Die rand het ‘n nuwe vyfjaar laagtepunt bereik en kan weens die ekonomie se swak grondslag en dreigemente van stakings in die platinumsektor deur die elf dollarvlak breek.
Die rand was vroeër op R10,82 teen die dollar nadat dit in ‘n stadum by R10,89 gedraai het.
Die vakbond Amcu, sê sy lede het gedreig om by Implats te staak, en dat hulle besig is om werkers by Amplats en Lonmin te werf.
‘n Mynontleder, Kobus Nel, sê indien al drie platinummynhuise hulle bedrywighede staak, sal produksie en inkomste daaronder ly.
Hy sê wat betref inkomste is dit moontlik dat tussen 115 en 200 miljoen rand per dag verlore sal gaan.
Indien werkers ingevolge die geen-werk-geen-betalingsbeginsel hanteer word, sal dit hulle swaar tref wat betref uitstaande skuld en daaglikse lewenskoste. – RSG
