Leon Lemmer: Jaap Durand se herinneringe aan die ‘bevrydingstryd’

Jaap Durand. Foto vanaf YouTube

As teologiedosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) vanaf 1973 en daarna as viserektor aan dieselfde inrigting (1981-1996) het Jaap Durand (gebore in 1934) bekendheid as bevrydingsteoloog verwerf, onder meer weens sy leidende aandeel in die formulering van die Belydenis van Belhar en sy verheerliking van Dietrich Bonhoeffer (1906-1945) as ‘n martelaar wat teen die Nazi-bewind in opstand gekom het. Durand het studente aangemoedig om hulle ingelyks teen die “apartheidsregime” te verset. In sy jongste boek, Protesstem: oomblikke van herinnering (Wellington: Bybelkor, 2016, 264p, R190), is dit duidelik dat dit vir hom eerder om linkse politiek as akademiese oorwegings gegaan het. “Ons identiteit hang saam met ons herinnerings” (p 9).

In die eerste hoofstuk noem die outeur dat die teks nie ‘n outobiografie is nie (10), al kom outobiografiese inligting daarin voor. Sy eerste vrou kom oor as iemand wat polities selfs meer militant as hy was. Sy drie kinders het polities ook die verlangde solidariteit betoon (156-157, 165-166, 186-187). Durand het darem twee swaers met “regse politieke opvattings” (195). Hy verwys na homself as ‘n Afrikaner (153, 210), maar dit beteken nie veel meer nie as dat hy ‘n blanke Afrikaanssprekende is. Hy het bv van jongs af geweier om iets met volkspele te make te hê (22). Sy hele oriëntasie is ter bevoordeling van bruines en swartes. “Die amaXhosa het my mense geword” (29). “Ek het hulle liefgekry” (48). “Swart mense inderdaad mense en nie vreemde wesens was nie” (57). Dit lyk nie asof sy liefde konserwatiewe blankes insluit nie. Hy het geen goeie woord vir die blanke politieke bewind van weleer en geen slegte woord vir die huidige politieke opset nie. “Die apartheidsituasie in die land het … my … met afsku vervul” (61). Hy wou “‘n verskil maak” (225). “Ek [het] op my manier na verandering gesoek” (227). Die naaste wat Durand aan kritiek op die ANC kom, is deur sy teleurstelling uit te spreek dat Thabo Mbeki deur Jacob Zuma vervang is (191-192).

Toe Durand in 1975/6 drie maande in Amerika was, was sy versugting “om veral met swart Amerikaanse teoloë gesprekke te kan voer” (81). Hy was onder meer “by die Universiteit Howard in Washington, waar byna uitsluitlik swart studente deur swart personeel onderrig word” (82). Durand veroordeel hierdie opset egter nie as die uitdrukking van rassisme of rassesegregasie nie. Vir wittes en swartes geld daar myns insiens glad te dikwels verskillende maatstawwe. Hy verwys eerder na “wit Amerikaners se onbegrip van die swart Amerikaners se reële lewensnood” (82). Die Universiteit Howard herinner aan die huidige druk op eens blanke Suid-Afrikaanse universiteite om te verswart terwyl tradisioneel swart universiteite ongesteurd kan voortgaan om byna uitsluitlik swart te bly. Van die skandaligste skuiwe wat die ANC-regering ooit gemaak het, was om ruim studiebeursgeld aan die Universiteit Howard te skenk; glo as ‘n gebaar van vergoeding vir die skade wat Amerika in 2005 weens die orkaan Katrina gely het. Geen haan het oor hierdie skenking gekraai nie.

Durand begin sy vertelling met verwysing na Sharpeville (1960). Sy magisterverhaling handel oor Johannes Calvyn (1509-1564) se “reg van verset teen ‘n owerheid” (25). In Durand se doktorale proefskrif word beweer: “‘n kerk wat op rassegrondslag verdeeld was, nie die toets van die Christelike evangelie kan deurstaan nie” (12). Die NG Kerk-familie moet volgens hom een word. Afrikaans as kerktaal sal myns insiens ernstig deur ‘n samesmelting van die NGK en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) benadeel word, maar daarvoor gee Durand blykbaar nie ‘n snars om nie. Durand word aan sy teologievriende geken. Willie Jonker, Beyers Naudé en Bennie Keet word reeds in hoofstuk 2 genoem en daar word goedkeurend na die bundel Vertraagde aksie en die Wêreldraad van Kerke se Cottesloe-beraad (1960) verwys.

Regse teoloë word geëtiketteer, bv Koot Vorster as “die groot indoena van die NG Kerk” (16) en Kosie Gericke as die “biskop van Stellenbosch” (17). Eugene Terreblanche het hom by Kodesa glo skuldig aan “hansworsagtige optrede” gemaak (207). PW Botha word deur Durand “die Groot Krokidil” genoem (158). Al diesulke sal seker kwalifiseer vir die etiket van “konserwatiewe konkelaars” (122). Daarteenoor is daar “die formidabele Nelson Mandela” (203). Aan die UWK is daar na Durand as “die ajatolla” verwys (121). In Die Kerkbode was daar ‘n “hoogheilige artikel oor die teologiese regverdiging van die bedeling in Suid-Afrika” (62). Die Kweekskool op Stellenbosch word “die teologiese krip van die NG Kerk” genoem (22). Durand verwerp die idee van “ewige en onveranderlike beginsels” (24). Hy was nie iemand “wat baie aan beginsels geglo het” nie (22).

Aan die Kweekskool het Durand ‘n tweede doktorsgraad verwerf. Sy proefskrif handel oor Thomas van Aquino (1225-1274) maar sy konserwatiewe promotor, FJM Potgieter, het glo “geen snars van my eintlike bedoelings begryp … nie” (73). Durand verwys na sy “totale verwydering van die teologie wat in die NG Kerk bedryf is” (63). Die meeste van sy publikasies handel oor “die skerpste moontlike afwysing van ‘n ‘apartheidsteologie'” (189). Daar is glo met “bedrieglike subtiliteit … in apartheidsdenke met die Bybel omgegaan” (84). By Durand is daar geen woord van veroordeling vir die toestand waarin teologiese opleiding in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch verval het nie. Maar hy dink nogtans dat sy pa se “sin vir reg en regverdigheid” (19) in hom wortel geskiet het (20).

Durand roem daarop dat hy nooit as ‘n NGK-predikant gedien het nie. Te Cala in die Transkei en in Kwazakhele, Port Elizabeth, was hy as sendeling in diens van die NG Kerk in Afrika. Hy het toe bewus geword van “die andersheid van die mense rondom jou” (30). “Tog het die wit personeel in hulle klein wit wêreldjie geleef” (32). Hy noem dit die “apartheidsmentaliteit in die sendingwerk van die NG Kerk” (33). Maar die bevrydingsteoloog David Bosch het nie hierdie mentaliteit gehad nie (33). As teologiedosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland was Durand in diens van die NG Sendingkerk. Hy woon op Stellenbosch. “omdat Bellville ons nie juis aangestaan [het] as blyplek nie, veral omdat daar aan ons vertel is dat dit ‘n redelik verkrampte plek was om te woon” (142). Linkse politiek oefen in talle opsigte ‘n deurslaggewende invloed op sy lewe uit. Hy is ‘n lidmaat van die Rynse gemeente van die VGK op Stellenbosch (82). Hy beskuldig die NGK van “skynheiligheid” (78). Apartheid is glo deel “van ‘n soort volksteologie” (94). Sy oortuiging is “dat die stryd teen apartheid in Suid-Afrika ten diepste ‘n religieuse stryd was” (94).

Die Belydenis van Belhar word deur Durand as “die sluitpunt” van sy lewe beskou (70). Hy wy ‘n hele hoofstuk daaraan. Hy stel glad nie belang in wat positief oor apartheid gesê kan word nie. “Ek het my bly afvra: Wat is teologies verkeerd met apartheid?” (84). Hy was vasberade “om na ‘n onomstootlike teologiese argument te soek dat apartheid of afsonderlike ontwikkeling, selfs in sy ideaalste vorm (as daar ooit so iets sou kon wees in die hande van sondige mense) die evangelie van Jesus Christus weerspreek” (85). Dat hy naarstiglik moes soek, dui daarop dat daar nie ‘n voor die hand liggende teologiese fout met apartheid is nie. Na ‘n soektog het Durand uiteindelik “die teologiese grondfout van die apartheidsdenke” (86) gevind: “Apartheid is in stryd met die versoening omdat die uitgangspunt daarvan is dat mense onversoenbaar is. Daarom moet hulle uitmekaar gehou word … Die gedagte dat daar in die ‘apart’ ‘n fundamentele fout opgesluit lê vir hulle wat versoening in Christus bely, het nooit by hulle opgekom nie” (87).

Het dit al ooit by Durand opgekom dat die Universiteit Howard ‘n toonbeeld van die apartfout is? Die onversoenbaarheid van mense kan myns insiens ook aan hulle sondigheid toegeskryf word, al was hulle hoe opreg in hulle geloofsbelydenis. In die onvolmaakte aardse werklikheid kan rassesegregasie ‘n voortreflike bydrae tot groter rus en vrede en harmonie lewer. Die hoogs gewelddadige samelewing waarin ons ons bevind en wat tot oorlopens toe vol haat is, toon dat die afskaffing van apartheid nie magiese versoening bewerkstellig het nie. Apartheid kan nie die enigste sondebok wees vir die onverkwiklike situasie waarin ons ons sedert 1990 bevind nie. Dit lyk asof daar êrens ‘n grondfout in Durand se redenasie is. Op die koop toe sit ons met ‘n onbekwame, ondoeltreffende, korrupte, immorele ANC-regering waarvan die einde nie in sig is nie.

Die oggend na Durand se vermeende ontdekking van die grondfout het hy sy finalejaar-teologiestudente gevra om onderling oor “die basiese teologiese beswaar teen apartheid” te gesels (88). Een van die studente was die “besonder knap” Russel Botman (88). Hierna het Durand ‘n beskrywingspunt vir die komende Sinode van die NG Sendingkerk geformuleer. Daarvolgens is die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur in stryd met die evangelie van versoening, word wit mense daardeur bevoorreg, geskied geregtigheid dus nie aan almal nie en word die menswaardigheid van die nie-bevoorregtes aangetas (89-90). Dié voorstel is in 1978 deur die Sinode aanvaar (91). Durand se formulering is suiwere bevrydingsteologie. Dit word egter nie in die nuwe Suid-Afrika toegepas wanneer op grond van ras en kleur teen blankes gediskrimineer en swartes bevoorreg word nie; ook nie as ongeregtigheid aan blankes geskied en hulle menswaardigheid met tweederangse burgerskap aangetas word nie.

Allan Boesak is tot voorsitter van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke verkies. Hy het “die besluit van die NG Sendingkerk se Sinode van 1978 voorgedra en ‘n groot rol gespeel in die besluit wat sou volg, naamlik dat die teologiese regverdiging van apartheid kettery is en dat dit ‘n staat van belydenis daarstel. ‘n Staat van belydenis beteken eenvoudig dat ‘n dwaling so erg is dat die kerk nie anders kan as om oor die aangeleentheid ‘n belydenis af te lê nie” (95). Durand was sekerlik trots op die sneeubal-effek wat sy sinodevoorlegging internasionaal gehad het, asook die rol wat sy dissipel Boesak daarin gespeel het. Ook dat net blankes in die beskuldigde bank geplaas is en dat die veroordeling van bv terrorisme nie eens deur die Wêreldbond oorweeg is nie.

Die volgende stap was om ‘n belydenis te formuleer. Hierdie pil is soos volg versuiker: “Die Belydenis van Belhar was … nie gerig teen die NG Kerk as sodanig nie, maar teen die vals teologie wat deur baie in die kerk, hoewel nie deur almal nie, aangehang is” (100). ‘n Onderskeid word dus tussen die progressiewe skape en die konserwatiewe bokke gemaak. Toe die NGK later nie sonder meer die Belydenis van Belhar wou aanneem nie, het Durand dit “‘n kerkregterlike slenter” genoem (101). Hierdie groot voorstander van gelykheid, van bv een mens, een stem in die politiek, wou hê die Belydenis van Belhar moet op ‘n ondemokratiese manier aan alle NGK-lidmate afgedwing word. Met so ‘n prosedure sou hy daarin geslaag het om nog groter verdeeldheid in die NGK te saai as wat hy reeds bewerkstellig het. Durand is van mening “dat God sy kerk nie demokraties nie, maar deur sy Woord en Gees regeer” (102); uiteraard soos vertolk deur Jaap Durand.

Durand as viserektor en Dirkie Smit, sy opvolger as teologiedosent aan die UWK, het opdrag gekry om ‘n konsepbelydenis op te stel. (96). Wat hierna gebeur het, is soos volg verwoord: “Die basisteks is die geesteskind van Jaap Durand wat deur Dirkie Smit verwerk is” (98). “Die belydenis … handel oor die eenheid van die kerk, die onderlinge versoening tussen mense en ten slotte geregtigheid” (97). Die kernbegrippe is dus kerkeenheid, versoening en geregtigheid. Die verskynsel van susterkerke is as “‘n verskeurde kerk” – en nie as (gesonde) kerklike verskeidenheid nie – geëtiketteer (96). “‘n Verdeelde kerk het onlosmaaklik saamgehang met ‘n gees van onversoenlikheid en onwilligheid om oor rasse- en kultuurgrense heen saam as gelowiges die pad te stap” (96). “Die idee van die onversoenbaarheid van mense [het] direk gelei tot ‘n beleid van afsonderlikheid waarin noodwendig onreg gepleeg is teenoor die noodlydendes, die armes en die ellendiges” (97). In die geval van die laasgenoemde drie groepe is klaarblyklik (veral) aan nie-wittes gedink. Aan hulle is spesiale status in die oë van God toegeken, pleks daarvan om daardie verlangde bevoordeling aan die opstellers en instemmers van die belydenis toe te skryf. In artikel 4 van hierdie belydenis staan dat God “op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is.” Die volledige teks van die belydenis is op die internet beskikbaar.

In werklikheid is ons terug by George Orwell (1903-1950) se waarneming dat party (mense) meer gelyk as ander is. Ingevolge die bevrydingsteologie borduur Durand soos volg voort op wat in die Belydenis van Belhar staan: “In die 20ste eeu het ‘n verdere implikasie van die evangelie van die kruis van Christus al hoe meer deel geword van Christene se oortuiging dat die nood van mense wat in armoede, ellende en verdrukking leef, die besondere sorg van God mag verwag, en juis daarom ook van ons” (242). Die VGK stel aanvaarding van die Belydenis van Belhar op ‘n buffelagtige manier as ‘n ononderhandelbare voorwaarde vir samesmelting met die NGK. Teen hierdie VGK-liefdeloosheid opper Durand geen beswaar nie.

‘n Hele hoofstuk handel oor die “apartheidsregime” se Veiligheidsdiens. “Hulle het wel informante gebruik. Van hierdie tipes was daar seker baie meer as wat ek besef het” (43). Die ironie is dat Durand ook sterk op informante en skinder vir inligting aangewese was ten einde apartheid en die blanke politieke bewind te ondergrawe. Hy kon nie verstaan waarom die Veiligheidsdiens in sy doen en late belangstel nie omdat hy syns insiens “hoegenaamd nie kan kwalifiseer as ‘n persoon wat ‘n gevaar vir die staat inhou nie” (106). Maar dan erken hy dat hy “probeer het om die situasie in ons land te verander” (115). Juis daarom het hy “beleef dat ek binne kerklike kringe (spesifiek binne die NG Kerk en veral onder die kerkleiding) beskou is as ‘n persoon wat ‘n gevaar vir die staat inhou en die staat ondermyn” (115). Dat Durand nie (heeltemal) onskuldig was aan wat op die UWK-kampus plaasgevind het nie, bv die studente-onrus, blyk uit die volgende. Hy was verbaas dat sy aanstelling as viserektor vanaf 1981 so gou ministerieel goedgekeur is “ten spyte van wat alles tussen 1973 [sy eerste jaar as dosent] en 1980 gebeur het, die rol wat die Fakulteit Teologie in hierdie tyd gespeel het en my eie rol daarin” (121). Hy beskryf homself immers as een van die “meestanders in die struggle” (133).

Toe meeluisterapparaat in sy viserektorskantoor ontdek word, het hy dit as “vermetelheid” beskou (136). “Die hoof van kampusveiligheid [het] afgeluister” (137). Durand het gewonder: “Wat het ek nie alles self gesê nie!” (137), iets waaroor iemand wat ‘n regeringsondersteuner was hom nie sou bekommer het nie. Durand het die afluistering teen veral een administratiewebeampte gehou wie se naam (dalk as vergelding) herhaaldelik in die teks genoem word. Durand se informante word egter nie by die naam genoem nie. Hy het gedreig om as viserektor te bedank en dan die UWK, wat hy ‘n “apartheidskepping” genoem het, in die pers in die verleentheid te stel. Sy afdreiging het die verlangde gevolge gehad. Die betrokke amptenaar is ontslaan en Durand het toe nie bedank nie. “‘n Geskikte afsluiting van ‘n saak van meeluistering onder die ou rergime” (141).

Die 1976 het die opstand in Soweto plaasgevind. “Dit sou spoedig oorspoel na die Wes-Kaap en tot groot onrus op die kampus van UWK lei. Die owerhede het egter hierdie opstande gewelddadig onderdruk. Die swartbewussynsbeweging van Steve Biko [1946-1977] het sterk aanklank by die studente gevind. Vir die studente van die teologiese fakulteit was dit ‘n groot uitdaging [ANC-terminologie!] om as senior leiers onder die studente hulle eie posisie te bepaal en te bevestig. Dit was dan ook hulle wat die grootste slagoffers was van die owerheid se optrede, waaronder intimidasie en veral aanhouding sonder verhoor” (85). Suiwer akademies was hierdie studente se posisie myns insiens egter dat hulle aan die UWK was om te studeer en nie om klasse te ontwrig, optogte te hou en skade aan te rig nie. Die studente se politieke aktivisme het blykbaar groot genoegdoening aan Durand verskaf.

“Dit was veral opvallend dat die teologiestudente aan die spits gestaan het van verskeie studente-aksies” (143). “Omdat die teologiestudente aan die spits van hierdie aksie[s] gestaan het, het dit beteken die dosente in teologie moes noodwendig [?] wys waar hulle staan” (144). Omdat sommige van die dosente konserwatief en behoudend en nie uitgesproke anti-regering was nie, het dit Durand en “Bernard Lategan gelaat om die studente die ondersteuning te gee wat onder dié omstandighede moontlik was” (144). Van hierdie twee was Durand polities die radikaalste linksgesind. Later, toe Lategan in Duitsland was, was Durand “die enigste persoon in die [teologie]fakulteit … wat my openlik by die studente geskaar het … Die vertroulike byeenkomste wat ons [met die studente] gereël het om die situasie te bespreek [eerder as om dit te ontlont], na die studente te luister [eerder as om hulle die leviete voor te lees] en hulle optrede te monitor (as dit die regte woord is) [dalk eerder: om hulle tot optrede aan te hits?], het bekend geword onder diegene wat in beheer van die veiligheidsituasie in die land was … Baie duidelik word aan my gestel dat ek onder geen omstandighede in aanraking mag kom met die studente wat in aanhouding was nie” (152).

Toe Durand nog ‘n sendeling was, het hy gesien hoe studente van die Universiteit Kaapstad by die parlementsgebou betoog. Hy het die polisie verkwalik omdat hulle die studente agtervolg het tot in die Anglikaanse katedraal waarheen hulle gevlug het (63). In 1976 was Durand se vrou ‘n assistente in die UWK se teologiebiblioteek. Sy het skuiling aan studente-kwaaddoeners in die boekmagasyne verskaf (147). Sedert diensaanvaarding het mevrou Durand “baie vinnig ‘n besonderse verhouding met die studente opgebou; nie alleen deur die mooi manier waarop sy hulle gehelp het om die literatuur te vind wat hulle nodig gehad het nie, maar ook op verskeie ander maniere was sy soos ‘n ma vir hulle gewees. Dit is dus verstaanbaar dat hulle tydens die spanning op die kampus en met die gevaarlike toestande wat met die polisie se teenwoordigheid ontwikkel het, hulle dikwels tot haar gewend het, onder meer om skuiling in die biblioteek te soek” (148-149). Die Durand-egpaar het ongetwyfeld solidariteit met die studente teen die polisie geopenbaar. Soos Van der Ross en daarna Jakes Gerwel was hulle onbehulpsaam met die bestryding van (politiek-gemotiveerde) misdaad.

Dit is waar “die baie konserwatiewe hoofbibliotekaris, ‘n sekere mnr de Kock” (149), in die prentjie kom. Aan die einde van 1976 is mevrou Durand “ewe hoflik in kennis gestel dat haar pos in die biblioteek afgeskaf is en dat haar dienste dus nie meer benodig word nie” (149). Eers in 1978 is ‘n ander biblioteekassistent aangestel (149). Durand verkwalik klaarblyklik vir De Kock vir die diensbeëindiging van mevrou Durand en gooi dit oor ‘n politieke boeg, naamlik die konserwatisme van De Kock. Die vraag is of hier nie gewoon in die akademiese belang van die universiteit opgetree is nie. Andries de Kock (1930-1999) was ‘n uitnemende bibliotekaris en ‘n Israeliet sonder bedrog. Dit is hy wat bv die voorstelle van die argitekte vir ‘n nuwe gebou aangepas het om ‘n prakties funksionerende biblioteek moontlik te maak. Maar dit het met die UWK as akademiese inrigting te make terwyl Durand se aandag op die politiek toegespits is.

Die 1976-onluste op die UWK-kampus word deur Durand nie as danig erg voorgestel nie. “Die feit bly staan dat die toestande op die kampus in 1976 nog geensins buite beheer geraak het nie en nie by benadering die afmetings aangeneem het soos later in die baie oproerige tagtigerjare nie” (154). Dus eers in die 1980’s, toe Durand die viserektor was, sou die UWK “die leidende kampus” in politieke onrus word (146); “een van die sentrums van die opstand teen die staatsowerheid” (159). Ek het die indruk dat hierdie wantoestand Durand eerder verbly as beskaam het. Met die 1976-UWK-onluste moet daar egter nie so ligtelik omgegaan word soos wat Durand doen nie. Ek het voorheen in besonderhede hieroor geskryf na aanleiding van Cornelius C Thomas se boek, Wakker wakker en aan die brand: Waarneminge van ‘n studente-aktivis, UWK, 1976 (Praag 21.12.2014). Klaarblyklik het dit deesdae prestigewaarde om ‘n anti-apartheidsaktivis of -vandalis of selfs ‘n -terroris te wees.

“Die wit beheer van die universiteit [was] die eintlike steen des aanstoots vir die studente” (143). Dit is ‘n rasgebaseerde beswaar. Toe Richard van der Ross as die eerste bruin UWK-rektor (1975-1986) aangestel is, was die ironie dat sy aanstelling juis heeltemal in ooreenstemming met die apartheidsbeleid was. Daarna het die studente egter die doelpale verskuif. Van der Ross is uitgekryt as ‘n verteenwoordiger van die regering. Die anargistiese studente het enige gesagsuitoefening uitgedaag. Om nie as regeringsgesant beskou te word nie, het Van der Ross – uit eie erkenning in sy outobiografie – geweier om met die staat se veiligheidsmagte saam te werk

Dit is glo polisieteenwoordigheid wat ‘n gevaarlike situasie op die kampus geskep het; nie die opruiende gedrag van die studente nie. Insgelyks vind Durand dit “absoluut gek” dat wit mans in die nag tydens onrus vrywillig blanke woonbuurte gepatroleer het (150). Durand het “geweier om enigiets daarmee te doen te hê … hulle optrede is belaglik … hulle optrede was onnodig konfronterend” (151). Verset teen boosheid word blykbaar as uit die bose beskou. Dit is sodanige houding wat tot die roemlose ondergang van die blanke politieke bewind gelei het. “Van die kant van die struggle-aktiviste is alles in die stryd gewerp om die land onregeerbaar te maak. Ongelukkig [!] vir hulle het die polisie en weermag die wit gebiede in groot mate teen grootskaalse ontwrigting beveilig” (166). As die veiligheidsmagte nagelaat het om Durand se gedrag te monitor, sou hulle myns insiens hulle plig skromelik versuim het.

Durand het die aanbod van die minister van polisie om orde op die kampus te handhaaf as “stiksienig” beskou en selfs met die dwase voorstel gekom (wat onlangs op ‘n ander kampus ook in die huidige studente-onrus opgeduik het) dat die UWK eerder vir vyf jaar summier gesluit moet word (162). Wat Durand betref moet die kampus sonder owerheidsbeskerming aan die genade van anargistiese studente oorgelaat word. Anders sou hy sy “eie beeld enorme skade aangedoen het” (163). Dus, eerder skade aan die universiteit (wat baie geld verg) as skade aan sy ego (wat kosteloos geskied). Oor die wenslikheid (eintlik noodsaaklikheid) van polisiehulp skryf Durand: “Die wit mense, insluitende baie van my vriende, sou miskien nog verstaan het, maar nie die bruin en swart wêreld met wie ek my in daardie stadium onherroeplik verbind het nie. Ek kon nie met eerlikheid sê dat ek nou vir hulle bevryding [dus nie akademiese vorming nie] binne die dominante wit gemeenskap gaan werk nie … Die mense wat vir my belangrik was, insluitende medestanders by die universiteit wat hulle lojaliteit teenoor my daadwerklik betoon het, sou so iets as verraad beskou het” (163).

Dit het vir Durand gegaan om wat vir hom met sy beperkte insig belangrik was; nie om wat in die akademiese belang van die UWK of moontlik ten bate van die land in sy geheel was nie. Let op hoe hoogs subjektief/irrasioneel sy benadering was: “Binne-in my was daar ‘n diep gevoel van onbehaaglikheid, selfs van woede, oor die onreg wat in ons land gepleeg word, en in die UWK het ek ‘n instansie gesien wat, ten spyte van al sy probleme, foute en onbeholpenhede, een van die bes moontlike agente van verandering kon wees” (163). Hier het ons dus ‘n viserektor wat die universiteit nie primêr as ‘n instrument vir die akademiese vorming van studente beskou het nie, maar as ‘n staatsgefinansierde voertuig vir politieke verandering. Hy het ook die slegte tradisie help skep, wat tydens die onlangse student-onrus telkens opgeduik het, dat daar nie bevele aan studente gegee word nie. Die nuwe wonderkuur was om eerder “met die studente te onderhandel” (171). Dit was ook “onderhandelings” wat die doodsklok vir blanke politieke mag gelui het.

In 1980 is van Durand se “groot vriende” en “politieke geesgenote,” naamlik Jakes Gerwel en ses ander UWK-personeellede, gearresteer. Hoewel Durand toe nog nie visierektor was nie, het hy hom aangematig om alle “gewillige” personeellede op te roep tot ‘n vergadering gedurende die etensuur. Hy het ‘n brief opgestel gerig aan die staatshoof, PW Botha, waarin versoek word dat die aangehoudenes aangekla of vrygelaat word (255). 218 personeellede, waaronder net 10 dosente (eintlik professore?), het die brief saam met Durand onderteken (157). Die UWK was fluks op pad na sy “doelgerigte beleid om ‘n universiteit te wees wat sy lot ingooi by die onderdruktes van ons land” (135). Die UWK se blanke prokureur is bv met ‘n bruin prokureursfirma vervang (135). Kinders uit die hoërskole is openlik by die UWK-studente se massavergaderings betrek (159). Dit het uiteraard gehelp om onrus in veral bruin skole te stig. Durand het klaarblyklik geen beswaar hierteen gehad nie omdat dit die soort politieke verandering wat hy wou hê, aangehelp het.

Hierna het dit van kwaad tot erger gegaan. In 1985 het UWK-studente petrolbomme in die Moslem-gebedskamer op die kampus gemaak (174). Die idee was om die polisie in ‘n hinderlaag te lei en hulle dan met petrolbomme te bestook (175). “Die een oplossing was natuurlik: Skakel die polisie en lig hulle in oor die hinderlaag wat op hulle wag” (176). Dit sou egter “beteken dat die studente vir goed die vertroue wat hulle nog in ons as bestuur gehad het, sou verloor” (176). Die probleem is met behulp van studenteraadslede ontlont (179). Tugstappe is nooit eens teen die misdadige studente oorweeg nie. Hulle het hulle immers vir politieke verandering beywer; iets wat viserektor Durand (onvoorwaardelik) gesteun het.

In 1986 is ‘n aantal UWK-studente by die polisiestasie in Bellville aangehou. Iemand kom toe “met die briljante idee vorendag dat ons [die universiteitsbestuur en -personeel] saam met die studente [na die polisiestasie] moet stap” (183) met rektor Van der Ross en natuurlik viserektor Durand vooraan. “Van almal – studente én personeel – [is] verwag [!]… om aan die optog deel te neem” (183). Dít is sekerlik strydig met (akademiese) vryheid. Van der Ross het “‘n gedenkwaardige dag” afgesluit met die woorde: “Today, UWC has come of age!” (182). Van der Ross “was meesterlik in sy lofbetuiging van ‘n universiteit wat in sy geheel – akademiese personeel, administratiewe beamptes en studente – solidêr teenoor die regering en sy onderdrukkende maatreëls te staan gekom het. Dit was die UWK se ‘coming of age'” (185). Durand noem die gebeurtenis “‘n hoogtepunt in die geskiedenis van die UWK” (182). “Teen hierdie tyd het die universiteitsbestuur al by soveel geleenthede getoon dat hulle … ten minste die studente se politieke aspirasies deel” (183). Hoe bedenklik is dit nie as so iets as ‘n hoogtepunt gereken word in die geskiedenis van ‘n instansie wat veronderstel is om ‘n akademiese inrigting te wees. Ingevolge die politieke klimaat wat daar geheers het, het die UWK aan die einde van Durand se dienstermyn in 1996 ‘n eredoktorsgraad aan hom toegeken (187). Durand is myns insiens egter iemand wat by voorkeur eerder linkse politiek as die akademie gedien het.

Na die aftrede van Van der Ross het die marxis en ANC-aktivis, Jakes Gerwel, in 1987 die UWK-rektor geword met Durand steeds ‘n viserektor. “Jakes het die daaglikse administrasie van die universiteit, insluitende die bouprogram, aan my oorgelaat” (191). Gerwel het hom in selfs groter mate as Durand met nie-akademiese bedrywighede besiggehou. Reeds in 1986 het hierdie twee mense ANC-leiers in Lusaka ontmoet. Wie het hulle reis- en verblyfskoste betaal? Die ‘apartheidsregime'”? Hulle vernaamste “kontak” was Thabo Mbeki. “Ons het nagte om met hom gesels en na video’s gekyk wat in Suid-Afrika verbode was” (191). Durand en Gerwel was uiteraard ook Dakar-gangers. “Vir ‘n tyd lank was ons die swart skape van die wit samelewing, nie dat dit my juis gepla het nie” (201).

In die voorlaaste hoofstuk vertel Durand hoeveel moeite hy gedoen het om van die ANC die valse versekering te ontvang dat hierdie instansie die idee van ‘n Afrikaner-volkstaat simpatiek gesind is. Durand het onder andere met Constand Viljoen se tweelingbroer, Braam, gesprek gevoer. “Ek skaam my om dit vandag te erken, maar daardie dag was ek bang dat iemand my dalk sou herken terwyl ek met die ‘generaal’ gesels wat regse Afrikaners se held is” (216). Durand, wat volgens eie erkenning swartes lief het (kyk hier bo), wil nie eens saam met ‘n regse persoon gesien wees nie. Wat hom betref kan blankes maar verswelg en ondergeploeg word: “Christene, as hulle errnstig is oor hulle Christenwees op die politieke terrein, bereid moet wees om die pad van selfverloëning te stap en nie ten alle koste, en daarom [?] ten koste van ander, te probeer vasklem aan selfbehoud nie” (228). “Ons almal [?] weet God het ons van ‘n afgrond [bv ‘n burgeroorlog (207)] gered” (249). By Durand is daar klaarblyklik geen skuldgevoelens oor die soort regering waarmee Suid-Afrika tans opgesaal sit en die toestand waarin die land verval het nie en nog minder oor sy aandeel daarin. Hy is myns insiens ‘n onboetvaardige en onredbare kernkameraad.

Durand se uiters linkse politiek en die uitvloeisel daarvan, te wete bevrydingsteologie, is vir my verwerplik. Maar sy doelbewuste aantasting van die wese van die universiteit en die akademiese lewe is net so afkeuringswaardig. Durand gee ‘n sekerlik heeltemal onbedoelde groot kompliment aan die “apartheidsregime” wanneer hy skryf: “Die regering het sover moontlik die indruk probeer skep dat hulle aan die UWK ‘n sekere mate van onafhanklikheid gun en dat hulle nie sonder meer sou inmeng met die besluite van die Universiteitsraad oor die algemene rigting wat die universiteit moet inslaan nie” (121). Die NP-regering het die outonomie van universiteite sover moontlik eerbiedig. Dit is waarom mense soos Durand en Gerwel met so baie politiekery ten koste van die akademie weggekom het. Vergelyk dit met die huidige tragiese situasie waarin die ANC-regering weier om enige universitêre onafhanklikheid te erken en die rektore, sonder ‘n enkele vermeldingswaardige uitsondering, hulle daarin berus.

Sonder enige kritiek noem Durand dat Gerwel as rektor die UWK tot “the intellectual home of the left” verklaar het (191). Albei het die universiteit as ‘n verlengstuk van hulle linkse politiek beskou. Dit is waarom ANC-kamerade soos Kader Asmal, Dullah Omar en Trevor Manuel daar aangestel is. Akademiese pretensie is om linkse politieke redes laat vaar en die wese van die universiteit, naamlik dat daar ‘n vrye wisseling van idees moet wees, is verder aangetas. Hier het ons met ware vermetelheid te make. Van die “apartheidsregime” is verwag om vir hierdie anti-blanke politieke sirkus te betaal. Maar dan kom Durand met hierdie klagte: “Die regering het alles in sy vermoë gedoen om die UWK uit blote wraaksug finansieel te knyp” (181). Hy gee egter geen redes waarom die NP-regering gedreig het om die UWK se staatsubsidie in te kort of op te skort nie (181).

Omdat die UWK deur Durand en Gerwel as ‘n instrument vir politieke verandering misbruik is, is besluit om – in weerwil van die Suid-Afrikaanse kiesers se wense dat die UWK ‘n universiteit vir bruin studente moet wees – die universiteit in twee opsigte “oop” te verklaar. Enersyds is swartes aangemoedig om hulle vir studie aan te meld. Andersyds is die toelatingsvereistes verlaag deur nie matrikulasievrystelling te vereis nie. Oor die verlaging van akademiese standaarde sou Durand hom seker nie bekommer het nie. Politieke opportunisme het voorkeur gekry.

Mense soos Durand en Gerwel het die NP-regering doelbewus uitgetart maar terselfdertyd verwag/geëis dat hulle eie salarisse en die ernorme bedryfskoste van die UWK sonder beswaar deur die staat betaal moet word. Dit is wat ek blatante vermetelheid noem. Les bes swyg Durand oor die verengelsing van die UWK. In hierdie Afrikaanse boek word Afrikaans glad nie aan die orde gestel nie. Dit bly vir my onbegryplik waarom Hermann Giliomee in 2006 vir Durand en Gerwel by die Vlottenburg-beraad oor die status van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch betrek het. Dit was om van wolwe skaapwagters te maak.

In die voorwerk noem die uitgewer dat sy publikasies vir “gelowiges, gemeentelede en leiers van ons land” bedoel is (3). Hou dus in gedagte dat Durand se heilsboodskap aan ons gebring word danksy die welwillende samewerking van Bybelkor.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Suidpunt

    Dankie Leon. Dat Durand politiek bo God stel kan ‘n blinde met ‘n stok aanvoel.

    Ons biblioteek het sy een boek uitgegooi, die bladsye steeds skitternuut van Lux Verbi (2002) – niemand wou dit blykbaar lees nie: “Ontluisterde wêreld: Die Afrikaner en sy kerk in ‘n veranderende Suid-Afrika.” Ek het die boekie gekoop (die biblioteek gebruik altyd ons geld vir iets nuttig) en my resensie is by Goodreads te vinde: https://www.goodreads.com/book/show/31355561-ontluisterde-w-reld . Die boek het geen bibliografie nie en is deurspek met veralgemenings en oppervlakkige navorsing, soos ek in my resensie twee voorbeelde uitstippel.

    Die boek handel oor die sekularisering van Suid-Afrika, veral die Afrikanerkerke, en wat hieromtrent gedoen kan word. Sy bevinding: dit is alles veroorsaak deur afsondering (Apartheid) en nou word die Afrikaner skielik met die globale wêreld gekonfronteer. Ag, asseblief man. As jy vandag Francois Bloemhof se “Die duiwel se tuin” (1993) lees, lag jy hoe angsbevange en Goties die wêreld was vir die skielike “verval” in die voorstede. Want ons het keuses, ons kan ‘n saak rondgoogle, antwoorde kry, ons vrese en onsekerheid besweer. Voila. As jy Christen wil bly, dan wil jy bly. As jy nie wil nie, dan wil jy nie. Dit gaan nie die sekularisering stop nie. (Indirek het hy eintlik Apartheid bedank – sy pos kon dus ‘n ruk langer oopbly. Miskien is dit hoekom ek hom twee sterre gegee het).

    Sy oplossing 1: Die kerkbeleid moet verander word.

    My antwoord: Jy kan die kerkbestuur en beleid verander soveel jy wil, jy kan nie ‘n denkpolisie daarstel nie. As mense nie van die denkskool hou nie, neem die mense die wyk. Tradisievaste mense dink nie veel van hul leiers wat hul tradisies ongedaan maak nie. As die kerke begin leegloop, moet die predikante eerder wonder wat fout met hul preke is. (Of wat om hulle terug te bring.)

    Sy oplossing 2: Omgeegroepies.

    My antwoord: (Oh, please!) Dis nie onfeilbaar nie. Want ek, soos vele ander van my geslag wat postmaterialisties ingesteld is, kyk na alles uit ‘n nuttigheidsoogpunt en die nut wat jy na jou dood agterlaat aan ander om op te verbeter en verder te benut. Dit is immers die doel van die lewe? Ek erken hiermee dat ek sterk deur mensgesentreerdheid, nut, humanisme volgens Eramus e.a. beïnvloed is. Vergewe my. (Wat ek hierby bedoel het: omgeegroepies is gewoonlik emosioneel ingesteld (wêhêhêhê en ander grensgeluide – hy’t my fietsie gesteel, kry my jammer). Rasionele mense besef uit die staanspoor hulle het ‘n verantwoording teenoor ander en hul toekoms. Amper soos wanneer jy onkruid uittrek, sodat dit nie na jou buurman se erf versprei nie. Nou skep jy omgeegroepies, vir emosionele onderskraging, maar jy leer steeds nie mense om rasioneel en buite die “ek” te dink nie.)

    Sy oplossing 3: Sendingwerk moet onder die eie volk begin

    My antwoord: Wat kan jy my nog oor Jesus Christus leer wat ek, en die miljoene manuskripte in Latyn voor my, nie reeds weet of ek oor kan Google nie? Hoe weet ek dit wat jy my wil leer nie ‘n Hineininterpretierung is om jou eie ideologie te pas nie? Hoe kan ek jou glo, sterflike, jy wat nie eens in Jesus se tyd daar was of die kulture van daardie jare beleef het nie? Hoe moet ek jou interpretasie glo? Hoe KAN ek jou interpretasie glo? (Wanneer raak sake werklik retoriek?)

    Wat het ék voorgestel moet die kerke doen? Intellektuele stimulering.

    * Skep institute waar die kerke wel ‘n rol kan speel. Soos Christenskole – aangesien die staatskole moreel, intellektueel en geldelik bankrot is. Die staat kan enige oomblik godsdiens uit sy staatskole verban, maar sal dit nie waag met die Joodse of Moslemskole wat privaat is nie. Kyk na België met sy Katolieke instellings en universiteite as voorbeeld teenoor die sekulêre staatskole.

    * Maak die kerk werklik nuttig. Die pastore sal vir my veel meer nut hê as hulle vir my kan leer hoe om Oudgrieks en Hebreeus en Aramees hardop te leer lees. Binne die konteks (verskeie kerke het hul eie interpretasies; jy kan dit verder by die huis gaan Google). Vergeet van spanbousessies, Sondagbraaie en sulke twak. As leerling sal jy ‘n voorsprong bo baie universiteite hê, veral as dit GRATIS aangebied word. As 13-jarige Jode Hebreeus moet ken om tot die sinagoge opgeneem te word, waarom nie ook die Christen nie? Dan sal die kerk hopelik ook minder geld mors op kandelare en tempelversiering.

    Ek kan eerlik nie die nut sien van Durand in sy leeftyd gedoen het nie. Ek dink hy probeer nou net sy bestaan rasionaliseer. Ek dink meer van dié mense wat op eie bodem ‘n Koine Grieks-Engelse woordeboek aanmekaar oor 11 jaar lank getimmer het. My pastoor was so bly toe ek hom daardie woordeboek gee – dit kan vandag nog gebruik word.

  • henkst

    Ek is van mening dat opvoeding deur politici beheer word wat geestes/etiese/morele waardes uit die godsdiens van die betrokke volk wan-manipuleer. Politiek is net ‘n baie meer misterieuse geloofsuiting as die gode-diens met AL sy onverstaanbare rites en verhale oor die godhede! Die politiek wíl so verborge as moontlik bly vir die volk, terwyl die godsdiens effens beter verstaanbaar probeer wees deurdat die stories eintlik vir die begrip van klein kinders en jeugdiges geformuleer is

  • Karel Combrinck

    ‘n Voortreflike stuk oor ‘n walglike onderwerp. Jaap Durand verteenwoordig omtrent alles wat ek in die linkse mensdom verag, want links is hy wel: die afdruk in almal se kele van nagenoeg kommunistiese propaganda met godsdiens versuiker en verbloem, die klakkelose gedros agter alles wat modieus, modern en veral Amerikaans is, die kruiperige goedpraat van alles wat swart is en wat swartes doen, die vyandigheid teenoor sy eie mense en hulle kultuur, die skynheilige vroomheid en die implisiete huigelagtigheid is genoeg om ‘n mens na die slopsemmer te laat gryp vir ‘n behoorlike naarword.

  • Rooikop

    “Durand as viserektor en Dirkie Smit, sy opvolger as teologiedosent aan die UWK” – hoe laat ‘n kerk toe dat diesulkes hulle toekomstige herders met gif vervul word? Skiet jouself in die kop en maak jouself wys dit is vir jou eie beswil?
    Kerk en politiek HOORT nie bymekaar nie. Sorg vir mense se geestelike behoeftes en jou kerk sal vol wees. Dit sal ook weerspieël word in die samelewing want mense sal hulle geloof uitleef – hulle sal hulle skole, hulle werke, hulle lewens daarvolgens inrig en dit sal dan ook bepaal wie hulle as leiers oor hulleself aanstel.

  • flippie van dyk

    Hoekom moes julle waardevolle spasie aan die misbaksel se nalatenskap sfstaan. Die verondestelde christen was toe eintlik maar net ‘n humanistiese politikus. In die Bybel het net die farisieërs gepoog om Christus as ‘n politieke pion te gebruik. Hy is dus niks anders ‘n wit gepleisterde graf nie.

    Hy was in iedergeval nooit ‘n sendeling in hart en siel nie. Ek dink hy was nooit op Wellington by die Sending Instituut ‘n sendingstudent nie.

    • Ou Flippie, – en so begogel die “Gereformeerde” of te wel ook “Christen” kerke na Konstantyn die bevolkings en ons mense. Tog is die mag van die godsdiensgees in die mensdom en in die kerk nog baie groot, ten koste van Skrifwaarheid en sonder ‘n leefstyl met die Wet op ons harte gegrafeer wat gemeenskappe oortuigend en blywend kan aanraak. Nee, ek hoop maar dat nuwe gewaarwordings ons met ‘n (nuwe) Volkskerk sal kan toerus waar opregtes onder die boom, in voorkamers, in sale en by Volksfeeste versamel sonder die begogelende magte van die sinodes en die afvallige Baalpriesters wie paradeer as skaapwagters, – maar in volle wolfsklere.

      • Ou Transvaal

        HOOR HOOR!!!

  • sussie se vissie

    n Man stel nou nie eintlik jou onkunde bloot vir algar om te betrag nie.
    Maar…tot hede nog nooit van die dhoos gehoor nie !?
    Sien sy boekie dus as niks anders as om die kollig op sy hoof te plaas met n versoek/pleidooi om oningeligdes soos ek daaraan te herinner :
    ” Ek is Jaap Durand. Hier staan ek. n Links-liberale sot. Vergeet my tog nie asb ” !
    n Kort apologie vir stiksienige naïewiteit sou meer aan die orde vd dag wees.
    Sit my kop op n blok oor n jaar staan genoemde skrywe steeds stof en opgaar in enige biblioteek. Sy nasate darem die vertroosting om te kan sê : “Haai…weet jy wat ? My oupa het n boek geskryf”.
    Big fnoggen deal….seg ek.

  • Verkenner

    Met al hierdie baal priesters aan hoof van die kerklike instellings verstaan ons hoekom die Volk in die toestand is wat ons is! Nou gee hul nog opleiding ook aan die jong geslag…nee sies man! Mag Elia kom om die klomp te slag langs hul altare!

    • eduard

      Net nog ‘n bewys dat die “kerk” is ‘n politieke instelling en nie ‘n Goddelike instelling nie. Die woord “kerk” word nie in die Skrif gebruik nie. Daar word melding gemaak van “ekklesia” wat gemeente of samekoms beteken. Die Skrif se “waar daar twee of meer in My naam vergader, daar sal Ek teenwoordig wees”.

  • Hans Onrust

    zeg Jaap de circus(p)aap : “ek bid nie vir brune bone”, naar de Drentse streekroman ‘Bartje’

  • Rifrug

    “rergime” – ‘regime’

  • Vrystaat

    Hoekom sal ons die poephol se boek wil lees? Net nog ‘n verligte idioot wat agter gekom het sy pensioen geld is te min en nou skryf hy sulke snert met die hoop dat iemand die boek sal koop!

  • Ou Transvaal

    Ek is dankbaar vir Jaap Durand want hy was instrumenteel daarin dat ek as ouderling die verlorentheid van die NGK gesien het en daaruit pad kon gee ….om ‘n wereld te betree waar die Skrif en net die Skrif as riglyn gebruik word BUITE die Kerk!!!
    Wat is die ou Afrikaanse gesegte weer van lieg soos ‘n sendeling …my apologie aan werklike Skrif Sendelinge.
    Danksy Durand maak die Bybel vir my meer sin as ooit van tevore , want die dogma soos deur Durand verkondig is weg .
    Die woord Belhar se betekenis volgens Strongs se konkordansie is ; Bel=Baal en Har wat berg beteken …BAALBERG , dit se vir my alles tov die gees wat die belydenisskrif veroorsaak het en dat die wat dit op hul Volksgenote afgedruk het , daarvoor sal antwoord in die ewigheid !!
    Die vraag moet egter gevra word ; op wie se kop is die gevolglik bloedvergieting van ons mense asgevolg van hierdie advokate van verandering???
    Net soos ons mense nie meer die pers se uitlatings anvaar nie , net so glo ons ook nie meer die Kerk nie …ek daag daarom die ‘instellings ‘ uit om , voor hulle namens my en my Volk praat eers ‘n volledige sensus doen van aktiewe lidmate en dan onaktiewe lidmate af te skryf., dan sal werklike getalle na vore kom …..of is hulle bang vir die WAARHEID???
    ESEGIEL 34 is ‘n werking met die Herders in SA nou , vandag!!