Steve vandag voor vir roekelose bestuur

steve2Die gewildste Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr gaan na verwagting vandag in die landdroshof op Bronkhorstspruit verskyn op aanklagte van roekelose bestuur.

Die media het vroeër die datum van sy verskyning verkeerd aangekondig.

Hofmeyr is twee weke gelede in hegtenis geneem in verband met ‘n spoedoortreding op dieselfde dag as wat Julius Malema ook vir ‘n spoedoortreding vasgevat is.

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters, is in die Vaaldriehoek in hegtenis geneem nadat hy te vinnig gery het.

Hofmeyr was laat vir sy optrede by ‘n musiekfees in Badplaas, Mpumalanga, en het na bewering teen 169 kilometer per uur in ‘n 80 kilometer per uur sone gery.

Hy is dieselfde aand op borgtog van R500 vrygelaat.  Sy saak is tot einde Januarie uitgestel.

‘n Swart sanger Donald Moatshe sal ook vandag in die Umhlali-landdroshof aan die noordkus van KwaZulu-Natal verskyn weens ‘n spoedoortreding op die N2 naby Ballito.

Verkeersowerhede sê hy het teen 182 kilometer per uur in ‘n 120 kilometer per uur sone gery.

Hy is op borgtog van R2500 vrygelaat.