Speuder wat glo geld steel vir dobbel, vas

‘n Hooggeplaaste polisiebeampte van Noordwes sal na verwagting volgende jaar weer in die landdroshof op Mokgwase verskyn nadat sy in hegtenis geneem het vir die diefstal van geld uit ‘n polisiekantoor.

Die 45-jarige bevelvoerder van die speurdienste by die polisiekantoor op Brits, het na bewering gevlekte geld uit die polisie se kluis gesteel, terwyl sy by die werk was.

Polisiewoordvoerder, Paul Ramaloko, sê die verdagte, wie se naam nog nie bekendgemaak is nie, het glo probeer om die geld by ‘n plaaslike casino te gebruik. Ramaloko sê interne tugstappe gaan ook deur die polisie teen die verdagte geneem word.

Sy is Donderdag op borgtog van R2 000 vrygelaat en is weer op 26 Januarie in die hof.

Die waarnemende polisiekommissaris van Noordwes, Jacob Tsumane, het die inhegtenisneming verwelkom.