Ingula se eerste eenheid lewer krag

Die eerste eenheid van die Ingula-pompstasie op die grens tussen KwaZulu-Natal en die Vrystaat het die naweek begin krag lewer, het RSG berig.

By voltooiing sal dit die 19de grootste pompkragstasie in die wêreld wees.

Eskom sê Eenheid Vier van die pompstasie sal 333 megawat krag aan die netwerk lewer.

Die bou van Ingula het in 2006 begin en al vier sy eenhede is geskeduleer om vanjaar in bedryf te kom.

Bouwerk aan eenheid Een is nog aan die gang, terwyl Eenheid Drie herstel word en eenheid Twee word nou getoets.

Wanneer al vier turbines in bedryf is sal 1 332 megawat krag opgewek word.

Die eenhede is 350 meter ondergronds gebou en sal aangedryf word deur water van die Bedford-dam wat twee kilometer weg en 460 meter hoër is.

Genoeg water om ‘n Olimpiese swembad binne ses sekondes te vul, sal elke turbine aandryf.