sy ma want Snoetie was ook net ma se hond – die ander is gereeld gehap. Nou die kat. Dis nou klaar met die hartseer besluit hy, en in sy beperkte woordeskat druk hy dit uit: “Ons het nie meer geld vir ‘n kat nie. Ook nie vir ‘n hond nie.”

Pumba sal nog ‘n ruk vir Herrie saamsleep keraats toe, maar seker ook nie meer baie lank nie. Die een voorheup was al ‘n ruk gelede baie seer, maar op die oomblik is sy weer perdfris.

степлерданильченко юрий брониславович прокурор

Die morele Afrikaner

Die opstel wat hier volg is die voetstuk vir die artikel: In die naam van die Afrikaner: Vryheid en Geregtigheid. Om realisties die Afrikaner se vryheidstryd te bevorder is daar ‘n holistiese benadering nodig.

Dus, met dié opvatting in gedagte laat ons begin.

Dit is net so bietjie meer as ‘n 100 jaar terug dat die Afrikaner nog sy eie handearbeid magtig was. Die Afrikaner het behoudende harmonie en ewewig in sy produktiewe kragte gehad, maar stelselmatig het die Afrikaner volksvreemde arbeid laat toeneem vanaf medearbeider tot die alleen handearbeider. Die Afrikaner het homself blindelings met hierdie verleidelike proses laat kastreer t.o.v sy welverdiende ekonomiese valensie. Daar is al ‘n verskeidenheid van redes voorgelê vir hierdie onbevoegde ekonomiese mistasting, maar vir my is daar net een klaarblyklike hoofoorsaak wat onomwonde uitstaan. Die Afrikaner in sy volkseenheid het nie eendragtig vir die Afrikaner-ambagsman as ‘n vakkundige handearbeider geveg nie; wie uitdruklik en onteenseglik as ‘n waardevolle fondament, ‘n basis of stukrag vir ons toekomstige ekonomiese volhoubaarheid in plek moes gewees het. Ek gee hierdie voorbeeld as inleiding omdat die Afrikaner, in sy huidige vryheidstryd, nie kan oorleef sonder die verbete aangryping van standhoudende en blywende beginsels nie.

Die Afrikaner word volgens my deur die ineenstorting van sy intellektuele infrastruktuur gekortwiek. Dit beteken hoegenaamd nie dat die Afrikaner dom of onnosel is nie, maar dat in elke volk daar ‘n gesonde basis bestaan waarvandaan die volk gedefinieer moet word. Indien hierdie intellektuele basis gedesimeer en verydel word, soos wat inderdaad met die Afrikaner gedurende die einde van Apartheid gebeur het, dan word patriotisme bouvallig en die volk se identiteit word deur dubbelsinnige handeling en gebrekkige selfvertroue gekenmerk. Dit sal telkens net d.m.v goeddeurdagte skeppende gedagtes en begrippe wees wat ‘n volk sy ruimte weer kan herdefinieer en konseptualiseer. Ek impliseer nie dat eendragtige vaderlandsliefde deur verkrampte sosiale ingenieurswese moet verkry word nie. Nee, die beeldspraak van ‘n kunstenaar wat vrylik sy omgewing en ervaringe kreatief op ‘n skilderdoek kan weergee is meer van toepaslik.

In lyn met die denkbeeld wil ek graag na twee verwante begrippe kyk, naamlik verpligting en regte. Egter, meer spesifiek is my fokus op die beginsel van ‘n objektiewe verpligting in teenstelling met die subjektiwiteit van regte; wat in my opinie ‘n saaklike fondament van die Afrikaner se toekomstige sinvolle opbou en uitbou is.

Teenoor wie het mense ‘n verpligting? Vir baie mense is die natuurlike antwoord op hierdie vraag: ons verpligting is teenoor ons eie medemens. Tog, wie is jou medemens en waarom sal jy enigsins ‘n verpligting teenoor jou medemens voel? In reaksie tot die vrae is ons so geneig om plotseling sonder huiwering voort te gaan na ‘n meer oppervlakkige konsepte soos persoonlike ‘regte’, om dan ‘n veel dieper en kernagtige konsep soos universele verpligting te omskryf. Dis ‘n groot fout.

Ek maak die stelling omrede verskeie Afrikaners in verwarring verkeer wanneer hulle hulself wil uitdruk rondom die verskeie aspekte van sogenaamde regte en morele verpligtinge binne die gemeenskapsverband. Die gevolg is dat ons met die wetgewende bepalings van staatsburgerlike regte die spreekwoordelike wa voor die perde stel; dit veral teenoor die individue wat nie onder die staat as ‘n burger staan nie. Ons kan eenvoudig nie oor die langtermyn individuele regte deur wetgewende gesag beskerm, sonder ‘n gemeenskap se alom erkende omskrywing en definiëring van die mens se intrinsieke waarde in sy mees basiese vorm nie.

Dit is glad nie ‘n onbegonne taak nie; inteendeel, dit is heel natuurlik en is immers presies wat as kollektiewe sosiale gedrag van die Afrikaners gedurende Apartheid voorgekom het. Ongeag die leser se eie afkeer teen, of motiverings vir Apartheid, was daar gedurende hierdie tydslyn onweerlegbare tekortkominge en onsekerheid vir Afrikaners betreffende die werklike en omvattende waarde van die mens. Dienooreenkomstig kon die justisiële gesag gedurende Apartheid net met groot kontroversiële wetgewing hierdie onverenigbare tekortkoming bestuur of behartig.

Daarvolgens, laat ons eers ons morele prioriteite in die regte orde rangskik voor ons weer enige pen tot ‘n statutêre begrip lê. In die algemeen onderskat leiers die nuwe standaarde en prosesse wat met hul presedente aksies geskep word. Dit is uiters belangrik dat ‘n gesonde gemeenskap hulle morele verpligtinge verstaan, insien en kan opneem teenoor elke mens, vir geen voorbehoude rede nie as vir net dat die mens – mens is. Dit klink oorvereenvoudig, maar dit is in hierdie basiese en elementêre sielkundige blokkies, waarmee ‘n gemeenskap meer gekompliseerde dimensies aanneem met uitvoerende- en regeringsbeleid, dat die prinsiepe en innerlike waarde van die mens so ‘n uiterste indikatiewe rol vervul.

Ek wil die leser herinner dat my doel grotendeels is om die Afrikaner te help in die poging om die debat betreffende ons vryheidstryd te wen. Hierdie debat en veldtog kan net met die dryfkrag van ‘n suiwer ideaal suksesvol voortgaan. ‘n Suiwer ideaal is die onverskrokke eerbare vlam van geregtigheid wat die Afrikaner in al sy vorige uitdagings al laat uitrys het, om vreesloos die ongetrotseerde met durf te trotseer.

Wat is die karakter van so ‘n suiwer ideaal?

Alles mensgemaak is tydelik, of jy nou in die ewigheid glo of nie, konings sterf, landsgrense skuif, wette word herskryf en kulture word stof wat wegwaai in die wind van tyd, maar die mens, as mens, bly staan. In die omvattende milieu is die mens die basiese essensie; instansies en hul manifestasies is net van tydelik aard. In lyn met die opvatting, is die mens eenvoudig ‘n hoër beginsel as dit wat hy voortbring. Jy hoef nie ‘n filosoof te wees om dit in alledaagse besluite weerspieël te sien nie. Die gesondheid van elke sosiale kring se psige word bepaal deur net te kyk hoe hulle hul naaste of medemens definieer en persepsionaliseer. Daarvolgens, laat die wie as leiers vir die Afrikaner wil staan en namens ons wil praat, hulle woorde suiwer in die kristallisering van menslike waardigheid – Dit voorafgaan die mens nog deel van ‘n idealistiese kollektief is. Vrye assosiasie is verseker belangrik en ook natuurlik, maar voordat enige wetgewende gesag en die eiesoortigheid van ‘n gemeenskap verwoord kan word, is die sosiale-fondament in die lig van ‘n suiwer ideaal nodig.

Neem kennis, ek is beslis nie teen die vrye vereenselwiging vanaf ‘n soewereine verwysingspunt nie. Dit is immers net deur die lewende kultuur en karakter van ‘n gemeenskap dat die dooies met die lewendes kan kommunikeer. Op die wyse weet ons dat legendes soos Wolraad Woltemade, Racheltjie de Beer en Koos de la Rey is net lewendig en helder in ons verbeelding solank die Afrikaner nog voortbestaan. Daarom het die regmatige burgers van ‘n soewereine staat verseker ‘n verklaarbare en begryplike reg tot beskerming vanaf die staat; met wie trouens in ‘n vrye assosiasie verkeer word. Nietemin, hierdie burgerlike reg is net volhoubaar solank daar ‘n onmiskenbare morele kompas deur ‘n gemeenskap gevleg is, met spesifieke verwysing na die bogenoemde konsepte. Die tydsgewrig van Nazi-Duitsland en die ontsettende impak wat daardie gebeurtenis op die individuele Duitser gehad het, staan as skrille herdenking vir ons om te gehoorsaam.

Ek hoop dat elke leser kan begin verstaan dat ek nie teen die billike reg van ‘n gemeenskap staan om op morele en etiese beginsels en grondslag te mag geregtelik diskrimineer teenoor die wie nie deel van hul sosiale kring is nie. Daarom is my proposisie verseker nie die aanprys van ‘n universele egalitarisme van subjektiewe regte nie. Eerder, wat ek ernstig beklemtoon en uitwys is die gevaarlike toestand wanneer daar in ‘n gemeenskap subtiele en onderliggende verwarring heers, indien daar nie die nodige samehorigheid en duidelikheid is oor hulle verpligting teenoor hul medemens nie. Duidelikheidshalwe moet elke burger twee vlakke van verantwoordelikheid teenoor sy sosiale omgewing sonder twyfel kan identifiseer en beskryf: Eerstens sy daadwerklike verpligting teenoor sy medemens en daarna die insig tot die sogenaamde ‘regte’ van elke individu in ‘n soewereine staat.

Die Afrikaner se onverbloemde heil is stewig in geregtigheid gesete. ‘n Afrikaner-geregtigheid wat in die korrekte prioritisering van verhandeling in morele insigte sy konkrete betekenis en rigting verkry. Teëstellend, sou daar algemene oorheersende onsekerheid en onenigheid onder Afrikaners heers, insake ons konseptualisties verskille met verwysing na geregtigheid. Dan in die geval, is dit ‘n direkte maatstaf van die Afrikaners se tekortkominge in sy tans verminkte intellektuele basis, om waarneembare betekenis en ‘n vaste fondasie aan die Afrikaner se morele boumateriaal te verskaf. Die wie bereid is om die Afrikaner te red en ook terselfdertyd nuut te skep, sal bo-oor al die verskeie genoemde faktore moet kan dink en die bepalende dinamiese prosesse met ‘n verbeeldingskrag kan aansien.

Moet nie die fout maak om te dink dat daar nie die individue is wat wel hewig gekant en ook vyandig gesind is teenoor dit wat ek hier voorstel nie. Daar is verskeie individue wat dronk is onder die invloed van selfheid en a.g.v die vertroebeling van eerbare beginsels alles in hul mag sal doen om onverstoord hulle onverdiende voordeel te geniet.

Dit is verskriklik belangrik dat my skrywes nie gesien word as ‘n poging om die Afrikaner te wil verander nie, of dat ek die Afrikaner onder die juk van verpligte rassevermenging wil laat onderhewig nie. Dit is in alle geval presies die teenoorgestelde as wat ek beoog en myself geesdriftig voor inspan. Ek glo dan juis vasbeslote in die die Afrikaner se vrye keuse en spontaniteit as behoudende kragte. Ek vra die leser plegtig om aandagtige na my boodskap te kyk. Ek is bewus dat baie van die gesprekke, debatte en replieke in omgang, betreffende die Afrikaner se vryheidstryd, ‘n beduidende gedeelte aan die subjektiewe kenmerke afstaan wat net kan voortvloei wanneer die Afrikaner waarlik vanuit ‘n regmatige objektiewe posies funksioneer. Met ander woorde, presies die uitdrukking wat ek vroeër genoem het: Die fout te maak om die wa voor die perde te stel. Vanaf die grondslag is die Afrikaner se oorkoepelende debat frustrerend onduidelik met gereelde kontrasterende en dubbelsinnige beredeneringe.

Byvoorbeeld, om te glo dat vrye keuse die Afrikaner onomkeerbare gaan laat verswelg deur die nie-kaukasiër; is net so goed en val dus in dieselfde rasionaliteit, dat jy glo mense arbitrêr gedwing moet word om Godsdiens te aanvaar anders sal hulle dit nooit wil doen nie. Dit is onsin! Presies die omgekeerde van die waarheid. Daarom argumenteer ek onverbiddelik dat ek nie geïnteresseerd om die Afrikaner met ander aparte ‘groepe’ te laat konsuis saamsmelt nie, maar wat ek wel wil hê is dat daar nie bevooroordeelde rasgebaseerde uitsluitings, soos ‘n veredelende wig die Afrikanervolk polariseer nie. Ons moet ophou bang wees vir die totale Afrikaner en hom vrylik, binne die konteks van sy assosiasie, laat vergestalting aanneem in die ewewigtigheid van sy soewereine gewete.

In dieselfde asem is dit net so eiemagtig om te glo dat my voorgestelde argument ongevoelig die barbaarsheid waaraan my volksgenote blootgestel word so ongesiens aanvaar. Dit alles omrede ek eers begin by die definiëring van menslike waarde en ewenwel ons morele verpligtinge binne hierdie konteks teenoor elke medemense; is net so blatant absurd en ongegrond. Die barbare is vir my ook ongenaakbaar wreed, maar ons moet insien dat die Afrikaner in sy huidige subjektiewe volkskonteks, word deur die huidige Afrika-gesag, ongelooflik teleurstellend net as ‘n afskuwelike pariahond beskryf. Om te redekawel oor die Afrikaner se regte; vooraf die gedaante van soewereiniteit, is dus ondermynend subjektief en boonop nutteloos voorafgaande die Afrikaner nie ‘n ideologiese objektiewe posies kan bewerkstellig nie. Dit is vir ons Afrikaner-skrywers die groot meesterlike uitdaging .

Die volgende verhaal bring my punt huistoe. Gedurende die tweede-wêreldoorlog het Duitsland hulle groot kanonne op die oewers van Holland geplaas. Hierdie kanonne was sekuur gemik op hul doel – Engeland. Tog, ongeag die kanonne se ongelooflike ontwerp, krag en ander eienskappe was hulle nutteloos. Die rede is; want jy sien, Holland is geseën met vermurwe grond wat geen soliede fondament vir die kanonne gebied het nie. Dit was eers toe die fondamente sterk en diep gelê was, dat die kanonne se bestaan enige doel en betekenis verkry het.

Ek nooi nou elke leser heelhartig uit. Laat ons weer, as ‘n volk, ons prioriteite van regte en verpligting harmoniseer.

Kom ons bou doelgerig in samehang ‘n geregtigde en volhoubare ‘huis’ vir die Afrikaner. Kom ons verkry orde in die verskeie komponente wat ons Afrikaner-huis sal konstitueer. ‘n Huis wat legitiem is in alle fasette. ‘n Huis wat diep en eerbare fondamente het. ‘n Huis met ‘n onbeskaamde suiwer ideaal.

Ons wil nie die Afrikaner ondergrawe of willekeurig verander nie; dit is in ieder geval die Afrikaner wat vanuit ‘n vrye keuse in so ‘n selfgeskapene Afrikaner-tuiste moet wil bly en handel dryf. Daarom sekerlik die bekende gesegde – Jou huis is, waar jou hart is.

пескоструйный станокФильчаков