Die Afrikaner is gered!

Skoppensboer is ontsettend dankbaar. Die Afrikaner is gered. Kyk Sakkie, dis nie aldag dat ‘n plan so mooi uitwerk nie. Hoe nou? Wat, vra jy?

Nee, die ding staan so: Die Afrikaners is gered. Toetentaal. Heeltemal. 100%. En julle sal nie raai deur wie nie. Skoppensboer het ook byna in sy koffie verstik toe hy van die man met ‘n plan verneem. Nie eens Siener het so vêr gesien nie.

Dis Frikkie homself. Ja, ek belowe! Njannies! Troes Bob! Die einste opperdopperpankop van verraaiersfaam, oorgawe, wigte-teenwigte, demokrasie en daar-sal-‘n-tweede-referendum-wees. Daai Frikkie.

Hy hét sy adjudante wat hom getrou bystaan in sy dapper reddingspoging. Maar daaroor later. Ek weet lesers brand om van die geheime meesterplan uit Potjiesdorp te verneem.

Dit lyk so: Ten eerste het die knape hulle slagspreuk by die HNP gaan leen, naamlik dat die hele Suid-Afrika aan hulle behoort. Die swartes gaan by ons eie universiteit van die Noorde inskakel om dit te laat realiseer. In Afrikaans, hoor. OK, bygesê, dit sal nuwe Afrikaans wees, sonder die moeilike ou grammatika en taalreëls. Maar darem.

Die gedagte is ‘n tweede US, ‘n Stellenbosch in Tshwane. Skoppensboer dink dit gaan presies weer soos die Taliban van die suide werk: Baie vryheid van spraak, baie vryheid van assosiasie en geen dwang hoegenaamd nie. Oopkop, met wye konsultasie, heeltemal in die geheim sonder sprake van ‘n demokratiese proses. Baie broederlik.

Vir die twyfelaars, en gelukkig is daar net 700, is daar Orania. As jy wit en Verwoerd wil wees, dan is dit jou heimat. Daar gaan so min aan, nie eers die swartes stel belang daarin nie. Maar vir Frikkie se manne is Orania ‘n belangrike argument om te beset. Let wel, net die argument, nie die plek nie.

Daarmee kan hulle hul ewige verbintenis tot Die Volkstaat heeltemal kosteloos verklaar. Dis die Afrikaner se eie Witoewer, amper soos die Wesoewer in Palestina, sonder die bomme. Skadeloos en baie bruikbaar.

Ek meen, waar gaan die vakansiegangers tussen Transvaal en die Kaap oornag as hulle nie tolgeld wil uitgee op die bankrot pensioenfondse nie? En dis so lekker stil daar. Regtig doodstil.

Nee, Gariepie, niemand gaan karring met vrae oor hoe honderdeduisende verstedelikte Afrikaners nie daarheen sal trek nie en ons redders gaan dit ook nie aanmoedig nie. Hulle beheer mos spraakvryheid in die gedrukte media, of het julle vergeet?

Dis waar Frikkie se helpers help. Daar is Schollie by die media en Flippie wat werkers bystaan om die trauma van regstellende aksie beter te verwerk, teen vergoeding natuurlik. Ek meen, nie almal het ‘n paar miljoen gekry vir die oorgawe wat tot bloedvergieting en voortslepende geweld gelei het nie. Baie Afrikaners is nog bang hulle verloor hulle werk. Fear is good business, sê die wat weet.

Gelukkig gaan Malema ook saam sleg voel oor wit ellende. Hy het belowe toe hy sy nuusmakerprys by die media, Schollie se base, gaan haal het. Dis darem ‘n troos.

Schollie gaan seker maak dat sy Taliban-preke inslag vind. Hy staan reg met sy “regse” verfkwas om algar met sy slym by te dam wat nie wil inval by die meesterplan nie. Schollie is hoeka so ywerig soos ‘n bostrol, die ombudsman moes al vir ‘n vale keer dat hy nie heeltemal oorboord gaan nie.

Moenie probeer kla oor moorde en misdaad en menseregtevergrype wat Joseph Kony na ‘n non laat lyk nie. Werk saam aan jou ondergang en doen dit blymoedig. Die Potjiesdorpers sal sorg dat jy jou laaste woorde in Afrikaans, jou huistaal, prewel en hulle oorweeg tolkdienste vir die wat nog sukkel om “die you white bitch” te verstaan.

En Flippie? Dís nou ‘n kleurryke mens. Vreeslik slim. Ontsettend eintlik. Hy het per geleentheid vir Skoppensboer self vertel hy moes ‘n glasoog kry nadat hy ‘n siende een verloor het deur Frikkie se toedoen. Die kêrel is erg ingestel op vergifnis, want deesdae is hy en Frikkie die beste van dik vriende.

Dis nou as Flippie nie aan ‘n ander gehoor vertel dat hy sy oog in ‘n motorongeluk verloor het nie. Sy geheue lol soms, lyk dit, al is hy so begaafd.

‘n Kennis van Skoppensboer vertel dat hy Flippie se kennis op ‘n keer wou toets. Hy vertel toe vir ons intellektuele reus van ‘n boek wat hy gelees het en hy suig net daar ‘n klomp beesekskrement uit sy duim. En weliswaar gaan herhaal Flippie die vier fiktiewe hoofstukke net so voor ‘n ander gehoor, sonder om te blik of bloos. Slim, want sy baas sal hom nooit vang nie. Dié rook mos, blykbaar ander ook, vir ‘n lewe.

Nee, ek weet daar is nou van julle maaifoedies wat gaan sê daardie rubrieke van Flippie in Rapport is so dom soos grond en elke keer dieselfde 200 woorde in ‘n ander volgorde met geen verwysingsraamwerk nie nes Frikkie se befaamde boek. A, nee a! Dis gewone jaloesie mense. Wie van julle kan ‘n boek wat nie eens bestaan nie se vier hoofstukke onthou en herhaal asof hy dit self geraadpleeg het?

Ons eenoogleier se vergewensgesindheid is pragtig! Om te dink ‘n man trap jou oog uit by Codesa en jy aanbid hom agterna. Dis mos regtig vreeslik mooi. Wie sal dit durf waag om te sê ‘in die land van die blindes’?

Die buiteland gaan oorweldig wees met daardie hope kennis van ons span. En dan is daar sowaar die beswaardes wat dink ‘n gesofistikeerde gehoor sal regdeur sulke ongekunstelde vrypostigheid sien tot in Potjiesdorp se longdrop.

Behalwe vir Flippie en Schollie, is Jannie ook doenig met sy teksverse ter aanmoediging van Frikkie se Stigting se persverklarings in nuwe Afrikaans. Dis nou as hy nie in ‘n beswyming raak oor die dominatrieks met die mansstem wat kort-kort haar bobene vir die swartes flits nie. Dis spanwerk uit die boonste rakke.

Om te dink die Stellenbossers het altyd heerlik gelag vir die dommerds daar in Potjiesdorp met hulle skynheilige maniertjies en bedenklike standaard. Dis ‘n hoërskool, het diesulkes gespot. Daar kom nooit enige navorsing uit nie, was die hoonlag.

Vir al julle beterweters, net dit: Julle het nie ‘n geheime meesterplan nie!

Фильчаков прокуратура харьков

Susan Boyle II: Die las van vervulling

Die een persoon wat onmiddellik die vervulling van ‘n droom herken het, daardie dag in Edinburgh, 2009, was Simon Cowell. Die oomblik wat die gesette vroutjie haar mond wyd getrek en begin sing het, het hy gewéét: Hier is goud! In hierdie onbeduidende, selfs koddige wesentjie, kan ware goud ontgin word, en die een skatkis waarin die meeste daarvan sou glimmer, was Simon Cowell s’n self. “Ek het ‘n droom gedroooom!” sing sy. Simon Cowell het niks teen die vervulling van drome nie, solank dit syne is.

Soos Cowell daar sit en luister, is hy ‘n skatryk musiekvervaardiger, maar hy is ‘n onvervulde sakeman, steeds honger, want die grootmassa van sy fortuin het hy nie in sy hoofbesigheid gemaak nie, maar as televisiepersoonlikheid. Hy het sy glinsterende maaltande in die vermaakindustrie geslyp as ‘n K&R-bestuurder vir groot platemaatskappye. Die Kunstenaar- en Repertoriumbestuurder het die uitsnuffel en werwing van nuwe talent as primêre taak. Cowell het matige welslae hiermee gehad, sy grootste sukses synde die handtekening van Siniita op die stippellyn, niks om ewige roem mee te vestig nie, maar genoeg om uiteindelik sy eie maatskappy, Syco Musiek, aan die brand te skop. Steeds het daardie een groot item, daardie bedryfomkerende kunstenaar, hom ontglip. Sy grootste vangs was die vroeg-ryp-vroeg-vrot borrelgomgroep, Westlife.

Syco Musiek het naderhand ‘n gleuf in die bedryf gevind toe Cowell betrek is as beoordelaar vir realiteits-TV se talentkompetisies soos X-Factor, Pop Idol en Britain’s Got Talent. Sy grootste deurbraak was as die siniese inkwisiteur – in elkeen van hierdie programme is daar een – op American Idols. Sy bruuske, wrywingrige persoonlikheid en bitsige kommentaar het goed afgespeel teen kunstenaars van wie die een noodwendig die kompetisie sal wen en vir Cowell so op sy neus laat kyk. Simon was so goed hiermee – deur waarskynlik die geykte raad te volg en net “homself” te wees – dat die vervaardigers van die reeks hom naderhand $20-miljoen per jaar aangebied het om kunstenaars wat deur hoop verteer is, sleg te sê. Hierdie verbintenis het vir Syco Musiek die eerste hap van die pastei gegee aan die einde van elke suksesvolle reeks.

Sy maatskappy, sonder ‘n werklike groot deurslag het voorts geld gemaak met sulke vername toevoegings tot die Westerse kultuur as die Teletubbies wat tjierietjierie op CD of ‘n album van liedjies deur rofstoeiers. Maar nou, hier voor hom op die verhoog, met die gehoor in haar pofferhandpalmpie na die eerste frase, is alles waaroor hy kon droom: ‘n Aspoestertjie met juwele in haar stembande, ongekunsteld, onbederf, met ‘n onweerstaanbare, ingeboude storie en ‘n algehele gewilligheid om sy leiding te volg.

Ons sien hom daar agter sy beoordelaarstoonbank terwyl sy sing: Sy uniform van swart jannas en swart trui, die regop kantiggekapte hare, die duur, wit tande; sit daar met sy elmboë op die blad voor hom gestut en sy hande teen mekaar en weggevou soos ‘n kelk vir sy ken om op te rus en tussen sy regterhand en –wang ‘n blou balpuntpen, van die soort waarmee die geilste kontrakte geteken word. Simon Cowell is in sy persoonlike ontwerp van die hemel. Hy het raak gedroom.

Die vervulling het in die volgende weke behoorlik binne die omslag van die droom se ballon ontplof. Die Youtube-video van Susan Boyle se oudisie het ‘n honderdduisend, toe ‘n miljoen, tienmiljoen, twintigmiljoen, honderdmiljoen gehaal. Voor die volgende rondte was sy in nuusbulletins, tydskrifte, koerante en in die volksmond. Sy was, voor die halfeindrondte van die kompetisie uitgesaai is, reeds die beroemdste deelnemer aan Britain’s Got Talent ooit. Die promosiewaarde wat Simon Cowell hieruit geput het, kon nie met miljoene ponde gekoop word nie.

Dit was nodig om hierdie droomvervulling te verpak en omstandighede het die volmaakte tema daarvoor verskaf: Susan Boyle se Droom. Die feit dat sy ‘n lied met die woord “Droom” in die titel gekies het, en dat dit hoofsaaklik wel oor ‘n droom gegaan het, het dit ‘n gegewe perd gemaak. Dat dit gesing is deur ‘n werklose vroutjie met ‘n beskeie herkoms uit ‘n onbeduidende dorpie, het dit soveel meer slaankrag gegee.

Vir Simon Cowell het alles wonderlik uitgewerk. Sy Susan het wel nie die kompetisie gewen nie; onverwags bedees in die eindrondte met ‘n weergawe van “Memories” wat só weifelend uitgekom het dat sy op ‘n stadium haar magie vasgegryp het om die fluktuerende diafragma te steun voordat sy genoeg stoom in die middeldeel kon opwerk. Die wenners was ‘n straatdansgroep, Diversity, vir wie hulle ewige roem sal wees dat hulle die legendariese Susan Boyle geklop het. Maar in sekere gevalle is ‘n sege nie alles nie en haar debuutalbum – getiteld “I Dreamed a Dream,” wat anders – het reeds voor die einde van daardie jaar verskyn en vir haar vyfmiljoen pond gemaak, en dié moet julle weet, vir elke pond wat sy gemaak het, het Cowell twee of meer gekry.

So, Susan Boyle het ‘n lieflike droom gekry en die vervulling daarvan was volmaak, nè?

Die droom soos baie ander drome, lyk gaandeweg minder glansend hoe nader ‘n mens daaraan kom. Om die vervulling daarvan te beoordeel, moet daar gekyk word waarvandaan en waaruit dit kom. Daar is Susan Boyle uit die Westlothian streek in Skotland. Sy woon alleen, net met haar Pebbles-kat – in ‘n beknopte regophuisie met twee verdiepings. Elke dingetjie het sy plek, want dis hoe sy geleer is. Dis ‘n huis van klein roetines in die piepklein kombuis en in die beperkte ruimte van die sitkamer met die blokkiesmat so groot soos ‘n nie-baie-groot badhanddoek, die weggebinde strepiesgordyne en die televisiestel wat so na aan die gemakstoel is, dis asof dit in die kyker se skoot is.

Die tweede verdieping bevat die badkamer en die twee slaapkamers, beide skaars so groot soos die binneruim van ‘n mediumgrootte gesinsmotor.

Dit is ‘n ou huisie op ‘n posseëlgrootte lappie netjiese grond tussen ander ou huisies van dieselfde styl, met dieselfde klein werfies. Dis die naaste wat die werklike wêreld aan Tolkien se Shire kan kom; ‘n klein gebied vir klein mensies.

Susan Boyle ken elke vierkante sentimeter hiervan. Haar Ierse ouers het lank voor haar geboorte hier ingetrek. Sy was vir hierdie stoere Katolieke ‘n verrassing en is na haar ma se 48ste verjaarsdag gebore. Dit was ‘n bitter bevalling en ‘n suurstofgebrek het die babatjie van meet af belemmer. Susan sou met ‘n matige verstandelike gebrek grootword met leerprobleme en snelwisselende emosies as gevolg. Soos enige mens wat maklik verward word, was roetine en voorspelbare dae altyd belangrik vir Susan. Sy het gesukkel op skool en het daarna nooit daarin geslaag om ‘n vaste werk te kry nie.

Dis asof die natuur, so kil teenoor haar in een opsig, op ‘n ander gebied daarvoor wou kompenseer. Sy was nog altyd verstommend musikaal, nie net met ‘n kragtige, soepel stem met baie kleur en ‘n aangrypende timbre nie, maar met ‘n goeie oor en ‘n gevoel vir frasering. Die een gebied waarop sy haarself kon handhaaf, was in die musikale ruim. Van kindsbeen af het sy goeie, soliede musiekonderrig ontvang en het genoeg geleentheid gekry om in haar Katolieke Kerk-gemeente te sing.

Dis nie dat sy nie probeer het om haar sangloopbaan tot ‘n volgende vlak te voer nie. Sy het telkens probeer om oudisies vir ‘n televisietalentkompetisie, My Kind of People, te slaag, maar sonder sukses. ‘n Amateurvideo-opname wys haar in volle swang voor die mikrofoon terwyl die aanbieder, Michael Barrymore, agter haar rug kapperjolle vir die gehoor se vermaak uitvoer. In 1999 is ‘n snit van Susan wat “Cry me a river” sing selfs op ‘n saamgestelde album opgeneem.

Deur al die jare was dit asof die deurbraak net een optrede, net een musiekbedryfspesialis se teenwoordigheid, ver was. Maar dit het nooit gebeur nie en daarom tref ons haar op ouderdom 47 sonder werk en sonder vervulling van haar potensiaal aan. Sy leef steeds in haar ouerhuis wat sy nou besit. Sy en die kat Pebbles.

Dit is dan die Susan Boyle wat op haar merkie op die groot verhoog staan om haar droom aan Simon Cowell te verduidelik; die inhoud van die droom, soos deur haar uitgelê, is veelseggend. Sy droom nie van roem of geld of om weg te breek van haar ouerhuis nie. Sy wil op ‘n groot verhoog sing. Sy wil ‘n beroepsangeres word. Soos Elaine Page. Dis redelik om te aanvaar dat sy, as die mistastinge weggestroop is, net wil… sing. Susan Boyle, so ongemaklik met verandering, droom nie daarvan om die wêreld te sien, van duur hotelle en sikofante en gloeiende opskrifte nie. Sy wil net sing waar baie mense haar kan hoor.

Dit het vir haar gebeur ja, die groot verhoog en die baie mense wat haar wil hoor. Tog is droom vir ‘n jongmens. Die blote feit dat haar deurbraak in haar middeljare gekom het, is reeds ‘n miskenning van die droom. Indien niks anders nie, sal sy nooit in die fleur van haar vermoëns vir al hierdie mense sing nie. Sy is lankal nie meer die sangeres wat sy was nie.

Haar deurbraak met Claude-Michel Schönberg se “I Dreamed a Dream” uit sy Les Miserables was hoofsaaklik vanweë die openingsfrase wat nie net dramaties, nie net roerend is nie, maar nommerpas in haar middelste register geplaas is. Dis moeilik om aan ‘n ander lied te dink wat vir haar die geleentheid tot so ‘n effek sou bied. Dit was ‘n baie gelukkige keuse.

Die waarheid is dat sy drie uiteenlopende stemregisters het, elkeen met sy eie klank en die oorgange tussen hulle is strak. In haar lae register is daar nie veel borsklank nie, eerder ‘n geluid wat in die kake gesoek word – die “pelikaankakebeen” waarvan sangonderwysers praat –; dus is haar lae note ‘n stram fluisterklank. Haar hoë register het ook die glans van jonger jare verloor. Ons weet dit op grond van haar 1999-opname van “Cry me a river.” Dáárin vertoon sy ‘n soepelheid, nou verlore, en ‘n soetheid in die hoë register wat sy nou, gedwing deur ouderdom, vervang met ‘n metaalagtige oop klank. A, as ons meer van La Boyle as ‘n jong sangeres kon hoor!, want sy het ‘n ware gawe vir jazz, met ‘n heerlike buigsame legato, ‘n versoeting in die afsluiting van frases, ‘n kleurwisseling tussen note en ‘n gemaklike frasering. Maar vir die luisteraar, en dus vir Boyle die kunstenaar, het die vervulling te laat gekom.

Daar sou gewag en gesien moes word of rykdom en roem goeie kompensasie sou wees. Nou lyk dit na klatergoud. Susan, ewig onwillig vir groot aanpassings, bly steeds in dieselfde klein, regop huisie. En hoekom nie, as sy hier beskut en tevrede is? Sy hét saam met Elaine Page gesing – “I know him so well,”- uitgestryk en blinkgevryf van haar, haar ongewenste bulte gladgetrek deur ‘n lang, koningsblou satynrok. Dit was allermins ‘n onvergeetlike vertoning met die ouer Page wat elegant maar bewerig van stem is en Boyle wat ontuis in haar teenwoordigheid lyk.

Die geld lyk na die grootste las deur haar deurbraak op haar gelaat. Sy het die tipiese Skotse ontsag vir ‘n pennie en is duidelik huiwerig om gemaklik te spandeer. Daar is onheilspellende fluisteringe van wrywing met haar familie wat heel verstaanbaar gretig genoeg is om haar te help om die geld uit te gee.

Susan Boyle leef alleen met haar kat Pebbles in die hoë, regop huisie. Met die onderhoud voor haar legendariese oudisie, het sy dit bekla dat sy nog nooit eens gesoen is nie. ‘n Mens sou reken dat soveel geld en roem ‘n sekere sappige skyn aan haar lippe sou verskaf, maar blykbaar nie. En, om eerlik te wees, dit is moeilik om te sien hoe sy haar lewe kan verbuig om ‘n minnaar, of selfs ‘n man, te bevat.

Susan Boyle het op ‘n groot verhoog gesing. Sy het vir baie mense gesing. Sy het saam met Elaine Page gesing. Sy ís ‘n beroepsangeres… soos Elaine Page. En wanneer sy die deur van haar huisie toemaak en alleen met Pebbles binnebly, kan sy nie meer van hierdie dinge droom nie, want vervulling is die dood van die droom. Miskien is dit al wanneer ‘n mens ware rus kry: Na die vervulling van die Droom.

Soms, meer dikwels as wat ons wil weet of aanvaar, is Droomvervulling meer vloek as seën.

En volgende keer het ons dit oor hoe drome werklik kan vernietig.

Данильченко Юрий Брониславович компромат

Die Susan Boyle-effek

Die Westerse vermaakbedryf het ‘n edele ideaal uit die konsep van Die Droom geskep. Dit is juis die onverantwoordelike aansporing om nie net te droom nie, maar om die vervulling van die Droom as ‘n burgerlike reg te aanvaar. Dis tyd om die neoromantiese konsep van die Droom onder die loep te neem . Vergun my om dit in drie dele te doen, met spesiale verwysing na ‘n ongeëwenaarde kultuurverwysing: Die Susan Boyle-effek

Susan Boyle het geweet, dié is duidelik.

Die wat haar geken het, het miskien kennis gehad; het beslis geglo. Maar net sy het gewéét.

Die ander deelnemers het nie geweet nie, en al het sy hulle vertel, sou hulle nie geglo het nie. Die beoordelaars, afgestomp deur die aanslag van ‘n duisend onbeholpe oudisies, het gedink hulle weet, maar hulle was ontsaglik verkeerd. Die gehoor wou niks weet nie. Die televisiekykers sou uitvind.

Wat sy geweet en die ander geglo of nie geglo of nie geweet het nie, het ‘n monument in televisiegeskiedenis geword, veral waar dit met die ander groot massavermaaksbedrywe, die internet en musiek, saamvloei. Die video van Susan Boyle se oudisie in die realiteitstalentkompetisieprogram, Britain’s Got Talent, in 2009, is al ‘n paar honderdmiljoen keer van Youtube afgetrek.

Die uittreksel begin met ‘n onbeduidende vroutjie op beeld, en sy knibbel preuts aan ‘n toebroodjie terwyl die ongesiene aanbieders iets kwetter van Glasgow wat op die kaart geplaas is. Die beeld wissel na ‘n nabyskoot van die vroutjie nou in staande posisie. Sy is regtig ‘n onaantreklike mopshondjie van ‘n persoon, met ‘n effense snor, ‘n boepmagie en ‘n yl tolbos droë hare wat ‘n nou bles vertoon. Sy giggelklets soos ‘n suiwere bakvissie.

O, beduie sy, sy sing al van ouderdom twaalf af, is nou 47 jaar oud en woon alleen saam met haar kat, Pebbles en is werkloos “hoewel sy nog rondkyk.” Sy was nog nooit getroud nie, “… nog nooit gesoen nie,” tjirp sy, “maar dís nie ‘n advertensie nie.” Giggelgiggelgiggel.

Sy wou nog altyd op ‘n groot verhoog sing en belowe selfversekerd dat sy “die gehoor gaan skud.”

Die vroutjie in haar outannierok om die karringmelkbeskuitjiefiguur en die dubbel ken neem die verhoog, en dit is ‘n oorweldigende vlakte, groot en met ‘n helderstralende banier van die program se logo – die Britse Unievlag wat in vonke uitbars – verskeie verdiepings groot teen die agterste muur. Sy verskyn maar dis opmerklik dat sy na haar posisie marsjeer; meer kordaat as koddig, soos iemand wat gekom het om te sien en te oorwin. Dié soort manhaftigheid is oorbekend op die Planeet Televisie se talentkompetisies. En die houding word met reëlmaat afgeblaas deur ‘n vyandige gehoor en ‘n sarkastiese beoordelaarspaneel.

Die eksaminatore in dié kompetisie is musiekbaron Simon Cowell, die koelste man op TV in sy eie beskeie oordeel, glansaktrise Amanda Holden en die hovaardige mediaman, Piers Morgan. Hulle sit agter ‘n toonbank heel voor in die ouditorium reg voor die verhoog.

Agter die beoordelaars is die hoi poloi, die gehoor, die kleinburgery. Laat daar geen onduidelikheid was nie: Hulle is hier om bloed te sien. Daar is nie meer Romeinse sirkusse om vandag se gepeupel mee te paai nie. In stede daarvan is daar iets veel bloeddorstiger, en dit is televisie se talentkompetisies. Want maak nie saak hoe klein en bedompig jou eie lewe is nie, as jy in die gehoor sit het jy mag oor die lewe en dood van die hedendaagse gladiator se drome. Dis jou – en die langs, voor en agter jou – se op- of afduimtekens wat sal bepaal of die stryder oorleef vir nog ‘n stryd in die arena, en of hy of sy nou onmiddellik voor jou onverbiddelike oë die toneel moet verlaat.

Op hierdie oomblik soek die burgery haar bloed. Hulle arena is vir hulle ‘n heilige terrein, al bulk hulle gereeld driftig hier vir die bloed van deelnemers. Dit is die verhoog en ‘n vrou wat die verhoog neem moet in haar persoon waardig wees; dit is ‘n optredevlak vir die aansienlike, die verruklike met langbene, wangbene, boudjies en borste. Dié wat kort is, wat ‘n rubberslang vet om die middel dra, wat tolboshare het, is die verhoog onwaardig.

Voor sy haarself op die genade van die omstanders werp, word sy deur Meneer Koel Platemiljardêr, Simon Cowell, self ondervra.

“Reg,” sê hy, terwyl hy die binnekant van een neusvleuel met sy duim vryf, “wat’s jou naam, Poplap?”

Sy sê wie sy is.

Wanneer sy vertel sy is van Blackburn, Wes-Lothian, naby Glasgow, en sy probeer om te verduidelik dat dit ‘n groepie dorpies is, haak sy vas omdat sy nie die woord “villages” kan onthou nie, wat oombliklik ‘n verergde uitjouery en ‘n sarkastiese wolwefluit uit die gehoor ontlok. Die beoordelaars is nie beïndruk nie; die oudisieproses het hulle iesegrimmig gelaat. Hulle sintuie is afgerem deur soveel wil-maar-wees kunstenaars van die lagwekkendste, die mees beroerde gehalte. Die aggressie jeens haar is dik, sluimerend, vol latente geweld. Sy probeer die luim negeer deur lighartigheid. “Ek moes dink daar, vir ‘n oomblik,” roep sy guitig uit.

Dan vra Cowell die gelaaide vraag: “En hoe oud is, jy, Susan?”

Sy probeer nie ontduikend wees nie maar vertel openhartig: “Ek is sewe-en-veertig.”

O, die vermetelheid! Om op afgeleefde ouderdom dit op die hooggeëerde oppervlak van die verhoogte te waag!, om dit met jou seniliteit te besoedel!

Cowell trek grootoë en kyk weg terwyl die gehoor haar uitjou.

Nou vir ‘n oomblik van absolute platvloersheid. Sy gryp haar middel vas met die hand wat nie die draadlose mikrofoon vashou nie, en roteer haar heupe in ‘n parodie van ‘n boepensvarkie wat ‘n paaldans doen.

“En dit,” roep sy guitig uit, “is net een kant van my!”

Om die mondhoeke van Morgan is daar ‘n trek van die uiterste afkeur en die gehoor jil vir haar bloed.

Cowell druk deur na die pit van die onderhoud: “Nou goed,” sê hy, “wat is die droom?”

Ja, die droom. Want dit is die een gemeenskaplike ding wat elke deelnemer, hoe karig hulle vermoëns ook al is, hoe verslons hulle aanbieding, na die verhoog bring: Die droom. Dáárdie onuitwisbare versugting sedert kinderdae, wat so geminag en gekneus is deur skeptisisme, twyfel en die rou werklikheid. Wat is die droom..?

“Ek,” sê sy reguit, “ek probeer om ‘n professionele sangeres te wees.”

Dit is te veel vir die gehoor en hulle sidder hoorbaar van verontwaardiging. ‘n Professionele sangloopbaan is die uitsluitlike gebied van die piepklein troppie werklike goeie kunstenaars, miskien selfs van die mindere gode. ‘n Kort pokkelvroutjie wat nie kan onthou waar dit is wat sy vandaan kom nie, het géén reg om daartoe te aspireer nie. Géén reg nie. Op hierdie oomblik sny die kamera ‘n meisie in die gehoor uit; glad van haar, keurig gegrimeer, duidelik geregtig om goed- of af te keur, en nou keur sy af. Sy fluister duidelik die woorde “professionele sangeres” na haar vriendin, en bewe ontsteld.

“En hoekom het dit tot dusver nie uitgewerk nie, Susan?” ondervra Cowell.

“Ek is nog nooit die kans gegun nie,” sê Susan Boyle; dis wat hulle almal sê, “maar hier is aan’t hoop dat dit sal verander.”

“En soos wie sal jy suksesvol wil wees?”

Dis ‘n gelaaide vraag, maar sy is onkundig oor die heiligskennis, die aantasting, die laster wat sy nou gaan pleeg: “Elaine Page,” sê sy reguit en sonder aarseling.
Dis dit! Dis die onvergeeflike!

“Sy is geen Elaine Page,” prewel ‘n gewalgde meisie in die gehoor vir haar vriendin.

Nou kan daar nie langer iets tussen haar en haar lot wees nie. Sy moet sing en sterf.

“Wat gaan jy vanaand sing?”

“‘Ek droom ‘n droom’ uit ‘Les Miserables,'” kondig sy aan.

Die skeptisisme is nou so dig en swaar soos ‘n baksteen.

“Nou maar goed,” sê Cowell, “dis ‘n groot lied.”

‘n Groot lied. Moes sy nie eerder maar haar pak verdra het met ‘n outydse deuntjie soos “I walk with God” of “Bless this House,” daardie uitstaande gunstelinge by al wat ‘n kunswedstryd is nie? Die aanmatiging, om voor hierdie bloeddorstige gehoor, voor hierdie uitgelese beoordelaars, op die televisiestelle van ‘n hele volk, ‘n “groot lied” te sing! Dit slaan die asem weg!

Terwyl Piers Morgan ‘n snedige glimlag bêre begin die begeleiding, ‘n lae golwende dreuning van strykers, gemerk deur die getrippel van ‘n harp.

Die pokkelvroutjie maak haar mond oop, die presiese vierkant met die geronde hoeke soos ‘n goedafgerigte sanger. En sy sing:

“Ek droom ‘n droom van ‘n vervloë tyhhhhd!”

En dit was dit. Met daardie een frase het sy gekom, sy het die arena geneem, die bedreiging getrotseer, en oorwin. Want die stem is welluidend, die frasering presies, die afsluiting daarvan met net die regte vibrato gemaskeer. Dis die stem van ‘n godin wat in ‘n tempel gehoor moes word maar wat uit ‘n vervalle herdershut kom. Dis die stem wat ‘n beeldskone vrou – met langbene, wangbene, boudjies en borste – paslik sou uiter.

In daardie enkele oomblikke oorrompel Haar Vaalheid die gehoor, die aanbieders – “julle het dit nie verwag nie,” jubel een reg in die kamera – en die beoordelaars.
Amanda Holden trek haar voorarms oor haar kop en haar mond val letterlik oop. Sy is nie meer die skeptikus nie. Sy wat die langbene, wangbene, boudjies en borste het om met reg die verhoog te neem, het ‘n aanbidder geword. Piers Morgan se sarkastiese glimlag het omgevou in ‘n oopmondlag van suiwer skok en genot. Simon Cowell wys duur, wit tande en die dollartekens roteer onbeskaamd in sy oë.

Sy het gekom, sy sing. Sy besit die gehoor. Hulle kom op haar voete en klap hulle hande dat dit gloei.

Dit is ‘n emosionele vertolking, gedrewe, met goeie frasering en uitstekende diksie waarmee sy die lirieke ontgin en saam met die begeleiding die melodie aandryf. Dit ís, in blyspelterme, werklik ‘n groot lied, wat vir die kunstenaar baie geleentheid gee om die vokaalware uit te stal.

“Met hulle stemme sag soos donder,” sing sy en dan, laag, laer, diep-diep in haar onderste register uitgegrawe: “Wanneer hulle jou drome verskeur.” En die gehoor gil verruk.

Dan styg die stem uit die lae register, deur die middelste en tot ‘n oopkeelkreet in die hoë register:

“Terwyl hulle jou droom verdraai in skande!”

Die beoordelaars vibreer in ekstase, die aanbieders gil bewonderend en die gehoor is op die voete.

In ‘n pose, terwyl die orkesbegeleiding voortdreun, is dit daar vir almal om te sien: Die glimlag, die kopknik, nou heeltemal regaal, die gesigsverklaring van ‘n koningin wat haar plek kom opeis en nou ingeneem het. Die slag is gelewer.

Met die rou uitroep, “Nou het die lewe die droom wat ek gedroom het, vermoor!” sluit sy af.

Die koningin, so skielik in haar eie reg gekom, draai skerp links en stryk aan van die verhoog af.

Die beoordelaars roep verbaas na haar, want die formaliteite – die kroning van die oorwinnaar – is nie afgehandel nie. Die aanbieders, buite die verhoog, wapper hulle hande vir haar om om te draai en sy maak ‘n omkeer. Wanneer sy nou die verhoog neem, dieselfde arena wat minute tevore haar nie gegun is nie, is dit in triomf, ‘n keiserin in haar segeviering.

Die eerste beoordelaar om te praat is Piers Morgan.
“Dit was, sonder twyfel, die grootste verrassing wat ons nog gehad het in die drie jaar van hierdie vertoning,” sê hy. “Toe jy daar gestaan het, met jou astrante glimlaggie en sê jy wil soos Elaine Page wees, het almal vir jou gelag. Nou lag niemand meer vir jou nie.”

En kyk na die vrou op die verhoog. Sy is nou op ‘n vlak bo kritiek of kompliment. Daar is ‘n toegeneende glimlaggie op die lippie, die uitdrukking van ‘n verhewe persoon wat die onderdane hulle skalkse oortredings vergewe en hulle verwelkom in die wêreld van kennis van haar.

Amanda Holden giet woorde soos ‘n gebarste emmer: “Ek is so getintel,” sê sy, “want ek weet almal was teen jou. Ek dink eerlikwaar ons was almal baie sinies gewees, en hierdie was die grootste wakkerwordoproep ooit. Ek wil net sê dit was ‘n volslae voorreg om hierna te luister.”

En die waardige hoof op die verhoog knik statig en aanvaar die verskoning, die uitroep om vergifnis, die aanprysing met die mees koninklike grasie.

Cowell, egter, is te nonchalant om die hoof te buig, ongeag die persoonlikheid bo hom op die verhoog. “Susan,” sê hy, “ek het geweet, die oomblik wat jy op die verhoog verskyn het, dat ons iets besonders sou hoor.” Die gehoor en Piers Morgan lag hom nou uit, en in daardie oomblik is die oorwinnaar maar net Susan Boyle van Blackpool, “O, Simon!” kraai sy en kekkel ‘n hekselaggie.

Wanneer dit kom om te stem, ontvang Susan Boyle die drie “grootste ja’s ooit,” om woorde by Piers Morgan te leen.

Susan Boyle verlaat die verhoog, en selfs wanneer sy agterna saamspeel en haarself laf en oorstelp hou, is dit nie oortuigend nie. Sy het gekom en sy het gewen; dáárin is geen verrassing vir haar nie.

Sy het gewéét.

Is die verhaal van Susan Boyle die volmaakte voorbeeld van ‘n droom en die vervulling daarvan? Volgende keer loop ons reg rondom die droom, die vervulling en die gevolge daarvan, en ons bekyk dit deeglik.

данильченко юрій броніславович

Afrikaans vir godsdiens en onderwys

Sjeik Abu Bakr EffendiBaie van die mense wat tot in dié tyd Afrikaans as skryftaal gebruik het, was nie-Afrikaners, en sommige van hulle is buite Suid-Afrika gebore. Ook sjeik Abu Bakr Effendi (1835-1880) was so iemand. Abu Bakr, ‘n Koerd wat in Turkye gebore is, was ‘n Islamitiese godsdiens-onderwyser wat Afrikaans as godsdienstige taal vir die Kaapse Moslems gebruik het.

Abu Bakr is in 1862 oor Engeland na Kaapstad gestuur nadat Moslems aan die Kaap ‘n versoek via die Turkse ambassadeur in Londen aan die Turkse owerheid gerig het. In 1869 het hy ten behoewe van die onderwys in die Islam aan die Maleise gemeenskap die Bayan-udDin (verduideliking van godsdiens) geskryf. Dit is ‘n tweetalige werk in Arabies en Afrikaans, met voorredes in Turks, Arabies en Afrikaans. Die Afrikaanse teks is ‘n wydlopige parafrase van ‘n handboek van Moslem-reëls, met allerhande verduidelikings, en is deur Abu Bakr geskryf. Dit is so gerangskik dat daar telkens op ‘n Arabiese sin die Afrikaanse vertaling en verduideliking volg — geskrywe in Arabiese letters.

Waarom het hy Afrikaans gebruik? Abu Bakr skryf dis nodig dat hy die taal wat meer verstaanbaar is, moet skryf sodat die mense die godsdiens “met gemak op die regte manier kan leer ken”. ‘n Mens moet hieruit aflei dat die Moslems gesukkel het om Arabies te verstaan omdat Afrikaans hulle moedertaal was.

‘n Hele reeks Arabies-Afrikaanse publikasies het op die Bayan-udDin gevolg, wat almal op die een of ander manier met die Islam verband hou. Verder is ook ‘n aantal Afrikaanse Islamtekste in Romeinse letters uitgegee. In 1985 het sjeg Abu Bakr Najaar van Kaapstad verklaar dat die eerste Arabies-Afrikaanse boekie reeds in 1840 verskyn het. Die boekie, oor godsdienstige gebruike van die Islam, is volgens die rekords van die Suid-Afrikaanse Biblioteek in 1877 in Istanboel herdruk, met ‘n Turkse, Arabiese en Afrikaanse inleiding (in Arabiese letters). In 1862 is ‘n Moslem Theological School in Kaapstad gestig wat ondanks die Engelse naam Afrikaans as voertaal gehad het.

Van 1859 af is die Morawiese Sendinggenootskap se drukpers op Genadendal (wat in 1837 uit Nederland ontvang is maar weens gebrek aan ruimte nie in bedryf was nie) gebruik vir publikasies soos die maandblad De Bode (sedert Desember 1859). Die aanvanklike oplaag was 300 kopieë per jaar. In ‘n vorm van Afrikaans het Oom Louw Gezels in 1862 en 1873 land- en wêreld-nuusgebeurtenisse vertel. In September 1873 het hy geskryf: “Baijan mensche, oom, werk moes nou aan de spoorweg, oom weet moes, die wat van Wellington naar Woester loop, helle krij nou een goeije betaal dat helle kan bestaan.” Die sendingstasie het druk van die Kaapse regering weerstaan om die sendingskool te verengels sodat dit studente van ander genootskappe kon inneem. Maar as aanduiding van algemene verset teen die verengelsing kan mens dit nie beskou nie. Die besluit is in Morawië geneem en was in ooreenstemming met die Duitse sendingbeleid om, waar moontlik, inheemse tale te behou.

Onder sprekers van Kaapse en Oranjerivierafrikaans is kerkdienste van die Anglikaase Kerk van Suider-Afrika soms in Afrikaans gehou. Sowel die Hollands van die Bybel is teen die 1860’s en 1870’s as Afrikaans is in Afrikaanse sendinggemeentes gebruik.

Фильчаков Александр Васильевич

’n Baanbreker van die Paarl

{jathumbnail off}

GWA van der LingenDie eerste inrigting waar jong mense onbedoeld vir ‘n taalbeweging gereed gemaak is, was die Paarlse Gimnasium. Die oprigter in 1858 van dié suiwer Hollandse skool was ds. G.W.A. van der Lingen (1804-1869). Hy was die predikant wat ‘n voorspraak was vir die Voortrekkers en deur Andries Pretorius ‘n “waare Afrekaan” genoem is. Van der Lingen was die mees belese Afrikaner van sy tyd en het ‘n boekery van meer as 4000 boekdele oor uiteenlopende onderwerpe nagelaat. Sy pastorie was die sentrum van die Hollands-Afrikaanse kultuur van sy omgewing.

Die Gimnasium het hy opgerig in ‘n tyd toe Engels al hoe meer die onderwysmedium vir Afrikaanse kinders geword het. Met dié skool het hy groot invloed op die jong geslag uitgeoefen. Sy sterk Afrikaanse gesindheid het hy op baie Afrikaanse leerlinge oorgedra. Hy was baie teen ‘n nuwe skool vir die Paarl wat Engels as voertaal sou hê en het van die kansel af gesê dat, as sy lidmate help om dit op te rig, daar “dan ‘n skeiding kom tussen herder en gemeente, vir ‘n tyd, vir sommige wellig vir die ewigheid”. Toe party Paarliete wou hê dat Latyn aan die Gimnasium deur medium van Engels en met Engelse uitspraak gedoseer word, het hy so siek en sat vir die hele kampanje geraak dat hy laat weet het: “Laat ons hulle antwoord nee, en nogmaals nee. Gee mens vir hulle daaroor toe, sal hulle weer iets nuuts vind.”

Twee van die bekendste leerlinge aan die skool was twee latere dominees, S.J. du Toit en W.P. de Villiers. Laasgenoemde was die stigter van ‘n Hollandse meisjesschool op Beaufort-Wes. Ter wille van die opheffing van minderbevoorregte Afrikaners het ds. De Villiers die welvarende Beaufort-Wes verlaat en na Carnarvon gegaan waar hy dertig jaar lank ‘n ou winkel as woning moes gebruik. Hy was die eerste NG predikant wat parlementslid geword het, en het op 7 Junie 1881 gepleit dat Hollands in albei huise van die Kaapse Parlement erkenning kry.

By die jong S.J. du Toit het ‘n liefde vir Afrikaans ontstaan deur die toedoen van Van der Lingen en ‘n Nederlandse onderwyser aan die Gimnasium, Arnoldus Pannevis. Du Toit is op 9 Oktober 1847 op die plaas Kleinbosch in die Drakenstein-vallei gebore. Pannevis was onderwyser aan die Gimnasium en het in private gesprekke en in die pers mense probeer oortuig dat Afrikaans ‘n volwaardige taal is. Du Toit het vroeg al in De Zuid-Afrikaan gedigte en ander stukke geskryf wat deur die anti-Engelse gees van die twee geïnspireer is. Du Toit was in naam by die Gimnasium ingeskryf, maar het volgens sy biograaf, V.E. d’Assonville, sy studie privaat gedoen.

Van der Lingen het gesê hy verwag dat ‘n Afrikaanse letterkunde tot stand gaan kom. In ‘n admissie-eksamen van die NG kerk het hy die jong Du Toit gevra om ‘n Griekse herdersang van Theokritus in Afrikaans te vertaal “om ons te toon hoeveul beter dit sig in Afrikaans as Hollans laat vertaal” – dit het Du Toit later vertel. Deur die Afrikaanse tradisie aan die Paarl kon ‘n volwaardige taalbeweging daar begin toe die tyd ryp was. Reeds voor dit het ander mense Afrikaans vir ernstige sake gebruik. Hulle was lede van ‘n godsdienstige gemeenskap in Kaapstad.

Олександр Фільчаков прокурор

Met skyfies, sonder uie

Die Ou Suid-Afrika was nie ‘n land net van plase, blinkskoon stede en universiteitsdorpe nie. Daar was ook die bo-dorpe, onderdorpe en voorstede van nywerheidsgebiede en myndorpe soos in die Wes- en Oos-Rand, plekke met hulle eie atmosfeer, guitighede en soms verslete sjarme. Die nederigste daarvan was Brakpan, o Brakpan, tuiste van ‘n legendariese padkafee.

Vir ons Brakpanners was dit die Kasteel van Kos, die Parfait-Paleis, die Dasja van die Dagwood, die Katedraal van die Kaasburger, die Bastion van die Burger – ons eie, onoortreflike Casbah.

So, hef ‘n saluut saam met my aan vir die beste padkafee wat ooit daar was. Ek het al burgers geëet van Agulhas in die Suide tot Tsumeb in die Noorde; van Port Alfred in die Ooste tot Vredendal in die Weste, en meeste plekke tussenin. En hier is wat ek gevind het: Die ander eetplekke kon nooit soos die Casbah die verskil tussen gemorskos en kos wat morsig is, verstaan nie. Vir die ander is ‘n burger ‘n roetine; vir die Casbah was dit ‘n ritueel. Die Casbah was meer as net ‘n padkafee – dit was ‘n akademie van kunskos.

Ek het al fynproewers ontmoet wat geblinddoek die buitekant van ‘n wynbottel kan lek en summier vir jou die kultivar, die landgoed en die oesjaar kan noem – mét ‘n selfvoldane waardeuitspraak daaroor. Ek het ‘n ou passasierskipsjef ontmoet wat sewentien soorte seesout kon eien. Daar is kenners van oesters, knoffel, olywe en tweedehandse sigaarrook. Maar ons, ons van die ‘Panne, ons kan ons koppe hoog hou: Ons verstaan morsige kos.

Ek volg Masterchef op TV en snork minagtend wanneer die lat met die krawat so liries hyg oor smake. Wat weet hy as hy nog nooit ‘n Casbah Dagwood geproe het nie (en nie sal nie, want die Casbah soos ons die Casbah onthou, bestaan nie meer nie)? Wat weet hy van daardie bruinbrose, oliegeurige snye buitebrood? Van daardie rokerige speksmaak, die industriële botterigheid van die geprosesseerde kaas, die robuustheid van die platfrikkadel, die balanserende geurigheid van die eier, die knyp van die braaisous en die uitbarsting van die rou ui..? ‘n Smaaksimfonie, sê ek jou, maar in kulinêre terme ‘n Mozart-simfonie, vol harmonie maar met onderskeibare lae wat jy kan uitpluis en deurleef. Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom kon een toebroodjie so baie vir soveel mense beteken nie.

Ek het, toe ek in die weermag was, ‘n kameraad, ‘n straatgesoute Johannesburger vir wie daar niks nuut onder die son was nie, aangery uit Mayfair vir ‘n Casbah Dagwood. Hy het al alles gesien, beleef en geproe, het hy nie? Hy het toe nie. Daardie pas het hy al sy danger pay uitgegee op die onoortreflike Dagwood. Ek weet van ‘n vriend wat dertig kilogram opgetel en suikersiekte opgedoen het weens sy getroue bywoning van die Casbah – en elke Dagwood sonder verwyt en met die grootste genoeglikheid onthou.

Maar die Casbah was nie ‘n ponie met net een toertjie nie. Dis die enigste padkafee wat die verskil tussen Arbei- en Framboosmelkskommels verstaan het, wat besef het ‘n Banana Split kort meer tekstuur as net roomys oor ‘n gekloofde piesang en dit gegarneer het met room, spuitroom en soetfrummels. Waar anders sou jy ‘n parfait raakloop met soveel lae soetheid en romerigheid in samesmaak en kontrapunt? As ek myself laatnag onderweg op ‘n donkerpad wil vermaak, roep ek tot die vermaak van my smaakbondeltjies die kerrierige sous van die Chicken Fry op, die manier waarop die hoendervel gekraak en souserige, skerpgeurige smaak vrygestel het, aan die rys wat amper tot ‘n samehorige koekie gepers is onder die halwe hoender…

Daar is meer as dit. Die Casbah was nie net die verskaffer van uitmuntende morsige kos nie, dit het vir ‘n belewenis gesorg van die oomblik wat pa se Valiant op sagte vere daar ingewieg het, of, in later jare, jy en die pelle daar ingesnork het in ‘n Volla of, net nog ‘n bietjie later, daar ingeskuur het in ‘n pel se nuwe tweedehandse Escort, was jy op, in Brakpanse terme, heroïese grond. Onthou net daardie nekke wat vorentoe gestrem het om onder die sonskerms deur die oorbekende spyskaart op die buitebord, so groot soos ‘n inryskerm, te lees. Daardie heerlike, martelende proses om die deugde van verskeie disse en hulle toepasbaarheid op sak, geleentheid en die dag se smaak te oorweeg. Dan, wanneer die innerlike en openlike debatte en opnames plaasgevind het: Die flikkerflik met die motorligte en die kelner kom aangeslenter, pet agteroor en skeef, vadoek wat voor hom hang, ingedruk in die voorrek van sy broek, A6-bestelboeke van koerantpulppapier met donkerpers deurslagvelletjies tussen die blaaie. En dan die uitgebreide onderhandelinge, verduidelikings en bestellings.

Nou is dit tyd om die wagtyd om te skerts, te klets en na die dag se vertoning van die klein mensedramas te kyk: Die klong wat meer wellustig as koslustig is en die pop gaandeweg in haar klein hoekie op die passasiersitplek bymekaar maak; die verwilderde ma wat lyk of sy ‘n stoeltjie en ‘n sweep kort om die kleuterhorde agter in die kar in toom te hou tot die kos kom; die motorfietsers wat gedenimbaadjie-en-jeans sysaal op hulle motorfietse voor by die afdakkie sit en knaag aan hulle hamburgers; die skoolseuns by die tafeltjies wat net genoeg geld gehad het vir een melkskommel en nou vurige détente voer oor hoe om dit te deel; die oujongkêrel wat homself op ‘n Blondie trakteer en wrang vir homself sê dis die naaste wat hy daardie aand aan die ander soort sal kom…

En dan kom die kos op geduikte aluminiumskinkborde en die kelner wink vir die bestuurder om die venster halfoop te rol en hy haak die kloutjies oor die venster en bring die enkele stutpaaltjie tot teen die motordeur en presenteer sy rekening met ‘n klap van die vingers, en terwyl daar groot groen R10-note, pers vyfrande, bruin eenrande en munte uitgetel word, word die eerste sjielinggrootte gepiekelde agurkies deur slu passasiers van die papieroortreksels oor die kos gegaps. Dan word die kos uitgeloot en melkskommels met somber waarskuwings aangegee.

Maar later, in die donker, soms, kom die kreature van die nag uit en dan word die terrein van die Casbah ‘n kryt op ‘n teerblad tussen mure met ‘n ruitpatroon daarop en reuse beton-Coke-bottels. Die gladiatore in hulle T-hemde, ritsleerbaadjies en noupyprekstofjeans, dronk van goedkoop brandewyn en testosteroon, beveg mekaar met dieselfde skinkborde vir skilde en gebreekte bottels vir kortswaarde. Dis vinnige skermutselings, wild en vol hygende geweld. Dit kan nie lank hou nie want die Casbah is ‘n dwarsstraat ver van die polisiestasie.

En ja, met presiese tydsberekening, die oomblik wanneer die geveg weggevaag het, kom die polisie met groot vertoon in hulle potblou Chevy C20 “Van” daaraan, al skrouende bande, twietende skokbrekers en lang, slap koringkriekagtige antennas wat met die skielike stopslag vorentoe sweep en dan sierlik agteroor wieg.

Die venster word afgeslinger.
“Waar’s die faait?” vra die rooigesigsersant.
“Nee, hy’s klar!” beduie die kelner.
“O?” sê die sersant met ‘n frons terwyl hy die nuwe inligting verwerk. Dan gluur hy na die kelner: “Vier hamburgers, toasted dagwood, een toasted chicken-mayonnaise, twee double-thick lime milkshakes en twee Cokes…. Take-away!”

In Brakpan had ons nooit ‘n Ritz, ‘n Delmonico’s of ‘n Waldorf-Astoria vir ‘n gourmet nalatenskap nie. Maar vir ons was daar die Casbah. Dit, saam met die Pan en die mynhope en die stadsaal en die duikweg en die sandsteenbiblioteek en die ou fontein in Voortrekkerweg het gehelp om ons te maak wat ons is. En dit, met of sonder uie, moet genoeg wees.

лобановский александр игоревич

Terug na die plaas

Hordes mense skuifel verby die tafels van stadig-gebroude koffie, truffelgegeurde koue vleise, en tuisgemaakte roomys met vinkelstuifmeel en perskemoes.

Die voormalige Kaapstadse koekiesfabriek, wat nou omvorm is in ‘n chic stedelike omgewing, is net een van die gourmet-markte wat opgeduik het in Suid-Afrika vir “foodies” oftewel smulpape op soek na handgemaakte goedere teenoor massa-vervaardigde produkte.

“Daar was ‘n ontploffing van kosmarkte, nie net in Kaapstad nie, maar regoor die land spring algar op die idee,” sê Cameron Munro van die besige Neighbourgoods-mark wat ses jaar gelede geopen het.

Dié uiters gewilde mark trek tot 5000 mense elke Saterdag en het verlede jaar na Johannesburg uitgebrei met ‘n soortgelyke naweek. Suid-Afrika se grootste ekonomie bied tans ‘n alternatief vir die winkelrakke.

“Ons is heeltemal omgeboul deur die reaksie wat Kaapstad ons gegee het,” sê Munro wie se mark gelei het tot ‘n swetterjoel van galerye, winkeltjes en outydse aanbiedinge op ‘n vuilerige plek.

“Dit was ‘n lekker geleentheid om mense op te voed oor die ondersteuning van plaaslike produsente en ook die skoonheid van interaksie met die produsent.”

Suid-Afrika se passie vir vinnige kos en winkelsentrums gaan seker nog lank nie die nuwe tendens van Finse-rogbrood of stadig gegiste bier met lemoenskil en koljander verbysteek nie, ten spyte van ‘n voorkeur deur die groot kleinhandelaars na organiese voedsel.

Maar dit is ‘n belangrike tendens in Suid-Afrika se $34,8 miljard kos- en drankbedryf. Die plaaslike maatskappy Flux Trend sien tradisionele kos as een van die top 10 modeneigings vir 2012.

Mense wil dinge wat eenvoudiger, stadiger, onaangeraak is hê en ‘n bietjie van ‘n persoonlikheid in die digitale wêreld, sê tendensvoorspeller Dion Chang, en hy voeg by dat die koper besig is om meer eties te wees oor wat hulle eet.

“Jy het meer en meer mall-sku mense wat nie massageproduseerde dinge wil hê nie, wat nie die generiese globale kleinhandeletiket soort van ervaring wil hê nie, wat iets onafhanklik wil hê,” het hy gesê.

Sosiale media, ironies genoeg, speel ‘n belangrike rol in wat Flux Trends sê, is ‘n “gevoel van globale nostalgie vir ‘n idilliese plaaslewe“.

“Dit is nie die een òf die ander nie, want die nuus oor hierdie ambagsaanbiedinge of organiese markte of voedselmarkte, maak staat op sosiale media sodat die aanlyn en die aflyn baie gelukkig en maklik saamleef,” sê Chang.

Twitter, Facebook, blogs en webwerwe word gebruik om datums, herinneringe en foto’s en video’s te plaas.

“Ons sosiale media is verstommend,” sê Madelen Johansson in Kaapstad wat 10 maande gelede ‘n mark geopen het en ‘n waglys van meer as 150 handelaars het.

In een van die wêreld se ekonomies mees ongelyke samelewings, trek die markte meer welaf kopers met aanbiedinge van oesters tot Franse crêpes [pannekoeke].

“Jy kan rondloop en kies wat jy wil. Daar is net soveel verskeidenheid en baie wat hier beskikbaar is, is nie noodwendig in die Mall beskikbaar nie,” sê ‘n gereelde koper by die Neighbourgoods-mark.

Maar sonder die formele sektor se hoë koste, dien die markte as begin vir klein produsente wat direk met kliënte kan skakel.

Marianne Visser met ‘n nuwe besigheid The Creamery sê: “Dit is ook die beste winsmarge omdat jy nie handel met die middel-man nie.”

Фільчаков прокурор