Die twee Tukkie-damestudente wat hul gesigte swart gesmeer het, is aangekla en gaan deur die Universiteit van Pretoria aan ‘n tugverhoor onderwerp word.
Beeld berig dat “Nicolize Mulder, woordvoerder van die UP, bevestig het dat die universiteitsbestuur Dinsdagoggend ’n onmiddellike ondersoek na die voorval gelas het nadat hulle daarvan bewus geword het.”
“Die gedrag van die studente in die foto’s is totaal onaanvaarbaar,” sê Mulder.
Volgens Mulder is die foto’s op ’n partytjie geneem wat nie ’n universiteitsgeleentheid was nie.
“Maar omdat die studente daarin geregistreerde UP-studente is, het hulle deur hul optrede die naam van die universiteit in oneer gebring.
“Tugstappe sal daarom teen alle betrokkenes gedoen word.”
Die DA-studente-organisasie, DASO, wat eerste die foto in die hande gekry en die kwessie aan die groot klok begin hang het, het sy tevredenheid uitgespreek dat die twee studentes vervolg gaan word.
‘n Lid van Daso, Matthew Cuthbert, sê:
“Ons is ook besig met ons eie ondersoek na die voorval. Rassisme is ’n baie gevoelige kwessie by die universiteit, veral omdat daar al voorvalle van rassisme was.
“Ons voel dit is hoog tyd dat die universiteitsbestuur dit sterk aanpak.”
Enwee Human, president van die UP se studenteraad, meen “hoewel die voorval nie direk met die universiteit verbind kan word nie, kan dit nie in die huidige atmosfeer en konteks van tersiêre instellings wat daarna streef om te transformeer, toegelaat word nie”.