Leon Lemmer: Alex Boraine oor die nuwe Suid-Afrika: Van utopie tot distopie

Deel op

“Wat ons nodig het, is om al ons kragte te gebruik om van hierdie verdomde regering ontslae te raak” (Die Burger, 30 Junie, p 2). Aan die woord is Alex Boraine (gebore in 1931, met ‘n Afrikaner-pa) wat eens by die ANC vlerk gesleep het. Hy het algemeen bekend geword toe hy Desmond Tutu se adjunk by die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) was. Aanvanklik wou Thabo Mbeki Willie Esterhuyse in hierdie rol gehad het, maar die ANC-kamerade het besluit dat Boraine net so of selfs meer bruikbaar sou wees. Boraine het hulle nie teleurgestel nie. Tutu en Boraine het as geestelikes aan “die wêreld” getoon dat hulle hulle politieke oorverligtheid uitleef; dat wittes eerder sleg as goed en swartes eerder goed as sleg is. Dié tweetal het hierdie werk opsigtelik so geniet dat ‘n mens kon dink dat hulle dit gratis gedoen het. Dit is egter nie hoe Tutu dinge doen nie. Hy hou van luukshede en het lank ruim bo sy inkomste gelewe, soos John Allen in sy Tutu-biografie aantoon. WVK-vergoeding het Tutu permanent kredietwaardig-welvarend gemaak. Dit was des te meer die geval toe Tutu selfs voordat die WVK-verslag naasteby klaar was na Amerika verkas het om daar lesings oor geregtigheid in die WVK-idioom aan te bied.

Tot sy eer kan genoem word dat Boraine vir Tutu as WVK-voorsitter uit sy aartsbiskoplike purper kleed wou skud, maar Tutu was vasbeslote om die indruk te wek dat hy bonatuurlike ondersteuning geniet. Andersins was Boraine Tutu se onvoorwaardelik ondersteunende adjunk. Soos Tutu het Boraine danksy die WVK welvarend geword. [In sy WVK-era het Boraine tot sy beskikking gehad “two young policemen appointed as bodyguards and drivers” (bron hier onder, p 94). Tutu het geen WVK-onkoste ontsien nie. Volgens Allen het hy meer as 300 mense in diens geneem.] Soos Tutu het Boraine na Amerika gegaan om jare lank letterlik op sy WVK-geskiedenis te kapitaliseer. Hy het ‘n boek oor die WVK geskryf, A Country Unmasked: Inside South Africa’s Truth and Reconciliation Commission (2000) en ‘n outobiografie, A Life in Transition (2008). Na 1990 was Boraine aanvanklik een van die voorste naïewes wat geglo het dat die nuwe Suid-Afrika onder Nelson Mandela as staatshoof en die ANC as die regerende party ‘n utopie sou wees. Nadat die goue meetsnoere vir hom finansieel in lieflike plekke geval het, kon Boraine, soos sommige ander oorverligtes, dit bekostig om ontnugter te raak en selfs daarmee vorendag te kom. In sy jongste boek gee hy in ‘n mate uitdrukking aan sy voorheen sluimerende onverligtheid: What’s Gone Wrong? On the brink of a failed state (Johannesburg: Jonathan Ball, 2014, 167p, R200; ook e-boek, bv Amazon Kindle $25.07).

Dit is vir Boraine onmoontlik om hom van die tentakels van sy oorverligte politieke verlede los te maak. (Hy het wel sy eertydse godsdienstigheid versaak.) ‘n Vorige redakteur van Die Burger, Piet Cillié, het hom “die rooi prins van Pinelands” genoem. Op die buitekant van sy jongste boek is daar lof van Tutu, asook van die skynbaar alomteenwoordige Max du Preez, terwyl die boek aan die nagedagtenis van sy Idasa-genoot en mede-Dakar-ganger, Frederik van Zyl Slabbert, opgedra is. Moenie verwag dat iemand soos Boraine, wat aan ‘n oorgekussingde lewe gewoond geraak het, hierdie boek, waarvoor hy ‘n aantal onderhoude gevoer het, op eie stoom en koste in sy studeerkamer sou skryf nie. Hy het fondse van Rausing Trust en kantoorruimte in Constantia Place gekry, “which helped to facilitate the writing of this book” (p 159). Rausing Trust is ‘n Londense menseregte-organisasie vir wie dit ook gaan om “LGBTI [Lesbian, Gay, Bisexual, Transgender, Intersexed] rights”.

In sy voorwoord verwys Tutu na die kern van Boraine se boek: “For the ANC members [insluitende dié in die parlement] their ultimate loyalty is not to the country or the state. No, their loyalty is to the party” (p xiii). Dit gaan vir die ANC om meerderheidsregering (eintlik swart mag) en nie om demokrasie waarin die heil van alle inwoners vooropgestel word nie (p 57). Dít ten spyte van die feit dat al die ANC-parlementslede “took an oath to uphold the Constitution at all times as the ultimate authority in the land. It is thus not surprising when what are declared to be state occasions are turned into ANC rallies” (p xiii). Toe daar van Mbeki as president ontslae geraak is, is dit nie ingevolge die grondwet gedoen soos dit hoort nie, maar ooreenkomstig die wense van die ANC (p 5, 50). Die parlement het ‘n “virtuel lame duck” geword omdat (al die belangrike) besluite in Luthuli House, die ANC-hoofkantoor, geneem word en nie in die kabinet of die parlement nie (p 7).

Die Grondwethof en ‘n vrye pers het met dieselfde ANC-minagting te kampe (p 41). Gwede Mantashe, die kommunistiese sekretaris-generaal van die ANC, het gesê: “The print media is the official opposition, not the DA” (p 98). Maar daar word later tereg verwys na “a mediocrity about much journalism in the country and very little depth in reporting” (p 133). Die ANC se minagting van kritiek en opposisie volg uit sy kommunistiese kern: “The accusation of ‘Stalinist’ is still frequently applied to key figures, and can be seen in intolerance of opposition, an inclination to suppress dissident views, and concentration of power in one person” (p 42). Daar is hierdie voorspelling: “Should they [die ANC] lose their majority they will refuse to accept the will of the people” (p 58).

Soos bv Helen Zille dink Boraine Mandela was ongekwalifiseerd wonderlik. “We had in Nelson Mandela a leader of world-class proportions” (p 2). Mandela het glo “an outstanding period as president” gehad (p 4). Boraine erken nie dat dinge na 1994 aanvanklik (en noodwendig) bloot beter gelyk het nie. Alles wat oor meer as drie eeue tydens blanke bewind opgebou is, kon selfs deur so ‘n destruktiewe mag soos die ANC nie oornag vernietig word nie. Anders as by Mandela was daar by Mbeki ‘n “lack of wisdom and judgement” (p 5). Daarna het dit van kwaad tot erger gegaan. “Ever since [Jacob] Zuma’s election to the highest office in the land things have gone badly wrong. Wherever we look – education, health, safety and security, unemployment, lack of housing and basic facilities, police brutality, inefficiency, mismanagement, jobs for pals, the right of entitlement of the ruling party, corruption in the public service and at every level of government – we see signs of a failing state. The greed and maladministration displayed by government officials can only be described as obscene” (p 6). “Zuma must go” (p 107).

“The ANC government has all the signs of a liberation movement which has not been able to transform its old habits into good governance” (p 127). Die ANC faal as regering omdat hy in sy 30 jaar in ballingskap lojaliteit jeens die party tot norm en “seizure of power” tot ideaal verhef het (p 8). In Hoofstuk 1 en 2 gee die outeur ‘n historiese oorsig waarin hy die rol van Albert Luthuli, Oliver Tambo, Mandela, Walter Sisulu, Joe Slovo en Steve Biko gunstig voorstel. Soos die gebruik geword het, word beweer dat die Shapeville-slagting (1960) teen vreedsame betogers gepleeg is (p 10) en dat die Soweto-opstand (1976) deur Afrikaans en minderwaardige onderwys veroorsaak is (p 19). Daar is kwalik enigiets nuuts in hierdie hoofstukke. Enkele kritiese stellings kan verwelkom word, bv “There was a great deal of brutality within the ANC during the period of exile” (p 30-31).

Wat wel nuut is, is die brief wat Mbeki in Januarie 1986 aan Van Zyl Slabbert gestuur het, nadat Slabbert hom vooraf ingelig het oor sy planne om uit die parlement te bedank. Die ANC het dus voor die blanke politieke partye hiervan geweet. Mbeki stel ‘n standpunt wat later deur die toegeeflike FW de Klerk aanvaar is: “To insist that some should amend their views before negotiations can take place is to ask not for negotiations but for surrender “(p 36). Die ANC is gevolglik met hulle volle kommunistiese bagasie en hulle verbintenis tot gewelddadigheid tot die grondwetlike onderhandelings toegelaat. Die uiteinde was nie oorgawe deur die ANC nie, maar De Klerk wat mandaatloos die blankes tot roemlose algehele magsoorgawe gelei het. Boraine haal dele van die Organisasie vir Afrika-Eenheid (OAE, sedert 2002 die Afrika-Unie) se Harare-verklaring (21 Augustus 1989) aan, wat enkele dae nadat De Klerk staatshoof geword het (15 Augustus 1989) uitgereik is. Daarin word eise aan die Suid-Afrikaanse regering gestel. In elke opsig het die OAE sy sin gekry, hoewel daar deesdae min sprake van “equal citizenship” vir blankes (p 38) en “an independent and non-racial judiciary” (p 39) is.

In Mbeki se brief noem hy Slabbert “an afrikaner [met ‘n kleinletter] who will be an African [met ‘n hoofletter] and therefore happy to live as an equal and at peace with other Africans regardless of race and colour” (p 36). Boraine het sedertdien agtergekom dat hy nie gelukkig in die nuwe Suid-Afrika is nie en seker ook dat blankes tweederangse burgers is, dat daar nie vrede heers nie en dat ras en kleur steeds ‘n deurslaggewende rol speel.

Wat ek interessant vind, is dat Mbeki se Afrikaner/Afrikaan-terminologie deur iemand soos Albert Nothnagel oorgeneem is (Praag 4 Julie). Sedert 1990/1994 doen Nothnagel homself as oorverlig voor. As parlementariër het Boraine ‘n ander Nothnagel geken, wat hy in sy boek in onvleiende perspektief stel. Hy vertel wat kort na die Soweto-opstand gebeur het: “I was physically threatened by a National Party member who blamed my party [die Progressiewe Party] for the slaughter which took place on that fateful day, 16 June 1976. Albert Nothnagel confronted me in the dining room of parliament, quivering with rage, and looked set to strike me. I left him with his mouth open and red with anger” (p 19). GPS is die globale posisioneringstelsel. GPS-gesproke lê Damaskus en ANC-Gatkruip baie ver van mekaar af. Nothnagel se frontverandering het nie by Damaskus plaasgevind nie.

[Met die voorafgaande paragraaf as agtergrondskennis stel Nothnagel homself in ‘n nog meer onvleiende lig met die volgende twee sinne in ‘n onlangse brief in Die Burger (24 Julie, p 15): “Die beste deel van my loopbaan was die deelname aan die sterwensbegeleiding van apartheid. Ek het sedert 1974 [!] besef dat die doodsklok vir apartheid sal lui.”]

Boraine verwys na “the mediocrity of ANC MPs” (p 48) en die gevolglike “mediocrity in parliament” (p 130). “There ought to be at least a degree of competence within parliamentary representation. It appears that many who are appointed through the list system have minimal qualifications, and this shows in the lack of participation in debates and committee work by many MPs. It is legitimate to wonder whether the majority of MPs actually read and understand the content of legislation, and in particular the consequences which flow from each piece of legislation should it become law” (p 67). Daardie “list system” is ‘n onding. Parlementslede word deur elke politieke party volgens daardie party se voorkeurvolgorde benoem en nie deur kiesers per kiesafdeling verkies nie. Die politieke partye hou hiervan, want dit plaas hulle in beheer van sake. Dit geskied egter ten koste van demokrasie, dus direkte inspraak deur die kiesers. Party-oppermag is maar net een van baie kommunistiese idees wat kenmerkend van die nuwe Suid-Afrika is.

In 2003 het die Electoral Task Team onder die leiding van Van Zyl Slabbert sy verslag voltooi. Daarin is aanbeveel “a shift from the list system to a combined list/constituency-based system, which would approximate to a people’s parliament far more than the current system” (p 69). Hiervan het niks gekom nie. In 2013 het die DA tereg opgemerk: “There is currently no direct link between the voting public and individual MPs. There is merely a link between the public and political parties” (p 73-74). “Candidates should come from the area they represent,” want dit is “a means of improving their individual accountability” (p 71). Die huidige bestel van proporsionele verteenwoordiging “ensure that minority parties had a presence in parliament” (p 74). Daar is al voorgestel “that at least 50 per cent of the members of parliament should be elected directly by constituencies” (p 75), maar die ANC verkies om te bly klou aan maksimale gesentraliseerde partybeheer.

Die gehalte van diegene op die regbank kan ook bevraagteken word omdat ras en geslag en demografiese verteenwoordiging pleks van “experience, merit and integrity” (p 90) ‘n deurslaggewende rol by die aanstelling en bevordering van kandidate speel. “The strength and the ability and the competence of the court depend to a significant extent upon the quality of the legal representatives” (p 83). Aan die Judicial Services Commision (JSC) word daar openlik soos volg voorgeskryf: “The need for the judiciary to reflect broadly the racial and gender composition of South Africa must be considered when judicial officers are appointed” (p 85). Wat ook afkeurenswaardig is, is die feit dat “the JSC is heavily weighted in favour of the legislature and the executive” (p 85), dus die ANC.

‘n Mens kan dus wonder in hoeverre daar werklik voldoende skeiding tussen die wetgewende en regterlike gesag is. Zuma wil sodanige skeiding eerder afbreek as handhaaf. Hy het gesê: “The powers conferred on the courts cannot be superior to the powers resulting from the political, and consequently administrative, mandate resulting from popular democratic elections” (p 89). Zuma is, volgens Boraine, “dead wrong” (p 89). Die Helen Suzman Foundation se standpunt is: “In a constitutional democracy an independent judiciary must be staffed by judges of the highest intellectual ability and moral character who not only understand but also live the spirit of the constitution” (p 87). Die ANC wil egter nie ongekwalifiseerd aan die grondwet onderdanig wees nie. Hy wil die grondwet verander of dan ten minste vertolk en toepas soos dit hom pas.

‘n Mens moet nie vir ‘n oomblik dink dat Boraine se kritiek op die huidige ANC hom nostalgies na die blanke politieke bewind laat verlang nie. Hy skryf van “the horrific legacy of 300 years of colonialism and a system of racial discrimination which reached into every area of life, its obscene and demeaning tentacles squeezing the life chances of more than 80 per cent of the population” (p 78). Boraine verwys na swartes in die apartheidsera as “being routinely and legally excluded from experience in government at every level” (p 78). Dit is ‘n oordrewe stelling. In die tuislande en in plaaslike besture in die res van die land was daar vir swartes geleenthede om in die politiek bedrewe te raak, maar baie van hierdie ampsbekleërs is sistematies uitgemoor, veral in opdrag van en deur die ANC. Dit pas Boraine om nie hierna te verwys nie.

Die laaste drie hoofstukke (6 tot 8) spreek die ondertitel van die boek direk aan: ‘n staat in die proses van mislukking, maar daar word min gesê wat nuut is. Daar word bv na grypsug en korrupsie verwys; dinge wat, soos gewelddadigheid, deur die UDF/ANC met voorbeeldstelling en opsweping aan die massa geleer is. “Many who were disadvantaged and deprived all their lives believe deeply that they are entitled to share in the riches of South Africa … it is not limited to the entitlement of opportunity; it often appears to be an entitlement to taking what can be termed ill-gotten gains” (p 99). Verder: “A great deal of today’s corruption stems from the state of mind which existed in the [ANC’s] exile period. The loss of the moral compass has not happened in the last few years, it seems to have happened a long time ago” (p 100-101). Deur die gebreke in die ANC (uitsluitlik) aan sy periode van uitgewekenheid te koppel, stel Boraine sy held, Mandela, vry hiervan. Hy doen dit sonder om besonderhede te verstrek oor waarom Mandela in daardie tyd tronkstraf uitgedien het. ‘n Veel swaarder straf vir sy misdade kon maklik geregverdig word.

“Everywhere we look, we see the dismal signs of that failing state in education, health, safety and security, the high rate of unemployment, the lack of housing and basic facilities for millions of people, the tragedy of Marikana … inefficiency, mismanagement, jobs for pals, and corruption in the public service and at every level of government” (p 114; soortgelyk aan p 6 hier bo aangehaal). “The ANC has failed to provide a vision for a just, peaceful and economically secure South Africa … Not only is there a lack of vision, there is also a deficit in leadership which threatens the peaceful and sustainable future of South Africa” (p 127).

In sy geheel wek die boek ‘n lam indruk. Boraine wou nie graag die ANC kritiseer nie. “This is a book I wish that I didn’t have to write. But write it I must. It has to do with initial admiration, shared by many, of the ANC and then watching in dismay as the party started slipping towards a failing state” (p 139). “I voted for the ANC in 1994 and looked forward to a new era in South African politics … Slowly I and so many others began to be disillusioned by the insistence on entitlement, the intolerance of opposition, the maladministration at every level of government, and the corruption, which assumed alarming proportions” (p 140). Boraine sou eerder sy eie beeld as oorverligte liberaal wou bestendig. Om te erken dat “die regses” se toekomsvisie in 1990/1994 en sedertdien van ‘n ANC-regering meer akkuraat as dié van die liberales of oorverligtes was en is, is egter te veel om van Boraine te verwag.

“A failing state could become a failed state if not checked. Very importantly, it also means that reform from within the ANC is impossible” (p 142). Hiermee word die sirkel voltooi. Voorheen is beweer dat apartheid nie hervorm kon word nie en uitgewis moet word. Nou word iets soortgelyks van die ANC gesê. “Because the culture of power seems to be so ingrained [in the ANC], genuine and extensive reform is simply out of the question. What is needed is a new coalition which will give South Africa a fresh start and enable it to return to the period which has been termed the Mandela years” (p 143). In laaste instansie bly Boraine dus polities onredbaar. Hy bly klou aan die Mandela-mite asof daarin heil vir ‘n ontwikkelde en eens vooruitstrewende, beskaafde, Westersgeöriënteerde staat kan wees.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.