Olie lek uit gestrande vragskip naby Goukamma

Die gestrande Kiani Satu
Die gestrande Kiani Satu

Olie het begin uitlek uit die gestrande vragskip van 156m naby Buffelsbaai in die Suid-Kaap, wat die gevaar van ‘n omgewingsramp aan die kus verhoog.

Twee van die 19 bemanningslede aanboord is lig beseer toe ongeluk gebeur het. Die seelui is afkomstig uit die Fillipyne en Oekraïene en is per helikopter van die vaartuig gered.

‘n Woordvoerder van SANParke het die situasie as ernstig bestempel. Die skip is in die Goukamma Natuurreservaatomgewing gestrand en die uitlek van olie bedreig dié seebewaringsgebied.

Pogings sou vroeër aangewend word om die skip, wat tonne rys en olie aan boord het, weer vlot te maak, maar die huidige situasie kan planne verander.

Swaar toerusting om met die bergingsoperasie te help, het gister op die toneel aangekom.

Die Kiani Satu het Woensdag laat in onstuimige see meganiese probleme begin ondervind.