Buikspreker gaan voort met veldtog teen Steve

Deel op

Conrad Koch en sy pop Chester Missing het Donderdag voortgegaan om twiets te stuur oor Steve Hofmeyr ten spyte van ‘n tussentydse beskermingsbevel teen hom.

NUUT!

Koch het Hofmeyr in sy jongste twiet gedreig en gesê hy gaan hom “brand”.

Beeld het Donderdag berig dat Koch bevestig het dat hy ‘n telefoonoproep gekry het rakende die hofbevel, dus moet Koch bewus wees daarvan dat hy in die tronk kan eindig as hy nie met sy veldtog ophou nie.

Koch het gesê dit is “fundamenteel” verkeerd om regsoptrede teen ʼn satirikus te neem. Hy het nie kommentaar gelewer oor die uitgebreide, kwetsende veldtog wat hy teen Hofmeyr voer nie.

“Dit is absoluut mal. Steve spoeg rassistiese gal. As hy uitgedaag word, tree hy verwaand op,” het Koch aan die koerant gesê. “Al wat ek gedoen het, was om te twiet. Die prys van sy rassisme kom nou terug na hom toe.”

Volgens Beeld het Koch gesê sy twiets oor Hofmeyr is nie haatspraak nie, aangesien hy nooit iets haatdraends gesê het oor die sanger of vir mense gesê het om sy borge of die fees [Afrikaans is Groot] te boikot nie.

Intussen het RSG se Spektrum-nuusprogram drie agtereenvolgende onderhoude Donderdag uitgesaai waarin Hofmeyr se beweerde “rassisme” in mindere of meerdere mate veroordeel is.

Ene dr Llewellyn Curlewis, van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsie, het homself geredelik weerspreek deur te sê Hofmeyr moes nie die landdroshof genader het nie en daarna beweer dat die hooggeregshof slegs genader kan word indien alle remedies uitgeput is. Hy het ook “gewonder” of Roodt en Hofmeyr se verklarings in beëdigde vorm ingedien is, sonder om daaraan te dink dat die landdros nie die bevel sou toegestaan het indien dit nie die geval was nie.

Die prokureur het nog geen van die stukke rakende die kwessie onder oë gehad nie en dra geen kennis van die bevel nie, maar het nogtans nie geskroom om sy mening daaroor te gee nie. Hy het verklaar dit sal nie slaag nie.

‘n Byna vergete sanger het ook een of ander oordeel probeer fel, maar die pad byster geraak tydens die uitsending en vasgehaak op Hofmeyr se gewildheid, klaarblyklik in ‘n misplaaste selfreklamepoging.

Kallie Kriel van Afriforum het gesê hulle kan nie Hofmeyr se uitlatings oor rassekwessies ondersteun nie.

Hy het die “groepie” teen Hofmeyr veroordeel, maar gesê dit is beter om ras te vermy aangesien daar geen teenkanting was teen Dookoom of Julius Malema se rassisme deur Hofmeyr se kritici nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.