Motors: Ja en nee vir Hyundai

Hyundai is een van die snel groeiendste motormaatskappye ter wêreld. Ook plaaslik het Hyundai baie veld gewen, eers met redelike produkte teen ‘n baie billike prys en toe later met uitstekende produkte teen mededingende pryse. Vandag, bykans 15 jaar later, is Hyundai ‘n gevestigde vervaardiger in Suid-Afrika met puik produkte wat enige dag kan kers vashou by Europese vervaardigers. Na ons mening is Hyundai so twee jaar gelede by die Japannese verby en Toyota, Honda en veral Nissan kan baie leer by die Koreane. Deesdae klop-klop Hyundai so aan die premiumdeur van die mark met motors soos die Sonata, Santa Fe en meer onlangs die i20.

Ons het die geleendheid gehad om twee Hyundai’s onder hande te neem. Die een is duidelik in ‘n ander klas as die ander, maar dan moet ‘n mens ook in gedagte hou dat daar wel ‘n nuwe iX35 op pad is.

Ja vir die i20

Die Hyundia i20 van agter
Die Hyundia i20 van agter

Die i20 het eintlik die Getz vevang en hierdie is die tweedegeslag-i20 wat ons tans in Suid-Afrika sien. Die motor het stadig maar seker van ‘n intreevlakstadsmotortjie na ‘n gesofistikeerde gesinsmotor beweeg. Alles aan die i20 spreek van gehalte en vakmanskap. Hyundai kan dalk net so bietjie meer van moderne enjintegnologie gebruikmaak. Die i20 se direkte mededinging in die mark kom van Ford se Fiesta 1.4 Trend (R204 900), Kia se Rio 1.4 (R207 995) en Suzuki se Swift 1.4 GLS (R199 900). Ander vervaardigers soos Opel (Corsa), Peugeot (208), Renault (Clio), VW (Polo) se motors is almal met nuwegeslagturbo-enjins toegerus wat heelwat kleiner, skoner en kragtig is as die 1.4 is waarmee die i20 Spog. Verder is die i20 in alle opsigte ‘n beter motor as byna al die bogenoemdes met die uitsondering van die Volkswagen Polo. Ruimte en bougehalte, asook vakmanskap is so ‘n kerfie bo die res.

Paneelbord van die Hyundai i20
Paneelbord van die Hyundai i20

Ons toetsmotor was die i20 1.4 Fluid met ‘n prys van R213 500. Die motor bied akkommodasie vir vyf insittendes met bagasie. Die motor voel goed ontwerp en die enjin loop baie sag en glad. Sagte materiaal asook baie goeie plastiekafwerking aan die deure en voorste paneelbord spreek van gehalte en jy kan sien hoekom Hyundai die duurste motor in die geselskap is. Standaardtoerusting is ook een van die i20 se sterkpunte. In die Fuid-gewaad bied die i20 outomatiese klimaatbeheer en agterste parkeersensors wat nie een van die ander in die klas bied nie. Die Suzuki Swift het wel 6 lugsakke waar die i20 slegs 2 bied en die togbeheer is ook nie ‘n opsie in die i20 nie. Die i20 is ‘n hele 13,5 sentimeter langer as die Swift en 4 sentimeter breër wat heelwat verskil aan die binneruimte maak. Hyundai is saam met Kia die enigste vervaardiger wat ‘n 5-jaar- 150 000km-fabriekswaarborg bied.

Beenruimte in die Hyundai i20
Beenruimte in die Hyundai i20

Agter die stuur van die i20 is die storie dieselfde. Die motor se stuur is sekuur en ratskakelings is glad en akkuraat. Dit voel asof jy in ‘n veel duurder en groter motor ry as wat die i20 werklik is. Die i20 se 1.4 literenjin lewer 74 KW en 133Nm se wringkrag. Uitlaatgastelling is 147g/km Co2 en brandstofverbruik word deur Hyundai aangegee as 6,5l/100km. Ons kon regtig met mooi ry slegs 7,8l/100km aanteken en dit is juis hier waar Hyundai nou nuwer enjintegnologie benodig. VW, Peugeot, Ford en Opel lewer almal dieselfde krag met meer wringkrag en laer CO2-vlakke as die Hyundai. Byna al die bogenoemde motors bied dieselfde tipe ruimte en bougehalte teen ‘n laer prys. Sou Hyundai dalk net hul 1,2 literenjin met ‘n turboaanjaer toerus en in die i20 beskikbaar stel, gaan die i20 vir seker een van die markleiers in die segment wees.

Die Hyundai i20 se bagasieruim
Die Hyundai i20 se bagasieruim

 

Hyundai i20 1.4 Fluid

Prys 2 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 3 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 31 uit 40

 

Nee vir die iX35

Die Hyundai iX35
Die Hyundai iX35
Die iX35 van agter
Die iX35 van agter

Die ander lid van die Hyundai-familie wat ons onlangs bestuur het, was die iX35 en spesifiek die nuwe 1.7 CRDi Premium. Die iX35 is verantwoordelik vir die meeste van Hyundai se verkope met honderde van die motors wat al verkoop is. Die nuwe enjin en opgekikkerde stilering laat die iX35 steeds vars lyk, maar daar is duidelike tekens dat die iX35 op sy laaste bene is. Die motor is volgens ons heeltemal te duur vir wat hy bied; die waarde-vir-geldfaktor wat Hyundai altyd had, is met die iX35 by die venster uit. Ons toetsmotor se prys van R365 900 plaas die iX35 in direkte mededinging met die Mazda CX5 2.2 DE Active. Die CX5 kan joune wees vir R378 500 oftewel R12 600 meer as die iX35. Jy kry vir jou R12 600 meer ‘n groter motor met nuwe tegnologie en heelwat meer enjinkrag 110Kw teenoor die iX35 se 85 Kw, asook 120 NM se wringkrag meer: 380 Nm teenoor 260 Nm in die iX35. Brandstofverbruik is dieselfde terwyl werkverrigting baie beter is in die CX5. Om dit nog meer in perspektief te stel: jy kan ‘n Nissan Qashqai 1.5 dCi Acenta teen R28 000 minder as die iX35 aanskaf. Die Nissan bied 81 Kw en 260 Nm, beter brandstoverbruik en laer uitlaatgassyfers asook heelwat beter standaardtoerusting en selfs ‘n langer fabriekswaarborg as die Hyundai. Kyk ‘n mens na die Renault Duster 1.5 dCi Dynamic, dan kan jy die Duster teen R111 000 minder in jou motorhuis parkeer. Die Duster bied boonop nog meer ruimte en toerusting as die iX35 en anders as die Hyundai is die Duster ook nog meer volledig toegerus met navigasie en parkeersensors wat die iX35 nie het nie. Jy kan in werklikheid die 4×4-weergawe van die Duster – wat nog beter toegerus is – teen R96 000 goedkoper as die iX35 in die hande kry.

Paneelbord van die Hyundai iX35
Paneelbord van die Hyundai iX35

Ander motors wat oor meer status as die Hyundai beskik, is die Toyota RAV4 2.2 D-4D AWD GX teen R391 400 R25 000 meer as die iX35, die VW Tiguan 2.0 TDi Trend & Fun – teen R362 500 sowat R3400 goedkoper as die Hyundai met meer krag en meer toerusting – asook die Chev Captiva 2.2D LT teen R398 600, slegs R32 000 meer. Die Chev bied 7 sitplekke en heelwat meer krag (135 Kw en 400Nm) teen 85Kw en 260Nm van die iX35. Ons dink dat dit alles in ag genome, plus die feit dat die plastiek van die deure binnepanele goedkoop lyk en voel, nie die iX35 se prys regverdig nie. Dit is dalk ‘n goeie skuif dat die nuwe iX35 binnekort plaaslik bekendgestel gaan word. Die huidige iX35 vergelyk glad nie goed met dít wat tans te vinde is in die mark vir klein sportnutsvoertuie nie. Self Hyundai se sustermaatskappy se Kia Sportage bied meer bougehalte en gehaltestowwe aan die binnekant. Nee wat, Hyundai!

Bagasieruim van die iX35
Bagasieruim van die iX35
Beenruimte in die iX35
Beenruimte in die iX35

Hyundai iX35 1.7 CRDi Premium

Prys 2 uit 5
Voorkoms buite 3 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 3 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 28 uit 40