Kriekethoof ontken ras-besluit

Die uitvoerende hoof van KrieketSA, Haroon Lorgat het berigte ontken dat hy ‘n sms aan die Proteas-afrigter gestuur het om ‘n speler van kleur in die halfeindstryd van die Wêreldbekerreeks in te sluit.

Volgens koerantberigte het Lorgat teen een-uur die oggend die sms aan Russel Domingo gestuur om na bewering tussen sekere spelers te kies.

Lorgat het aan die African News Agency gesê die bewerings is heeltemal vals en dat die span reeds teen sesuur die aand bevestig was.

Hy sê hy het geen onderhoude aan koerante toegestaan wat hom in die berigte aanhaal nie, het RSG berig.

Hindoe-organisasies ontsteld oor spotter Zapiro

zapirospothindoeSuid-Afrikaanse Hindoe-organisasies is woedend en verward oor ’n spotprent van die kunstenaar Zapiro oor die Hindoe-god Ganesj.

Die organisasies noem die prent ’n “flagrante belediging en tekort aan respek vir die glorieryke Hindoe-geloof”.

Die spotprent is op Zapiro se webwerf asook in die Sunday Times gepubliseer. Dit wys Ganesj, die god met die olifantkop, met ’n krieketkolf en geldnote, terwyl Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof met ’n mes gesteek word as ’n offerande.

Wat hulle verder verwar is dat Haroon Lorgat, die uitvoerende hoof, ‘n Moslem is.

Die omstredenheid spruit uit kritiek dat KSA sy eie baas se mond gesnoer en hom skokkend swak behandel het om die Indiese kriekettoer later vanjaar te red.

Krieketkenners is ongelukkig oor die manier waarop KSA teen Lorgat, sy uitvoerende hoof, opgetree het om te verseker die toer kry die groen lig, maar is beperk tot twee toetse en drie eendaagse wedstryde.