Die departement van basiese opvoeding het uiteindelik geswig voor druk van ontstoke ouers, onderwysers en matrieks oor ‘n eindeksamenvraag wat as heeltemal onvanpas beskou word.
Die hoogsomstrede verkragting-vraag wat in die matriek dramakunde-vraestel gevra is, sal uitgesluit word, het die departement in ‘n verklaring gesê.
Die vraag het gehandel oor die drama Tshepang, wat geskoei is op die verkragting van ‘n baba in 2001, waarin grafiese besonderhede vervat is.
Die departement sê punte-aanpassings sal dienooreenkomstig gemaak word, aangesien die 15 punte van die vraag nie meer sal tel nie.
Die departement kon nie sê of die vraag matrieks se punte negatief geraak het nie. Daar is nietemin besluit om nie die punte in te reken nie.
Matrieks wat die vraestel geskryf het, het aan Praag gesê dat hulle nie die vraag wou beantwoord nie, en ten minste twee het dit so op hul antwoordstelle aangedui.
