Leon Lemmer: Jannie Marais, die Stellenbosse weldoener

Deel op

As Suid-Afrika en die Universiteit Stellenbosch (US) voortgegaan het om wesenlik te wees wat dit was, sou vanjaar ‘n gloriejaar vir Johannes Henoch (Jannie) Marais (8.09.1850-30.05.1915) gewees het. ‘n Eeu na sy dood word Marais doelbewus misken deur die US, wat sy ontstaan in 1918 aan ‘n Marais-skenking van ₤100 000 te danke het, uit ‘n boedel wat ‘n kontantwaarde van ₤405 000 gehad het (bron hier onder, p 166). Dié miskenning kan direk in verband gebring word met die diensaanvaarding van Wim de Villiers as US-rektor op 1 April vanjaar.

Ter huldiging van Marais het die historikus Pieter Kapp ‘n goed nagevorste teks geskryf wat as ‘n pragboek gepubliseer is: Nalatenskap sonder einde: Die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers ([Stellenbosch]: Het Jan Marais Nationale Fonds, 2015, 216p, R290). Binne ‘n jaar na sy aankoms in die Kaap in 1688 is die Marais se Hugenote-stamvader, Charles, dood omdat ‘n Khoi-Khoi hom met ‘n klip gegooi het (16). (Dalk verklaar hierdie historiese feit waarom Jannie Marais, anders as Wim de Villiers, nie eksklusiewe studiebeurse vir klipgooiers, soos dié van Andringastraat/Die Vlakte, ingestel het nie.) Naas Jannie, die jongste van nege kinders uit ‘n latere geslag, word daar in die boek aandag aan die volgende broers van hom gegee: Charles Pieter (1834-1905), Frederik Ryk Rudolph (Frikkie) (1836-1917), Petrus Johannes (Pieter) (1839-1912), Abraham Johannes Benjamin (1846-1899) en veral Christian Ludolph (1849-1934). Die vier jonger broers, Pieter, Abraham, Christian en Jannie, het hulle in 1870 na die diamantvelde aan die Vaalrivier en by Kimberley en Delportshoop begewe en finansieel baie suksesvol gewees; dermate dat hulle mettertyd talle plase besit het.

By die delwerye het Jannie as John bekend gestaan (37). Hy het in 1891 na Stellenbosch teruggekeer (64) en ‘n suksesvolle sakeman en politikus geword. Naas Jannie was van sy ander broers ook ryk en finantropies. Een van Jannie se ideale was “om den roem van Stellenbosch als schitterend middelpunt der Zuid-Afrikaansche opvoeding te handhaven” (98). In die politiek het hy aansluiting by Jan Hendrik (Onze Jan) Hofmeyr, die Afrikanerbond en JBM Hertzog gevind en weerstand teen Cecil John Rhodes gebied. Die koerant Die Burger dank sy ontstaan en sy oorlewing in die moeilike aanvangsjare aan die finansiële ondersteuning van Jannie Marais. Hy het gesê: “So lank as Jan Marais leef, sal De Burger nie sterf nie” (115). Die bedoeling met die koerant was om “in de eerste plaats naar de belangen en rechten van ons eigen land en volk” om te sien (114). Toe die eerste uitgawe van die koerant op 26 Julie 1915 verskyn, was Marais reeds oorlede. In De Kerkbode is hy gehuldig: “Als Afrikaander van den ouden, echten stempel – een waardige burger, een ware patriot, een liefhebbende echtgenoot, een getrouwe en oprechte vriend – was hij een navolgenswaardig voorbeeld voor zijn volk en hun nageslacht” (120).

Vir studie aan die Victoria Kollege, die voorloper van die US, het Frikkie, Christian en Jannie studiebeurse beskikbaar gestel, wat “te eniger tyd teruggetrek kon word as die gedrag, hardwerkendheid en vordering van die student nie na wense was nie” (131). Vergelyk dit met die gedrag van sommige hedendaagse US-beurshouers, wat skotvry daarvan afkom as hulle chaos op die kampus saai en selfs wanneer ernstige skade aan eiendom aangerig word. Aangrypend is die geskiedenis van Jannie Marais se US-nalatenskap. By minstens twee geleenthede is hy genader om die universiteit finansieel moontlik te maak, maar hy het dit toe nie gerade geag nie (140). Later het hy die versekering gegee dat hy binne 10 jaar ₤100 000 sou skenk. Sy testament is opgestel maar hy het dit nie onderteken nie. Die dag voor hy en sy vrou na Montagu sou vertrek sodat hy behandeling vir sy artritis kon ontvang, het twee vriende hom op 20 Maart 1915 oorreed om sy testament te teken (141). Hy is skaars twee maande later op Montagu oorlede.

Die US se “natuurlijke bestemmingh” is beskryf as dié van “een Hollands-Afrikaansche universiteit” (142). Die enigste rede waarom Engels as ‘n moontlike mede-onderrigtaal genoem is, is omdat die politieke klimaat op daardie stadium sodanig was dat ‘n eentalige Hollands-Afrikaanse universiteit waarskynlik nie deur die regering goedkeur sou word nie (167). “Op sy eerste vergadering het die senaat van die pas gestigte Universiteit ‘n toekomsvisie gestel wat Jannie Marais tevrede sou laat glimlag het. Hulle het hul daartoe verbind dat die Universiteit hom ‘in de ondersteuning van het Afrikaanse volk moge blijven verheugen'” (142). Hier is daar duidelike tekens van niks anders nie as “‘n Afrikaanse nasionale bewussyn” (143); spesifiek Afrikanernasionalisme. Dit is in ooreenstemming met Jannie en die ander Marais-broers se politiek. By Jannie Marais se graf is soos volg hulde aan die oorledene gebring: “Stellenbosch zou haar rechterhand moeten vergeten als het vergeten zou wat Jan Marais voor haar was” (143). Honderd jaar later matig Wim de Villiers hom aan om sowel daardie regterhand as die Afrikaner Jannie Marais gewetenloos te misken. ‘n Mens moet ‘n dik, polities-korrekte, ANC-gedienstige vel hê om so iets te kan doen.

Op 10 Oktober 1950, Krugerdag, is Coert Steynberg se standbeeld van Marais onthul (145), presies 25 jaar voor die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Die standbeeld staan op Marais-plein (dikwels Rooiplein genoem) in die sentrum van die US-kampus. Dit is waar Marais vanjaar gehuldig moes gewees het. Dit is nie gedoen nie onder meer omdat Wim de Villiers pleks van wet en orde te handhaaf, toegelaat het dat boewe die wel en wee van die US bepaal. Open Stellenbosch misbruik die Rooiplein dikwels vir demonstrasies, sonder om vooraf die nodige verlof te vra. Op 17 deser het brandstigting, vandalisme en algehele chaos hoogty op die kampus gevier. ‘n Buiteband is aan die voetstuk van die Marais-standbeeld aan die brand gesteek. Pragtige, wit damesstudente het agterna, te midde van die uiterste uittarting van swartes, met emmers en besems die gemors probeer opruim. Die Burger het ‘n foto van die brandende buiteband gepubliseer maar nie van die vroue wat spreekwoordelik kaalvoet oor ‘n hedendaagse Drakensberg geloop het nie; klaarblyklik omdat die koerant nie simpatie vir Afrikaans wil wek nie. Foto’s van dié damesstudente, toonbeelde van beskaafdheid, is op die internet gepubliseer. Wim de Villiers het geen goeie woord vir die damesstudente gehad nie en ook geen slegte woord vir die boewe se onbeskaafde gedrag nie. Daar is geen sprake van die vervolging of skorsing van die vandale nie. Nog minder dat die boewe verskoning moet vra en die skade moet vergoed. In ‘n neutedop illustreer dit die situasie waarin die US hom bevind.

Die duidelike bewoording in Jannie Marais se testament lui soos volg: “Een honderd duisend ponden Sterling … aan een kommissie van negen trustees … ten behoeve van de inrichting in verband met het hoger onderwijs te Stellenbosch bestaande, en tans bekend als het Victoria College, of enige Universiteit die later te Stellenbosch moge worden gevestigd … doch meer biezonder van het onderwijs in en door middel van de hollandse taal in zijn beide vormen (dat will zeggen Afrikaans zowel als Nederlands) en wel te dien einde dat in sodanig onderwijs de hollandse taal in zijn beide vormen als voormeld geen mindere plaats dan de andere officiele landstaal zal innemen” (9; ook 167).

Victoria Kollege is die Engelse Stellenbosse onderwysinrigting waaruit die US ontwikkel het. Na die Anglo-Boere-oorlog (1899-1902) en Uniewording (1910) was daar ‘n sterk opbloei van Afrikanernasionalisme, soos vergestalt in die Rebellie (1914) en aangehelp deur bv die Afrikanerbond. Hoofsaaklik Afrikaanssprekendes het aan die Victoria Kollege studeer. Hierdie kollege het in 1874 ontstaan en is in 1887 na koningin Victoria vernoem. Daar was toenemende maar vreedsame aandrang op Hollands/Afrikaans as voertaal. In 1912 is daar van owerheidsweë beswaar aangeteken omdat die kollege se registrateur ‘n brief in Hollands aan die onderwysminister gestuur het. “Waarop die registrateur geantwoord het: Waarom moet hy alles dubbel doen ter wille van Engels as die raad van die Universiteit van die Kaap Goeie Hoop waarvan hy as registrateur lid was alles net in Engels kan uitstuur” (100-101).

Reeds in 1912 was daar dus al dubbele standaarde enersyds vir Afrikaans en Engels en andersyds vir die Victoria Kollege en die Engelse Universiteit Kaapstad. Deesdae hou Wim de Villiers sy toesprake by voorkeur in Engels en het hy sy voorstel vir die verengelsing van die US op 12 deser uitsluitlik in Engels aan die US-senaatslede gestuur. Die verklaring waarin 226 mense De Villiers se verengelsingsinisiatief steun, is ook uitsluitlik in Engels. Sedert die US in Maart 1918 begin funksioneer het, het dit tot die einde van die 20ste eeu progressief verafrikaans (170). Fanie Cloete, wat die allerbedenklikste rekord van teenstand teen Afrikaans en Afrikaners aan die US het, beweer egter dat die US nooit Afrikaans was nie (Netwerk24, 17 deser).

Daardie bemaking van honderdduisend pond word deur die nege trustees van Het Jan Marais Fonds (HJMF) geadministreer. Die geld kon na goeddunke maar verkieslik in huislenings vir huiskopers belê word. Die rente op die belegging is aangewend om by uitstek die US te bevoordeel (167). Op 1 Julie 2013 was die waarde van die HJMF R13 miljoen (171). In sy geheel beskou sou dit “nie onbillik wees nie om te beweer dat die fonds … tussen sewe en 10% van die staat se subsidie tot die Universiteit se inkomste bygedra het” (174).

Die restant van Jannie Marais se boedel, ₤40 000, is ook in ‘n trust, Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF), omskep. Hierdie fonds het ses trustees en die beleggingvoorskrif is soos dié vir die HJMF, maar die aanwending van die opbrengs verskil. Die rente-opbrengs moet aangewend word “voor en ter bevordering van de nationale belangen op welk gebied ook al van de Hollands-sprekende bevolking van Zuid-Afrika in enig deel van de Unie doch bij voorkeur op het dorp en in het district Stellenbosch” (171). Die HJMNF se opdrag strek dus veel wyer as die HJMF se toespitsing op die US. Op 1 Julie was die waarde van die HJMNF R1 145 184 267 (171). Metteryd is daar in bv effekte, aandele en effektetrusts belê (180-181), met skouspelagtige resultate. Interessant is die feit dat AB de Villiers, Wim se pa, as egte Afrikaner van 1977 tot sy dood in 1992 een van die trustees was (184, 186). Hy sou geen behae hê in die bv anti-Afrikaansgedrag waaraan sy verwende jongste kind hom vanjaar as US-rektor skuldig gemaak het nie.

Aanvanklik was daar sterk voorvleueling by die HJMF se nege en die HJMNF se ses trustees. Mettertyd het die HJMF “sy onafhanklikheid van die US afgestaan en is sy rekening … na die US se interne rekening oorgeplaas. Die aandeleportefeulje is ook na die US se beleggingsportefeulje oorgedra” (175). Die HJMNF is ook van tyd tot tyd deur die US om hulp genader. “Wat die Universiteit met dié hulp gedoen het om die ander doelstellings van die testament te verwesenlik, is nie bekend nie” (177). Sedert Chris Brink die US-rektor was (2002-2007) en veral sedert die dienstermyn van Russel Botman (2007-2014) is daar tereg groeiende kommer oor die status van Afrikaans aan die US. Hierop het Wim de Villiers op 12 deser die seël gesit met sy voorstel vir die blatante verengelsing van die US.

Die HJMNF het van die US-verwikkelinge kennis geneem. Reeds in 2002 het die trustees dit oorweeg om steun aan die US in te kort (188). Die voertaal van die US is deur Brink ondergeskik aan die diversiteitsbeleid gemaak (188), wat sedertdien meesal “transformasie” genoem word. “In sy voorsitterverslag van 2004 het prof Andreas van Wyk verklaar dat die druk op Afrikaans aan die Universiteit dit nodig maak om die klem te verskuif van ondersteuning van verskeie projekte aan die Universiteit na projekte wat Afrikaans bevorder. Die trustees het op sy aanbeveling ‘n beginselbesluit geneem dat die fonds voortaan sal konsentreer op die bevordering van Afrikaanse belange in die land as geheel” (188). Hiermee word die HJMNF in selfs groter mate as voorheen ‘n fonds wat werklik nasionaal of landswyd finansiële ondersteuning bied.

“Toekennings aan die US sou in die toekoms net oorweeg word indien dit aksies vir die direkte bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur of van die materiële en geestelike welsyn van die Stellenbosch-gemeenskap ten doel het en ten beste deur die Universiteit uitgevoer kon word. Dié standpunt is in 2009 herbevestig, met die klem daarop dat geen organisasie of projek wat Afrikaans uitsluit, ondersteun sal word nie” (189). Hierdie besluit dateer uit die Botman-era. In 2010 het Botman sy kommunisties-geïnspireerde Hoop-veldtog van stapel gestuur. Hy het dit as deel van die US se herposisionering beskou waarin die universiteit van sy “language roots” wegbeweeg. Die bevordering van Afrikaans en Afrikanerkultuur is doelbewus van die Hoop-projek uitgesluit. “Die [HJMNF-]trustees het hulle … [in 2012] duidelik uitgespreek teen enige pogings van die Universiteit om die fonds se bydraes as deel van sy HOOP Projek-fondsinsameling te hanteer” (189).

Op 30 Mei vanjaar was daar ‘n kranslegging op Jannie Marais se graf in die Onderpapegaaiberg-begraafplaas. Dieselfde aand is ‘n onthaal vir genooide gaste in Marais se eertydse huis in Coetzenberg aangebied. Die verrigtinge is deur die HJMNF gereël. Die uittredende voorsitter, Andreas van Wyk, het die aanwesiges toegespreek. Die teks is op LitNet (1 Julie) gepubliseer. In die toespraak is geen melding van Marais se stigtingsvoorwaarde vir die US gemaak nie. Volgens Van Wyk is dit ‘n saak vir die HJMF, waarvan hy nie eens weet wie die voorsitter is nie. Die situasie van Afrikaans aan die US is so benard dat dit myns insiens noodsaaklik is dat enigeen wat die belange van Marais se nalatenskap op die hart dra, die US-stigtingsvoorwaarde herhaaldelik moet opper. Ook moet die De Villiers-US se doelbewuste versuim om Marais vanjaar te huldig, verdoem word. Sekerlik ook De Villiers se moedswilligheid om juis vanjaar sy hoop uit te spreek dat die US eerder primêr ‘n Engelse universiteit moet wees.

Dit is duidelik dat die HJMNF-trustees bewus is van die radikale wesensverandering wat die US veral sedert 2002 ondergaan; bv van ‘n Afrikaanse na ‘n Engelse universiteit. “Met die koue winde wat die afgelope twee dekades vir Afrikaanse organisasie[s] en die Afrikaanse taal waai, is die bydraes van Jannie Marais se nalatenskap ‘n fondament waarop die toekoms gebou kan word” (195). Maar dan is daar minstens drie stappe wat dringend gedoen moet word.

Eerstens is in 2012 voor die mode geswig en het die HJMNF multikultureel geword met die benoeming van Michael le Cordeur as een van die trustees (184). Ek het reeds by talle geleenthede op Praag kritiek teen Le Cordeur uitgespreek, bv sy linkse politiek en sy eienaardige gesindheid jeens Afrikaans. Wim de Villiers se begeerte om die US te verengels het die geleentheid gebied om te sien waar Le Cordeur werklik mbt Afrikaans staan. Op LitNet (13 deser) het Le Cordeur onomwonde verklaar dat die voorgestelde verengelsing van die US by hom “geen hartseer” wek nie. Daar kan geen twyfel wees dat so ‘n houding lynreg teen Jannie Marais se wense ingaan nie. Polities korrek is daar die neiging om in so ‘n geval dubbele standaarde toe te pas; dus ‘n nie-witte te laat wegkom waarmee geen witte sal wegkom nie. Desnieteenstaande is daar by my geen twyfel nie dat Le Cordeur onverwyld die trekpas as HJMNF-trustee moet kry. As daar nie van hom ontslae geraak word nie, bestaan die gevaar dat mettertyd al hoe meer Afrikaansdislojales hulle in die geledere van die trustees bevind, bv tot op die punt waar die trustees die demografie weerspieël. Dan, of lank voor dit, kan dit gebeur dat ‘n Afrikaansdislojale die HJMNF-voorsitter word. Dan is dit nag en sal daar glad nie gevolg aan Jannie Marais se wense gegee word nie. Smoor dus liewer hierdie ongerymdheid in die kiem. Die 226 mense wat De Villiers se verengelsingsvoorstel gesteun het, het hulle almal gediskwalifiseer om trustees van die HJMNF te word.

Tweedens is daar ‘n groter en moeiliker taak wat op veral die nuwe HJMNF-voorsitter, Niel Krige, wag. Die HJMF het onder die hiel van die US beland en daar versand. Waarvoor Jannie Marais se geld deur die US aangewend word, is glad nie duidelik nie. Wat seker is, is dat die US nie meer met die heil van Afrikaans vertrou kan word nie; selfs al sou die US-raad op 30 deser die De Villiers-voorstelle afkeur. Die US se versaking van Afrikaans is reeds sedert 2002 duidelik. Aangesien net die HJMNF steeds poog om Jannie Marais se wense te vervul, rus daar die ere maar dure verantwoordelikheid op hom om die nodige maatreëls te tref sodat die HJMF uit die kloue van die US bevry word en dit weer streng volgens die testamentêre bepalings bedryf word; desnoods deur die HJMF by die HJMNF in te lyf, want die Marais-geld behoort toenemend eerder aan enigiets anders as die US bestee te word.

Derdens is die twee HJM-fondse nie die enigste pro-Afrikaansdonateurs van die US nie. Wim de Villiers haal dieselfde laai as Russel Botman uit deur te weier om ‘n afvaardiging van die US-konvokasie met sy 129 500 lede, oud-Maties wat ‘n belangrike bron van donateurs is, te woord te staan. Die ANC-regering misbruik die beheer wat hy oor staatsgeld het om universiteite met die weerhouding van owerheidsubsidies af te dreig en na sy bose wil te buig. Die oplossing vir die US-konvokasie, met Christo Viljoen as die sterk pro-Afrikaansvoorsitter, is dat hy ‘n besluit aanvaar waarvolgens die US-rektor verplig word om hom op versoek binne ‘n redelike tyd (sê ‘n maand) te woord te staan anders sal die donateurs deur die US-konvokasie versoek word om finansiële steun aan die US op te skort of selfs te beëindig. Die US-konvokasie kan nie toelaat dat De Villiers groot meneer speel en hom so openlik minag nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.