Gaboen se opposisie soek steeds bloed

Ontevredenes in Afrika sowel as Europa het op ‘n internasionale ondersoek na beweerde “massa­moorde” deur soldate en lede van die polisiemag aangedring in Gaboen.

Hulle beweer dat gebeure gedurende die land se presidentsverkiesing wat naelskraap deur die dienende staatshoof, Ali Bongo gewen is, ondersoek moet word.

Aktiviste van “Tournons La Page” (Slaan ‘n nuwe blaadjie om), het in ’n verklaring gesê “baie slag­offers” is dood toe die weermag die “populistiese opstand ná die verkiesingoorname” onderdruk het.

Die swart Chinese opposisieleier, Jean Ping (foto), het verlede week die verkiesing by die land se hoogste hof uitgedaag, met Bongo wat hom daarvan beskuldig dat hy die opstand aangemoedig het.

Dit volg ná die bekendmaking van die verkiesingsuitslae wat met ’n skrale 6 000 stemme gewen is.

“Baie families soek nog na hul lede wat sedert 31 Augustus verdwyn het,” het Tournons La Page in ’n verklaring gesê.

Bongo en sy familie swat edert 1967 aan bewind is, ontken enige aandeel in die geweldpleging en gee vir Ping die skuld.

Ping se ondersteuners sê minstens 17 mense het slegs by die party se hoofkantoor omgekom, maar die minister van binnelandse sake ontken dit en sê net drie mense het in die geweldpleging gesterf.