Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch (Deel 2): Afrikadag en die minagting van Hendrik Verwoerd

Deel op

Onlangs is aangekondig dat die bevrydingsteoloog, Nico Koopman, as waarnemende viserektor van die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel is (US-webwerf 20 deser). Dit is omdat die topbestuur van die transformerende US nie uit ‘n blanke rektor en uitsluitlik wit mans as viserektore mag bestaan nie. Voorheen is ‘n bruin man en later ‘n blanke vrou as viserektor aangestel, maar vir albei was die water te diep. Koopman is die naaste aan ‘n Russel Botman-kloon wat daar is. Hy het net lof vir (1) homself, (2) die ANC en (3) die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), die ontaarde NG Sendingkerk. Koopman is ‘n mens propvol geregtigheid. Hy sal hom nie daaraan skuldig maak om ooit iets goeds van Afrikaners of blankes (Beyers Naudé en Jaap Durand is uitsonderings) en Afrikaans te sê nie; dié ideale kornuit op die US se pad na totale transformasie.

Koopman het aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gestudeer. In die “teologie”-klasse van Jaap Durand is sy gees en dié van ‘n hele geslag predikante van die Sendingkerk (onder andere Botman) permanent met politieke propaganda vergiftig. Durand het sy held, Dietrich Bonhoeffer (1906-1945), voorgehou as rolmodel vir die politieke “bevryding” van Suid-Afrika. Dit is by Durand wat die idee van die Belhar-geloofsbelydenis ontstaan het. Hy word egter nooit in kerklike kringe tot verantwoording geroep vir sy vaderskap van die groot verdeeldheid wat in die NG Kerk heers nie.

Wim de Villiers, die US-rektor, is ‘n medikus wat blykbaar geen breër agtergrond en veral insig het nie. Hy weet dus heel moontlik nie (of is nie in afdoende mate bewus) van die groot positiewe rol wat Hendrik Verwoerd (kyk hier onder) in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse universiteitswese gespeel het nie. Koopman sal aan De Villiers kan vertel dat dit danksy Verwoerd is dat die UWK in 1960 tot stand gekom het. As hy eerlik is, sal Koopman ook vir De Villiers kan inlig dat die Departement Kleurlingsake aan feitlik al daardie UWK-studente studiebeurse gegee het. Wat Koopman asseblief nie moet beweer nie, is dat die “apartheidsregime” in sy skik was met UWK-produkte soos Botman en Koopman. Die punt is: Koopman is snood ondankbaar oor die goedertierenheid wat blankes aan hom bewys het.

US-viering van Afrikadag

Die US-bestuur het vooraf aangekondig dat Afrikadag op 25 Mei gevier gaan word (US-webwerf 20 deser). Daar kan geredeneer word dat daar niks hiermee verkeerd is nie, want ons is mos geografies deel van Afrika. In die Bybelse idioom sê ek egter graag: Ek is in Afrika maar nie van Afrika nie. Maar my eintlike beswaar teen die neo-US is dat hy graag Suid-Afrikaanse openbare vakansiedae amptelik vier in soverre hulle tot eer van die ANC misbruik kan word. Dit is ‘n slegte gewoonte wat uit die tyd van Russel Botman as rektor dateer. Maar Afrikadag is nie eens ‘n openbare vakansiedag nie, ten spyte van die glad te veel sodanige dae waarmee ons sit. Nooit gedenk die neo-US ewewigtigheidshalwe onderwerpe of gebeure wat vir blankes en veral Afrikaners van belang is nie, bv Van Riebeeck-dag (6 April) en Afrikaansdag (14 Augustus). Daar is hier geen sprake van die gelykberegtiging waaroor die US so hoog opgee nie.

Histories is die universiteit ‘n produk van Europese beskawing en Jan van Riebeeck simboliseer die aankoms van hierdie uitmuntende soort beskawing in suidelike Afrika. Afrikaans is ingevolge die US se stigtingsvoorwaarde veronderstel om dié onuitroeibare onderrigtaal aan die US te wees. Die neo-US verkies om sowel Europese beskawing as Afrikaans te minag. Sedert De Villiers op 1 April, gekkedag, diens as rektor aanvaar het, het hy nog niks gesê of andersins gedoen wat daarop dui dat hy ‘n Afrikaner wil wees of Afrikaans wil bevorder nie. Al wat hy in hierdie verband gedoen het, is om aan te haal uit die US se huidige taalbeleid. Daar is geen sprake dat hy hom daartoe verbind om die posisie van Afrikaans te verskans en te verseker dat dit die primêre onderrigtaal bly of weer word nie.

Die US het Afrikadag gevier met die uitstalling van die vlae van Afrikalande en ook dié van die Afrika-unie (AU), wat, soos Jacob Zuma versoek het, saam met die Suid-Afrikaanse vlag gewapper het. Daar is in die Afrikatradisie gesing en gedans. Die AU-volkslied is ook gesing. De Villiers het entoesiasties die seël op alles gesit met hierdie stommiteit: “Ons is Afrika – Afrika-oplossings vir Afrikaprobleme” (US-webwerf 26 deser) – soos Eskom?

Henry Jeffreys oor Afrikadag

Daar is seker nie ‘n joernalis wat met meer oorgawe anti-blanke stories opdis as Henry Jeffreys nie; die einste mens wat met sy Afrika-hempies redakteur van Die Burger was, binne ‘n dag sy kantoor moes ontruim, en graag tussen blankes woon. In sy jongste rubriek, Middelgrond (wat egter sterk links is), verwys hy goedkeurend na die “demokratiese revolusie in Suid-Afrika” en dan na die res van Afrika in die konteks van Afrikadag. “Afrika was eeue die speelplek [!] van koloniste wat die vasteland se rykdom aan minerale gewetenloos geplunder het sonder [!] voordele vir sy mense” (Die Burger, 27 deser, p 14). Jeffreys het ‘n uitsonderlike vermoë om gemeen te wees en met skewe voorstellings voor ‘n dag te kom. Hoekom is Westerse lande, bv die VSA, voorspoedig? Jeffreys se verklaring is: “Slawehandelaars het miljoene Afrikane as kommoditeite vir veral Amerika se wrede en gierige plantasie-eienaars verhandel en so die grondslag gelê vir die reuse-ekonomie wat die wêreld vandag oorheers.”

Dan kom Jeffreys as neo-swarte en ANC-kameraad met hierdie stommiteit: “Die Westerse wêreld skuld Afrika, maar Afrika skuld die wêreld niks nie. Al wat ons moet doen, is om te verseker dat daar nêrens skuiling of suurstof is vir bullebakke wat floreer op die pyn en lyding van medeburgers nie … Dan kan ons Afrikadag met trots vier.” Jeffreys wend geen poging aan om versoening te bevorder nie; eerder die teenoorgestelde met sy ons/hulle-onderskeid, waarin die “ons” (die swartes) natuurlik reg het en die onskuldige slagoffers is. Wat my verstand te bowe gaan, is dat ‘n koerant soos Die Burger nie die insig of die moed het om van so ‘n rubriekskrywer ontslae te raak nie. Jeffreys verkondig nie ‘n alternatiewe standpunt wat lesers betroubaar inlig nie; hy mislei doelbewus.

Verwydering van Verwoerd-gedenkplaat

Vir die neo-US was dit nie voldoende dat die naam van die HF Verwoerd-gebou verander is nie. Die gedenkplaat in die voorportaal van daardie gebou moes ook verwyder word, sodat almal (bedoelende eintlik swartes) welkom op die kampus kan voel. De Villiers het in sy intreerede op 29 April aangekondig dat hy dit nie stil-stil gaan doen nie. Hy het besluit om ‘n openbare demonstrasie van die neo-US se minagting van die nalantenskap van Verwoerd te maak. In De Villiers het die US ‘n rektor met ‘n dik anti-akademiese vel. Hy is ‘n klein mannetjie (van liggaam en van gees) wat grootmeneer speel oor groot Afrikaners soos Verwoerd en DF Malan, al weet hy in sy binneste dat hy nie werd is om hulle skoenrieme vas te maak nie. Malan se borsbeeld in die Coetzenburg-sentrum, wat voorheen na Malan vernoem was, is blykbaar die volgende Afrikanersimbool in De Villiers se visier. Gaan hy weer ‘n openbare demonstrasie van die verwydering maak? Dit lyk asof De Villiers nie ‘n flenter omgee vir die aanstoot wat hy Afrikaners gee nie; solank hy aan sy pro-swart beeld bou, is hy tevrede.

Dat Malan aan die Victoria College gestudeer het en dat Verwoerd op die ouderdom van 23 ‘n doktorsgraad met onderskeiding aan die US verwerf het (Hermann Giliomee, Die laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg2012, p 25), sal De Villiers geensins beïndruk nie. Hy sal eerder met diegene saamstem wat deesdae wil hê dat Verwoerd nie eens intelligent genoem mag word nie. Giliomee skryf van Verwoerd: “Hy was die eerste student in Suid-Afrika wat sy studies, van sy voorgraadse eksamens tot sy doktorale proefskrif, in Afrikaans geskryf het” (p 27-28). Dat Verwoerd intellektueel buitengewoon begaaf was, ly geen twyfel nie. Meer as een van sy kinders het ook professorate beklee. Verwoerd behoort suiwer akademies deur die US geloof en vereer te word. Mense met beperkte kennis en insig en daarby met ‘n politieke pleks van ‘n akademiese agenda, soos De Villiers, kyk die voortreflike akademiese dimensie van Verwoerd mis en bly vasstaar op twee aspekte wat verdoemingswaardig geag word: Verwoerd was ‘n Afrikaner en Afrikaans.

Let vervolgens op die moeite wat die US-bestuur gedoen het om medewerkers vir sy anti-Verwoerd-projek te soek en hulle vir ‘n gesamentlike poging byeen te bring. De Villiers het saam met Willie Ortell, ‘n vorige bruin burgemeester van Stellenbosch, die gedenkplaat verwyder, te midde van “die dreunsang van studente … Lede van die Open Stellenbosch-beweging het ‘Mayibuye iAfrika’ (Bring Afrika terug) [die oerwoud?] uitgeroep toe ‘n banier met die Suid-Afrikaanse vlag die plaket se plek ingeneem het. Hulle het tydens die geleentheid borde met die US se wapen in die lug gehou en baniere wat lui ‘Weg met Verwoerd’ en ‘Apartheid leef in Stellenbosch’ vasgehou” (Die Burger, 28 Mei, p 4). Die banier met die Suid-Afrikanse vlag is deur Stefan Laing, die voorsitter van die US-studenteraad, en Farai Mubaiwa, ‘n lid van die Open Stellenbosch-beweging, opgehang. Wilhelm, ‘n kleinseun van HF Verwoerd, was teenwoordig en het oor RSG gesê sy oupa verdien nie om vereer te word nie. HF Verwoerd se kinders het hulle pa baie beter geken as wat Wilhelm as ontspoorde kleinkind sy oupa ooit sal ken. Nie een van hulle sou aan so ‘n onteringseremonie deelgeneem het nie. Koopman was ook daar om bruikbare eiertjies te lê. Hy wil verseker dat hy permanent as viserektor aangestel word.

Wilhelm Verwoerd was getroud met die feminis Melanie van Niekerk. In 1992 het hy in navolging van sy vrou by die ANC aangesluit. Sy was ‘n ANC-parlementslid en van 2001 tot 2005 die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Ierland. Wilhelm het werk vir die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) gedoen en sy proefskrif handel ook oor die WVK. Albei is dus ryklik deur die ANC beloon. Linksheid het egter nie genoeg gom verskaf om hulle huwelik in stand te hou nie. Nelson Mandela het hulle destyds aangehits om die Verwoerd-van tot die uiterste tot voordeel van die ANC te misbruik. Wilhelm se gedrag op 27 deser ter ontering van sy oupa is ‘n voortsetting hiervan.

Huldiging van Jannie Marais

Die US se stigtingsdonateur, Jannie Marais, is op 30 Mei ‘n eeu gelede oorlede. Die US-bestuur het geen groot herdenkingsplegtighede vir vanjaar gereël nie. Dit is waarskynlik omdat die neo-US nie openlik vir Afrikaans in die bres wil tree nie. Die Marais-standbeeld staan op die Rooiplein op die kampus. ‘n Mens sou dink dat dáár hulde aan hierdie weldoener gebring sou word. Maar die Rooiplein is die plek waar Open Stellenbosch toegelaat word om na harte lus ontwrigting te saai. Die huldigingplegtigheid, ‘n inisiatief wat blykbaar van buite die US-bestuur gekom het, word by Marais se graf teen Papegaaiberg gehou. Daarna volg ‘n aanddinee in Marais se eertydse huis in Coetzenburg. Die verrigtinge word dus (doelbewus) weg van die sentrale kampus gehou. In sigself is dit ‘n skande, maar werp lig op die gebrek aan dissipline op die kampus.

Die US-bestuur het nie vooraf ‘n berig oor Marais vir die webwerf vrygestel soos in die geval van Afikadag nie. Stephanie Nieuwoudt het wel ‘n artikel geskryf (US-webwerf 27 Mei). Daarin noem sy dat Marais in 1915 £100 000 geskenk het wat die stigting van die US, as plaasvervanger vir die Engelse Victoria College, moontlik gemaak het. In haar artikel hinder twee dinge. Die beskrywing van Marais, “weldoener van Stellenbosch,” word tussen aanhalingstekens geplaas, asof hy nie onteenseglik ‘n weldoener was nie. Die ander saak wat hinder, is dat Marais se stigtingsvoorwaarde vir die US, dat Hollands/Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels mag beklee nie, glad nie genoem word nie. Marais se bewoording is: “De Hollandsche Taal in zijn beide vormen – dwz Afrikaans zoowel als Nederlandsch – geen minder plaats dan het Engelsch innemen zal” (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 183).

Maar dit is ongelukkig nie die eerste keer dat so iets gebeur nie. Tydens die jongste US-Woordfees is ingelyks geen daadwerklike poging aanwend om Marais na verloop van ‘n eeu na behore te huldig nie. Op die voorlaaste dag van die Woordfees, 14 Maart, was daar darem ‘n gedenklesing, 50 geskeduleerde minute, deur Ton Vosloo. In die amptelike Woordfeesprogram word melding van Marais se skenkingsvoorwaarde gemaak: “Dit moet Afrikaans ondersteun en bevorder” (p 34). Vosloo het volgens die koerantberig (Die Burger, 16 Maart, p 1) wel in die algemeen hierna verwys. Dit lyk egter asof Vosloo sy toespraak eerder oor die boeg van Marais se ander skenking, wat die stigting van Die Burger moontlik gemaak het, gegooi het. Vosloo het ‘n beroep op die miljoenêrs van Stellenbosch gedoen om Marais se voorbeeld te volg en elk R2 miljoen te skenk. Hy het blykbaar nie spesifiseer dat dit (uitsluitlik) vir die bevordering van Afrikaans moet wees nie. Daar is geen aanduiding dat Vosloo Marais se stigtingsvoorwaarde vir die US of die skandalige verwatering daarvan, wat reeds jare lank plaasvind, geopper het nie. As mede-miljoenêr het hy ook nie met R2 miljoen vorendag gekom nie. Blykbaar is dit die soort skenking wat Vosloo van ander mense verwag, maar nie van homself nie.

Die visepresident van die US-Konvokasie, JC Heunis, het op Vosloo se oproep gereageer met “kom ons doen iets” maar hy het nie die US of Afrikaans by die naam genoem nie (Die Burger, 19 Maart, p 18). Wat dit soos ‘n stille sameswering laat lyk, is Martie Retief-Meiring se rubriek, Saterdag Aktueel, onder die oneerbiedige opskrif: “Lig die hoed vir ou Jannie op die Rooiplein” (Die Burger, 23 Mei, p 11). Sal sy na Mandela as “ou Nelson” verwys? Retief verkies om deurgaans saam met die mode te gaan pleks van ‘n eie standpunt te ontwikkel. Haar hele rubriek is onverdiend deurspek met oneerbiedigheid vir “onse man” wat ‘n “verbysterende weldoener” was. “Dat so ‘n onverdrote kapitalis op die Rooiplein staan, is maar een van die heerlike ironieë van ons dorp.” Dit lyk asof sy eerder die beeld van ‘n kommunis, soos Mandela, daar wou sien. Sy noem dat Marais se skenking die ontstaan van die US moontlik gemaak het, maar sy rep (doelbewus) geen woord oor sy voorwaarde betreffende Afrikaans nie. “Lig maar die hoed, of die goedkeurende duim, vir daardie granietman op die Rooiplein.”

Vim is wit, maar dit lyk asof Wim eerder swart as wit belange wil bevorder. Hy is besig met ‘n gevaarlike speletjie. Die US-bestuur wek die indruk van perspektieflose windpompdonkies wat die hele tyd rondom transformasie bly draai. Die akademies hoogaangeskrewe US van weleer het in dié proses plooie ontwikkel wat hom haas onherkenbaar gemaak het. In werklikheid is dit ‘n siekte tot die dood toe. Veralgemenend kan gesê word dat swartes mag, gesag en geweld verstaan. Die US-bestuur het die mag, maar De Villiers oefen nie gesag oor die swartes uit nie; wel oor die blankes. Die gevolge kan gewelddadig wees.

Wat nodig is, is dat die akademies geöriënteerde studente en oudstudente, asook die vorige en huidige ware akademici (daar is nog heelwat van hulle op die kampus oor) en die US-donateurs ‘n gesamentlike poging aanwend om die huidige anti-akademiese situasie op te ruim. Die resultaat kan verandering wees wat akademies sin maak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.