Die sanger en skrywer, Steve Hofmeyr, het so pas te midde van die koronavirusinperking ‘n splinternuwe misdaadroman, Die kwesbares, gepubliseer. Dit kan reeds as e-boek vanaf Amazon Kindle afgelaai word (klik hier onder op die klein voorblad van die boek om na die Amazonblad deur te gaan).
Hier volg die opsomming op die rugkant van die boek.
Daar’s altyd daardie een persoon van wie jy nie weg kan stap nie. Al weet jy dat jy moet. In die derde aflewering van die reeks speel die Sluiper klaar met homself. Hy lê sy wapens neer en kies die liefde. Die dodelikste ding wat hy ooit kon doen. Nie net laat dit hom uiters kwesbaar nie, maar dit bring hom lynreg te staan teen die boosaardigste figuur met wie hy nog ooit te make gehad het: Jesús Fidencio Hernández, beter bekend as die Veearts van Baia Farta. So ook met die spoke uit sy verlede.
En dié konfrontasie gaan bloedig wees. Brutaal en allesverwoestend. Want dit dwing die Sluiper terug na ou vergete gedragspatrone. Na ingeoefende rituele van vernietiging, want rituele maak die ontasbare tasbaar; gee die onwerklike ʼn mate van stoflikheid. Dit plaas die grootsheid van die onvoorsienbare in jou palm. Dit wals in op plekke waar woorde nie kan bykom nie. Soms heel dit selfs wonde. En dis seker beter as niks. ʼn Titseltjie genesing vir die kwesbares.
Met hierdie derde aflewering in die Sluiper-reeks oortref Steve Hofmeyr selfs die ontsaglik hoë standaard wat hy met Die onaantasbares (2017) en Die Lucky Strike (2018) gestel het. As aksieroman is Die kwesbares heeltemal uniek in die Afrikaanse lettere. Trefseker en sekuur. Soos ʼn koeël.
Lees ‘n uittreksel uit die boek nou dadelik op Amazon Kindle deur op die klein voorblad hier bo te klik. Indien dit jou geval, kan jy agterna die e-boek koop en dit verder op jou rekenaar, foon of ander toestel lees.
Daniel Hugo se verdienstelike boek, Halala Afrikaans (Pretoria: Protea Boekhuis, 2009, 175p), het onlangs ‘n stiefbroer bygekry: Michael le Cordeur se Halala Suid-Afrika: 25 jaar se groeipyne van ‘n jong demokrasie (Naledi, 2019, 441p, R247). Die onderwerp is breër en die bladsye meer as in Hugo se boek. Hoewel die voorwoord en die verso van die titelbladsy Julie 2019 as datum het, is die boek eers sedert Maart in die boekwinkels beskikbaar. Die hooftitel is ontleen aan Johannes Kerkorrel se liedjie (p vi, 362). Die frase “jong demokrasie” in die newetitel berei die leser voor op die kwistige gebruik van modewoorde en -frases in die teks, wat uitdrukking aan die outeur se onverbloemde aanhang van die ANC gee. Dat Le Cordeur ‘n ANC-kornuit is, kan nie betwyfel word nie. Oor “ons eerste demokratiese verkiesing” op 27 April 1994 skryf Le Cordeur: “Die daglig kon nie gou genoeg kom nie; in my drome het ek al gesien hoe ek my kruisie sou trek agter die naam wat vir ons almal die verpersoonliking was van die struggle, die simbool van bevryding, die metafoor vir die toekoms” (255).
Heel aan die begin is daar ‘n Edmund Burke-aanhaling waarvolgens goeie mense nie moet stilbly nie. Hulle het ‘n plig om die kwaad te bestry (v, xi). In die res van die boek word dit by die leser tuisgebring dat Le Cordeur by uitnemendheid een van hierdie goeie mense is. Nie net hy nie, maar al die Le Cordeurs van die oupa af, via sy pa en ma en natuurlik sy “vroulief” en sy skoonheidskoninginsuster, tot by sy twee kinders met die onafrikaanse name van Mischke en Estéve. Nérens in al die derduisende boeke wat ek gelees het, het ek so ‘n oormaat van selfverheerliking teëgekom nie.
Ek het in vorige rubrieke dikwels na die Le Cordeur-verskynsel verwys, bv in my resensie van Le Cordeur en sy vriend, Wannie Carstens, se Adam Small-huldigingsbundel, Ons kom van vêr (2016 – Praag 2.04.2017). Die keuring van die artikels vir daardie bundel is so streng deur Le Cordeur gedoen dat daar vir slegs vier van sy artikels plek ingeruim kon word. Wat in daardie artikels staan, word in sy jongste boek herhaal. Dit is veral Naspers/Media24-publikasies wat oorgewillig is om te publiseer wat Le Cordeur skryf. Dit maak blykbaar nie saak hoeveel keer hy herhaal wat hy voorheen geskryf het nie.
“Hierdie bundel bevat ‘n keur van my beste artikels die afgelope 25 jaar. In hierdie tyd het ek 218 artikels gepubliseer … Toevallig val dit saam met my sestigste verjaardag; gevolglik het ek besluit om die 60 beste artikels weer af te stof en aan te bied” (xi). “Die publikasie van hierdie bundel val ook saam met die 25ste herdenking van Suid-Afrika se demokrasie” (xii). Le Cordeur as skrywer en die ANC as regime is dus as ‘t ware ewe oud en albei probeer om ons “jong demokrasie te laat werk.” Ons is mos “eintlik een groot familie” (xii). Vandaar is dit ‘n maklike treetjie na wêreldburgerskap in die wêrelddorp (102), waar almal Engels praat en dieselfde kultuur het.
Een van die groot euwels is rassisme, waaraan bv Annelie Botes haar glo skuldig gemaak het met die opmerking: “Ek hou nie van swart mense nie” (1). Daar is ook “gekleurde [swart] rassiste” (volgens Allan Boesak), maar nie bruin rassiste nie (volgens Franklin Sonn): “Bruin mense het hulle nog altyd geroem op nie-rassigheid” (3). Die voorbeeldige Elna Boesak word soos volg aangehaal: “Dit is ‘n feit soos ‘n koei dat die stammoeders van die bekendste Afrikanerfamilies [swart] slavinne was” (3). Dit bied ‘n springplank aan Le Cordeur: “Dis tyd dat die Afrikaner ‘n Afrikaan word” (3). Hoe? Deur hibridisering, soos wat Wannie Carstens vir sowel die Afrikaner as Afrikaans bepleit (Praag 4.05.2019). Le Cordeur sluit sy proloog soos volg af; “Ek is in die eerste plek ‘n Suid-Afrikaner met ‘n bruin vel wat Afrikaans as moedertaal het … ek is ook ‘n Afrikaan” (4).
Le Cordeur het homself beskou as “‘n kind uit ‘n benadeelde en baie arm gesin” (15). Wat het hom benadeel? Apartheid. Wie het hom benadeel? Die blankes, veral die Afrikaners. Maar reeds op 16-jarige ouderdom het hy Europa besoek. Hy het ‘n beurs vir voltydse studie aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) van die Departement Kleurlingsake ontvang (115). Maar hy kla steen en been omdat hy soggens om 6-uur ‘n trein uit Wellington na die UWK-kampus moes haal (135). Toe was treinritte veilig. Aan die UWK het hy, soos op skool, saam met mede-bruines in Afrikaans studeer. Hy wek doelbewus die valse indruk (ook in van sy ander artikels) dat die UWK-kampus in 1977, toe hy daar begin studeer het, uit opslaangeboue bestaan het. “Die eerstejaars was ingeprop in die tydelike houtstrukture net oorkant die Kêf [kafeteria]. Goedkoop akkommodasie, eksklusief vir bruin mense” (383). “Van die moderne kampus wat nou [2012] op die UWK pryk, was daar nog nie sprake nie” (373).
Die UWK het in 1960 met die aanbieding van klasse begin. Daar is dadelik ‘n aanvang met die oprigting van moderne geboue gemaak. Teen 1976 het die UWK ‘n pragtige ontwikkelde kampus met nuwe, moderne geboue gehad. In 1976 was daar net twee tydelike opslaangeboue, een by die fakulteit handel en een by lettere. Albei is deur die studente, waarvoor Le Cordeur die grootste lof het, afgebrand. As Le Cordeur in 1977 in ‘n tydelike houtstruktuur klasse bygewoon het, het dit al ooit by hom opgekom dat daardie gebou opgerig is omdat sy studentehelde die vorige jaar houtgeboue afgebrand het? Het daardie helde die moraliteit, bv integriteit, gehad om die staat te vergoed vir die skade wat hulle aangerig het? Nee, sover bekend is geen sodanige poging deur enigeen van die saboteurs aangewend nie; selfs nie deur diegene wat later weens transformasie in topposte aangestel is en buitensporige salarisse ontvang het nie. Hulle het eerder voortgegaan om, soos Le Cordeur, die “apartheidsregime”, wat hulle akademiese vorming moontlik gemaak het, te kritiseer. (In die jare sewentig was ek agt jaar lank op die UWK-kampus, insluitende 1976 en 1977, sodat ek weet waarvan ek praat. Le Cordeur se wanvoorstelling van die destydse UWK is gewoon ‘n skande.)
Sedert 1994 word die voorreg om saam met jou etniese of kultuurgroep in Afrikaans te studeer, al hoe meer aan skoliere en studente ontsê. Dít is die soort “vryheid” wat volgens Le Cordeur “duur gekoop” is (19). Hy opper geen beswaar teen “vryheid” wat wesenlik verpligte rasse-integrasie is nie. Hy onderskryf eerder die ANC se retoriek van pluraliteit, diversiteit, inklusiwiteit, multikulturaliteit, demokrasie, transformasie, menseregte, versoening en nasiebou. Onderliggend is daar egter die ANC se ideaal van gedwonge eendersmaking; dat net Afrika-/swart kultuur en die koloniale taal, Engels, geduld behoort te word. Suid-Afrika het glo ‘n “tragiese verlede” (18), maar is die hede nie baie erger nie?
In Le Cordeur se matriekjaar, 1976, is die grootste deel van sy skool weens brandstigting in puin gelê. Hy vertel dit oor en oor, maar hy, wat veronderstel is om ‘n opvoedkundige te wees (163), verseg om hierdie sabotasie te veroordeel. Ná universitêre studie was Le Cordeur een van die “onderwysers wat diep betrokke … in die stryd teen apartheid” was (41). Hy haal Mcebisi Jonas, ‘n voormalige adjunkminister van finansies, goedkeurend aan: “Onderwys was veronderstel om sentraal in ons anti-apartheidstruggle te staan” (46), asof onderrig/opvoeding, wat ‘n beskaafde onderneming is, versoenbaar met geweld en terrorisme is, wat die uitdrukking van onbeskaafdheid is.
“Primêr gaan skole gebuk onder geweld weens die gebrek aan reg en orde in ‘n ongedissiplineerde [onbeskaafde?] samelewing … Dit is geen geheim dat Suid-Afrika in ‘n gewelddadige land verander [getransformeer] het nie” (44). “Ek [het] nog nooit soveel geweld soos nou [2018] in Suid-Afrikaanse skole gesien nie” (84). “‘n Skool [is] slegs ‘n mikrokosmos van die samelewing” (45). “Die gehoorsame kind het plek gemaak vir die gehoorsame ouer” (60). Waarom het Suid-Afrika so ‘n uiters gewelddadige land geword? Le Cordeur gaan soek die rede hiervoor by bv enkelouergesinne en oorvol klasse. Myns insiens is die voorbeeld wat die ANC met sy terrorisme gestel het, die primêre rede vir die gewelddadige nuwe Suid-Afrika. Die ANC het getoon dat ‘n mens kan kry wat jy begeer as jy geweld gebruik. Dit is waarom bv Nelson Mandela nooit geweld afgesweer het nie. Geweld het ‘n bewese middel tot ‘n doel geword.
Soos in sy vorige boek word die lesers weer ingelig dat Le Cordeur deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) as ‘n navorser gegradeer is of erken word (430). Hy herinner ons tot vervelens toe aan sy navorsing (bv in artikel 15). Sy dogter word genoem as sy assistent (iv) in hierdie grootse onderneming. “Dit is skokkend hoe min Suid-Afrikaners van hul eie geskiedenis weet” (68). Op die daaropvolgende bladsy staan: “Cecil John Rhodes wat reeds in 1902 in Rhodesië (Zimbabwe) oorlede is” (69). Rhodes is in Muizenberg oorlede en in Rhodesië begrawe. Dit is skokkend dat Le Cordeur dit nie weet nie.
Hoe betroubaar haal hierdie NNS-gegradeerde navorser aan? Met verwysing na Christo van Rensburg se boek, So kry ons Afrikaans (2012 – Praag 15.12.2018), skryf Le Cordeur: “In die voorwoord skryf ek: Die boek toon die ‘veelfasettige afkoms van Afrikaans. Dit beklemtoon dat die taal uit baie variëteite bestaan. Hopelik sal dit die gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, in die kiem smoor’” (299). In Van Rensburg se boek staan egter: “Met hierdie werk wil die ATR [Afrikaanse Taalraad] opnuut die veelfasettige afkoms van Afrikaans beklemtoon en die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem smoor” (p 10). Vóór hierdie aanhaling is daar die volgende sin: “‘n Taal soos Afrikaans bestaan ook uit talle variëteite” (10). Vergelyk ook die deurmekaarspul met wat Le Cordeur en Franklin Sonn onderskeidelik na bewering skryf (Le Cordeur se 2019-boek, p 393) met wat agterop Carstens en Le Cordeur se 2016-boek staan.
‘n Universiteit soos Stellenbosch en ‘n hoërskool soos Ermelo het doeltreffend en in rus en vrede en gelukkig as blanke Afrikaanse instansies bestaan. Sedert 1994 word rasse-integrasie en verengelsing egter deur die ANC-regime aan hulle opgedring. Le Cordeur dink dat wat hy as omgangsskoolinspekteur – hy noem dit “kringbestuurder” (“circuit inspector”) – voorgestel het, die probleem in Ermelo in ‘n japtrap sal oplos. Sy riglyn is “die grondwetlike beginsels van regstelling, billikheid en praktiese uitvoerbaarheid” (73). By die Laerskool AF Louw in Stellenbosch het hy “‘n wen-wen oplossing” voorgestel: dat hierdie blanke Afrikaanse skool in die eerste jaar in Graad R 40 swart Engelse skoliere uit Kayamandi inneem en dat hierdie skoliere dan elke jaar ‘n graad opskuif terwyl nog 40 swartes van onder af inskuif. “Die skool en sy beheerliggaam het grootmoedigheid aan die dag gelê en die idee gekoop” (74). In die praktyk kom dit neer op ‘n slinkse metode om ‘n blanke Afrikaanse skool geleidelik in ‘n (hoofsaaklik) Engelse skool vir swartes te transformeer.
In 2009 het Le Cordeur gespog: “Die leerdertal het gestyg van 250 Afrikaanse leerders na 500 meertalige kinders. Afrikaanse leerders se Engels het drasties verbeter. En 250 Xhosa-kinders en hul ouers [!] is nou Afrikaans magtig … danksy die visionêre leierskap van die beheerliggaam en die skoolhoof is ‘n slag geslaan vir Suid-Afrika; meer nog vir Afrikaans. Deur konstruktief saam te werk met die owerhede is Afrikaanse onderrig aan AF Louw verseker” (75) – ongelukkig net so min as aan die Universiteit Stellenbosch. Die taalverdeling sal nie 50/50% bly nie. Nie eens die naam van die skool sal meer lank dieselfde bly nie. Maar Le Cordeur beweer met sy (briljante) plan kan almal aan die Hoërskool Ermelo ook tevrede en gelukkig gemaak word (76). Ons moet hande vat (83), aan beweeg en die groter prentjie sien (78). Die werklikheid van verswelging is deel van daardie groter prentjie. Dit is die ou-ou ANC-tyding: Almal moet toegang hê. Niemand moet uitgesluit voel nie (106). Hoofsaaklik of heeltemal swart skole, universiteite, ens, is heeltemal in orde. Wat nie geduld word nie, is blanke enklawes (106). Enige uitsluitlik of selfs oorwegend blanke of Afrikaanse instansie word vertolk as die voortsetting van apartheid. Enige eksklusief swart instansie word egter as ‘n lofwaardige voorbeeld van solidariteit voorgestel.
Waarmee Le Cordeur as ANC-kornuit hier besig is, is sy kruisvaart teen apartheid (en blankes/Afrikaners). Die volgende sin spreek boekdele oor sy gesindheid: “Nie alle leerlinge in Suid-Afrika is so bevoorreg om in hul moedertaal skool te gaan nie. Daardie voorreg is slegs gereserveer vir Afrikaans en Engels, ‘n oorblyfsel van apartheid [!] toe Engels en Afrikaans die enigste amptelike tale van Suid-Afrika was” (98-99). Le Cordeur se navorsing kan gerus die boeke van Hermann Giliomee insluit. Dan sal hy weet dat die twee amptelike tale lank voor 1948 se apartheid, in 1925 hulle beslag gekry het.* Ook dat dit apartheidsbeleid was om swartes se kultuur, insluitende hulle moedertale, te bevorder. In die NP-regering se staats(laer)skole vir swartes is onderrig by voorkeur in die betrokke swart moedertaal aangebied. Dit is in die skole van die Engelse kerkgenootskappe dat swart skoliere van hulle kultuur vervreem is. Engels as taal is aan hulle opgedring, asook pogings om hulle in ander opsigte Anglo-Saksies te maak. Verder is dit swart ouers wat self daarop aandring dat onderrig in Engels pleks van in hulle swart moedertaal moet geskied. Kortom, die NP-regering en Afrikaners het aan swartes gegun wat hulle aan hulle self gegun het, dus ‘n eie kultuur, insluitende moedertaalonderrig. Dít is wat deesdae deur die ANC-kamerade aan hulle mede-swartes en aan Afrikaners misgun word.
[* Le Cordeur is die kluts heeltemal kwyt wanneer hy skryf: “In 1925 … toe ons swart tale hul amptelike status verloor het” (366). Vóór 1994 het die swart tale nooit amptelike status in Suid-Afrika gehad nie.]
“Met die aanbreek van ‘n demokratiese bestel was dit noodsaaklik om die hoër onderwysstelsel te transformeer. Taal is ongetwyfeld een van die vernaamste hindernisse wat in die pad staan van die akademiese sukses van die meerderheid studente aan tersiêre instellings … Dis kommerwekkend dat talle studente akademies onsuksesvol is; nie weens ‘n gebrek aan intelligensie nie, maar omdat die studente nie hulself behoorlik in die dominante taal van die universiteit kan uitdruk nie” (108). Omdat Le Cordeur ‘n ANC-kornuit is, kies hy kant vir demokrasie en transformasie. In werklikheid was transformasie, ten minste wat onderrigtaal betref, glad nie aan die tradisioneel Afrikaanse universiteite nodig nie. In 1994 was die meerderheid plaaslike universiteite swart en Engels. Wat nodig vir beter prestasie deur swart studente is, is bystand in hulle moedertaal. In daardie sin was dit nodig om slegs die Engelstalige universiteite te transformeer.
‘n Universiteit is ‘n plek wat veronderstel is om net die room van die samelewing as studente en dosente toe te laat. Die ANC maak hom aan ernstige dwaling skuldig deur te redeneer dat universiteite vir almal toeganklik moet wees. Om in sy dwase doel te slaag, word al hoe laer akademiese vereistes vir universiteitstoelating gestel. Die punt is bereik waar veral swart studente by universiteite inskryf primêr om kos en huisvesting te kry eerder as om ‘n kwalifikasie te verwerf. As daardie kandidate teen universitêre studie besluit, sou werkloosheid en krepering in die meeste gevalle hulle voorland wees. Die ironie en skande is dat bv die instansie waaraan Le Cordeur verbonde is, die Universiteit Stellenbosch (US), tot in Limpopo sulke akademies twyfelagtige kandidate werf en van studiebeurse voorsien terwyl akademies voortreflike blanke kandidate in sy natuurlike opvanggebied, die Wes-Kaap, nie net studiebeurse geweier word nie, maar ook toegang tot die US. Hierdie wantoestand word voorgestel as iets voortrefliks, as die aanbieding van “gelyke geleenthede”. Die US het hom daartoe verbind om so gou moontlik so swart en Engels moontlik te word. Hierdie visie word om politieke (dus ANC-gedienstige, nie-akademiese) redes nagestreef.
My standpunt is dat ‘n akademikus as akademikus nie sodanige beleid kan onderskryf nie. Maar Le Cordeur, as ANC-kornuit, doen dit. “Die nalatenskap van apartheid [het] die gebruik van Afrikaans by histories Afrikaanse universiteite negatief geraak” (109). Hy aanvaar die ANC se verderflike redenasie dat Afrikaans ‘n meganisme vir uitsluiting is; dus dat (veral) swartes, soos by skole, by tradisioneel Afrikaanse universiteite op die onderrigtaal van hul keuse, naamlik Engels, kan aandring (109). “Die onus rus op universiteite om te bewys dat Afrikaans nie as meganisme dien om teen studente te diskrimineer op grond van taal nie” (110). Le Cordeur verskaf voorbeelde van eentalige universiteite in ander meertalige lande, soos Finland en België (111), maar as ANC-kornuit gun hy sodanige opset nie vir Afrikaanse universiteite en studente nie. Hy onderskryf eerder Wim de Villiers se verengelsingsbeleid aan die US.
“Die ekonomiese en kulturele bemagtiging van die [swart] Afrikaan word toenemend gesien as ‘n kombinasie van erkenning aan die [swart] Afrikataal plus die gebruik van Engels” (111). Vir Afrikaanssprekendes is daar nie ‘n soortgelyke erkenning van kulturele regte nie en Le Cordeur versuim om hom ten gunste van so iets uit te spreek. Le Cordeur kom eerder met die volgende drogredenasie vorendag: “My navorsing dui daarop dat Afrikaans steeds ‘n [afgeskaalde/geringe] plek het as onderrigtaal en wetenskapstaal, maar nie aan ‘n uitsluitlik Afrikaanse universiteit nie … Die strewe is juis na universiteite waarvan die identiteit en institusionele kultuur nóg swart, nóg wit, nóg Afrikaans, nóg Engels sal wees, maar onbeskaamd Suid-Afrikaans” (112; ook 344). Le Cordeur probeer hier om sy lesers opsetlik te mislei. Hy weet dat die ANC-regime geen beswaar teen oorwegend of selfs uitsluitlik swart Engelse universiteite het nie. Die tradisioneel swart universiteite is steeds Engels en feitlik uitsluitlik swart en geen daadwerklike poging is al ooit aangewend om hulle in hierdie opsigte te transformeer nie. Dit is teen die tradisioneel blanke Afrikaanse universiteite wat die ANC-regime sy mes in het. Le Cordeur verroer nie ‘n vinger om selfs nie eens die Afrikaansheid van daardie universiteite te beskerm nie.
Le Cordeur verwys na die taalbeleid wat die US aan die einde van 2014 aanvaar het: “In die praktyk beteken dit dat studente wat nie Afrikaans magtig is nie, ten volle in Engels ondersteun sal word. Dit sal uiteraard die gebruik van Engels op die kampus verhoog sonder om afbreuk te doen aan die Afrikaanse aanbod [!]. Die vertrekpunt moet altyd wees dat taal nooit ‘n meganisme van uitsluiting mag wees nie” (112). Maar Afrikaanssprekende studente word dan juis van Afrikaansmediumonderrig uitgesluit, want Afrikaanse klasse, anders as Engelse klasse, sal slegs aangebied word as daar (afdoende) aanvraag voor is en dit prakties moontlik is. Daar word van die valse veronderstelling uitgegaan dat Afrikaanssprekendes Engels verstaan, maar dat swartes nie Afrikaans (wil) verstaan nie – ‘n nalatenskap van die Soweto-opstand in 1976. Volgens navorsing wat MarkData in 2001 gedoen het, begryp net 26% van die Afrikaanssprekendes boodskappe wat in Engels meegedeel word (245).
As ‘n student aan ‘n Duitse universiteit wil studeer, moet hy Duits leer. Die Suid-Afrikaanse swartes wat in Kuba medies studeer, moet Spaans leer. Plaaslike swartes behoort verplig te word om Afrikaans te leer as hulle aan ‘n Afrikaanse universiteit wil studeer. Afrikaans is plaaslik van veel groter nut as Spaans. Weens drogredenasies het die US ‘n oorwegend Engelse universiteit geword. Die US verkrag Jan Marais se stigtingsvoorwaarde waarvolgens Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels mag beklee nie. Hierdie elementêre waarheid is nog nooit openlik en amptelik deur Wim de Villiers en sy mede-ANC-kruipers erken nie. Ook nie deur Le Cordeur nie, vir wie dit ‘n selfs groter skande behoort te wees omdat hy ‘n trustee van Het Jan Marais Nationale Fonds is. Hy kan gerus besef dat daar twee here is wat nie gelyktydig gedien kan word nie: Jan Marais en Wim de Villiers.
Let op hoe verwater Le Cordeur sy beweerde lojaliteit jeens Afrikaans: “Vir Afrikaanssprekendes is dit van die uiterste belang dat ‘n konstruktiewe [!] balans gevind moet word: Terwyl ons steeds verbind bly om Afrikaans (en ander inheense tale) te bevorder, moet ons realisties en sensitief wees vir inklusiewe kommunikasie op die kampus en die rol wat Engels kan speel om gelyke [!] geleenthede te skep op ‘n baie ongelyke speelveld” (112). Dit is klaarblyklik vir swartes wat die speelveld steeds ongelyk is al het Afrikaanssprekende US-studente reeds buitensporige opofferings gemaak.
Adam Small… was ten gunste van slegs Engelse universiteite in Suid-Afrika
Dit herinner aan ‘n vorige UWK-rektor, Brian O’Connell, ‘n anti-apartheidstryder (41), se uitspraak dat die swart Engelssprekende UWK-studente dit glo vreeslik waardeer dat die Afrikaanssprekende UWK-studente so gaaf was om onderrig in Afrikaans op te offer sodat swart studente (lekker) daar kan studeer. Ek dink Le Cordeur sal ook nie werklik beswaar hê as die Afrikaanssprekende US-studente hulle dieselfde opoffering in al hoe groter mate laat welgeval nie. Sy mentor, Adam Small, het hom immers ten gunste van ‘n eentalig Engelse Universiteit Stellenbosch én Universiteit Pretoria uitgespreek, om van die UWK nie te praat nie. Dan sal die US, soos die UWK, ‘n eentalige Engelse universiteit wees, wat groot guns in ANC-geledere sal vind. Le Cordeur borduur voort: “Baie werk is nog nodig voordat alle studente tuis sal voel in ‘n ubuntu van meertaligheid [al is die praktyk al hoe meer eentalig Engels] – iets wat slegs kan geskied binne die raamwerk van ‘n inklusiewe [bv rasgeïntegreerde] institusionele kultuur” (113).
Le Cordeur beweer dat hy reeds “meer as 200 artikels oor Afrikaans en my liefde vir die taal” gepubliseer het (115-116). Hoe hy hom rakende Afrikaans situeer, is een van my kernprobleme met hom. Le Cordeur skryf van “my geliefde taal” (73), dat Afrikaans “met jaloesie bewaar en bevorder moet word” (94) en “ek het my twee kinders in Afrikaans grootgemaak” (101); ook: “Vandag is ek een van slegs ‘n handjievol Stellenbosse akademici wat nog skryf en publiseer in Afrikaans – tot my nadeel” (116). Maar wanneer hy tussen ANC-politiek en die heil van Afrikaans moet kies, weeg ANC-gedienstigheid altyd swaarder. Dan skryf hy: “Laat die taal vry” (97), wat by veral die bruin elite beteken dat jy maar met Afrikaans (en die Afrikaner) soveel kan mors soos jy wil; dat jy die Afrkaner maar kan uittart met bv geradbraakte Afrikaans. Le Cordeur toon dat hy Standaardafrikaans kan skryf, maar geradbraakte Afrikaans gaan nie teen sy grein in soos by Afrikaners nie. Daarom gebruik hy dikwels onnodige Engelse woorde in sy boek; selfs samestellings uit albei tale.
“Afrikaans het hom nou lank genoeg (dood) gewurg in sy stywe Sondagklere” (97). Sy beswaar teen Standaardafrikaans is dat dit ‘n produk van blanke arbeid is. Maar dit is die geval met omtrent enigiets rakende Afrikaans. Waar hy fouteer, is wanneer hy Afrikaans as die erflating van die armsalige slawe en Khoi-San pleks van die Boere probeer staanmaak. Hy glo aan die kombuistaalhipotese: “Op hierdie manier het Afrikaans as moedertaal sy beslag gekry” (182; ook 185). Die algemeen erkende taalkundige waarheid is egter dat die elite, die opperklas en nie die laer klasse nie, beslag aan die erkende standaardtale gegee het. Die waarheid hiervan blyk uit die oormaat Nederlandse en Duitse invloed wat in Standaardafrikaans sigbaar is, terwyl daar bitter min woorde van slawe- en Khoi-San-oorsprong is. Moedswillig teen die feite in skryf Le Cordeur egter: “‘n Deel van Afrikaans het wel oor die see gekom, maar die grootste deel is hiervandaan” (363).
Mense soos Le Cordeur, wat nie werklik omgee vir die gehalte, spesifiek die wesenlik nie-Engelsheid, van Afrikaans nie, kom, soos sy mede-bruin elite, dikwels met stellings soos: “Afrikaans se toekoms het lank laas so seker gelyk as nou [1993]” (115) terwyl Afrikaans sienderoë op alle terreine en vlakke agteruitboer. Dit is ook die bruin elite, soos Adam Small, Jonathan Jansen, Hein Willemse en Le Cordeur, wat vir Afrikaans geen onheil sien in die verengelsing van al die histories Afrikaanse universiteite nie. Wat ons hier mee te make het, is Afrikaansdislojaliteit, gerugsteun deur hulle ANC-lojaliteit. Eintlik wil hulle “niks te doene … hê met die ‘boere’ nie” (118). Gesien deur die politieke bril van ANC-gesindes, was Afrikaans “die taal van die onderdrukker” en later “die taal van bevryding”; bv die MK-opgeleide terroris, Basil Kivedo, wat daarop roem dat hy bomme in Afrikaans geplant het (391). “Voeg hierby die Afrikanernasionaliste wat talle onregte teenoor hul bruin familie [!] gepleeg het, en Afrikaans as hul alleenbesit [!] beskou al het bruin mense net soveel [!] tot die ontwikkeling van Afrikaans bygedra” (119). Hierdie laaste sin toon duidelik hoe skeef Le Cordeur se siening is. Eintlik erken hy sy en die bruin elite se dislojaliteit jeens Afrikaans: “Dit is te verstane dat bruin mense hierdie skielike toenadering met agterdog sal bejeën en op enkele uitsonderings na nooit dieselfde oor Afrikaans sal voel as hul wit landgenote nie” (119).
Wannie Carstens. Benewens die hibridisering van Afrikaans, hou hy van kortmouhemde.
Die toenadering waarna Le Cordeur verwys, neem meer as een vorm aan. Daar is die uiterste geval van Wannie Carstens (een van Willie Esterhuyse se skuldige Afrikaners), wat polities so verlig geword het dat hy die hibridisering van Afrikaans en sommer ook van Afrikaners bepleit. Dan is daar die blanke pleitsbesorgers vir Afrikaans as onderrigtaal aan bv die Universiteit Stellenbosch, wat die noodsaaklikheid vir onderrig in Afrikaans alewig ten behoewe van bruin studente bepleit. Wat hulle eerder behoort te doen, is om op Afrikaans vir blanke studente aan te dring omdat Afrikaners baie meer Afrikaanslojaal as bruin mense is. Carstens en Le Cordeur, soos hulle sogenaamde Afrikaanse Taalraad, kies by voorkeur kant teen Afrikaners en Standaardafrikaans en oorbeklemtoon om opportunistiese politieke redes die rol van nie-blankes asook die brouseltaal Kaaps.
Met hierdie benadering kastreer hulle hulleself om iets vir ordentlike, suiwer(der) Afrikaans te doen. Hierdie selfgefabriseerde Afrikaansmagteloosheid blyk uit die volgende woorde van Le Cordeur: “Terwyl ons as Afrikaanssprekendes moet voortgaan om Afrikaans te bevorder, moet ons nie blind en onsensitief wees vir die gelykmakende [!] rol wat Engels en veral ons inheemse tale kan speel op ‘n baie ongelyke speelveld nie” (121). Daarenteen is my standpunt: Veg vir Afrikaans en nie vir alle inheemse tale nie, én: Veg vir Afrikaners en nie vir alle minderheidsgroepe nie. Ons ywer moet so duidelik moontlik gefokus wees. Le Cordeur beveel telkens aan dat nie-swart Suid-Afrikaners ‘n swart taal moet leer. “‘n Gesertifiseerde opleiding in ‘n [swart] Afrikataal behoort ‘n vereiste te wees vir ‘n pos in die staatsdiens” (246). Maar Le Cordeur vereis nooit dat enigeen Afrikaans moet leer nie (bv US-studente); allermins diegene in die oorverswarte staatsdiens. Meer as ooit is ek daarvan oortuig dat Le Cordeur ‘n valse profeet vir Afrikaans is. Maar dan beskou hy hom waaragtig as deel van “die Wie-is-Wie van Afrikaans” (277), dus een van die top Afrikaanssprekendes of -yweraars. Vir my as blanke is dit veel meer sinvol om eerder ‘n Europese as ‘n swart taal te leer. By ‘n Europese taal vind ek kultureel aanklank terwyl ek kultureel geen baat by ‘n swart taal sal vind nie. Vergelykenderswys sou ‘n swart taal vir my as ‘t ware ‘n hut oopmaak, terwyl Duits, Frans of Spaans vir my ‘n hele wêreld toeganklik maak.
Le Cordeur se benadering tot Afrikaans is ANC-deurdrenk. Daarom kan hy ‘n artikel skryf met die opskrif: “Madiba het Afrikaans óók bevry” (122). Die benaming “Madiba” probeer verseker dat ons daardie mens eerder met vrede en versoening as met geweld en terrorisme assosieer. Le Cordeur, soos sy ANC-meelopers, fokus op die Mandela van 1994 en daarna; nie op die onrusstoker en bomplanter van vóór 1994 nie. Mandela het glo ‘n groot liefde vir Afrikaans gehad en uitgereik na Afrikaners (122). Hoekom het hy dit gedoen? Om Afrikaners te probeer sus nadat hulle sonder hulle instemming op ‘n verraderlike manier van hulle politieke mag ontneem is.
Tydens sy eerste staatsrede het Mandela, waarskynlik op aanbeveling van Jakes Gerwel, Ingrid Jonker se gedig, “Die Kind”, voorgedra. Le Cordeur beweer Mandela het daarmee “die pertinente teken van versoening uitgestuur … na die Afrikanergemeenskap” (125). Maar die gedig handel oor (die) slegte blankes wat glo ‘n swart kind deur die kop geskiet het. Lees gerus die volledige gedig, wat op die internet beskikbaar is. Die slinkse Mandela vestig daarmee die aandag op die blankes as “moordenaars” terwyl hy die aandag aflei van die dood en verwoesting van baie groter omvang wat deur veral die ANC/UDF/SAKP gesaai is. Maar Le Cordeur se vetolking is: “Mandela [wou] ‘n sein uitstuur dat Afrikaans en die totale Afrikaanse [Afrikaner?] gemeenskap ‘n plek [as die moordenaars van swartes?] in ‘n demokratiese Suid-Afrika verdien” (125). Dan volg nog ANC-geïnspireerde sousies: “Mandela het nie net ‘sy mense’ na vryheid gelei nie. Ook Afrikaans – eens gestigmatiseer as Taal van die Onderdrukker – is bevry van sy gekontamineerde verlede” (126). Mandela het glo “Afrikaans se plek in die Grondwet … verseker” (126). Soos aan die Universiteit Stellenbosch behoort ‘n mens te vra: Hoedanig is daardie plek?
Heel aan die begin verwys Le Cordeur na “Afrikaans en Kaaps” (xii) en later dat hulle (heeltemal) verskillende tale (“‘n ander ‘taal’” – 327) is. Afrikaans en Kaaps is twee tale wat in aard verskil. Afrikaans is ‘n nie-Engelse taal uit eie reg terwyl Kaaps ‘n brousel- of mengeltaal is wat naas eie elemente ‘n sameflansing van Afrikaans en Engels is. “Volgens [Adam] Small is Kaaps … ‘n volwaardige, selfstandige taal” (131); iets wat Kaaps egter klaarblyklik nie is nie omdat hy uitermate op sowel Afrikaans as Engels parasiteer. Kaaps verryk glo Afrikaans (132), wat aanvaarbaar kan wees as dit uit die relatief klein taaleie-komponent van Kaaps kom. Wat heeltemal onaanvaarbaar is, is as Afrikaanssprekendes hulle taal besoedel met onnodige Engelse woorde en segswyses in navolging van die (bedenklike) voorbeeld wat Kaapssprekers stel. Op die lange duur kan dit die ondergang van Afrikaans as ‘n taal uit eie reg meebring.
Le Cordeur is ten gunste van taalvermenging (en sekerlik ook rasvermenging): Ons behoort glo “ons taal op ‘n inklusiewer wyse te bestuur, sodat alle leerders sal tuisvoel in ‘n ubuntu van taal” (134). Dit gaan om integrasie/vermenging/potpourriing op alle terreine. “As daar so min vroue op Jan [van Riebeeck] se drie skepies was, hoe het die Suid-Afrikaanse volk aan die Kaap ontstaan?” (181). Wel, die Afrikanervolk dank sy bestaan hoofsaaklik aan mans en vroue wat later per skip uit Europa gekom het. Volgens Le Cordeur, egter, moet die eie die almal word. Anders as Afrikaners het bruin mense ‘n identiteitsprobleem. Die bruin elite gee voor dat hulle dit dus makliker vind om by ‘n verswelgende swart meerderheid in te skakel, al toon die daaglikse ervaring van die laer klasse bruines dat dit glad nie die geval is nie.
As ‘n mens Afrikaanslojaal is, ‘n aanvoeling vir die idioom van Afrikaans het, kan jy nie ‘n ondersteuner van erg geradbraakte “Afrikaans”, soos Kaaps, wees nie. Maar Le Cordeur probeer weer om twee here te dien, dus op twee stoele te sit. Hy beskryf Kaaps as “‘n belangrike variëteit van Afrikaans” (128). Standaardafrikaans is glo nie “‘n meer korrekte (‘suiwer’) vorm van Afrikaans … nie. Net so is Kaaps nie ‘swak Afrikaans’ nie” (129). Let op hoe slinks gaan Le Cordeur te werk: “Teen 1808 was Kaapse Afrikaans die huistaal van die meeste Kapenaars” (129). Daardie Kaapse Afrikaans of Kaaps-Hollands was iets anders as die hedendaagse Kaaps. Dit was bv vry van Engels omdat Engelssprekendes toe pas begin het om hulle aan die Kaap te vestig. Dieselfde valsheid kleef aan die stelling dat Kaaps, in die sin van Engelsbesoedelde “Afrikaans”, die oudste Afrikaansvariëteit is (271).
Le Cordeur is vatbaar vir enige propaganda, veral as dit anti-blank of pro-bruin is. Byvoorbeeld: “Was dit regverdig om die grond van die Eerste Nasie [die Khoi-San, deesdae die bruines] op ‘n slinkse wyse te bekom? Nee” (143). Dit is glo deel van die “onregverdighede van die verlede” (144). Le Cordeur is betrokke by Rachel’s Angels [‘n lekker Engelse naam], “‘n bemagtigings-inisiatief van Media24 … om belowende jong mense die geleentheid te bied om ‘n teriêre loopbaan te volg” (63). “Die projek het ten doel om die kapasiteit van belowende studente uit benadeelde gemeenskappe te verbeter” (148). Wat hy doelbewus verswyg, is dat Rachel’s Angels op ‘n rassistiese grondslag – dikwels eufemisties “regstelling” genoem – funksioneer. Daarvolgens kan ‘n blanke nie so ‘n engel wees nie. Dit maak nie saak hoe belowend, behoeftig en benadeeld ‘n blanke is nie, hy word op grond van ras van bevoordeling uitgesluit. Dít is in ooreenstemming met Le Cordeur en die ANC se sin vir geregtigheid.
Vir oorweging by die toekenning die “prestigeryke” Thuthuka-beurse (197) mag jy ook nie blank wees nie. Dieselfde rassediskriminasie teen blankes kom by Naspers en MultiChoice se Phuthuma Nathi-aandeleskema voor. “Die aandele mag egter steeds net deur swart individue en groepe … gekoop of verkoop word … Hierdie reëling verseker dat MultiChoice sy verpligtinge van sy uitsaai-lisensie ten opsigte van swart aandeelhouding nakom” (150). Met ander woorde, die rassistiese ANC-regime het die toekenning van ‘n uitsaai-lisensie onderhewig aan swart bevoordeling en blanke benadeling gemaak. Hierteen opper Le Cordeur geen beswaar nie.
Fatima Allie
As dosent neem Le Cordeur sy US-studente op uitstappies, maar telkens na plekke wat sy ANC-politiek en ander oriëntasies (bv pro-bruin en pro-Kaaps) pas. Fatima Allie, ‘n Moslem, is uitgesproke daaroor dat sy, soos Jonathan Jansen, Engels as haar eerste taal beskou; nie Afrikaans nie. Dit het die Afrikaanse Taalraad nie verhoed om haar sy ondervoorsitter te maak nie. Sy is ook by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans betrokke. As jy nie-blank is, hoef jy nie Afrikaanslojaal te wees om in leidende poste by sogenaamde Afrikaansinstansies “nader getrek” te word nie. Dit is Allie wat Le Cordeur se studente oor die slawegeskiedenis en die Bo-Kaap as die beweerde ontstaansplek van Afrikaans inlig (152). ‘n Klipharde historiese feit word deur hierdie elemente geïgnoreer: Die Bo-Kaap het eers dekades ná die vrystelling van die slawe (1834/1838) ‘n (oorwegend) Moslem-woonbuurt geword. Eintlik erken Le Cordeur dit wanneer hy skryf: “Die slawe [het] hulle ná die afskaffing van slawerny hier gevestig” (268-269). Ek hoop Le Cordeur se (veral blanke) studente het die vermoë om sterk weerstand teen sy deurlopende ideologiese breinspoeling te bied.
Daar is ‘n eienaardige evaluering van persone. Desmond Tutu van WVK-faam word ‘n “onpartydige fasiliteerder” genoem (249). Adam Small word tot ‘n reus verklaar (170) en beskryf as “een van ons grootste woordkunstenaars” (323). “Myns insiens moet die naam van Adam Small in dieselfde asem genoem word as Van Wyk Louw … en DJ Opperman. Hy was inderdaad een van die ‘drie grotes’ in die Afrikaanse kanon” (380). Nelson Mandela word tot ‘n “grootse staatsman” (219) en “die vader van ons nasie” (224) verhef. Mandela se leuen, “I have fought against black domination” (233), word asof dit evangelie is weer in ons kele afgedruk. Een van Le Cordeur se voorstelle om “almal” tevrede te stel, is om die Kaapstadse lughawe na die alkoholis Eva/Krotoa, een van ons jong demokrasie se “Eerste Mense”, te vernoem (236). “Sy was inderdaad die eerste vroulike Renaissance-figuur in Suid-Afrika” (240). Geen wonder dat ons nie meer van Thabo Mbeki se Afrika-Renaissance hoor nie. By die keuse van die lughawenaam is Krotoa se sterkste mededinger, volgens Le Cordeur se insig, Winnie Mandela (236). Dit gaan glo om die titel: “Moeder van ons nasie” (241). “Die Eerste Nasie kan tereg voel dat hulle die stiefkinders van SA is” (240) – te meer as Krotoa nie vernoem word nie. Die Strand moet dalk eerder na nog ‘n Renaissance-Khoi-Khoin, Autshumato/Harry die Strandlopper, vernoem word. Dit is seker nie genoeg erkenning as ‘n rekenaargebaseerde vertalingsprojek Autshumato se naam dra nie. Wás Suid-Afrika ‘n abnormale samelewing of het hy eers van 1994 af al hoe meer abnormaal geword?
Daar is nog baie wat ek oor bv die aanbieding, verwerking, taalgebruik, proeflesing en ook die inhoud van hierdie bundel kan skryf; ook die indeks wat hoogs onvolledig is.
Rapport Weekliks, “Laat Castro maar sy storie spin”, van 16 Februarie 2020 verwys. Leopold Scholtz skryf daarin dat Castro in 1988 met die vervalsing van die geskiedenis begin het. Want, Castro het volgehou die einddoel van die SAW in Angola was… om UNITA in Luanda aan bewind te bring, en sodoende die NP-regering se heerskappy oor die hele Suider-Afrika te vestig.
Kan dit moontlik ‘n vervalsing van ons geskiedenis wees, om die geniale Castro nie gelyk te gee nie?
Toe die SAW onderweg was na Luanda in 1975, wou die CIA wel vir UNITA en die FNLA aan bewind bring. Constand Viljoen was die senior SAW-offisier saam met die CIA. Viljoen was destyds die SAW se Direkteur Operasies vir die CIA se resies na Luanda.
Die CIA is in November 1975 verras. Die CIA het nie verwag dat Castro so groot in Angola sou ingryp nie. Die CIA het Castro onderskat.
Dit is ironies dat die CIA vir Castro in 1975 in Angola onderskat het. In 1961 het die President van die VSA die CIA-hoof afgedank, juis omdat die CIA vir Castro onderskat het. Die man wat Castro se Afrika-strategie teen die CIA in Kuba bemark het, was bekend aan die CIA. Francis Parker Yockey het ook in 1960 die Kubaanse Misielkrisis van 1962 aan Castro bemark. Die CIA het Yockey se invloed op Castro dus goed geken. Die CIA in Angola moes dus beter op Castro bedag gewees het, dog in 1975 is die CIA getref deur bestuurskommelinge, terwyl Castro se pos oor dekades heen stabiel gebly het.
Genl. Constand Viljoen
Castro het vanaf November 1975 in Luanda, met lug- en seebrûe vanuit Kuba, reg onder die neuse van die CIA, feite op die grond in Luanda geskep. Castro het veroorsaak dat die Amerikaanse Kongres die CIA vir 10 jaar uit Angola verban het. Voor 1975 was Fidel Castro reeds uiters ervare met CIA-operasies. Castro was teen 1975 die wereld se voorste kenner van CIA-operasies, sowel as die werkinge van die VSA-president en -Kongres. Wat die CIA betref, het Castro regtig al die wysheid in pag gehad.
Dit is dus nodig, dat ons Leopold Scholtz se woorde met dié van Fidel Castro vergelyk, om by die waarheid oor Angola uit te kom.
In Desember 1975 was die aangewese Hoof van die CIA, George H. Bush, saam met die President van die VSA in China om die Sowjetunie te ondermyn. Hulle het oor gesamentlike steun vir UNITA en die FNLA in Angola beraadslaag, om Luanda te wen. Kissinger het nog aan Deng Xioping gesê: “Ons is bereid om Suid-Afrika uit Angola te verdryf, sodra ‘n alternatiewe militere mag geskep kan word.”
Die SAW het toe in 1976 uit Angola onttrek, maar glad nie volgens die CIA en Kissinger se plan nie. Daar was nooit ‘n alternatief vir die SAW in Angola nie.
Castro en die Sowjetunie was nou in beheer van Luanda, en die CIA in ‘n verskriklike verleentheid. Hoe kon China die VSA vertrou om die Sowjetunie te ondermyn, as die CIA sulke fiasko’s in die Koue Oorlog veroorsaak het? Die CIA kon nie eens vir Castro in hulle eie agterplaas beheer nie.
Castro het dus in Angola die derde grootste krisis in die bestaan van die CIA geskep. Die Kubaanse kernmisielkrisis, ook danksy Castro, was ‘n groter krisis vir die CIA. Die grootste krisis ooit in die CIA, was toe die CIA vir Castro in Kuba aangeval het, die sogenaamde “Bay of Pigs”-inval. Die topdriefiasko’s van die CIA, was almal danksy Castro.
Die Koue Oorlog is deur President Reagan geëskaleer. Reagan wou die Koue Oorlog wen en klaarkry. Dus in 1985 gee die Amerikaanse Kongres vir die CIA toestemming om weer na Angola te gaan — maar slegs kovert, oftewel in die geheim.
Om UNITA in Angola aan bewind te kry, gaan die CIA vir Kuba en Castro uit Angola moet kry. CIA-analiste sê dat UNITA nie as ‘n militêre mag op sy eie teen Castro in Angola kan wen nie. Die CIA gaan net soos in 1975, in 1986 ook weer van die SAW moet gebruik maak.
Die enigste alternatief vir die gebruik van die SAW in Angola is Amerikaanse magte. Daarvoor is toestemming van die Amerikaanse Kongres nodig — vir openlike oftewel overte CIA-steun aan UNITA. Die gebeure in 1975 het geleer dit is by verre die beste opsie om Amerikaanse magte in Angola te gebruik, indien nie die enigste nie.
Die CIA reël dat UNITA se charismatiese Joseph Savimbi voorberei word vir ‘n bemarkingstoer na die Withuis. Savimbi word deur Reagan persoonlik in die Ovaalkantoor onthaal. Dr Savimbi kry ‘n persoonlike veiligheidspan van die VSA. Doktor dra ‘n Katolieke uitrusting wat perfek pas by konserwatiewe Katolieke senators. ‘n Professionele bemarkingsmaatskappy en die beste dinkskrum in die VSA bestuur Doktor se besoek, maar helaas, die CIA sukkel om sommige senators se steun te verkry vir die CIA om openlik in Angola met militêre mag te opereer om UNITA in gevegte te ondersteun.
Reagan besluit dan moet die CIA weer kovert in Angola opereer, saam met die SAW. Soos in 1975, moet die SAW in 1986 ook onsigbaar in Angola veg. Reagan beveel dus dat die CIA weer die SAW in Angola gebruik, op die volgende voorwaardes: Die SAW kry nie die VSA se Stinger-vuurpyle nie. Die SAW in Angola moet tydens CIA-operasies onopsigtelik agter UNITA-magte opereer, dus altyd in die nag.
Die CIA het reeds die twee grootste strategiese teikens vir die SAW in Angola met satelliete gefotografeer, en as nagoperasies ontwerp. Die twee nagoperasies is so geostrategies gekies, dat die SAW daarna ook slegs onsigbaar in die nag, agter ‘n sterk en opgegradeerde UNITA hoef te opereer. UNITA sal dan in Angola aan bewind kom, wat tot lewensbelangrike voordeel vir Suid-Afrika sal wees. Die SAW en NP kan nie die CIA-versoek weier nie. President Reagan self waarborg dat hy die Amerikaanse Kongres se sanksies teen Suid-Afrika sal afwater.
Dus in Januarie 1986 gee die President van die VSA, Ronald Reagan, te kenne, dat soos Afganistan, ook Angola en UNITA se vryheid benodig word om die Koue Oorlog teen die Sowjetunie te wen. Die VSA se President onthaal UNITA in die Withuis, en stuur UNITA Stinger-missiele om MIG-vegvliegtuie en Hind-helikopters hoog in die lug hou, ver van UNITA en SAW op die grond in Angola.
Die VSA se President het die CIA-direkteur William Casey ‘n mandaat gegee om eers die oorlog en daarna die verkiesing in Angola te wen, sodat die wereld ‘n “victory that electrifies the world” in Angola kan sien. Dit was President Reagan se woorde.
Drie maande na President Reagan se “electrifying” woorde, ontplof Tsjernobil se elektriese stasie per ongeluk in die nag. Volgens Gorbatsjof was dit die eintlike begin van die beplande inploffing van die Sowjetunie.
In dieselfde April van 1986, ontplof in die nag ook die belangrike hawe van Namibe in Angola. Namibe was die hoofverskaffingshawe vir Angola se weermagbasis en lugmagbasis in… Cuito Cuanavale. Vanaf die opgegradeerde Cuito Cuanavale-basis, wou die Sowjet-weermag en -lugmag in 1986 vir die CIA se UNITA aanval en uitwis.
Die CIA het satellietfotos van Namibe aan die SAW verskaf. Die SAW is gevra om die inligting in die nag te gebruik. Skepe en ‘n duikboot van die SAW het ‘n span spesialiste in die nag na Namibe vervoer. Namibe se brandstofdepot het ontplof. Die hawe en al die vragskepe het aan die brand geslaan.
Die CIA het ook satellietfotos van Cuito Cuanavale aan die SAW verskaf. Weereens is gevra om die inligting in die nag te gebruik. Net 5 Maande nadat President Reagan met UNITA in die Withuis vergader het, in Augustus van dieselfde 1986, vlieg 8 nuwe SAW-kannonne in die nag…. oor die Angolese grens na… Cuito Cuanavale.
Binne 3 nagte skiet ‘n groepie Middelburgers die Sowjet-weermag en lugmag uit Cuito. Danksy die Stingers, bly Sowjet-MIGs hoog in die lug. Hulle kan nie die gekamoefleerde stilstaande SAW-kanonne sien om raak te bombardeer nie. Die SAW se G5-kannone het byna 4500 basis-bloeiprojektiele op die Cuito-basis afgevuur. Rewolusioenêre projektiel-tegnologieë het die SAW-kanonne in staat gestel om MIG-vegvliegtuie op Cuito se aanloopbaan vanuit die bos te beskadig.
Die CIA wat die “electrifying” foto’s van UNITA in beheer van Cuito Cuanavale se lughawe aan die internasionale pers sou lek, het die SAW se naam vir die operasie om Cuito te verower, verander vanaf Southern Cross na Alpha Centauri. Met Cuito deur UNITA verower en beset, was die sterre binne bereik. Nie alleen was die Sowjet-inisiatief om UNITA te vernietig dan buite bereik nie, maar ook die Kubaanse besetting van Luanda was op risiko.
Met die Cuito-lugmagbasis in besit van UNITA, was die SAW se logistieke probleme in Angola opgelos, en UNITA sou baie meer lugsteun kry, kompleet met moderne onbemande hommeltuie. Die CIA sou Menongue moes aanval om Cuito te beveilig. Lobito-hawe en die Benguala-korridor deur die hart van UNITA se Ovimbunduland met die ou UNITA-hoofstad Huambo sou volgende gewees het. Doktor Savimbi sou onder die omstandighede ‘n vrye en regverdige verkiesing kon wen. Luanda, en dus die hele Suider-Afrikastreek, sou in 1986 net soos in 1975 weer op die spel gewees het. Die CIA het Castro nie vergeef vir 1975 nie. Castro het dit geweet, en die Sowjetunie gewaarsku.
Cuito Cuanavale in Augustus 1986, was weer soos Luanda in November van 1975. Suid-Afrika se toekoms was op die spel. Die NP en SAW se lewe was op die spel. Die hele Suider-Afrika was op die spel. Die CIA en Castro was weer slaags. Hoekom was Constand Viljoen nie daar nie? Hoekom het hy op 52-jarige ouderdom uit- en afgetree, pleks van om soos Castro, die geveg om Angola wat in 1975 begin het, te wen?
Die Hoof van die SAW moes die SAW gebruik het om Cuito se besetting te verseker soos oorspronklik beplan is. Anders as sy voorganger Constand Viljoen, het Jannie Geldenhyus as Hoof van die SAW gevegskompromieë aangegaan om sy politieke bestuurder ter wille te wees. Die deurslaggewende verskil tussen Viljoen en Geldenhuys was hulle persoonlikhede: Viljoen was geneig om nie saam te stem nie, en Geldenhuys geneig om saam te stem. Die eerste tipe maak geniale generaals soos Guderian, Rommel en Viljoen.
Die Suid-Afrikaanse regering, op advies van die CIA om die VSA-Kongres ter wille te wees, vra die Hoof van die SAW dat twee UNITA-brigades van 1500 man elk Cuito Cuanavale moet beset — ‘n historiese gebeurtenis wat wereldwyd “electrifying” opslae in die media sou maak.
Kuba en die Sowjeunie in Angola was in vir ‘n elektrifiserende verrassing, waarteen Castro die Sowjetunie in 1986 ernstig gewaarsku het!
Een UNITA-brigade van 1500 man het Cuito Cuanavale gemaklik beset en begin fees vier, terwyl die ander UNITA-brigade nie in die nag aangekom het nie. Die Sowjets en Kubane het met hulle oorblywende tenks ‘n teenoffensief teen UNITA begin, wat gou vir UNITA uit Cuito ontset het. Die verrassing was verby.
‘n Geskiedkundige geleentheid is verspeel — en vervals. Cuito Cuanavale is in Augustus 1986 na baie harde werk deur vele Suid-Afrikaanse soldate en verkenners, skitterend gewen. Sonder SAW-lewensverlies. In die nag het nie ‘n taktiese ontrekking plaasgevind nie, maar ‘n leierskapsmislukking, ‘n irrasionele besluit, en gevolglike tragedie vir die hele Suider-Afrika en die welsyn van 300 miljoen mense.
Hierdie klein stukkie nagtelike geskiedenis van Cuito Cuanavale is vervals, want vervalsing was nodig.
Verdere CIA- en SAW-oorlogvoering in Angola, om UNITA uiteindelik in Luanda aan bewind te bring, sou onmoontlik gewees het, met die erkenning dat die suksesvolle verowering van Cuito in Augustus 1986, as gevolg van ‘n hoogs riskante polities-korrekte besluit verspeel is.
Die Hoof van die SAW het slegs gelieg en gesê dat Cuito-besit nooit die doelwit was nie. Joseph Savimbi van UNITA het sy UNITA-bevelvoerder van daardie nag in Cuito tereggestel.
Hierdie keer het het die Sowjets en die Kubane hulle deeglik by Cuito ingegrawe, pleks daarvan dat die SAW by Cuito ingegrawe het. Dít het die geskiedenis van Angola en die hele Suider-Afrika verander. Politieke korrektheid pleks van militêre meriete het die ontwikkelling van Suider-Afrika gekelder.
In Leopold Scholtz eie eufemistiese woorde: “Hierdie aanslag spreek van opperste naïwiteit en het verskeie nadelige gevolge gehad…” – bladsy 43 van sy boek Ratels aan die Lomba.
Castro sou van sy generaals teregstel as daar ooit weer so-iets sou gebeur, soos wat by Cuito in Augustus 1986 gebeur het. Dog geen SAW-generaal is ooit tereggestel, of het prerogatiewe selfmoord gepleeg, na dom besluitnemings soos tydens hierdie strategies belangrike SAW-geleentheid in 1986 nie. SAW-soldate is daarna gedood, in die latere 1988 SAW-aanslag op Cuito, wat teen daardie tyd al ‘n onineembare UNITA-vesting en SAW-aanloopbaan sou gewees het, was dit nie vir die leierswaansin, dat die SAW onsigbaar in Angola moes veg nie.
Pik Botha… het onder die invloed met die Kubane onderhandel
Bostaande geskiedenis, sê ek graag aan Leopold Scholtz, is deur Hoof van die SAW “vervals”, want hy moes hierdie CIA-geskiedenis noodwendig geheim gehou, om verder te kan veg, en weer te probeer. In Scholtz se eie boek oor die Grensoorlog, noem hy egter dat UNITA wel vir Cuito in Augustus van 1986 na die G5-bombardement beset het, pleks van die SAW self.
‘n Jaar later, in 1987, wou PW Botha al vier Sowjettenkbrigades in ‘n offensief van UNITA vanaf Cuito by die Lombarivier vernietig — dit ek in Scholtz se Ratels aan die Lomba gelees.
Die vernietiging van al vier aanvallende Sowjettenkbrigades by die Lombarivier in 1987, en daarna noodwendig nog vier oorblywende brigades in die omgewing en by Cuito, sou 1988 ook heeltemaal verander het.
Die SAW sou Cuito weer verower het.
Kuba en Rusland sou mekaar beskuldig het oor 1987 se Mavinga-maneuverfiasko, en algehele paniek sou die MPLA in Luanda oorval het.
Pik Botha sou nie saam met die Kubane alkohol gedrink het en onder die invloed met hulle onderhandel het nie.
Vlug PanAm 103 na New York, waarop Pik Botha aanvanklik saam met die CIA-lede bespreek was, sou nie bo Lockerbie ontplof het nie. Daar sou geen PanAm 103 met passasiers na die New York-ooreenkomste vir Libië se Gadaffi gewees het, om in sy oorlewingstryd teen die VSA te saboteer nie.
Pleks dat die MPLA vir UNITA se elite, en later Joseph Savimbi self vermoor het, sou UNITA se Ovimbundu-meerderheidsbevolking die MPLA tydens ‘n demokratiese verkiesing verslaan het.
Angola en Suid-Afrika as sy buurland sou streeksprojekte ingestel het, met 40 000MW se Inga-hidrokrag vanaf die DRK na die hele Suider-Afrika. Só sou Suider-Afrika ekonomies geëntegreer geraak het. Die ANC wil dieselfde saam met mede-kameraad MPLA doen, maar teen 2020 is nog niks gebou nie.
Daar bestaan geen kameraadskap tussen die MPLA en die ANC nie, slegs koue oorlog volgens George Friedman se Stratfor, ook bekend as die private CIA.
Met militêr ondersteunde, demokraties verkose regerings in ‘n Luanda-Pretoria As, sou die Suider-Afrikaanse Unie vandag ‘n welvarende Westerse China met Afrika-kenmerke gewees het.
Vandag is dit duidelik, dat die vernietiging van al vier Sowjettenkbrigades in die bosse naby die Lombarivier, pleks van slegs een, ook tot die vernietiging van die ander vier brigades in die omgewing sou gelei het. Daarna sou alles anders verloop het.
Uit jou Scholtz se boek, Ratels aan die Lomba, blyk dit dat die SAW se Hoof nagelaat het om meer tenks vroeër veggereed by die Lomba te kry. Sonder genoeg tenks betyds aan die Lomba is die kans om al vier Sowjettenkbrigades in 1987 te vernietig, verspeel.
Die titel van Scholtz se boek, Ratels aan die Lomba, sê dit alles.
In die boek Mobility Conquers, deur Steenkamp en Heitman, staan daar:
“General Geldenhuys (always) wanted to avoid inflicting a major defeat on a Cuban force… lest that cause Castro to deploy additional assets .”
Die geskiedenis is: Geldenhuys het die vernietiging van die Kubaanse magte vermy, deur te klein magskonsentrasies en maneuvers te vereis. Castro het desondanks in 1988 sy beste en mees ervare bykomende magte op die SAW gekonsentreer.
“The government had given (Geldenhuys) firm instructions that South African forces were not to occupy any town in Angola…”
Sou Generaal Viljoen as Hoof van die SAW na sulke leunstoelwaansin vanuit Pretoria geluister het? Viljoen sou sy CIA-kontak opdrag gegee het om vir die President van Amerika te gaan sê, 2 uit 3 van jou eie raadgewers het vir jou bereken UNITA kan nie so wen nie. Ek is nie so onverantwoordelik dat ek weer gaan misluk met my soldate se lewens teen Castro nie. Moenie gruwelike grappe stuur nie, stuur nog Stingers.
Roland de Vries se boek Eye of the Firestorm, bevat dieselfde boodskap: die Hoof van die SAW gebruik nie sy rang as Hoof om die westelike opsie — wat hy wel in opmerkings erken die wen-antwoord is — te kies nie. Hy werk aanhoudend met te klein magskonsentrasies. Hy het geen geopolitieke oogmerke soos Castro nie. Daarom verras Castro hom. Castro uitmaneuvreer hom, want die Hoof van die SAW werk nie vir die groot idee van ekonomiese welvaart vir 300 miljoen Afrikane in die streek van Suider-Afrika nie. Die nodige grootsheid van die streekstoekoms, en die onvanpaste kleinheid van Jannie Geldenhuys se oorlog, laat Roland de Vries se kop soms duisel.
Dit was die plig van die Hoof van die SAW om binne-in Castro se kop in te klim. Castro was sy opponent. Ken jou opponent.
Magnus Malan lag effens vir Castro op YouTube, omdat Castro self die oorlog in Angola vanaf einde 1987 vanuit Kuba gelei het. Castro het dit in 1975 ook suksesvol gedoen. Persoonlik 24 uur per dag in Luanda ingegryp vanuit Havana. Castro se bestuur was beter as die SAW se hoofkwartier op hoofkwartier op hoofkwartier, via SWA en politieke Pretoria, en dan die ellelange ketting terug na die front toe.
Magnus Malan sê op YouTube hy het Castro nie geken nie. Na 1975, en teen 1988 moes die SAW vir Castro bestudeer en geken het. Castro se geopolitieke insig in Afrika, en Castro se voortdurende stryd teen die VSA en CIA was legendaries.
Die Hoof van die SAW in 1985 was ook legendaries, en die magtigste man in Afrika.
Hierdie skrywe is daarom ook aan Generaal Constand Viljoen gerig. Op 86 was hy net soveel jare op aarde as Castro.
Ek het met Constand Viljoen oor sy voortydige SAW-bedankingsredes gepraat en geskryf tydens my besoek aan hom op sy plaas in 2015. Constand het aan my antwoorde verskaf, per e-pos, en mondellings. Hy het ook iets oor Castro aan my geskryf, asook oor Geldenhuys, oor waarom Geldenhuys en nie Viljoen nie in 1988 teen Castro te staan gekom het in Angola.
Viljoen — ‘n ervare politieke operateur, geniale generaal en CIA-deskundige in Angola sedert 1975 — se voortydige aftrede op 52 as magtigste man en beste Generaal in Afrika, het die Suider-Afrikaanse domino’s laat val.
Viljoen het in 2015 aan my gestel dat generaal Geldenhuys goeie verhoudings met politici in 1985 gehad het. Verder het Viljoen gesê dat hy by ‘n gentleman’s agreement gebly het om na vyf jaar as Hoof van die SAW te bedank. Volgens hom was dit na aanleiding van ‘n destydse gewoonte in die Israelse weermag — maar dit was vir swak generaals bedoel. Geniale generaals mag nooit bedank nie. Verder het Viljoen aan my geskryf dat Geldenhuys en later ook Liebenberg, in elk geval van die beste, en goed genoeg was om hom op te volg.
Sou Constand egter nie na vyf jaar as Hoof van die SAW in 1985 op ‘n baie vroeë ouderdom van 52 afgetree het nie, sou hy kort daarna in 1986, asook in 1987 en 1988, weer teen Fidel Castro in Angola te staan gekom het.
As Viljoen nes Castro in sy pos aangebly het, in die groot streeksgeveg om die hele Suider-Afrika, waartydens beide leiers was in 1975, dan sou die SAW in 1986 tot 1988 onder Viljoen se leiding geveg het.
Angola sou vry gewees het.
Suid-Afrika sou vry gewees het.
Suider-Afrika rondom die SA-Angola-as sou as Afrika-eenheid gegroei het.
Cuito was ‘n mylpaal, en die SAW het Cuito vir een nag gewen.
Ek het nou net verneem dat Constand Viljoen net soveel jaar soos Castro op aarde geleef het. Hulle twee is nou saam, want hulle hoort saam. Beide was die wêreld se beste.
“Without the defeat of Cuito Cuanavale our organizations would not have been unbanned! …Cuito Cuanavale was a milestone in the history of the struggle for southern African liberation!” het Nelson Mandela gesê.
Die voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag en stigter van die Vryheidsfront, genl. Constand Viljoen is vandag oorlede. Hy was 86 jaar oud. Dr. Pieter Mulder, die vorige leier van die Vryheidsfront Plus, het dit in ‘n twiet bevestig.
Genl Constand Viljoen is vanmiddag oorlede. Hy was 86 jaar oud. Hy was deel van ’n vorige Suid-Afrikaanse leierskap uit die onstuimige tagterjare as hoof van die SA Weermag. Het ook ’n belangrike rol gespeel in die 1994 politieke oorgang. My simpatie aan sy vrou en kinders.
Ek wou vanmore eers ‘n bietjie werk voor ek iets skryf, maar die nuus het my genoop om nóú iets te skryf, want ek kan nie konsentreer voor ek nie hierdie van my hart af gekry het nie.
Almal prys die president vir sy goeie leierskap tydens hierdie koronaviruskrisis, maar op watter stadium gaan hy sy ministers begin vasvat? Sien hy nie wat hier aan die gang is nie? Soos goeie skootbrakkies rol hulle op die rug sodat die vakbonde, publiek en ander hulle pensies kan krap.
Die volk skree soos stout tieners oor sigarette, so dis ok, hulle mag dit maar weer koop by die supermarkte. Ongeag of hierdie siekte juis een is wat die longe aanval.
Die taxi’s gooi ‘n vloermoer, dus hulle mag dan maar weer ry. Moet net nie baie mense oplaai nie, hoor. In watter leeftyd het ‘n Suid-Afrikaanse minibustaxi hom al ooit gesteur aan die reëls of regulasies soos deur die landswette bepaal; waarom sal dit nou anders wees?
Die Suid-Afrikaners in die buiteland verlang huis toe en voel gestrand, dus nou mag die reisverbod verlig word sodat hulle mag huis toe kom. Net ‘n vragie: as die krisis nie wêreldwyd was en mense van ander lande soos melaatses behandel is in die vreemde nie, sou julle dan ook so te kere gegaan het om by julle families te kon uitkom, of sou julle dan bloot voortgegaan het met julle werk waar julle in dollars en ponde betaal word? Ek kan die humanitêre element hier verstaan, maar hoekom was julle nie hier om te help bou aan ‘n land waar boere selfs nou tydens kwarantyn vermoor word nie? Hier waar ‘n gemiddeld van 53 mense daagliks vermoor word vanweë misdadigers wat vrye teuels gegee is.
Dit bring my dan by die jongste omroltoertjie. Om die virus in tronke en howe te bekamp gaan verhoorafwagtende misdadigers wat klein misdade gepleeg het met borgtog van minder as R5000, vrygelaat word. Hoor die regering ooit wat hulle sê? Mense wat in die eerste plek nie die landswette gehoorsaam nie, gaan nou vrygelaat word met die opdrag: “Julle moet nou hierdie keer luister en mooi saam met die res van die bevolking speel.”
Wesentlik het die regering met hierdie optrede wetteloosheid aangemoedig, want indien jy buite jou erf gevang word tydens die tydperk van afsondering, is die boete R2500. Indien jy sonder ‘n permit reis tussen provinsies, R2500. Hoekom op dees aarde sal die publiek wat stadig maar seker aan inperkingskoors begin lei, nou gehoor gee aan die grendelstaatregulasies? Hulle kan mos vrygelaat word.
Mnr Ramaphosa, enige ouer sal jou kan vertel dat een van die groot struikelblokke van ouer-wees is om konsekwent te wees. Jy kan nie vandag ‘n terugpratery in jou huishouding toelaat en môre wil jy vir boetie of sussie daaroor straf nie.
Reëls en regulasies is daar om wet en orde te handhaaf. Pas dit toe en jy gaan dalk ongewild wees by sekere partye, maar daar sal orde wees. Niemand is onseker nie en almal weet wat van hulle verwag word. Dít wat tans hier gebeur, is ‘n resep vir chaos en totale anargie. ‘n Maatskaplike tydbom wat vir seker gaan ontplof indien die lont nie baie vinnig en baie beslis afgeknip word nie.
Zimbabwe het Maandag met ʼn landswye inperking van 21 dae begin in ʼn poging om verspreiding van die Koronavirus te bekamp. Die president van die land, Emmerson Mnangagwa, het die land op televisie toegespreek en die bevolking aangespoor om gehoor te gee aan die noodmaatreëls. Hy het gesê dat almal in Zimbabwe moet optree asof hulle reeds die virus onder lede het en nie hulle vriende en familie wil aansteek nie.
Die eerste dag het grootliks vreedsaam verloop met min gevalle van mense wat die inperkingmaatreëls probeer verontagsaam het.
Na verwagting sal die inperking nog meer oorlewingsdruk op die algemene Zimbabwiese bevolking plaas. Die land gaan gebuk onder hiperinflasie en ingrypende tekorte aan basiese lewensmiddele. Dit is as gevolg van die rampspoedige grondroofprogram van die voormalige president van Zimbabwe, Robert Mugabe, wat twintig jaar gelede afgeskop het.
Daar is tot op hede sewe gevalle van Koronavirusbesmetting in Zimbabwe geïdentifiseer en een persoon is dood daaraan.
Nog ʼn kleinhandelwinkelgroep het aangekondig dat hulle huurbetalings opskort weens die koronavirus. Die TFG-groep moes weens die inperkingsbevel noodgedwonge hulle winkels vir ten minste drie weke sluit.
Volgens die eiendomshoof van TFG, Brad Rothenburg, het die buitengewone omstandighede daartoe gelei dat die groep oplossings moes vind om die uitwerking van die inperking te verlig. Hy het aangedui dat die groep die volle finansiële nawerking van die inperking sal ondersoek sodra die situasie gestabiliseer het en dat hulle dan met verhuurders in gesprek sal tree.
TFG se kleinhandelkettings sluit Foschini, Due South en American Swiss in.
Edcon, die houermaatskappy van onder andere Edgars, het verlede week verklaar dat hulle nie in staat sal wees om verskaffers te betaal nie en dalk selfs kredietbeskerming sal probeer verkry.
Moody’s se afwaartse peiling van die Suid-Afrikaanse ekonomie na gemorsstatus het die rand onder die waterlyn getref. Die nasionale geldeenheid het Maandag deur die R18-per-dollargrens gebreek. Dit het ʼn rekordlaagtepunt van R18-08 teenoor die dollar bereik en hoewel dit daarna ietwat versterk het, het ʼn dollar vir die grootste deel van die dag in die omgewing van R18 gekos.
Dit was die onvermydelike gevolg van beleggers wat die hasepad weg van die rand gekies het omdat die afgradering beteken dat Suid-Afrika van die toonaangewende Wêreldstaatseffekte-indeks (W.G.B.I.) afgeskop gaan word. Die W.G.B.I. is die primêre mark waar regerings staatseffekte verkoop om nasionale skuld te bestuur.
Die noodwendige gevolg is dat dit vir die regering al hoe duurder word om geld te leen om staatskuld mee te diens.
Redes wat Moody’s vir die afgradering aangevoer het, sluit in dat Suid-Afrika se skuld teen 2023 na verwagting 91% van Bruto Nasionale Produk sal bereik. Die agentskap het aangetoon dat dit skepties staan teenoor die ANC se vermoë om fiskale hervormings in werking te stel om die ekonomie weer op dreef te kry. Dus kan daar verwag word dat die rand vir die afsienbare toekoms onder druk sal bly.
Ek kan dalk ‘n bietjie lig werp op die aangeleentheid aangesien ek van 2011 tot naastenby 2015 ‘n boek geskryf het oor Clive Derby-Lewis en sy rol tydens die oorgang van een politieke bedeling na ‘n ander.
Die volgende inligting ter agtergrond:
My titel: Clive Derby-Lewis – Politieke Sondebok – geskiedkundige biografie deur Elma Potgieter.
Die boek was in opdrag van ‘n bekende uitgewer van Pretoria. Tydens die onderhoude het ek deur harde kopié van afgehandelde hoofstukke telkens aan Clive te oorhandig om te lees, sy toestemming gekry vir die publikasie.
Nadat ek hoofstuk na hoofstuk aan die uitgewer gestuur het terwyl ek geskryf het, en geen kommentaar teruggekry het nie, het die uitgewer in 2015 eensydig uit die kontrak getree.
Dit was ná my voltooiing van die Afrikaanse manuskrip en die gesinchroniseerde Engelse manuskrip volgens opdrag. As rede is aangevoer dat dit nie die boek was wat hulle verwag het nie. Ek het gelukkig outeursreg. Soos genoem – dít ter agtergrond om dit vir u as leser ‘n bietjie duideliker te maak.
Benewens uitgebreide navorsing het ek 29 persoonlike onderhoude met Clive Derby-Lewis en 6 onderhoude met Janusz Walus in Pretoria-Sentraal Gevangenis gehad (nou Kgosi Mampuru).
Uiteraard is dit ‘n lywige stuk geskiedenis wat 576 bladsye beslaan benewens addenda van geskiedkundige dokumente. My bibliografie is uitgebreid – een en sewentig boeke oor die hele reënboogspektrum van denke, hier en in die buiteland asook hoofstroommedia uit daardie tyd.
Vir my skrywe nou aan u haal ek alleenlik my aantekeninge aan met betrekking tot die onverkwiklike paroolsages van die twee here.
Dit is as naskrifte geskryf en is aanhegsels tot die boek: Eers die naskrif van Clive Derby-Lewis en dan dié van Janusz Walus.
Op 26 Februarie 2014 word Clive Derby-Lewis, 78, en Janusz Walus 63, in die tronk1 van agter deur `n medegevangene met `n skerpgemaakte voorwerp aangeval. Albei word vir steekwonde aan die kop en arms behandel. X-strale toon dat Clive se linkerarm in die aanval gebreek is. Volgens Clive se prokureur, Marius Coertze, was dit `n ernstige aanval op die twee hoëprofiel politieke gevangenes.
Coertze word so aangehaal in The Citizen van Donderdag 27 Februarie 2014. “I am quite concerned about their safety. This was a serious attempt on their lives.”
Drie weke later, op Sondag 23 Maart 2014, word Clive weer van agter deur `n gevangene met `n lang glasskerf in die rug gesteek. Volgens Beeld van Dinsdag 25 Maart is die aanval uitgevoer deur `n “penkop-lid” van die “berugte 26-bende”. Om `n volwaardige lid van dié bende te word, moet jy “iemand groot se bloedtrek”.
The New Age van Dinsdag 25 Maart se voorbladberig begin so:
“Chris Hani’s killer Clive Derby-Lewis wants a 24-hour bodyguard in prison after being attacked again at a maximum security facility in Pretoria.”
“His lawyer, Marius Coetzee, (sic – dis Coertze) said correctional services had failed to protect his client and he would request VIP-protection.”
“Coetzee also plans to launch a new application to get Derby-Lewis out on parole next month.‘His wife called me on Sunday night very emotional about what’s happening to her husband’.”
Op 31 Maart berig Beeld dat dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, in die voorafgaande naweek `n “indringende gesprek” met S’bu Ndebele, minister van korrektiewe dienste, oor Derby-Lewis gehad het.
“As hierdie geval met `n gholfspelende Schabir Shaik en `n ‘shopping’ Jackie Selebi vergelyk word, skreeu alles van dubbele standaarde.
“Dit gaan lankal nie meer oor die misdaad waarvoor Derby-Lewis gestraf is nie, ook nie oor politiek of `n verkiesing nie, maar oor menslikheid teenoor `n sieklike bejaarde.
“Sekerlik kan die DKD op hierdie tydstip weer kyk in watter mate Derby-Lewis aan die vereistes van mediese parool voldoen.”
Ten opsigte van Clive se mediese parool volgens sy prokureur, Marius Coertze, in Huisgenoot van 10 Julie 2014.
“Hy is terminaal siek in die Eugène Marais-hospitaal. Sy mediese parool móét oorweeg word, maar `n amptenaar het gesê daar kan nie op die aansoek staan hy gaan doodgaan nie, want dit kan die voorvaders ontstel.
“My mond het oopgehang. Clive het al gesê hy is baie positief oor pres. Jacob Zuma, dat hy in sy termyn dalk uiteindelik parool kan kry.”
Veral in die lig van die leuen-geskiedenis2 van Suid-Afrika van sy vroegste beginjare, ontstaan vele vrae oor die skielike aanvalle op die beleërde politieke gevangene, Clive Derby-Lewis, in die een en twintigste jaar van sy gevangenskap nadat die Paroolraad hom al in 2007 aanbeveel het vir gewone parool.
PS1 – hervat. Helaas, die tragi-komedie duur voort. Clive Derby-Lewis se tronkstraf gaan aan – in die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria. Skrywer het hom daar besoek. Sy gesig is vaalbleek, maar hy gesels positief, soos ek Clive sedert Maart 2011 in die gevangenis leer ken het.
Mediese parool is in Januarie 2015 geweier, ten spyte daarvan dat Stadium 4-kanker deur twee geneeshere by hom gediagnoseer is. Probleem: Nuwe minister en nuwe/ou beskuldigings: Derby-Lewis het nie berou nie en hy het nie die vollewaarheid gepraat nie. Die geheen-en-geweer toutrekkery tussen die minister van korrektiewe dienste en die adviesraad vir mediese parool loop tog uiteindelik uit op mediese parool vir Clive John Derby-Lewis. Saterdag 6 Junie 2015 berig Beeld as volg: Clive Derby-Lewis het Vrydag (5 Junie) omstreeks 18:00 as ‘n “vry man” by die agterdeur van die Eugène Marais-hospitaal uitgestap.”
Die “vryheid” beteken huisarres terwyl daar by streng paroolvoorwaardes gehou moet word. Selfs sy nuwe prokureur, Julian Knight, het nie vrylik toegang tot sy kliënt nie. Maar dis goeie nuus dat Clive se kanker “in remissie” is volgens Rapport van 13 Maart 2016.
PS2 by name Janusz Walus. Nog ‘n paroolaansoek wat ‘n sage van uitstel en terugkrabbel word. Wat’s nuut? So lees dit kortweg: Julie 2011 word Janusz aanbeveel vir parool. Die minister bevind hy moet wag tot “minstens 20 Junie 2013”, in die Beeld van 11 Maart 2016.
Oktober 2013 – Walus se saak word weer na die minister verwys sodat die Hani-gesin kommentaar kan lewer. Die Hani-gesin staan Janusz Walus se parool teen, maar die paroolraad keur dit desondanks goed.
April 2015 – die minister keur weer die aansoek af.
Junie 2015 – Janusz Walus nader die Noord Gautengse hooggeregshof in Pretoria om die minister se besluit te hersien.
Maart 2016 – op 10 Maart om presies te wees, beveel regter Nicoline Janse van Nieuwenhuizen van die Noord-Gautengse hooggeregshof dat Janusz Walus binne 14 dae op parool vrygelaat moet word. Sy beveel verder dat adv. Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, se besluit om nie in April 2015 parool aan Walus toe te staan nie, tersyde gestel moet word.
Ek bel vir Witold, Janusz se broer in Pretoria en wens hom geluk met die regter se besluit. Hy reageer sinies-hoopvol.
Op Sondag 13 Maart gaan besoek ek Janusz Walus weer in die Kgosi Mampuru-gevangenis. Toe ek hom in Maart 2011 die eerste keer ontmoet het, was dit nog Pretoria Sentraal.
Ek druk sy hand. Hy lyk maerder, bleker en daar is nou ‘n bitter trek om sy mond. “Die “regter speel God” sê Limpho Hani blykbaar aan ‘n radiostasie. “Deporteer hom,” skreeu die ANC.
Ons kyk na mekaar. “Wat kan ek sê?” sê ek uiteindelik.
“What a hopeless pathetic state this is,” sê Walus asof hy my gedagtes kan lees. “I’ve applied to Home Affairs two and a half years ago to be deported to Poland. My application is gathering dust, but they yell ‘deport him’.”
Sal daar weer ‘n dag kom dat ek nie skuldig voel nie? Hierdie Poolse immigrant was so gegru toe hy hoor Chris Hani keur die halssnoermetode van moord in eie geledere goed, dat hy aangebied het om die sluipmoord te voltrek. Hierdie man wat hier voor my staan was verlig toe hy die doodstraf kry. Toe werk dit so uit dat hy die daaglikse hel van ‘n leeftyd saam met vreemdelinge moet verduur. “Deporteer my,” is sy versugting. “Deport him,” skreeu die ANC/SAKP’s.
“Deporteer hom dan verdomp,” skreeu ek op my beurt in my kop.
Dan glimlag Janusz. “I’ve met wonderful people in South Africa, wonderful people that unfortunately have to live in a pathetic excuse for a state.”
Ek moet groet. My tien minute is om. Janusz het heelwat besoekers vir sy besoekuur vandag. “Wonderlike” mense wat hom wil bemoedig, hom voorspoed toewens. Saam met sy familie en goeie vriende hou ek duimvas dat ‘n hofbevel hierdie keer in Suid-Afrika gerespekteer sal word…
Die hoop beskaam wel. Die paroolsage van die Poolse idealis is aangaande…
25 Junie 2017
Op 16 Januarie 2019 is parool weer eens geweier deur adv. Michael Masutha, Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste. Waarom? Omdat Janusz Walus “geen berou toon nie”.
Die grootste gevaar vir die Afrikaner is… Engelse vrouens met doktorsgrade. Swart politici is skadeloos: hulle drink whisky in 5-sterhotelle. Die Engelse vrouens bepaal beleid en kry hul handtekeninge op dokumente wat ons ondergang bewerk.
Ongelukkig het die gemiddelde Afrikaner geen benul hiervan nie en fokus op Malema wat eintlik maar net ‘n nar is. Ook Afriforum dink Malema is belangriker as dié hekse agter die skerms wat ons land se ekonomie met hul radikale planne gaan ruïneer.
Bogaande twiet van Dan Roodt, wat ook op Facebook geplaas is, het heelwat reaksie ontlok. Is dit ‘n vergesogte stelling, of nie? Lewer hier op Disqus kommentaar of gaan na Facebook.
Suid-Afrika mag dalk binnekort R25 miljard “weggee” aan sogenaamde “kwesbare mense” wat glo meer as ander onder die huidige inperking ly. Soortgelyke voorstelle word gewoonlik deur ekonome as “helikoptergeld” bestempel omdat dit neerkom op note wat uit helikopters oor die bevolking gestrooi word.
Volgens ‘n berig in Rapport vandag, is so ‘n plan gister deur ‘n “taakspan” gefinaliseer en “word vandag voorgelê aan pres. Cyril Ramaphosa se nasionale bevelsraad vir die Covid-19-rampkrisis”.
Die persoon aan die hoof van die taakspan is ‘n linkse Engelse vrou, dr. Kate Philip, wat aan die nie-regeringsorganisasie, TIPS (Trade & Industrial Policy Strategies) verbonde is. Haar NGO het in die verlede gepoog en misluk om “sosalistiese strategieë” op die Suid-Afrikaanse platteland te vestig.
TIPS word deur die Britse regering, die EU, asook USAID befonds, instellings wat oor die algemeen links-progressiewe organisasies in Suid-Afrika bevorder.
In ‘n artikel wat ‘n week gelede op die ekstreemlinkse webblad, Daily Maverick, verskyn het, maak Philip ‘n saak daarvoor uit dat die ANC-bewind R25,5 miljard uit die Werkloosheidsversekeringsfonds (op Engels bekends as U.I.F.) moet toeëien en dit aan informele handelaars en bediendes moet uitdeel, mense wat nog nooit tot dié fonds vir salaristrekkers bygedra het nie.
Sy skryf:
What would it cost? Targeted at six million people, with a payment of R1,000 a month for three months tapering to R750 and R500 in the outer months, this would cost R25.5-billion. The R1,000 level aligns with programmes such as the Community Work Programme and Youth Service and avoids the risk of arbitrage between programmes. These payments would start per person on successful application, with the rollout therefore staggered over a period of time as people enrol, within a window period for applications that could stay open for six months. The sooner enrolments take place the better, but the poverty impacts of this crisis are likely to extend well beyond the peak infection period, so staggered rollout has its own advantages.
Where would the money come from? This would be a legitimate use of the UIF Reserve of over R150-billion raised from workers and the private sector to provide social protection in a context of unemployment. Using these unclaimed funds for the purpose of a special Covid-19 grant is directly aligned with the mandate of the fund; some of the other claims currently being made on it are not.
Met die huidige skaarste aan bepaalde verbruikersgoedere wat deur die inperking veroorsaak word, tesame met die swak rand, kan die beoogde “helikoptergeld” vir die informele sektor dalk net die vonk verskaf om Suid-Afrika op die Zimbabwe-pad te plaas, met ‘n verder tuimelende geldeenheid, hoë werkloosheid en inflasie te midde van ‘n stagnante ekonomie, oftewel “stagflasie”.
Dr. Kate Philip is die dogter van die voormalige uitgewer David Philip van Kaapstad. Sy was ook die voorsitster van Nusas in die tagtigerjare toe sy onder meer tydens ‘n terreurondersoek deur die ou regering aangehou is.
Toe Cyril Ramaphosa as sekretarisgeneraal van die NUM in 1987 veroorsaak het dat 40 mynwerkers hul werk deur ‘n grootskaalse staking verloor het, het hy agterna ‘n “werkskeppingsprojek” met buitelandse geld geloods waarvoor Kate Philip insgelyks gewerk het.
In ‘n onderhoud het sy verduidelik hoe sy die pos by die Nasionale Unie van Mywerkers verkry het:
My detention in solitary confinement under security laws during this period was given high profile. Thereafter, I was part of the editorial collective of an alternative newspaper (SASPU National) that provided extensive coverage of local anti-apartheid struggles and that was widely distributed inter alia by the Congress of South African Trade Unions (COSATU). Writing for the paper, I engaged with activists from many trade unions and sectors. All of the above meant that – as I explain in the book – when I arrived for the job interview for the post in NUM, the process began with handshakes and greetings of ‘comrade’ all around: which is just how it was in those days.
Moody, een van die twee groot Amerikaanse kredietgraderingsagenskappe het Suid-Afrika Vrydagaand 27 Maart 2019 tot ‘rommel’ afgegradeer, oftewel ‘n gradering van Ba1, met ‘n ‘negatiewe vooruitsig’ wat beteken dat die land nog verder by die leer van rommelstatus kan afgly. Dit beteken dat Suid-Afrika nou ‘n ‘rommeldriekuns’ hehaal het, want sowel Standard & Poor as Fitch, die ander twee bekende graderingsagentskappye, het ons land reeds voorheen tot dié vlak afgegradeer. Dan Roodt bespreek die implikasies hiervan en sien darem ‘n sprankie hoop op die horison wat Afrikanervoortbestaan betref.
Fransjohan Pretorius (gebore in 1949) het veral vanweë sy kennis van die Anglo-Boereoorlog (ABO) bekendheid as historikus verwerf, bv sy boek, Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 (Kaapstad: Human & Rousseau, 1991, 491p). Sy jongste boek is onlangs gepubliseer: Terugblik: 80 sketse uit ‘n ryk verlede (Pretoria: Protea Boekhuis, 2020, 283p, R200). Die teks is ‘n herpublikasie van sy Beeld-rubrieke. Hy bied gesaghebbend en op ‘n toeganklike manier grepe uit ons geskiedenis aan. Inligting oor party van die onderwerpe is wyer bekend as ander, maar dit is goed om ‘n mens se geheue te verfris. Ek volstaan met enkele fragmentariese opmerkings.
In die eerste skets noem Pretorius dat die Fenisiërs reeds omstreeks 600 vC op ‘n drie jaar lange reis suksesvol van oos na wes om die Kaap gevaar het. Die Ottomaanse Turke het ná 1453 die Europeërs se oorlandse handelsroete na Indië en China in die Midde-Ooste geblokkeer. Dit het as aanleiding gedien vir pogings om van wes na oos om die Kaap na die Ooste te vaar. Vasco da Gama het in 1498 hierin geslaag.
Jare gelede is daar gespekuleer dat die Khoi-Khoin (Hottentotte) en veral die San (Boesmans) van Chinese oorsprong kon wees; dat hulle die nasate van Chinese skipbreuklinge is. Deesdae word ingevolge DNS-toetse polities korrek beweer dat die Khoi-San altyd hier gewees het. In die Amerikaanse idioom kan die Khoi-San en die hedendaagse bruin mense dus aanspraak op “First Nation”-status maak. Die blankes het oor die see die land uit die suidweste binnegekom en die swartes oor land uit die noordooste. Sowel die blankes as die swartes is in hierdie sin dus indringers. Maar dit het die anti-blanke en veral anti-Afrikaner Cyril Ramaphosa nie verhoed om onlangs in Natal te beweer dat die Zoeloes vryheidsvegters en die Boere indringers is nie. Wat van deurslaggewende belang is, is nie wie eerste op ‘n grondgebied was nie, maar wat op daardie grond tot stand gebring is. Die San het wilde diere gejag en die Khoi-Khoin het hulle vee laat wei en brandhout versamel. Hulle het nie die land ontwikkel nie; eerder roofbou toegepas. Die swartes, soos die destydse slawe, het ‘n mate van arbeid verrig, maar dit is die kundigheid, toewyding, ens, van die blankes wat die land ontwikkel het (bv deur infrastrukuur te skep) en dit vóór 1990/94 suksesvol en welvarend gemaak het. Rommelstatus is ‘n erflating van die ANC.
Pretorius gebruik die afkorting VOC (Vereenigde Oostindische Compagnie) terwyl ek met die afkorting HOIK (Hollandse Oos-Indiese Kompanjie) grootgeword het. Wat my van die geskiedskrywing oor daardie tyd hinder, is dat baie mense onder die indruk is dat bv Jan van Riebeeck in 1652 uit een van die later bekende Nederlandse hawens vertrek het, terwyl hy in werklikheid van die eiland Texel af sy seereis aangepak het. ‘n Ander historiese feit waaroor onkunde heers, is dat die Portugese hulle nie van vroeg af in die suide van Mosambiek by Lourenço Marques (Maputo) gevestig het nie, maar in die noorde op Mosambiek-eiland. Wat ook minder bekend is, is dat die Britte en Duitsers agteraf gekonkel het oor hoe hulle Mosambiek tussen hulle sou verdeel as die Portugese nie doeltreffend beheer oor die land kon uitoefen nie. Die Britte se oogmerk was onder meer om te verhoed dat die Boere-republieke ‘n eie toegang tot die see kry.
Dit is goed dat Pretorius noem dat die State-Generaal nie ‘n persoon was nie, maar die destydse Hollandse parlement (p 17).
Met verwysing na die Slagtersnek-rebellie (1815-1816) word Freek Bezuidenhout as “‘n ruwe karakter van geen goeie inbors nie” beskryf (19). Wat ek my afvra, is: Sou hedendaagse historici (of ander mense) deesdae dieselfde van ‘n swarte sê? Die Slagtersnek-gebeure, bv die blankes se verset teen gewapende pandoers (Khoi-Khoin-soldate), word sonder meer as “‘n wanklank in die ontwikkeling van die Afrikaanse [Afrikaner-?] nasieskap” bestempel (20). Was die blankes/Afrikaners nie jare later op soortgelyke verset teen veral swart terroriste aangewese nie?
“Nasionalisme was eerder ‘n gevolg as ‘n oorsaak van die Groot Trek” (24). Maar vóór hierdie gebeure was daar, indien nie ‘n eenheidsgevoel nie, sekerlik ‘n (sterk) bewustheid van kulturele verwantskap (bv ras, taal en godsdiens) by die Boere, asook afkeuring van die Britse bewind.
“In 1952 het die Nasionale Party-regering … die naam Dingaansdag [16 Desember] in Geloftedag verander om nie rassebetrekkinge te skaad nie” (35). Wat die blanke bewind gedoen het, is in die oë van die ANC-regime nooit goed genoeg nie, met die uitsondering van FW de Klerk se mandaatlose magsoorgawe. 16 Desember word deesdae Versoeningsdag genoem. Die ANC-regime het teen groot koste ‘n museum by Bloedrivier as teenhanger vir die Boere-museum en -monument opgerig. Die gewoonte het posgevat om die uitsonderlike suksesvolheid van Bloedrivier as ‘n Afrikanermite te bestempel. Leopold Scholtz se insig is dat Afrikaners die Slag van Bloedrivier nie meer as ‘n oorwinning mag vier nie. Die klem moet deesdae, ooreenkomstig die ANC se wens, glo eerder op versoening geplaas word. Dít terwyl Jonathan Jansen kraai van die lekkerkry wanneer hy skryf dat die Afrikanerdom twee keer die stryd verloor het, naamlik die ABO en De Klerk se 1994-verraad. As daar een ding is wat die ANC en sy meelopers beter as die Afrikners kan doen, is dit miteskepping. Pretorius verwys bv na “die klaarblyklik fiktiewe Tshwane” (68). ANC-kornuite wil hê dat die administratiewe hoofstad van die land eerder na ‘n fiktiewe swarte as na ‘n Boer vernoem moet word.
Oor die Slag van Bloedrivier skryf Pretorius: “Veghekke van hout wat vooraf gemaak is, word onder die waens vasgemaak sodat die Zoeloes nie onderdeur kan deurkruip nie” (37). Laertrek was die Boere se behoud. Vóór die Slag van Isandlwana in 1879 het lord Chelmsford “nie laer getrek nie – al het Boere hom gewaarsku om dit te doen” (43). Die gevolg was groot lewensverlies aan die Britse kant. Deesdae word (feitlik) alles wat met die Boere, Afrikaners en blankes te make het, verdag gemaak. Daar moet glo “ontlaering” plaasvind. Kulturele ontlaering word gepropageer deur diegene wat die ondergang van die Afrikaner begeer.
Pretorius gebruik die verwarrende benaming “Emigrante-Boere” (bv 51, 55, 57). Aanvanklik het ek as leser nie geweet wat bedoel word nie. Hierdie term kon immers die indruk wek dat die Boere nie in die binneland van Suid-Afrika hoort nie. Dit blyk toe dat hy daarmee die Voortrekkers bedoel (55, 57). Waarom nie met die benaming “Voortrekkers” volstaan nie? Pretorius verwys ook na “die Brits-Transvaalse Oorlog (Eerste Anglo-Boereoorlog)” (73; ook 97). Pleks van sy terrorisme te erken, druk die ANC die benaming “Bevrydingsoorlog” in ons kele af. As teenhanger behoort Afrikaners voort te gaan om die oorlog van 1880-1881 die Eerste Vryheidsoorlog te noem, soos Pretorius later doen (207). Dit het om die bevryding van die Afrikaners van Britse gesag en kolonialisme gegaan. Net soos in die geval van Bloedrivier behoort ons voort te gaan om die Majuba-oorwinnning te vier. Volgens persberigte was daar op 16 Desember 2019 ‘n groot oplewing in die bywoning van die Bloedrivier-herdenkingsbyeenkomste.
Alfred Milner word tereg “die leidende aanstigter van die Anglo-Boereoorlog” genoem (86). Ook dat diegene wat die beeldegroep, onder meer van Paul Kruger, op Kerkplein in Pretoria wil verwyder “nie die Afrikaner sy kultuurerfenis gun nie” (85). Kruger se bekendste woorde word soos volg aangehaal: “Soek in die verlede al die goeie en skone, vorm daarna [daarvolgens] u ideaal en probeer om daardie ideaal te verwesenlik” (92). Afrikaners sal die goeie in die verlede (veral) vóór 1990/94 vind. ‘n Ander bekende uitspraak van Kruger, hierdie keer vóór die ABO, in 1899, aan Milner, is: “Dis nie die stemreg [vir Uitlanders] nie, dis my land wat jy wil hê” (108); maw Britse imperialisme is die dryfveer (107).
Kerkstraat-Wes in Pretoria heet deesdae WF Nkomostraat (99). Jacob Maréstraat in Pretoria is nou Jeff Masemolastraat (103) en Andriesstraat het Thabo Sehumestraat geword (173). Hierdie strate is almal na ANC- of PAC-kornuite vernoem wat ‘n rol in die “bevrydingstryd” gespeel het. Die National English Liberary Museum in Grahamstad het in Junie 2019 die Amazwi South African Museum of Literature in Makhanda geword. Soos die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl is die Amazwi, wat stemme of woorde beteken, ‘n agenskap van die ANC se Departement Kuns en Kultuur. Albei inrigtings streef daarna om inklusief wees. Vir die museum in Makhanda gaan nie meer net om Engels nie en vir die ATM gaan dit nie uitsluitlik om Afrikaans nie. Ek dink hierdie naams- en funksieveranderings is ‘n onreg en skande wat glad nie dikwels en luid genoeg veroordeel word nie.
By Spioenkop het die Boere op 24 Januarie 1900 ‘n gedenkwaardige oorwinning oor die Britte behaal (98, 125-126). Die foto van Jan van Hoepen van gesneuwelde Britse soldate in ‘n Spioenkop-loopgraaf (124) is “waarskynlik … die bekendste foto van die oorlog” (156). Pretorius meld dat Van Hoepen se foto’s soms van foutiewe byskrifte voorsien is. ‘n Voorbeeld hiervan kan in Rebecca West se boek, 1900 (London: Weidenfeld & Nicolson, 1982/1996, 192p) gevind word. Dieselfde foto van Britse gesneuweldes wat in Pretorius se boek gereproduseer is (124), verskyn in West se boek (p 10), maar met hierdie byskrif: “Boer dead after the fierce and confused fighting at Spion Kop, Natal” (11).
“Die algemene spreektaal was reeds Afrikaans” gedurende die ABO, bv “die woord ‘baie’ en die dubbele negatief” (169). Afrikaans was iets meer (bv vindingryk, skeppend) en anders as “verhaspelde” (171), dus verknoeide, Nederlands (171).
Pretorius besin oor historiografie/geskiedskrywing. Een van die eienskappe waaroor ‘n historikus behoort te beskik, is verbeelding (187, 191). Maar dit spreek eintlik vanself dat dit binne perke moet geskied. “In die Afrikanernasionale geskiedskrywing tot minstens die 1970’s is swart en bruin mense as “‘n probleem’ of ”n vraagstuk’ beskou … Met die afname in Afrikanernasionalisme het meer gebalanseerde en meer objektiewe Afrikanergeskiedskrywing na vore getree” (187-188). “Sedert 1948 word swart nasionale geskiedskrywing deur ‘n radikale benadering gekenmerk. Dit vind sy inspirasie in die dekolonisasie van Afrika en die aftakeling van apartheid. Die wit man word nou as die ‘probleem’ gesien. Swart nasionale geskiedskrywing of die strugglegeskiedenis oorheers die skoolsillabusse. Die strugglegeskiedenis is nou die geskiedenis van Suid-Afrika” (188). “‘n Kritiese inslag en objektiwiteit is noodsaaklik” by geskiedskrywing (192). Die ANC heg egter geen waarde hieraan nie. By die ANC gaan dit om propaganda. Die kamerade het geen beswaar daarteen dat die verlede en hede met die oog hierop skeefgetrek word nie. Boonop gaan die ANC sy getransformeerde Suid-Afrikaanse en Afrika-geskiedenis as ‘n onontwykbare verpligte vak aan al die plaaslike skoolkinders opdring.
Pretorius noem hierdie dinge bloot. Hy versuim om die ANC se transformasie van ons geskiedenis daadwerklik te verdoem. Die naaste wat hy hieraan kom, is wanneer hy skryf: “In die lig van die regering se plan om geskiedenis [oftewel ANC-propaganda] as vak verpligtend tot matriek te maak, is dit belangrik om hierdie gevaar van eensydigheid by die kurrikulumskrywers tuis te bring” (201). Afrikaners het ons geskiedenis veel minder skeefgetrek as wat ANC-kornuite en hulle meelopers deesdae doen. Die blankes is en bly die land se grootste bate en die swartes gaan voort om ongetwyfeld die grootste probleme te veroorsaak. Hoe doelbewus skeef die ANC se geskiedenisbeskouing is, kan uit die volgende afgelei word. Wat word deesdae by voorkeur en amptelik oor die Eerste Wêreldoorlog deur die ANC-regime verkondig? Dat die SS Mendi in 1917 met 607 swart arbeiders aan boord gesink het (226).
Die hoogaangeskrewe historikus, George McCall Theal (1837-1919), het volgens Pretorius “die hardnekkige persepsie (mite) geskep dat die Xhosa alleen verantwoordelik was vir die probleme aan die Oosgrens” (195). ‘n Objektiewer beskouing sou wees dat hoofsaaklik die Xhosas vir hierdie probleme verantwoordelik gehou kan word, soos tewens die swart bevolking kollektief vir die land se historiese en huidige probleme. Pleks daarvan word die skuld deesdae kollektief op die blankes, veral die Afrikaners, gepak.
“Al die jare was Brit en Afrikaner onbewus van die bestaan van swart konsentrasiekampe en swart sterftes” tydens die ABO (198). Ek dink dit is ‘n oordrewe stelling. Die Britte het die bestaan van blanke en nie-blanke konsentrasiekampe sover moontlik amptelik verswyg sodat hulle beeld nie skade ly nie. “Die Britse Konserwatiewe minister Jacob Rees-Mogg het onlangs ook maar lekker klei getrap met sy standpunt dat die Britse konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog opgerig is vir beskerming van die Boereburgerlikes en om hulle van kos te voorsien omdat die mans op kommando was en nie vir hulle kon sorg nie. Dit is die opvatting waarmee die Britte groot geword het” (202-203). Die Boere was om ander redes as die Britte ongeneë om die konsentrasiekampe vir swartes aan die groot klok te hang; enersyds sodat die lyding van Afrikaners, veral vroue en kinders, beklemtoon kon word en andersyds omdat die nie-blankes, veral die swartes, oor die algemeen so uiters pro-Brits en dislojaal teenoor die Afrikaners was.
“Hoe skaam-verkeerd was ek nie! Opgelei in ‘n Afrikaner-nasionale paradigma waar die Afrikaner sentraal in die geskiedenis gestaan het, is ons nooit geleer watter rol swart mense in die Anglo-Boereoorlog gespeel het nie; trouens, dis waarom sommige historici die benaming Suid-Afrikaanse Oorlog verkies” (203). Tot Pretorius se eer verkies hy darem nog steeds die ABO-benaming, met as alternatief die Tweede Vryheidsoorlog (207). Daar word deesdae van die blankes, veral die Afrikaners, verwag om hulle oor allerhande dinge te skaam. Dit is onnodig dat Pretorius en sy mede-Afrikaners hulle skaam. Dit is eerder die skeppers van die getransformeerde ANC-geskiedenis wat hulle behoort te skaam. Het julle al ooit gehoor dat ANC-kornuite hulle vir hulle terrorisme skaam en verskoning vra vir die dood en vernietiging wat hulle gesaai het en daarby veral onder hulle mede-swartes?
Hoe fundamenteel gemeen die ANC-regime is, kan afgelei word uit die geskiedenis van die Ou Fort op Constitutional Hill (Grondwetheuwel?) in Johannesburg. Afrikaner-rebelleleiers, soos Christiaan de Wet, is in 1915 daar aangehou. Later was daar gevangenes soos Mohandas (Mahatma) Gandhi, Nelson (Madiba) Mandela, Joe Slovo, Albertina Sisulu en Winnie Mandela (227). Laasgenoemde anti-blanke elemente word deesdae in daardie konteks onthou en nie ‘n Afrikaner soos De Wet nie. Die ANC-regime het die vleuel van die Ou Fort waarin nie-blanke gevangenes aangehou is, as die setel van die Konstitusionele Hof ingerig (229). Wat (moontlik) daaruit afgelei kan word, is dat die ANC-regime verwag dat daardie hof pro-swart en anti-blanke uitsprake moet lewer.
Die Spaanse Griep of Groot Griep van 1918, waarin my een oupa dood is, het sy oorsprong in China gehad. “Die terugkeer van Suid-Afrikaanse soldate en arbeiders het plaaslik tot die epidemie gelei” (231). Die huidige grieppandemie het ook in China ontstaan. Dit kan plaaslik versprei word by die terugkeer van veral die groot getal swart studente wat om nie-akademiese redes bo ander studente met studiegeleenthede in China en ander lande bevoordeel word.
‘n Baanbreker op die gebied van die Afrikaanse kunslied, S(tephanus) le Roux Marais (1896-1979), die komponis van bv “Heimwee”, is in 1946 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die toekenning van ‘n erepenning vereer. “Marais [het] Afrikaans tot ‘n sangtaal verhef” (241). Prof Wilhelm FC Arndt (1889-1951), ‘n wiskundedosent aan Grey-kollege in Bloemfontein, het by daardie geleentheid die woord gevoer (240). Wat ek interessant vind, is dat dr Reinhard Richard (Rein) Arndt (1929-2020), eens die president van die WNNR en voor dit ‘n dosent in skeikunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit, op Nuwejaarsdag oorlede is (Rapport Weekliks, 2.02.2020, p 2). Hy was klaarblyklik ‘n seun van Wilhelm Arndt. Voortreflike Afrikaners soos die Arndts word deesdae nie meer afdoende gehuldig nie.
Oor die Springbok-rugbyspan se oorwinning oor die All Blacks in 1995 in die Wêrekdbeker-eindstryd skryf Pretorius: “Ons verlekker ons elke keer as ons op TV sien hoe pres Nelson Mandela met sy nr 6-Springboktrui die beker aan die kaptein, Francois Pienaar, oorhandig en sy arms triomfantelik die lug in pomp” (245); dieselfde arms waarmee hierdie vredesikoon en baasversoener telkens ‘n gebalde vuis die lug in gepomp het. Verlekker Afrikaners hulle daarin om Mandela só by die rugby te sien of besef hulle dat Mandela besig was om hulle te sus oor die politieke magsverlies wat deur swart terrorisme asook verraad uit eie kring aan hulle opgedring is?
Tydens die eerste JBM Hertzog-gedenklesing in 1971 het Wennie du Plessis aangevoer “dat die Anglo-Boereoorlog ‘n baie beslissende fase in ‘n deurlopende proses vir die Afrikaner was” (251). Volgens André Wessels was “selfbeskikking ‘n leitmotief in Hertzog se openbare loopbaan … Eers het hy vir selfregering vir die verslane Boere-republieke gestry; later vir soewereine onafhanklikheid vir die verenigde Suid-Afrika” (253). In 1990/94 het ‘n absolute breuk in die Afrikaner se geskiedenis gekom. Het hedendaagse Afrikaners die moed om die stukke bymekaar te maak en iets sinvols daaruit te bou?
Dan Roodt bespreek ‘n nuwe middel teen die koronavirus wat in Japan uitgevind is en in China vervaardig gaan word. In Frankryk geld drakoniese maatreëls wat byna op huisarres vir die totale bevolking voorkom. Maar is dit noodwendig verkeerd? En het ons nie ook nodig om meer reëls en wette in Suid-Afrika te begin nakom nie?