Handboekvonds vals, sê onderwysdepartement

textbooksDie Onderwysdepartement in Limpopo is teleurgesteld oor wat hy noem vals aansprake dat onafgelewerde handboeke in ‘n pakhuis by die Fetakgomo onderwyskollege gekry is, het RSG berig.

Die departement sê die inhoud in die houers is nie handboeke nie, maar handleidings en werkboeke wat voorheen deur die provinsie gebruik is.

Die DA het vroeër aangevoer dat hy tydens ‘ n roetine oorsigbesoek op duisende onafgelewerde handboeke by die kollege afgekom het.

‘n DA-woordvoerder het gesê veiligheidswagte het gekeer dat hulle die besoek kon voltooi, maar hulle het foto’s van die handboeke geneem.

Die Departement van Basiese Onderwys het intussen die voorstel van die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria verwelkom dat die geskil met onderwysgroepe buite die hof geskik moet word.

Die burgerregtegroepe, “Section 27” en “Better Education for All” hou vol dat daar ‘n groot tekort aan handboeke by skole in Limpopo is.