Uitspraak verwag in saak van twee Masbiekers wat Brits teister

Uitspraak word Maandag gelewer in die saak van twee Mosambiekers wat teregstaan op verskeie aanklagte van plaasaanvalle in die Brits-omgewing in Noordwes.

Die 27-jarige Knowledge Mandlazi en die 31-jarige John Khoza-Tibani staan in die Pretoriase Hooggeregshof tereg op meer as 20 aanklagte, wat vyf moordaanklagte, drie aanklagte van poging tot moord en verskeie huisbrake insluit.

Die misdade is tussen Maart en Junie 2014 gepleeg. Die beskuldigdes het na bewering meestal kommersiële boere in hul moordveldtog geteiken.

Die boere is van hul voertuie, selfone, kontant, vuurwapens en ander waardevolle items beroof.

Mandlazi wat skuldig gepleit het op die aanklagte dien reeds tronkstraf van 60 jaar uit vir die moord op ‘n winkelier van Pakistan in 2014 naby Brits.

Dit is nie bekend of die aanvallers verbind kan word met die moord op die agt-en-sestig-jarige Louw du Plessis nie.

Sy liggaam is vroeër dié maand ontdek in sy huis in Flapstraat deur sy vrou Rose toe sy tuisgekom het van die werk af, het die polisie gesê.

“Sy hande was vasgebind met skoenveters en dit wil voorkom asof hy verwurg is. Hy het ook ander beserings gehad.”

Louw se selfoon, ‘n kluis met ‘n vuurwapen, en sy Nissan NP200-bakkie, wat volgelaai was met waatlemoene is vermis.

Die bakkie is later verlate in Letlhabile gevind.

“Daar word beweer dat die slagoffer laas gesien is saam met sy twee werknemers,” het die polisie gesê.

Louw se vrou Rose is die matrone van die Rusoord Ouetehuis.