Die Mediclinic Brits het bevestig dat die vrou wat in ‘n lugballon-ongeluk by die Hartbeespoortdam ernstig beseer is, Woensdagaand in dié hospitaal oorlede is.
Hospitaal-woordvoerder, Retha Mostert, sê die vrou was in haar 40’s.
Volgens Mostert is nog ‘n beseerde vrou in ‘n stabiele toestand in die hospitaal. Haar vierjarige dogtertjie is ook beseer en per helikopter na ‘n hospitaal in Johannesburg vervoer. Haar toestand is ook bestendig.
Bill Harrop, eienaar van Bill Harrop’s Original Safaris, sê die vlieënier moes ‘n noodlanding uitvoer weens sterk wind naby die Buffelspoortdam in Noordwes.
Die lugballonmandjie het tydens die landing op die grond gesleep. Daar was 12 passasiers aan boord, insluitend die vlieënier. Dié lugballon-onderneming het intussen sy medelye uitgespreek teenoor die oorledene se naasbestaandes.
Harrop sê hulle werk nou saam met die Burgerlugvaartowerheid wat die ondersoek na die ongeluk hanteer. Dié onderneming het ook sy eie ondersoek begin.
Die Burgerlugvaartowerheid het bevestig dat hulle die ongeluk ondersoek waarin die lugballonmandjie tydens die noodlanding op die grond gesleep en teen ‘n boom gebots het.
Harrop sê die wind was gister ses keer sterker as die weervoorspelling se skatting.
“Die wind het ‘n baie wye area gedek. Ander vlieëniers het ook gevlieg daardie oggend en het dieselfde toestande ervaar. Hulle was gelukkig genoeg om veilig te kon land,” voeg Harrop by.
Harrop sê die ongeluk kon nie vermy word nie en dit is die eerste ongeluk waarby een van sy lugballone betrokke is. Hy sê hulle het al sowat 100 000 passasiers vervoer.
“Ons kyk tans waar ons kan help en wil duidelikheid oor die kwessie kry. Eerlikwaar dink ek nie sou enige ander vlieënier beter gevaar het as ons vlieënier in daardie omstandighede op die gegewe oggend nie,” sê Harrop.
Die beseerde dogtertjie is met ‘n Netcare2-helikopter na ‘n hospitaal in Johannesburg vervoer. Twee ander passasiers is deur paramedici van Hartbeespoort EMS na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer.
