
Die polisie het Vrydagmiddag die Tsjeggiese voortvlugtige Radovan Krejcir op aanklagte van poging tot moord en ontvoering in hegtenis geneem, het Eyewitness News berig.
Hy is gister by sy huis in Bedfordview, oos van Johannesburg in hegtenis geneem.
Die polisie sal na verwagting vandag meer duidelikheid gee oor die inhegtenisneming van die Tsjeggiese onderwêreldfiguur by ‘n mediakonferensie.
Solomon Makgale, die nasionale kommissaris van polisie Riah Phiyega se woordvoerder, het gesê dat die polisie Saterdag om 12:00 Krejcir se inhegtenisneming met die media sal bespreek.
Krejcir was die afgelope ruk opnuut in die nuus.
In die jongste voorval is twee mense verlede Dinsdag dood en drie beseer in ‘n ontploffing by sy onderneming – Money Point – in Bedfordview. In Julie was daar ‘n mislukte aanslag op sy lewe.
Die inkomstediens het verlede week verklaar dat sy bates onder kuratorskap geplaas is
“Ek kan bevestig dat Krejcir in hegtenis geneem is om 06:00 by sy huis in Gauteng,” het Makgale gesê. “Hy is in hegtenis geneem op aanklagte van poging tot moord en ontvoering. “
Krejcir se woordvoerders kon nie vir kommentaar bereik word nie. Sy prokureur het gesê hy weet nie watter afdeling van die polisie sy kliënt gearresteer het nie.
Krejcir het onlangs enige betrokkenheid in ‘n reeks moorde van vriende en medewerkers sedert sy aankoms in Suid-Afrika as voortvlugtige in 2007, ontken.
Die nuutste moord is dié van ‘n ander Tsjeggiese voortvlugtige Jan ” John” Charvat. Krejcir het toe gesê hy werk saam met die polisie om die moord op te los. – Sapa
