Afrikaansonderrig sonder ‘n doel

Ek reageer op slegs twee paragrawe in ‘Toekoms in eie taal: ‘n Risiko-ontleding van die Afrikaanse taalgemeenskap en vertrekpunte vir ’n taalstrategie’ (Jacobs, Langner & Steyn, Pretoria: FAK, 2013, 98p). Hier is die paragrawe onder die subhofie 2.2.7: ‘Die verbetering van die gehalte van taalgebruik deur die vak Afrikaans’ (p. 68):

McLachlan se strategie is dat “kinders op skool weer geleer moet word wát goeie Afrikaans is. Ons moes vroeër lyste korrekte voorsetsels, lyste idiome en vaste uitdrukkings, lyste korrekte Afrikaans vir anglisismes, veel voorkomende spelfoute en so meer leer. Deesdae, lyk dit my, moet die kinders omtrent alles ‘self ontdek’ en op ’n manier wys word. Hoe weet nugter” (aangehaal in ’n Beeld-rubriek, 26 Februarie 2009).

Wat ’n mens verder kan oorweeg, is om taalonderwys lekker te maak met aktiwiteite soos diktee-, idioom- en ander kompetisies tussen skole en provinsies. Mense stel in so iets belang. Dit wys die Nederlanders en Vlaminge se jaarlikse “Groot Dictee der Nederlandse Taal”. Dit word oor die Nederlandse en Vlaamse televisie uitgesaai. Deesdae is daar ook ’n “Groot Kinderdictee”. Die aanbieders van RSG se taalspeletjies in “Die tale wat ons praat” meen tereg dat die program uitgebou kan word tot iets groters.

Al twee paragrawe plaas eintlik gans te veel vertroue in die akademici en onderwysers.

Hier is my storie. Ek spreek as ‘n produk van nie minder nie as vier skoolkurrikula en twee universiteitskurrikula in my leeftyd.

TAALKUNDE

As jy nou al so lank soos ek leerling en student was (met die klem op wás, want ek dink nie ek gaan my hierdie jaar herregistreer nie), kom mens tot die slotsom van vele dinge.

Een van hulle is die afwatering en die klasgidse wat dunner word; die jaarmodules op universiteit wat semestermodules word; die vier, vyf, ses+ aktiwiteite per jaarmodule wat skielik twee opdragte per semestermodule word; of die eksamens wat afgeskaf word ten gunste van klasaktiwiteite (omdat daar so baie amok gemaak word op kampusse…). Ek het in my matriekjaar van 2008 reeds gewonder hoekom my ma en selfs my juffrou (wat gematrikuleer het in die 1980’s) se matriekhandboek in Afrikaans vyfmaal dikker as ons s’n was. Ek is dus die produk waarvan McLachlan skryf in Februarie 2009. Die ontwikkelingsleer leer mos: hoe meer die jare voortsleep, hoe dikker raak die “pakkerasie” van inligting. Amper soos woordeboeke. Hier en daar kan verouderde inligting as voetnotas geplaas word. Ek het byvoorbeeld by die Afrikaanse Wikipedia-artikel “Kaapse luiperd” onder die klassifisering van die dier die inligting in chronologiese volgorde geplaas – op ‘n soortgelyke manier kan jy in klasboeke ‘n liniêre ontwikkelingsgang raaksien wat taal betref. Jy sien waarom iets verander, waarom ‘n fout gemaak is, hoe die gesigspunt reggestel is, ens. Sekere woorde soos beeldradio vir televisie kan jy sien is vandag verouderd en mens moet dit so aanvaar – maar hierdie woord word tog in Verwoerd se toesprake geskryf; mens moet dit tog ken.

Boonop het hierdie ou taalboeke aansienlik minder prentjies in gehad. Natuurlik het ek daardie boeke bestudeer – soos vitamienaanvullingspille wat jy soggens sluk saam met jou ontbytpap en sap. Ek het ook gewonder hoekom ons veel minder klaswerk toewy aan die Afrikaanse taalkunde, vernaamlik die grammatikalesse. Ek kon ook nie verstaan waarom die juffrouens net nie eerlik vir ons reguit kon gesê het: “kinders, as jy die korrekte Afrikaanse spelling wil aanleer, kry vir jou die AWS – hier is die bestellingbesonderhede” (want regtig, ek dink nie eens tydens die vorige bewind sou die klasse die hele omslagtige boek kon bespreek of deurwerk nie).

Aan die ander kant weer, terwyl ek eendag vir ‘n jong Duitser help om ons tydvorme deur middel van vergelykende tabelle te bespreek, besef ek skielik hoe eenvoudig en eenvormig Afrikaans eintlik teenoor selfs die Engels is. As ‘n onderwyser drie jaar op hoërskool neem om kinders Duits te leer (tweede taal, derde taal?), maar ‘n Afrikaanssprekende ‘n volle 12 jaar (let wel, jy kan terselfdertyd ook English First Language vanaf Graad 8 neem) – dan kan selfs ek wat ‘n vak soos Wiskundegestremdheid (Wiskundige Geletterdheid) geneem het lont ruik. Wat dan van kinders wat die hoogs ingewikkelde Litous, Grieks, Latyn, Russies as tweede taal in presies dieselfde tydvak op skool in die buiteland leer? Ek was nogal geskok by hierdie gedagte. Met al daardie tyd wat vermors word deur Departementele rompslomp [of iets om die kinders mee besig te hou], kon ons eintlik al met ons honneursgraad in Afrikaanse taalkunde op hoërskool begin het! Of juis taalwerk inhaal wat ons nie gehad het nie! Die skoolure is tog min of meer dieselfde as in die ou dae. Waarmee word ons tyd dan gemors? Ek kan vir jou presies sê waar lê daardie fout: die geweldige omslagtige tydmors met take en die letterkunde. Daarby kom ek later. Wat die taalkunde betref: Waarom vra juffrou vir ons vrae in die toetse en eksamen wat ons alleen sou geweet het as ons ‘n hele woordeboek sou ingesluk het? Waarom hou juffrou al die kaarte in haar hand? Waarom het juffrou hierdie vrae nooit met ons vooraf behandel nie? Waarom moet die eksamen op algemene kennis gegrond wees? Dink jy in alle eerlikheid Sipho op die KZN-platteland sal hierdie kennis op sy stofpaadjie skool toe tussen die beesmis vind? McLachlan se stelling van ”self ontdek” en ”hoe weet nugter!” het alles haarfyn opgesom.

Ek wil liewers nie praat oor die gebrek aan belangstelling in die bywerking van verouderde vreemdetaalwoordeboeke of aansporings vir vertalings uit vreemde tale nie. Ook nie oor verklarende woordeboeke wat onoordeelkundig en postmodern met plantkundige volksname omgaan (elkeen se twintig interpretasies van die naam noemnoem is reg! ‘n Krismisroos is ‘n Europese plant en ‘n hibiskus! Wie kan dan verkeerd wees! Wie kan dan reg wees!) en die spreker verder in die afgrond help nie.

Jou eerste vraag wat jy vra sodra jy by die universiteit in jou voorgraadse jare aanland, is: waarom behandel ons nie Anglisismes en ander taalkwessies op ‘n gevorderde vlak nie? Ek het immers by Afrikaans ingeskryf sodat ek my Afrikaans kan, nee, móét verbeter. As ek hier uitstap, sal ek mos ‘n onverbeterlike en keurig gekunstelde Afrikaans skryf en praat wat my outomaties ‘n nuusleser (soos Riaan Cruywagen) of hoofbaas-se-sekretaris sal maak. Ek is hewig teleurgestel: dit kry jy by geen universiteit nie. Waarom tel spelling onder andere nie meer by die letterkunde-opdragte nie (ten spyte van ‘n Spelprogram op ‘n sekere betaalkanaal vir die ryker middelklas; moet mens nie dalk eers by die universiteit self begin nie)? Waarom leer ons wat sinsbou is, hoe om sinsdele te identifiseer, maar nie soseer wat presies die régte sinsbou en woordvolgorde in Afrikaans is nie? En hoe weet hulle dit is reg? Taalaanvoeling? Intuïsie?

As jy ‘n meestersgraadstudent geword het, begin jy jou ook die vraag afvra: waarom moet ek my meestersgraadverhandeling op die ou eind ten duurste deur ‘n taalpraktisyn laat nasien? Watse nonsens is dit?! Bid jou dit aan – slaag mens, staan daar immers ‘n “MA (Afrikaans)” agter jou naam op ‘n koevert en sertifikaat! Jy is ‘n meester in Afrikaans – maar ook nie! Want jy kan skaars ordentlik skryf. Waar kry hierdie taalpraktisyns nogal hul opleiding, as ek mag vra? Want ek sou aan geen Afrikaanse universiteit korrek leer skryf het nie. Moet ek dan lewenslank ‘n taalpraktisyn aanstel sodat ek net ‘n informele briefie aan PRAAG kan skryf? En hoe sou ek hierdie taalpraktisyn ooit kan vertrou?

Is ek die enigste student in hierdie land oor met ‘n akademiese gewete?

Toe ek eendag vir die Duitser by Wikipedia, slegs vier jaar ouer as ek, ‘n tabelletjie begin optrek om vir hom die verskillende en parallelle tydsvorme in Duits, Afrikaans, Nederlands en Engels te wys (met die hulp van ‘n Hollander en nog ander ‘n Duitser, aangesien niemand in Suid-Afrika blykbaar van vergelykende taalkunde gehoor het nie), tref die nut van die Plusquamperfectum / voltooide verlede tyd / past perfect tense my die eerste keer tussen die oë. Want na Graad 5 het ons dit nooit weer behandel nie. Om die waarheid te sê het ons hierdie goed geensins in diepte behandel nie. Die nut van die Plusquamperfectum: wanneer jy iets afgehandel het of iets gedoen het, voordat iets anders in dieselfde sin gebeur of volg, bv. “I HAD SEEN the crime, then the police arrived”. Net so het ons nooit op hoërskool in die Afrikaanse klas “gesegdes“ behandel nie, wel in die Engels Moedertaal die ”clauses”. Ook hier het die brandalarm begin afgaan, want hoe moeilik is dit tog om twee en twee bymekaar te sit? Maar die geluid is doodgesmoor.

Ek het ook tydens my speurtog (met die taaltabelle) geleer van die historiese teenwoordige tyd (praesens historicum), waar jy in Afrikaans slegs in die eerste sin ‘n woord in die verlede tyd hoef te gebruik, om vloeibaarder te skryf, byvoorbeeld : “Ek het op die sypaadjie ‘gestaan’. Toe ‘kom’ die motor vinnig om die draai en ‘ry’ vas teen die lamppaal. Daar ‘was’ ‘n harde slag. Ek ‘draai’ om. ‘n Konstabel ‘stap’ oor van die anderkant van die straat en ‘kyk’ na die motor en die insittendes. Toe ‘draai’ hy na my. Hy ‘vra’: “Het u die ongeluk gesien?” Toe ‘sê’ ek nee, ek het na die winkelvenster gekyk.” Absoluut niks hiervan het ek op universiteit of skool geleer nie. Ek het hierdie stukkie teks maar uit M.P.O. Burgers se “Teach Yourself Afrikaans” uit 1957 gekry. Die Dietse tydvormetabel? Uit die 1930’s.

Het my Graad 5-juffrou net ‘n tabel opgetrek om die verskil tussen die Afrikaanse en Engelse tydvorme aan te dui, en die funksie van elkeen te verduidelik, sou ek nooit ooit weer ‘n soortgelyke taalkundige fout in Engels gemaak het nie. Dit is hoogstens twee tot drie periodes wat hiervoor ingeruim kon word. Want met hierdie tabelle en vervoeginge (van die werkwoord) kan jy ook Russies byvoeg (met sy eie tydsvorme), Frans en Italiaans se “boekverlede” en “praatverlede”, ens. En later is jy oud en lelik genoeg om Verbix te gebruik.

As mens op ‘n dag tog besluit om ‘n “volledige” Wikipedia-artikel oor verkleinwoordvorme te poog, om die lewe vir almal makliker te maak (soos toe ek ‘n artikel daar oor “Intensiewe vorme” aansienlik uitgebrei het, sodat niemand OOIT WEER na ‘n intensiewe vorm sal vra nie) begin jy al hoe meer die leemtes in die AWS en al die ander taalgidse skielik besef wat “as die standaard” gehuldig word. Taalgidse wat beslis nie uit een mond praat nie en net die leser van bakboord na stuurboord rondneuk. Op die ou end gooi jy maar tou op: die waarheid sal jy maar in die Hollandse taalreëls moet gaan vind, of miskien nooit nie.

Daar het ‘n moerse ivoortoring iewers verrys wat die universiteit en die skoolkind en taalleerling van mekaar skei. Daar is duidelik botsende belange. Vir ‘n buitelander moet dit hel wees om Afrikaans te leer skryf. Want, of jy nou daarvan hou of nie, ek dink nie een van ons Afrikaanse professore is enige ander taal buiten Engels werklik tot ten minste C1-vlak magtig nie. Hoe leer ‘n Rus nogal Afrikaans? Via Engelse taalgidse? Via Nederlands? ‘n Mens soek tog raakpunte tussen jou eie taal en ander tale, sodat jy jou eie in die proses ook beter kan verstaan. Dit is wat ek nou doen terwyl ek Deens op Duolingo speel-speel aanleer: die woordeskat- en sinsbouraakpunte tussen die Afrikaans, Nederlands en Deens (maar ook Engels en Duits) is verstommend. Onder die Dene se tweede gewildste taal (2016) wat hul op Duolingo aanleer is, naas Spaans in die eerste plek, nie Skoolengels of Skoolduits nie, maar Nederlands. Behoort dit ons te verbaas?

Die AWS skryf net té maklik ‘n reël voor, sonder om 380 voorbeelde en teenvoorbeelde met mekaar op te weeg. Byvoorbeeld: as iets eindig met =ling, word dit =lingetjie, op grond van beklemtoonde eindlettergreep. Leerling word dus leerlingetjie. Ek verwys hier na Reël 15.8.b. Maar by Reël 15.9 sien ons die woord ”wandelinkie”, omrede die woord op ‘n onbeklemtoonde lettergreep eindig. So staan dit in die boek. Hoe presies mens op jou voete moet dink wanneer ‘n woord beklemtoon eindig of nie is vir my onverklaarbaar. Hierdie afdeling van die AWS is egter nie deeglik genoeg omskryf nie. Want waarom kry jy die woord soos “teerlinkie” in die Nederlandse Van Dale, terwyl jou eie woordelys nie eens hierdie verkleinwoord bespreek nie? Teerling eindig wel in die Van Dale op ‘n onbeklemtoonde lettergreep, maar so ook leerling! Wat nou?! Gou-gou besluit jy tog maar om eerder die Hollandse reël by die minder kanonieke Wiktionary te volg. =ling: waar dit op mense van toepassing is, word dit =lingetjie, die res word =linkie. Teerlinkie is ‘n klein dobbelsteentjie, daarom is dit =linkie. Hel, ‘n kind kan dit begryp!

Op ‘n dag ontdek jy www.taaltelefoon.be waar jy ‘n gratis spelboekie kan aflaai, jy ontdek www.etymologiebank.nl via die Nederlandse Wikipedia se Taalcafé, jy ontdek http://taal.vrt.be/taalmail-001-025 en so meer. En soos jy van Taalunie.nl ook nog bewus raak, begin jy al hoe meer wonder of jou eie professore in die taalkunde werklik die pyp kan rook. Ken hulle regtig die Nederlandse agtergrond tot so ‘n mate dat hulle presies weet waar dit by Afrikaans inpas of nie? Waar om die Afrikaans reg te buig deur middel van Nederlands? Ken hulle Deens en Nederduits en Duits om die parallelle tussen hierdie Vastelandgermaanse tale op te merk? Vir die Afrikaanssprekendes wat hul hand aan die etimologie gewaag het: ken hulle soos die Nederlandse vakkundiges van desjare Latyn, Grieks, Duits, Frans, Engels, Nederlands en sommer op die koop toe ook Persies, Sanskrit en Goties en Russies en Spaans en Hebreeus…? Ken diegene wat Cas Vos se werke resenseer het, wérklik Oudgrieks? Die onlangse resensies wat ek gelees het is niks anders as stroperige opsommings van die vertaalde inhoud nie. Waarom, byvoorbeeld, lyk húlle resensies nie soos die Boekbespreking van ”Akroterion” XXIV (April 1979, bl. 15-18), waar J.T. Benade se vertaling van ”Die Aeneïs” oor elke liewe nuanse krities aan flarde geruk word deur W.J. Henderson van RAU nie? In daardie vergeelde tydskrifartikel wemel die oorspronklike Latynse woorde en frases links en regs oor die bladsye soos miere. Daar word gelet op styl, woordorde, verteltrant, vertaling van Latynse beeldspraak, ens. Want vir my lyk die eietydse resensente na doodgewone Afrikaanse professors wat net twee tale ken: Afrikaans en Engels. Wat van: Skoenmaker, hou jou maar eerder by jou lees?

Kom ons bring dit sommer nader: Ken hulle, wat tog so vreeslik gesteld is op versoening, ooit ‘n Afrikataal? Ken hulle werklik Maleisies so goed dat hulle die raakpunt tussen “kumbang kura-kura” en “skilpadbesie” sal eien? Nee. Die ouens wat vroeg en laat op die taalkansel Afrikaans-is-‘n-kreooltaal predik, het net na woorde in die Maleisiese woordeboekies gekyk wat op die oog af soos Afrikaans gelyk het. Letterlike leenvertalings sou hulle mos nooit aan kon dink nie – wat eintlik onnodig is om oor te redeneer as hulle van die begin af werklik Maleisies magtig was! En tog: Nederlands het véél meer ingeburgerde Indonesiese leenwoorde en frases as Afrikaans. Afrikaans ‘n kreooltaal? Die Hollandse digter Gerrit Komrij het dit lagwekkend gevind, en die pogings om die kreolisering te bewys, sinloos.

Wie bepaal ook wat die korrekte voorsetsels is? En op grond waarvan? Is ons “met” vakansie, soos die Nederlanders praat? Of “op” vakansie, soos die Vlaminge praat? Ek skaar my by die Vlaminge. Sommer. As die taalprofessore nie ‘n rede kan gee nie, waarom moet ek?

Soos jy tussen die reëls van my brief sal lees, sal jy opmerk my respek en agting vir hierdie middelmatige Afrikaanse kommissies en taalliggame het deur die loop van die jare heen ‘n benedewaartse kurwe aangeneem. Uit ‘n puntetoekenning uit 100 is my waardering -58.4. Die keiser is rotkaal. Uit en gedaan.

Voordat ek my verder vervies, laat ons eerder gaan na ‘n veld wat vir my baie bekend is, naamlik die letterkunde. Of liewer, die versluierde retoriek.

LETTERKUNDE

Ek het 15 deser besluit om nie kerk toe te gaan nie. Ek het by die huis gebly en “The Devil Knows Latin: Why America Needs the Classical Tradition” (Boulder: University of Colorado, 2001, 183p, Google Play, R148,18) gelees. Ek het heelwat meer antwoorde op my lewensvrae gevind. Om ‘n lang storie kort te maak, haal ek die paragraaf aan wat ek by Latynonderrig by Wikipedia geskryf het:

“E. Christian Kopff beskou Latynonderrig as ‘n wapen teen wat hy beskou as die afgewaterde opvoeding aan universiteite en op skole. Latynonderrig leer die leerling en student eerstens eksegese: om uit te vind wat die skrywer oorspronklik bedoel en beoog het, en nié, soos by die dekonstruksie, sielkunde en postmodernisme, om deur inlegkunde betekenisse aan ‘n werk toe te dig wat suiwer op spekulasie gegrond is, wat die leser van die werk dink en ervaar, en dikwels uit die staanspoor bevooroordeeld teenoor tradisie staan en buite konteks waardeer word nie. Tweedens leer die student ook om ‘n hele korpus werke wat vanaf voor Christus strek tot die hede te leer begryp, te deursoek en nuttig by die moderne samelewing in te span – dit is wat in sy oë tradisie behels: om nie blindelings om te gaan deur die eietydse feite en perspektiewe slegs in isolasie te beskou nie, maar op die ontwikkelingsgang te let.”

Toe ek by hoofstuk X kom, en ek sien die titel “Postmodernism and the End of the Humanities”, kom ek eers later agter die klokhelder gelag in die kamer is myne. Waarom? Ek dink dit was ‘n vreugdelag. Of ‘n ironiese lag. Of ‘n lag uit pure verligting. Ek het mos eintlik lankal geweet ons leer nuttelose goed! Ek het maar gedink, gehoop en geglo ek is verkeerd. Dit probeer goedpraat, dit probeer wegredeneer. Want die dosente weet seker maar van beter. En hier word my vermoedens bevestig op wit en swart – deur ‘n professor! – ek was eintlik van die begin af doodreg!

Want reeds in matriek begin jy wonder hoe die staat/onderwyser “dit” of “dat” in ‘n teks kan uitlig en raaksien en “waardeer” en vir ons gee om te leer. Nêrens word vir ons gewys HOE op die antwoorde besluit of selfs bereken is nie. Jy volg maar soos ‘n skaap in ‘n drukgang, want jy wil net skool klaarmaak. Vir die ouer garde was dit beslis ‘n gemors: die onderwysers wou hê die kinders moes bloed uit ‘n klip tap. „Hier is N.P. van Wyk Louw se gediggie, waardeer nou die teks in die gegewe uittreksel en vind die waarheid.“ ‘n Kind kan dit tog onmoontlik nie doen nie! Was dit die sogenaamde “close reading” van die New Critics? Dit is vir Kopff geen wonder die “close reading” het saam met die egalitarisme (almal word eenders behandel en kry dieselfde (afgewaterde) leerpakket, begaafdes en minder begaafdes) later die postmodernisme in sy kwaad gesterk nie!

Wat veel erger is – ek sien in een van C. Louis Leipoldt se gedigboekies vir skole („Uitgesoekte Gedigte vir Jong Suid-Afrika“ – 1944) het hy hom bloedig vererg vir die onderwysers: hulle sien goed in sy gedigte raak wat hy nie bedoel het nie (Hineininterpretierung of inlegkunde), en hulle wou hê die kinders moet dit so leer. Nou skryf die outeur self in die voorwoord wat hy met sy gedigte bedoel het, sodat daar geen misverstand kan wees nie. Onder ‘n gepaste titel, “Inleiding (Wat die kinders maar moet oorslaan)”, staan daar:

„Niks het my meer vererg as die manier, waarop die skoolmeesters my gedigte misbruik nie. Die meeste van my gedigte is glad nie geskik vir kinders nie, en om dit aan kinders te gee, om uit die kop te leer en om dit op te sê – want „voordra“ kan ‘n mens dit werklik nie noem nie – is net om ‘n afsku vir poësie te laat kry.

In my eie belang, sowel as in die belang van die kinders, is ek genoodsaak om hierdie bundeltjie uittreksels te maak uit die drie digwerke wat ek uitgegee het […]. Myns insiens is die ander gedigte […] glad nie vir kinders geskik nie, eenvoudig omdat hulle aanspraak maak op ‘n vertolking, wat alleen ondervinding, wat ‘n skoolkind nog nie besit nie, kan gee.

Ek het dus die eenvoudigste gedigte uitgekies, en hier en daar het ek ‘n paar verklarende aantekeninge bygesit, wat die kind miskien, as hy die boek sonder ‘n meester gebruik, kan vooruit help.

Ek vertrou dat die here eksaminatore, wat in die verlede my gedigte vir kinders voorgeskryf het vir eksamens, hulle nou maar sal beperk tot hierdie uittreksels.“

Jy sien, dit is daarom een van die redes waarom ek oorweeg om Afrikaanse letterkunde te los. Hoekom? Sedert Ferdinand de Saussure agtergekom het die betekenaar (die teks, skrif, gesproke woord) en betekende (die betekenis self) is nie dieselfde ding nie (die gesproke woord en die betekenis het niks met mekaar uit te waai nie – kyk maar na die proxeneta, wat in Latyn eenvoudig makelaar beteken, maar in Spaans en Portugees ‘n hoerboer), het die postmoderniste sy teorie gekaap en met hul literatuurteorieë absoluut stapelgek geword en daarmee op hol gegaan. Van klankleer en betekenisleer is gebokspring na taalkunde en synsleer. Nou kyk, dis darem ‘n eersteklas drogredenasie: As taal dan nie na die werklikheid daarbuite verwys nie, bestaan die werklikheid nie. Elkeen het nou skielik sy eie werklikheid en sy eie waarheid gevind, skryf Kopff (p. 67-68):

“The areas of human existence infected by the ideology of critical theory are numerous, but one of the most significant hosts for this deadly disease was the study of the humanities. As I have said in the first section of this book, in our society, as in every other, we make sense of our lives by telling our own personal stories, and, more important, by telling the stories of our nation – the tales of our culture, in other words. The postmodern critical theorists, however, being quite consistent in their thinking, denounced this cultural story-telling – also known as study of the humanities – as indoctrination, an oppressive and illusory “Meta-Narrative”.”

Wat beteken: alle volksverhale, alle tradisie, die werklike waarheid agter die teks is in die oë van ons eietydse dosente maar net politiekpraat! Alles geld, behalwe die waarheid. Die grootste ironie van die saak is egter: as almal dan nou tegelyk reg en verkeerd is (amper soos Schrödinger se kat wat tegelyk dood en lewend is), wat gee hierdie groep akademici, die postmoderniste, dekonstruksiepredikante, Julia Kristeva-aanbidders ensomeer, die reg om hul mond uit te spoel en as die absolute waarheid te verkondig? All animals are equal, but some animals are more equal than others. Laat ek dit tog in die neutrale Latyn uit Fundus Animalium aanhaal: Omnes bestiae aequales sunt, sed nonnullae bestiae aequaliores sunt quam aliae. Wat my betref, die waarheid van die teks staan vas by die oorspronklike bedoeling van die skrywer (of die ou wat dikteer aan die transkribeerder, diktafoon of videokamera) alleen, soos vervat in die produk: die boodskap, die skryfstuk. Maar wat die eietydse onderwerpe vir ‘n verhandeling aan die liberale staatsuniversiteite betref, dui dit juis op die teendeel. Ek weier om die waarheid op hierdie wyse geweld aan te doen.

Ek moet bieg, bely: dit was geweldig lekker om uit die hoërskool te kom, met al sy burokratiese voorskriftelikheid, “jou hare los te laat hang”, en ‘n teks volgens jou eie perspektief te interpreteer; slegs deur bewyse in die teks te soek om daarby te pas. Dit was eintlik soms ‘n probleem om so ver moontlik van die handboeke se voorbeelde af te wyk en so oorspronklik moontlik met die woord om te gaan! Maar eintlik, as ons nou wil eerlik wees, hoef jy net ‘n onderhoud met die skrywer te voer om agter die ware kap van die byl te kom. Wat die res van die wêreld van sy/haar werk dink beteken absoluut niks. Dis die waarheid, die doel van die teks, die boodskap, wat tel.

Ek vra dus in hierdie brief nederig om verskoning vir diegene wat ek voorheen op Disqus in my onkunde mislei het: jy kan Raka interpreteer en elke liewe betekenis aan hom toedig wat jy ook al wil. Van dekadensie tot outsider tot versinnebeelding van swartes. Raka het egter net een betekenis gehad – net N.P. van Wyk Louw sal weet wat hy daarmee bedoel het. Jy mag nie jou willetjie of teorie op ‘n teks afdwing nie.

Kyk, vir jare, of dit by die teologie, die letterkunde, die klassieke, wat ook al die geesteswetenskappe was – die hoofdoel was nog altyd om die oorspronklike betekenis en konteks van ‘n teks so diep moontlik te ondersoek, so na as moontlik daarby te staan, die waarheid net so van geslag tot geslag oor te dra, en in hierdie konteks te probeer verstaan (soos dit daardie jare aanvaar en gebeur en geglo is). En om hierdie eeue-oue kennis te verfyn, af te rond, en vir die alledaagse bestaan aan te pas. Dus, nie, soos in Langenhoven se universiteitsjare, om die “sielkundige oorsprong” en “intertekste” van idees en kunsgrepe te soek nie. Dus, nie te bly hamer op die uitwys van tegnieke (alliterasie, assonansie, vyfvoetige jambes) en kopieregskending van ou idees nie. Want dan gaan jy lank soek. Dit is bysaak, triviaal en onbelangrik. Maar iewers in die geesteswetenskappe is die Sender-Boodskap-Leser-model met die grootste wellus onder ‘n brug verkrag en met die ongeneeslike vigs van ons tyd besmet: waar die Sender-Boodskap vernaamlik in die vorige eeue die belangrikste was, het die konteks verskuif na Boodskap-Leser. Enige dronklap in sy besopenheid kan nou iets oor die Boodskap te sê hê (of dalk die bottel laat praat), met genoeg aanhalings en redes (of selfs sonder rede!) is dit nou korrek. Alles is nou geoorloof. Solank dit net nie terugwys na die tradisie of die werklike waarheid of die werklike betekenis nie.

En weet jy, dan lees jy die volgende sin op bladsy 44 van Kopff se werk (onthou, dit was geskryf in 1998, bygewerk 2001): “There has been a drop of almost a third in number of students of language and literature in U.S. Colleges and universities since then. And why not? If Shakespeare and Chaucer are socially constructed puppets, not real authors trying to communicate to us, why spend time reading them?”

‘n Mens kan net jou kop skud. Dit is die jaar 2017. Niks het verander nie. En om net weer te herhaal: As ek eerlik na my eie universiteitsloopbaan agterna kyk, moes jy ‘n klomp van jou eie menings gee, wat jy met bewyse uit die teks moes onderskraag. Die fokus was egter op wat ék wou sê van die teks, wat in my denkraam en gedagtegang pas, of wat ‘n denkrigting wou hê die teks moet sê (met die voorgeskrewe teorie, natuurlik, soos postkolonialisme), nie wat die waarheid, ekskuus, die OORSPRONKLIKE waarheid en boodskap van die teks pas nie. Gee jy om as ek vinnig aanhaal uit die jongste eDusa, die jaartydskrif vir Germanistiek in Suid-Afrika? Die hoofopskrif is “Meinungsbericht zur #FeesMustFall-Bewegung an der University of the Western Cape”, geskryf deur Kira Schmidt.

“Aus der Studentenbewegung ergeben sich auch vielfältige Aufgaben für die Deutschabteilungen in Südafrika: Zunächst sollte eine Diskussion um die Forderung einer decolonisation of the curriculum geführt werden (Philina Wittkes nachfolgender Beitrag macht einen ersten, lobenswerten Versuch), wobei nicht nur neue Lehrinhalte, sondern auch neue Lehransätze ausprobiert werden sollten, die auf unsere Studenten zugeschnitten sind und verstärkt ihre Berufsaussichten berücksichtigen. Das Fach Deutsch kann in der aktuellen Bildungs- und Dekolonialisierungsdebatte vieles leisten. Dabei sollte nicht so sehr die Frage „Was kann ich von Deutschland, Österreich, der Schweiz lernen?“, sondern vielmehr „Was habe ich als Südafrikaner Deutschland, Österreich, der Schweiz zu sagen?“ Es gibt bereits an verschiedenen Universitäten südafrikanisch-deutsche Kooperationen, die in diese Richtung gehen.”

Kortom, vir diegene wat nog nie Duits kan lees nie: Met die hele dekolonialisering van die universiteitsleerplan, met die studenteonluste in die agtergrond, word daar nou in daardie brief voorgestel om by die UWK weg te beweeg van “Wat kan ek by Duitsland, Oostenryk en Switserland leer?” na “Wat het ek as Suid-Afrikaner vir Duitsland, Oostenryk en Switserland te sê?” Boonop word dit as prysenswaardig beskou deur die skryfster, en staan in my oë in skrille kontras met die “Berufsaussichten”. Hoekom?

Dit kom weereens neer op dieselfde barbaristiese onkultuur: “wat wil ék hê?, wat is my waarheid?, wat pas by my eie skrale gedagtegang?” teenoor: “wat is dié waarheid daarbuite?”. Met ander woorde, die universiteit het slegs ‘n Freudiaanse Rorschachtoets geword waar jy op die rusbank sit en net sê wat jy sien – nie wat die beeldskepper met die simmetriese vlermuisspatsels eintlik beoog het jy eintlik moet sê nie. Dus, dit handel alles rondom die onwilligheid om na ander te luister en te leer. Dit draai alles rondom die selfsugtige ek. Moet mens nie eerder met belangstelling begin vra: “Wat kan ‘n beskawing wat soveel tegnologie, en soveel ekonomiese dryfkrag opgelewer het, en soveel gedokumenteerde suksesse en foute gemaak het, my leer?” Wat het geword van die nederigheid wat mens by die Japannese kan leer? Wat ek nou nog minder kan begryp: Duits is in Japan geen “koloniale taal” nie, maar net in Afrika wel. Die Japannese het tydens die Meiji-era (1868–1912) ywerig aan Engels, Duits, Frans en Russies geleer om soveel kennis moontlik uit die Weste so vinnig as moontlik op te neem, nadat hulle so lank hul van die Weste afgesonder het. Duits is nie die taal van die kolonialisme nie, maar die modernisering van die Japannees se eie kultuur. Wie is dan nou beter daaraan toe? Die ondankbare Suid-Afrikaanse student (wat net ‘n tronk vir homself bou met sy eie stene van minderwaardigheid), of die Japannees? Of, wag, is dit nie maar net wat Schmidt self eerder beoog nie? Om wat mee te bereik? Om mee te wat? Huh?

Dit breek my hart soos jy deur hierdie vaktydskrif blaai en sien hoe laag hierdie Duits, met sulke hoë wêreldwye aansien, en my so hoogs gemotiveerd laat om te leer, só laag moet daal en soos ‘n wurm tussen die modder moet kruip om met lekkergoed en speletjiesaande heel paaiend Namibiërs tog te lok om te kom deelneem in die leerproses. In Pole en Japan hoef jy dit beslis nie te doen nie! Dis uiters vernederend vir jou as mens en taal. Hier in Suid-Afrika kan ek nie onthou dat die Goethe Institut ooit ons Afrikaanse skole in formele of informele hoedanigheid kom besoek het nie. Dit was juis die Afrikanerskole wat desjare die grootste betekenis aan Duits gegee het! Hierdie ekke, met die bietjie bemarking wat ek op hoërskool in besigheidstudies geleer het, sal vir jou kan sê: as jy mense wil werf vir Duits, waarom het jy nie lankal soontoe gegaan nie? Hoe kon die Goethe Institut eenvoudig staan en toekyk hoe die Duitse Departemente landswyd by die universiteite een na die ander toeklap, terwyl Alliance français terselfdertyd in noue kontak met die Suid-Afrikaanse universiteite gebly het? Dit was juis die Afrikaanse of, meer spesifiek, Afrikaneruniversiteite wat Duits aan vele fakulteite ‘n pligvak gemaak het – tot in die 1980’s. Iewers moes hierdie voorgraadse studente seker Duits geleer het, of hoe?

Dieselfde walglike tendens sien ek onder ons eie Afrikaanse Akademie. Om die menigte te paai met lekkergoed, kompetisietjies, boekleesklubs en enigiets wat grens aan, om die begrip aan te pas, “brood en spele”. Pryse word goedkoop gemaak. In die proses vervreem jy diegene wat Afrikaans literêr en taalkundig wou uitgebou het – ongeag die hoë standaarde en gehalte wat studente aan hulself gestel het. Mense stel in gehalte belang wat Europa en Amerika en Suid-Korea en Japan s’n verbysteek of ten minste ewenaar. PUNT! As dit van my afgehang het, sou geen enkele Afrikaanse werk sedert 1985 ‘n prys ontvang het nie. Want wil jy werklik hê jou werk moet met daardie skurwe (vr)ouens s’n gelykgestel word? Die onherroeplike skade wat die reputasie van die pryse aangerig is, sal nou nooit ongedaan gemaak kan word nie. Sedert 22 Januarie 2017 het ek my voorgeneem: uit selfrespek sal ek daarom op my toekomspad elke liewe Suid-Afrikaanse prys en toekenning voortaan van die hand wys (behalwe as PRAAG een uitloof vir ‘n essaykompetisie). Jy doen jou naam net oneer aan. As die Sestigers dit kon weier uit protes oor iets so onbenullig soos politieke betrokkenheid, dan doen ek dit uit protes teen gehalte-agteruitgang, wat ‘n veel ernstiger saak is. Ek hoop my siening sal vele pryswenners beweeg om dieselfde te doen.

SLOTSOM

Sal ek dus vanaf 3 Augustus 2017 vir my die nuwe AWS Eeufeesherdenking aanskaf, wetende ek sal my geld weer mors? Wel, kom ons kyk wat sê die Vlaminge oor hulle spelboekie: “De spelling volgens het Groene Boekje is verplicht voor de overheid en het onderwijs in België en Nederland. Als u niet tot die doelgroepen behoort, kunt u in principe spellen zoals u wilt. In de praktijk kiezen de meeste mensen ervoor om de officiële spelling te volgen.”

Ek is nie staatsbesit nie, kort voor lank miskien nie meer student nie. Die staat is vir my ook geen simbool van uitnemendheid nie, maar eerder ‘n instansie wie se doel dit oorspronklik was om die merker opwaarts te skuif (en daar te hou!) soos die standaard verbeter, soos mens empiries rekordtyd by atletiek byhou.

Dit help dus nie ons probeer op grondvlak begin en wonderwerke van die kinders verwag, terwyl die grootste kanker van middelmatigheid aan die universiteite self nog alles wegvreet nie. Wie lei vir wie? Jy word net van voor af vasgevang in ‘n rigtinglose, doellose bose kringloop van middelmatigheid in die onderrig van Afrikaans.

Tot hierdie mense nou klaar besluit het of Afrikaans nou ‘n dialek van vertaalde Engels of Nederlands moet word, tussen terug-in-die-kombuis-gedruk-word of as-universiteitstaal-uitgebou-word, dalk besef om minder oppervlakkige navorsing oorhaastig in vaktydskrifte te publiseer, gaan ek maar my gang, en soek verder my heil by my Romeinse, Middeleeuse tot 1700’s-voorvaders en die Duitsers en ‘n paar Deense vissermanne wat aan Tuborg teug.

Naskrif: Ek belowe ek sal Afrikaans nie verlaat nie. Daar is meer as genoeg vertaalwerk en oorspronklike navorsing vir my by die Afrikaanse Wikipedia om te doen. Daar is verwaarloosde kultuurbrûe wat opgeknap moet word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.