VN-verslag wys Sirië verantwoordelik vir chemiese aanval, sê VSA, Brittanje

William Hague
William Hague

Die verslag van die Verenigde Nasies inspekteurs na chemiese wapens in Sirië kon nie die vraag beantwoord wie vir die chemiese aanval in Damaskus verantwoordelik was nie.

Die inspekteurs het tot die gevolgetrekking gekom dat chemiese wapens wel op ‘n groot skaal in ‘n aanval op die Siriese hoofstad gebruik is, waarin honderde mense dood is.

Hulle het ook bevind dat die dodelike gifgas, Sarin, in die aanval gebruik was. Die inspekteurs het egter nie aangedui wie vir die aanval verantwoordelik was nie, omdat dit nie deel van hulle mandaat was nie.

Rusland se VN-verteenwoordiger, sê die verslag onthul geen “koeëlvaste data of gevolgtrekkings” oor wie verantwoordelik was nie. Die VSA en die Verenigde Koninkryk sê die studie bevestig dat die regime agter die aanval sit.

“Die verslag is volledig, maar baie tegnies. Dit vermy kategoriese uitsprake en gevolgtrekkings, en dit moet bestudeer word,” het Witali Tsjoerkin aan die Russiese media by die VN se hoofkwartier in New York gesê.

“Almal kan tot hul eie gevolgtrekking kom, maar ek hoop dat dit nie gedryf sal word deur politieke motiewe nie.“

Die Britse minister van buitelandse sake, William Hague, sê die tegniese besonderhede in die verslag, dui duidelik daarop dat dit die werk van die Siriese regering was, het RSG berig.

SA, VK bespreek ontwikkelingshulp en visumvereistes

Justine Greening
Justine Greening

Suid-Afrika en Brittanje het gesprek gevoer oor Britse visum-vereistes.

Die Britse minister van buitelandse sake – William Hague – sê hulle neem kennis van die vordering wat in Suid-Afrika gemaak word en wil hul samewerking vergroot as Suid-Afrika beter beheer toepas oor reisigers.

Britse visum-vereistes is in 2008 ingestel weens die groot aantal vervalsings wat in Suid-Afrika voorgekom het.

Die minister van internasionale betrekkinge – Maite Nkoana-Mashabane sê sy het goeie terugvoering gekry van immigrasie-amptenare.

Oor ontwikkelingshulp aan Suid-Afrika, het die Britse minister van internasionale ontwikkeling – Justine Greening – in Pretoria met die minister van finansies – Pravin Gordhan – vergader.

Brittanje het in April aangekondig dat direkte hulp aan Suid-Afrika teen 2015 sal eindig.

Die visumvereiste, sowel as Brittanje se onlangse aankondiging dat hulle direkte ontwikkelingshulp aan Suid-Afrika sal staak, was die twee belangrikste kwessies op die agenda van die 10de Bilaterale Forum tussen die twee lande in Kaapstad Dinsdag.

Suid-Afrikaners kon voorheen na die Verenigde Koninkryk sonder visums reis. Maar die Verenigde Koninkryk het ‘n visumvereiste vir Suid-Afrikaanse paspoorthouers in Maart 2009 ingestel.