‘n Vermeende baasbrein agter renosterstropery is in ‘n klein dorpie naby die Kruger-wildtuin in hegtenis geneem.
Volgens SANparke was dié “waardevolle” arrestasie die gevolg van ‘n uitgebreide ondersoek deur ‘n spesiale polisie-eenheid.
Die man is by Cork Trust-village in hegtenis geneem.
Volgens ‘n woordvoerder van SANparke, Ike Phaahla, “word daar vermoed dat die persoon deel van ‘n groep stropers is wat in die Krugerwildtuin en ander reservate in die omgewing bedrywig is.”
Polisie het beslag gelê op dele van wat glo ‘n renosterkarkas is, asook ‘n SANparke-veldwagter-uniform, jagtoerusting, vuurwapens en ammunisie.
In ‘n ander voorval is drie vermeende stropers in hegtenis geneem ná ‘n skietery tussen wildbewaarders en stropers in die Malelane-omgewing van die park.
Een van die vermeende stropers is gewond. Die polisie het beslag gelê op wapens en toerusting. – Sapa
