Binnelandse Sake kry nuwe bankkaarte

Die dae van korrupte en onbekwame amptenare by die Departement van Binnelandse Sake is glo iets van die verlede, het RSG berig.

Die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba het dit gesê by die bekendmaking van die “Motho Pele”-inisiatief by die departement se nuwe kantore in Edenvale, oos van Johannesburg.

Die inisiatief het ten doel om dienslewering te verbeter deur bekwame, prestasiegedrewe en hoflike amptenare op te lei.

Gigaba sê hy is veral opgewonde oor die gebruik van bankkaarte. Dit sal by die nuwe kantore in Edenvale getoets word, waarna dit na die departement se ander 140 kantore, wat die nuwe identiteitskaarte uitreik, uitgebrei sal word.

Dit sal mettertyd in gebruik gestel word in sy kantore in die res van die land.

Bankkaartkoste gaan styg

Verbruikers gaan binnekort meer moet opdok vir die gebruik van bankkaarte.

Jan Alleman sal aanstons die bankkoste betaal wanneer bankkaarte by verkoopspunte gebruik word.

Dié verwikkeling volg na ‘n vermindering in tussenhandelstariewe wat vroeër vanjaar deur die Reserwebank aangekondig is.

Kleinhandelaars subsidieer in werklikheid die gebruik van bankkaarte want die handelaar betaal op die oomblik ‘n hoër tussenhandelstarief vir dié gerief.

As tariewe verlaag word, sal banke die verskil van verbruikers verhaal.

Die bestuurshoof van die Betaalpunt-vereniging, Walter Volker sê die verlaging van die tariewe is egter goeie nuus vir kleinhandelaars omdat dit hulle koste sal verlaag.

Hy sê vir verbruikers kan transaksiekostes styg, maar dat banke self sal besluit hoeveel die kliënt sal moet opdok.