Die burgemeesterskomitee van die Madibeng-munisipaliteit in die Noordwesprovinsie sukkel om die situasie in Majakaneng onder beheer te kry nadat inwoners – hoofsaaklik jong swart mans – met die polisie slaags geraak het oor water.
Vroeër dié week het die komitee met die leiers van die amokmakers ooreengekom en besluit om saam te werk om die waterprobleme in die gebied op te los.
Die burgemeester van die gebied Jostina Mothibe was nie teenwoordig nie, maar haar komitee het ‘n tydperk van twee tot vier weke gevra om die beskadigde pype en lekkasies in die watertoevoer te herstel.
‘n Verteenwoordiger van die burgemeester, Kabelo Ntshabele het gesê die voorsiening van water is ‘n prioriteit vir die regering. Premier Supra Mahumapelo het verlede maand ‘n water- en sanitasieplan aangekondig om die probleme in die provinsie aan te pak.
Hy is in ‘n vennootskap met die Ontwikkelingsbank van SA en die groot projek sal glo meer as R350 miljoen kos.
Alle water infrastruktuurplanne moet glo teen die einde van Maart voltooi wees en inwoners moet gereeld ingelig word oor die vordering.
Intussen het daar van die skikking tussen die burgemeester en die oproermakers dadels gekom en drie vragmotors is op die N-4 snelweg by Majakaneng naby Brits aan die brand gesteek.
Verkeer tussen Pretoria en Rustenburg is vroeër tot stilstand gedwing nadat verskeie voertuie ook met klippe bestook is.
Van die oproeriges sê hulle het hulle tot dié vlakke van geweld gewend om seker te maak dat die regering spoedig aandag skenk aan hulle griewe.
Hulle sê dis die enigste taal wat die regering verstaan.
