Bendegevegte eis nege in Texas

Minstens nege mense is dood in bendegevegte in Waco, Texas, het RSG berig.

Agtien mense is ook beseer in gevegte by die restaurant. Soveel as vyf verskillende bendes was by die gevegte by die Twin Peaks-sportkroeg betrokke.

Die polisie sê agt motorfietsryers is op die toneel dood en `n negende in die plaaslike hospitaal.

Volgens omstanders is tot dertig vuurwapens gebruik en meer as `n honderd skote is afgevuur.

Die gevegte tussen die motorfietsbendes het oor parkeerplekke by die sportkroeg begin.

Dit het met vuisgevegte begin, toe is messe en knuppels uitgepluk en dit het eindelik in `n skietgeveg ontaard.