Uganda verbreek militêre bande met Noord-Korea

‘n Ugandese amptenaar sê die land verbreek militêre bande met Noord-Korea om gehoor te gee aan sanksies wat die Verenigde Nasies Noord-Korea opgelê het weens sy kernprogram, het AP berig.

Kol. Shaban Bantariza, ’n woordvoerder van die Ugandese regering het aangekondig dat Uganda bloot die militêre samewerking beëindig, maar nie diplomatieke betrekkinge met Noord-Korea verbreek het nie.

Die verandering in beleid kom ten tyde van ’n besoek deur Suid-Korea se pres. Park Geun-hye aan Uganda.

Sy was Sondag die gas by ’n staatsbanket wat deur Uganda se pres. Yoweri Museveni aangebied is. By Sondag se geleentheid is tien samewerkingsooreenkomste tussen Uganda en Suid-Korea op die gebied van verdediging, gesondheid en onderwys onderteken.

Klaarblyklik het Museveni die Suid-Koreaanse afvaardiging die versekering gegee het dat die land sy veiligheidsbande met Noord-Korea sal verbreek.

Noord-Korea het opleiding aan Ugandese veiligheidsmagte in fisiese fiksheid, mariene oorlogvoering en wapenhantering gegee.