Sonja Loots se anti-Afrikanervenyn

Deel op

Sonja Loots het ‘n mate van bekendheid verwerf na die verskyning van haar boek, Sirkusboere (Kaapstad: Tafelberg, 2011). As so ‘n spektakel van die vernedering van enige ander Suid-Afrikaanse bevolkingsgroep gemaak sou word, sou die boek nie ‘n uitgewer gevind het nie. Die boektitel weerspieël baie duidelik Loots se afkeer van haar Afrikanervoorgeslagte. Sy het al gesê dat sy “deelnisvol die moer in vir ons Afrikaanse voorvaders” is; dermate dat sy sommer rugby ook haat. Die boek is nie net gepubliseer nie; dit is bekroon.

Twee van die hoofkarakters in die boek is op historiese figure uit die Anglo-Boereoorlog gebaseer. Daar is Ben Viljoen wat, soos Loots, die verlede soos ‘n vrot vel van hom wil afskud. Daarteenoor is daar Piet Cronjé wat soos ‘n miskuier aanhou om die stink bal van die verlede saam te sleep. Loots wek die indruk dat sy die arm vrou se Antjie Krog wil wees. Albei sou te graag eerder in Engels as in Afrikaans wou skryf, maar is nie daartoe in staat nie. As kompromis gebruik albei sonder wroeging graag Engelse woorde in hulle Afrikaanse teks.

Waar kom Loots se politieke oorverligtheid vandaan? Nadat sy aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer het, het sy aan die Universiteit Rhodes studeer. Daarna het sy drie jaar lank in Londen gewoon. Sy wou haar graag daar vestig, maar moes teen wil en dank na die nuwe Suid-Afrika terugkeer. Tans is sy ‘n dosent in Afrikaans aan die Universiteit Kaapstad, waar haar lesings ‘n kenmerkende ideologiese inslag het.

Inligting op die internet maak dit duidelik dat Loots erg nie-rassig is; dat ‘n inklusiewe identiteit ons voorland moet wees. Selfs dat die soort geskiedenis wat in die nuwe Suid-Afrika aan skoolkinders opgedis word, stukke waarheidsgetrouer as die handboeke uit die apartheidsera is. Die voorleggings van Flip Buys en Koos Malan oor Afrikaans aan Nederlandse parlementslede is deur Loots gekritiseer, terwyl sy nie ‘n woord van kritiek oor die anti-Standaardafrikaanse uitsprake van Michael le Cordeur en Henry Jeffreys uitgespreek het nie (Rapport, 9.12.2012).

Onlangs is Loots toegelaat om “die ander kant” in Rapport (10 Feb) te belig. Soos in haar sirkus, het sy dit weer oor “Afrikaner-navelgazing oor versuurde verhoudings kort ná die Anglo-Boereoorlog.” Sy verwys na ‘n opvoering wat sy bygewoon het. Loots beklemtoon deurentyd die magdom historiese navorsing wat sy al gedoen het. ‘n Mens wonder of sy al kennis geneem het van die baie simpatie wat daar onder die Britte vir die Boere was; sowel tydens as na daardie oorlog. Loots het glo saam met ‘n “bruin tante” weg van die opvoering na buite gevlug: “Dit was bedompig daarbinne.”

Volgens Loots was daar in ander opvoerings “genadiglik” nie net “geykte denke oor onsself” nie. Daar het die bedompigheid plek vir “suurstof” gemaak. Sy verwys na die werk van Athol Fugard, Breyten Breytenbach en David Kramer: “Al drie behoort tot die trotse tradisie van eenkant-stemme wat onvoorspelbaar en dikwels ongenooid opdaag om Afrikaans se verroeste werfhekkies oop te gooi en ‘n paar wolwe onder die loom werflammers in te jaag.”

Sy borduur soos volg voort oor haar voorliefde vir nie-Afrikaners: “Wat sou Afrikaans gewees het sonder kunstenaars soos Sheila Cussons, Olga Kirsch, Adam Small en Peter Blum? Hoeveel saaier sonder die majestueuse verbeelding van Kramer, Fugard en Breytenbach wat soos valke oor ons werf sirkel? Nie een van hulle is een van ons, op óns manier nie. Hulle wil dit ook nie wees nie, want hul werk sou nooit uit gemaklike familiariteit kon spruit nie.”

“Dit is hul vervreemding of vreemdelingskap wat die vars manier van kyk moontlik maak. Dit is die waaksaamheid van die alleenreisiger wat sorg dat hulle minder maklik trap in die slaggate van kulturele arrogransie en traak-my-nie-agtigheid teenoor ander.” Daarna impliseer Loots dat sy ontuis by Afrikaners voel, dat Afrikaners insluimer terwyl nie-Afrikanerelemente wakker is: “Hulle lê nie saam met ons in die bed nie. Hulle werk nie vanuit ‘n voosgesitte leunstoel nie, maar as ‘t ware op staande voet.” Die “ons” dui op Afrikaners; iets wat Loots om die dood nie wil wees nie. Die “voosgesitte leunstoel” is daar vir die sluimerende Afrikanerslapgatte.

Loots wil hê Afrikaners moet sluk wat deur nie-Afrikanerelemente aan hulle voorgesit word. By ‘n Kramer-konsert “het sommige gehoorlede soos donkies bly blêr vir ‘stokoud’ [verkramp] pleks van ‘slinternuut’ [verlig]. Steeks en dom beur sulkes in die rigting van Blokkies Joubert en sy drinkebroers in die Royalhotel [‘n verwysing na die deur haar gehate rugby], terwyl hul eselore doof bly vir wat Kramer se musiek sê oor ons benepenheid, dweperigheid en agtelosigheid teenoor die armes.”

Samevattend kan ‘n mens seker sê dat Afrikaners, volgens Loots, ‘n stink verlede het wat hulle soos ‘n miskuierbal bly saamsleep. Ook dat daar by Afrikaners ‘n bedompige atmosfeer heers, wat met die suurstof, die varsheid, by nie-Afrikaners gekontrasteer word. Die Afrikanerwerf het verroeste hekke; dus, dit is uit die oude doos. Daardie werf, wat alles simboliseer wat die Afrikaner is, is ‘n ingatplek waar mense vol van kulturele arrogansie slaap. Eintlik is die Afrikaners so steeks en dom soos donkies en dronkies; slapgatte vol van benepenheid, dweperigheid en agtelosigheid.

Dit is maklik om Loots se gebrek aan insig en ewewig in te sien. Sy gaan klaarblyklik heeltemal oorboord met haar gekoesterde vooroordele. Die vraag wat ek egter in die midde wil lê, is: Sou enige koerant Loots se “ander kant” gepubliseer het as sy enige ander bevolkingsgroep as Afrikaners met soveel irrasionele oorgawe en venyn aangeval het?

лобановский обыск

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.