Afrikaners moet internet beset

ImageAfrikanerbevryding kan in die kuberruim begin en uiteindelik  na die fisieke territorium van Suid-Afrika oorspoel.

Sedert ek vir die eerste keer aan die einde van 1995 ‘n internetkonneksie verkry het, volg ek die ontwikkeling van dié verskynsel met belangstelling. Nie verniet nie het Jeff Bizos, die stigter van Amazon.com, gesê dat die internet nie net die manier waarop mense sake doen nie, maar ook die politiek gaan verander.

Bizos het die idee vir ‘n internetboekwinkel (maar wat deesdae omtrent enigiets onder die son verkoop) gehad terwyl hy iewers in ‘n motor tussen San Francisco en Seattle op reis was. Met ander woorde, hy het deur werklike grondgebied "geseil" terwyl hy sy revolusionêre idee vir e-handel uitgedink het.

Vele mense is besig om die verband tussen grondgebied in die tradisionele sin en die kuberruim raak te sien. Enkele jare gelede, in November 2000 om presies te wees, het die Franse filosoof Michel Serres op besoek aan Johannesburg beweer dat die internet soortgelyk aan die Middeleeuse woud is. Serres is iemand wat al oor enigiets van Fontaine se fabels tot die wette van termodinamika en kommunikasieteorie geskryf het.

In die Middeleeue was die woud ‘n plek waar geen reëls of wette gegeld het nie. Die embrioniese state van daardie tyd was te swak om nog ongerepte, onbewoonde gebied ook te regeer. Misdadigers en voortvlugtiges soos Robin Hood het hulle na die niemandsland van die woud gewend omdat hulle daar teen die gereg kon wegkruip.

ImageIn die Middeleeuse letterkunde, wat vir ons via Middelnederlands in Afrikaans toeganklik is, was daar ‘n figuur, die sogenaamde homo silvaticus oftewel "woudmens", wat in allerlei verhale en fabels voorkom. Hy was ‘n wilde mens wat hom nie by die reëls van die beskawing gehou het nie.

Tot onlangs was die internet, of dan die kuberruim soos dit ook genoem word, aan weinig regeringsinvloed onderworpe en was Michel Serres se vergelyking dus juis. Soos wat die kuberruim egter in omvang toegeneem het, het regerings en selfs internasionale instansies begin poog om die elektroniese woud deur wetgewing en regulering onder hul invloed te bring.

Hier by ons het die ANC ‘n Orwelliaanse kommunikasiewet ingestel wat elke diensverskaffer verplig om namens die staat inligting oor elke internetgebruiker in te samel. Intelligensiedienste het wêreldwyd begin om programmatuur te ontwikkel of aan te koop waarmee hulle kommunikasie deur verdagte groepe of mense kan monitor.

Maar die internet verteenwoordig nie bloot ‘n kommunikasiemiddel nie. Op sigself is dit ook ruimte en gebied wat deur state en hul inwoners beset word. ‘n Taal wat vandag nie ruimskoots op die internet verteenwoordig is nie, bestaan in ‘n sekere sin nie.

Belangriker nog is die volgende: die internet skep identiteite en voeg mense saam of verdeel hulle, ongeag geografiese afstande. Duisende Afrikaners in die buiteland neem elke dag aan kubergesprekke deel en is in ‘n sekere sin in ons land teenwoordig omdat hulle net sowel in die huis of kantoor langsaan kon gesit het.

Die internet globaliseer ons deur inligting vrylik tussen lande te laat vloei. Maar soos ons in Wes-Europa met die afskaffing van fisieke grense tussen lande gesien het, verval nasionale identiteite en kom streeksidentiteite na vore. Pleks van geografiese grense, het ons deesdae in Europa taalgrense. Die Dietse taalgebied van waar Afrikaans afkomstig is, bestaan deesdae uit ‘n aaneelopende area wat Nederland, Vlaandere en die westelike grensgebiede van Duitsland waar Platduits gepraat word, insluit.

In ‘n groot mate geld dieselfde in die kuberruim: taal verteenwoordig die nuwe grens tussen mense. Maar die kuberruim is ook onderhewig aan geweldige mededinging; ‘n soort taaloorlog woed daarbinne, soortgelyk aan die territoriale oorloë van die Middeleeue. Vandaar dus die gedagte dat die kuberruim in ons tyd beset word en dat state, multinasionale maatskappye en etniese en taalgroepe vir Lebensraum met mekaar meeding.

Daar is ook ‘n bepaalde verhouding tussen fisieke grondbesetting en invloed in die kuberruim. Tot dusver het state sekere aansprake op die kuberruim gemaak, al is dit net deur die sogenaamde domeinsuffikse soos "uk", "fr", "de" of "za" wat ‘n "nasionale adres" verteenwoordig. Hierdie letters wat heel aan die einde van ‘n internetadres verskyn, word "boonstevlakdomeinname" genoem en word deur die Internasionale Standaarde-organisasie beheer.

Tot dusver het fisieke state hul mag gebruik om die kuberruim te beset, maar is die teenoorgestelde moontlik, m.a.w., sou ‘n sterk georganiseerde kubergroep in staat wees om grondgebied te bekom?

In 1994 het Afrikaners vir alle praktiese doeleindes ‘n staatlose volk geword. Oor die afgelope aantal jare het die gedagte van ‘n "kuberstaat" of "virtuele volkstaat" in politieke gesprekke begin opduik. Die mees onlangse voorbeeld waaroor daar in die pers berig is, was prof. Marinus Wiechers se uitspraak op Orania toe hy ‘n pleidooi vir ‘n "virtuele Afrikanerregering" gelewer het.

Wiechers is ‘n oud-professor in staat- en volkereg aan UNISA. Volgens hom is "die gedagte dat Afrikanergemeenskappe hier en selfs oorsee hul in die kuberruim kan organiseer tot ‘n ‘virtuele regering’ om die Afrikaanse kultuur- en taalerfenisse te bewaar en Afrikanerbelange te bevorder… dus nie vergesog nie.

"Vir só ‘n virtuele regering kan al die belanghebbende partye en instellings ‘n grondwet opstel, kan op ‘n vrywillige grondslag lidmaatskap en aanhorigheid gewerf word, ‘kieserregistrasie’ onderneem word, partypolitieke aktiwiteite georganiseer word, verkiesings gehou word, virtuele regeringsinstellings, soos ‘n parlement en uitvoerende organe, verkies word, begrotings aangeneem en ‘belastings’ onder aanhoriges gehef word."

Wiechers se voorstel word egter in ‘n konserwatiewe gees aangebied, "konserwatief" met betrekking tot die bestaande Suid-Afrikaanse orde. So ‘n "virtuele regering om Afrikaner-gemeenskappe saam te snoer (kan) inderdaad ‘n kragtige ‘staat binne ‘n staat’ word om Afrikaanse kultuur- en taalerfenisse te bewaar en te bevorder. Dit hoef glad nie die bestaande staatsorde te bedreig nie." Aldus Marinus Wiechers.

Teenoor Marinus Wiechers se konserwatiewe visie van ‘n Afrikanervolk wat hom virtueel organiseer om die las van oorheersing te versag, staan die meer radikale idee van Afrikanerbevryding wat in die kuberruim kan begin en uiteindelik  na die fisieke territorium van Suid-Afrika mag oorspoel.

Ná alles sou ‘n Afrikanervolk wat hom in die kuberruim naas ander nasies met eie grondgebied soos die Dene, Tsjegge, Nieu-Seelanders of wie ook al handhaaf, ‘n onmiskenbare nasionale werklikheid verteenwoordig wat toenemend internasionale erkenning van ander state behoort te geniet.

Moderne nasies is die gevolg van die Franse revolusie en die Duitse romantiek wat gedurende die negentiende eeu ‘n vlaag nasionalismes regoor Europa ontketen het, iets wat in die twintigste eeu ‘n wêreldwye beweging geword het. State en "staatsapparaat" (om nou ‘n term van die Franse neo-Marxis, Louis Althusser, te gebruik) in die vorm van veral skole en verpligte onderwys is gebruik om nasionale identiteite te vestig.

Deur sy beheer van ons skole, poog die ANC-bewind om dié negentiende-eeuse spel voort te sit en sy Suid-Afrikanisme ten koste van Afrikaansheid te vestig. In die toekoms sal die internet waarskynlik meer identiteitsvormend as die tradisionele skool optree.

Dit is daarom van die uiterste belang dat Afrikaners vir hulle ‘n gebied in die kuberruim moet afbaken. Ten dele is dié proses reeds aan die gang, maar dit moet versnel en verhewig word. Die totale Afrikanergeskiedenis, -kultuur, en -letterkunde behoort vrylik op die internet beskikbaar te wees.

Een manier op dit reg te kry, sou wees om die Afrikaanse weergawe van die sogenaamde Wikipedia uit te bou. Laasgenoemde is ‘n gratis aanlyn-ensiklopedie wat deur vrywillige samewerking in elkeen van die vernaamste tale ter wêreld tot stand gekom het. Tans verkeer die Afrikaanse Wikepedia in die 46ste posisie wat die aantal gepubliseerde artikels daarin betref, dus nie baie hoog op die lys nie. Myns insiens behoort alle bestaande Afrikaanse kultuurorganisasies en akademici saam te werk om so ‘n Afrikaanse ensiklopedie tot een van die grootstes op die internet uit te bou. Afrikaans kan maklik een van die top twintig Wikipediatale, naas Engels, Duits, Frans, Spaans, ens. word. Afrikaanse boeke waarop daar nie meer kopiereg bestaan nie, behoort ook stelselmatig op die internet opgelaai te word.

In die Amerikaanse sakejargon word daar gepraat van ‘n maatskappy se "voetspoor" (footprint) in ‘n land of in ‘n mark. Hoe groter die Afrikaner se voetspoor in die kuberruim, hoe groter ons kans op oorlewing en op uiteindelike vryheid.

купить тамбов монтировкиалександр лобановский харьков класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.