Die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement is bekommerd oor die “misbruik van die ambulansvloot” nadat twee ambulanse die naweek by ’n gewilde braaiplek opgemerk is.
“Ons is bekommerd oor die gedrag van sommige van ons beamptes,” sê ’n woordvoerder, Sizwe Kupelo.
Die voertuie is gesien by Ebuhlanti se strandgebied, ’n gewilde partytjie- en braaiplek.
’n Foto op die koerant Dispatch se webwerf wys die ambulans onder ’n boom, ’n vuur langsaan, die deure van die ambulans oop en ’n man wat by die voertuig staan.
Volgens die fotograaf was daar twee mans wat voor die ambulans gestaan en rook het en toe hy verbyry, het hulle geglimlag en vir hom gewaai. Kort daarna het nog ’n ambulans aangekom.
In ’n verrassende wending het die bestuurders nadat die foto geplaas is ’n verklaring uitgereik waarin hulle sê hulle het “toestemming gehad om daar te wees”.
Die voorval het gebeur oor dieselfde naweek wat ’n krieketspeler in Alice dood is omdat ’n ambulans glo nie opgedaag het om hom hospitaal toe te neem nie.
Die departement was ook onlangs in die nuus weens petrolkaartbedrog. – Sapa
