Pretoria-opstand: Familie blameer ANC vir dood van hul seun

Die familie van ‘n 19-jarige swarte, Thabiso Daniel wat Dinsdagnag in Mamelodi doodgeskiet is, het die skuld vir die geweld voor die deur van die regering gelê, nadat die dodetal tot ses gestyg het.

Hulle sê indien die regte prosedures gevolg is met die aankondiging van die burgemeesterskandidaat, sou die geweld nie uitgebreek het nie.

Niemand is nog in verband met die skietery in hegtenis geneem nie.

Veiligheidswagte by die Mabopane Central City-winkelsentrum in die noorde van Pretoria sê twee liggame is agter die sentrum gevind.

Daar word vermoed dat die oorledenes in die kruisvuur beland het toe ‘n skare van die winkels begin plunder het.

Dit bring die dodetal tydens die geweld nou op ses te staan.

Geel merkers is deur misdaadtoneelondersoekbeamptes van die polisie aan die agterkant van die winkelsentrum naby aan Pick n Pay se stoorkameringang geplaas wat dui daarop dat ‘n noodlottige skietery by die winkelsentrum plaasgevind het.

‘n Beampte op die terrein het bevestig dat die Onafhanklike Polisie Direktoraat se ondersoekbeamptes ook die toneel ondersoek het.

Die direktoraat raak gewoonlik betrokke as die polisie by beweerde moorde of ongerymdhede teen burgerlikes betrek kan word.

Daar was berigte dat Central City gisteraand geplunder is en dat meer polisielede daar ontplooi is. Die polisie het vroeër ontken dat hulle skerppuntammunisie gebruik het teen oproeriges.

Die ANC in Gauteng het nietemin erken dat van sy lede betrokke is by die gewelddadige oproer in die swart gebiede van die Tshwane-metrogebied.

Meer as 40 mense verskyn more in die hof in verband met openbare geweld.

Die omstrede burgemeesterskandidaat, Thoko Didiza sal haar eerste mediaverskyning aanstons maak.

Die geweld word op die huidige burgemeester, Kgosiento Ramokgopa wat nie as kandidaat gekies is nie, blameer.

Sakeondernemings in Mamelodi wat aan buitelanders behoort, is steeds gesluit en volgens bronne het die meeste buitelanders die gebied verlaat omdat hulle vir hul lewens vrees.

Dinsdagnag het betogers winkels geplunder, geboue beskadig en busse aan die brand gesteek. Geen geweld is vandag aangemeld nie.

Volgens swart Twittergebruikers het plunderaars ingebreek om rekenaars uit skole te steel.

Die situasie in Giyani in Limpopo bly egter gespanne ná verskeie winkels geplunder en afgebrand is in ‘n vlaag van gewelddadige oproer.

Die onrus het begin nadat ‘n inwoner na bewering deur buitelandse winkeleienaars vermoor is.

Die oorledene en twee beweerde medepligtiges is aangerand toe hulle glo bedrog by ‘n onderneming gepleeg het.

Intussen is vyf mense in hegtenis geneem in verband met die moord en verskyn in die plaaslike landdroshof.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.