Mosambiek stem

Mosambiekse diplomate sê alles is gereed vir Mosambiekers in Suid-Afrika om in vandag se verkiesing te gaan stem, het RSG berig.

Dit is die land se vyfde demokratiese presidensiële en parlementêre verkiesing sedert 1994.

‘n Woordvoerder van die Mosambiekse Konsulaat in Mbombela, Nercia Sambo sê daar is 32 stemlokale in Mpumalanga en Limpopo.

Inligting oor stemlokale in ander dele van Suid-Afrika was in die stadium nie beskikbaar nie. Sambo sê hulle hoop dat alles volgens plan sal verloop.

In Mosambiek kan kiesers sewe-uur vanoggend by stembusse landwyd begin stem. Alle oë is op die regerende Frelimoparty en sy hoofopposisie Renamo.

Die ander party is die Mosambiekse Demokratiese Beweging. Die party, wat nie ‘n gewapende tradisie het nie, het burgemeesters in vier stede, waarvan die meeste verlede jaar in munisipale verkiesings by Frelimo afgeneem is.

Die polisie in Mosambiek is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag.