Swart aanvallers hou gesin op Uis aan

Die knal van ’n enkele geweerskoot­ was vroeg Dinsdagaan­d ­op Uis die aankondiging van die einde van die eerste episode van ’n aanddrama­ waarin ’n gesin van vier deur ’n boewebende van vyf gewapende swartmans aangehou is, het die Republikein berig.

Dit was ook die voorspel tot ’n tweede aflewering waarin die ganse Erongostreek in Namibië tot selfs buite sy grense in beweging gebring is.

Die woestyndorp se bekende winkelier­ en sakeman, mnr. De Wet Prinsloo, sy vrou, Christine, en die kinders, Juan (6) en Jana (3), het ’n geskatte veertig minute aan hul hande en voete geboei toegekyk hoe die bende soos ’n stropende tornado deur hul ruim huis naby hul winkelsentrum­ storm. De Wet het al vegtend oorgegee toe hy in die koue loop van ’n handwapen van een van die aanvallers vasgekyk het.

Die sesjarige seuntjie, Juan, was ’n held in die kleine. Dit was hy wat sy hande uit die kleeflint en toue losgewikkel­ het en tot by sy pa aangesukkel­ ­het. De Wet het beduie daar is ’n knipmes in sy broeksak. Daarmee het Juan sy pa se hande agter sy rug losgesny. Die einste messie is toe gebruik om al vier se hande en voete los te sny. Die aanvallers­ het met twee van die drie vuurwapens in die huis weggekom. Die derde is deur De Wet self gebruik vir die boodskap­ in die nag dat die Prinsloo-gesin bystand nodig het.

Uiteindelik het die slotepisode vroeg gisteroggend onder ’n brug by Okahandja­ aangebreek toe ’n kleinboer­ van die oewerlandskap op die duur dubbelkajuit Cruiser van De Wet Prinsloo afgekom het. Die sleutel was nog in die aansitter, los goed is uit die kajuit geslinger en op die bak het die 7 mm-jaggeweer van die sakeman gelê. Dit is naby die Vyfrandkamp­ gevind, met die padblokkade naby Brakwater ’n ent daarvandaan een van die vele versperrings wat in die nag op die moontlike uitwykroetes van die skelms opgestel was.

Behalwe vir ’n krapmerk voor, was die duur tuig, ’n 2014-model, ongeskonde­. Die krapmerk het egter getuig van die geweld waarmee die aanval begin en geëindig het. Om in die huis van die Prinsloos te kom, het die mans, die meeste van hulle met klapmusse aan, ’n buiteband gebruik om op te staan sodat hulle oor ’n muur van sowat 2,2 meter kon klouter om langs ’n kruis op die werf te staan. Hoop, genade en liefde verkondig die bewoording op die kruis. Daarna is geweld gebruik om ’n sifwering­ voor die Prinsloo huis af te ruk en geweld was weer ter sprake toe die duur voertuig­ met die wegtrek teen ’n muur gestamp het.

Die ganse kabaal het in die voorhuis voor ’n biddende Christine met klein Jana op haar skoot afgespeel. Teenoor die seuntjie en die dogtertjie was haar moederlike smeking: “Maak net die ogies toe! Sê of doen net niks nie.”

De Wet Prinsloo het self aan Republikein­ vertel wat gebeur het terwyl hy, Christine en Jana in die voorhuis na ‘n sepie op TV gekyk het. Die bende het omstreeks­ ­19:20 by die huis ingestorm­. In ’n nabygeleë­ ontspanningsvertrek­ het klein Juan sy eie TV-storie gevolg.

Vasgebind

“Nee! Nee! Nee!” So het De Wet geskreeu­ toe die mans by die huis ingestorm­ het. Hy het een met ’n panga in sy linkerhand voor die bors gegryp en was besig om hom te oorweldig toe ’n harde hou met die kapmes se plat kant hom teen sy regterskouer­ getref het.

Steeds het hy selfs vir die een met ’n bandligter in sy hande kans gesien. Die volgende oomblik het hy vasgekyk in die loop van ’n pistool van ’n derde aanvaller.­

“Los net my vrou en my kinders en vat wat julle wil hê,” het De Wet by aanskou­e van die vuurwapen­ gesê.

“Gaan lê,” was die opdrag van die aanvallers­. Op die vloer is hy aan sy hande en voete met kleeflint gebind. Ook sy elmboë is na binne gedwing en vasgemaak. ’n Lap is in sy mond gedruk en ook dit is met kleeflint vasgetrek­ wat om sy kop gebind was. Een van die aanvallers het met klein Juan aan die hand uit die buitevertrek gekom. Die ander drie lede van die Prinsloo-gesin is net soos hy vasgebind. Selfs die veters van die Prinsloos­ se eie skoene is uitgeryg en gebruik.

Die aanvallers het deurlopend­ met mekaar en met die Prinsloos­ gekom­munikeer. Met mekaar het hulle Oshiwambo­ gepraat en met die Prinsloos ’n mengelmoe­s van Afrikaans­ en Engels. Toe is die bevele op hulle geskreeu­: “Geld! Geld! Geld!” Die Prinsloos het net ’n bietjie sakgeld by hulle gehad. Daarna is het die strooptog deur die huis begin en beslag is op feitlik elke item van waarde gelê – van juwele tot ’n duur sonbril. ’n Deel van die buit was die spaarsleutelsel­ van die Cruiser wat in die motorhuis­ gestaan het.

In die stadium het dit gelyk of die aanvallers­ in totale beheer van die situasi­e was en hulle het gemaklik met mekaar gesels. Met ’n gewikkel van die prop in sy mond kon De Wet Prinsloo uiteindelik­ ’n paar woorde uitkry. “Ons verwag mense,” het hy van onder die lint gesê. Toe raak die bendelede­ haastig. Drie of vier minute later het die Cruiser se masjien gedreun en ’n harde slag is gehoor toe die bende iets tref. Hulle het daarna weggery.

Losgesny het De Wet Prinsloo op die oorblywende­ vuurwapen­ afgekom en die skoot gevuur. Flip Laynes, ’n jong en sterk man, was die eerste om te reageer. Flip Els het ook bygekom. Die polisie is geskakel en was relatief gou op die toneel. Die pad van Uis na Hentiesbaai is deur ’n groep mans van die dorp as moontlike­ ontsnappingsroete­ gekies. Waar die pad na Khorixas wegswaai, het twee rylopers gestaan.

Hulle het bevestig­ ’n Cruiser met dié beskrywing­ is op die pad na Khorixas verby. In die nag is ander polisiekantore­ ook geskakel­ ­en het twee polisiemanne­ in uniform van Hentiesbaai­ opgedaag­. Hulle het die afstand van sowat 130 km op die grondpad binne 1 uur 10 minute afgejaag. Vroeg gisteroggend het polisieversterkings­ in vyf voertuie van Walvisbaa­i opgedaag.

Teen druktyd was niemand nog in hegtenis­ geneem nie.