Annelie Botes is ‘n slagoffer van eerlikheid

Deel op
Die gevierde Afrikaanse skryfster, Annelie Botes, het in Augustus van Tafelberg-uitgewery verneem dat teen die publikasie van haar jongste boek besluit is. Botes het die afkeuring eers onlangs bekend gemaak. Riana Barnard van Tafelberg het nie eens probeer om die besluit, wat klaarblyklik op politieke en suiwer nie-literêre gronde berus, te regverdig nie (Die Burger, 16 deser, p 3). Botes voel vanselfsprekend baie seer oor hierdie verwikkeling. Ek het twee jaar gelede al besef dat sy as skryfster geen toekoms by enige Naspers-onderneming het nie.

In ‘n Rapport-onderhoud (21.11.2010) het Botes genoem dat sy nie van swartes hou nie omdat sy hulle nie verstaan nie. Daarna het sy haar stelling gekwalifiseer deur te sê dat dit nie alle swartes geld nie (Rapport, 28.11.2010). Sy het nie gesê sy haat swartes nie. Ook nie dat sy hulle dood wil hê soos die versugting is jeens wit boere in een van die ANC se gewilde strydliedjies nie. Sy het nie misdade gepleeg soos dié waarop baie ANC-kamerade onbeskaamd roem nie. Sy het bloot met ‘n eerlike, wettige stelling vorendag gekom.

Wat Botes gesê het, is egter aangegryp as iets waaruit sensasionele teks getap kon word. Vyf reaksieberigte (naas die laasgenoemde berig in die hoofkoerant) en drie briewe, asook ‘n dosyn webmenings is hieroor in Rapport-Weekliks gepubliseer, aangevul met vier webartikels. Dit is duidelik dat sommige van die onsteldes om hulle reaksie gevra is, blykbaar omdat lesers moet besef dat uitsprake soos die van Botes nie ongestraf in so ‘n moreel voortreflike koerant geduld word nie.

Anton van Niekerk, op wie se verontwaardiging Rapport kon reken, het Botes se stelling ontstellend en byna lasterlik gevind en dit daarna die tirade van ‘n rassis genoem. Die uitgeweke skryfster Marita van der Vyver het beweer dat Botes in haar ‘n naarte veroorsaak het, want miljoene swartes is glo deur Botes veronreg. Die subteks uit Provence is dat Van der Vyver moreel beter as Botes is.

Wat hierdie twee mense en van die ander reaksies duidelik maak, is dat die nuwe Suid-Afrika nie ‘n normale samelewing is nie. ‘n Doodgewone en onskuldig-bedoelde opmerking is gedemoniseer. Selektiewe moraliteit word met oorgawe bedryf. Eerlikheid loon nie. Skynheiligheid seëvier.

Watter soort boek word graag deur Naspers gepubliseer? Deesdae is dit feitlik ‘n vereiste dat daar in ‘n Afrikaanse boektitel minstens een Engelse woord moet wees. Afrikaanse poësie word nie graag gepubliseer nie, omdat die afset glo nie groot genoeg is nie, maar Mathews Phosa se rympies word gepubliseer. Van en oor geen regsgesinde sal iets gepubliseer word nie. Voorkeur word aan ANC-gesindes gegee. Ton Vosloo het bv nie net die publikasie van Pippa Green se biografie oor Trevor Manuel gesteun nie, maar ook daarop aangedring dat dit in sowel Engels as Afrikaans gepubliseer moet word.

прокурор харьковской области

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.