Amerikaanse toeris ernstig deur kameelperd beseer

’n Amerikaanse toeris is glo deur ‘n kwaai kameelperd aangeval en ernstig beseer. Sy verkeer steeds in ’n kritieke toestand.

Die toeris is Saterdag deur die Netcare 911-nooddiens se lugambulans van Zambië na Suid-Afrika gebring.

Athlenda Mathe, Netcare 911-woordvoerder, sê die middeljarige vrou was saam met ‘n ander besoeker by ‘n wildsplaas toe die kameelperd haar aangeval het.

Die kameelperd het die vrou glo bewusteloos met die kop gestamp waarna sy in ‘n doringbos beland het.

Die Netcare 911-lugambulans het beseerde van die hospitaal in Zambië na ’n Netcare-hospitaal in Johannesburg gevlieg.

Die kameelperd se optrede is steeds ‘n raaisel.